# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Trek na 'n 'verre en onbekende binneland'

'n Vreemde en aangrypende toneel: Die Groot Trek

"Die geskiedenis het nog selde 'n vreemder en aangrypender toneel aanskou as dié van welvarende boere, sommige nog heel jonk en ander reeds gebukkend onder die ouderdom,  wat hul plase en huise verlaat, hul families met al hul huishoudelike goedere op logge ossewaens laai, hulle kuddes en troppe voor hulle uitjaag, en wegtrek na 'n verre onbekende binneland." Dit is 'n beskrywing van die Groot Trek in 'n biografie van ds. Andrew Murray, wat in 1849 in Bloemfontein bevestig is as die eerste NG predikant noord van die Oranjerivier.

Tussen 1835 en 1845 het geselskappe van families, later Voortrekkers genoem, en hul bediendes in aansienlike getalle uit die Kaapkolonie getrek. Anderkant die koloniale grense het hulle begin meng met die trekboere wat die kolonie vroeër verlaat het en nou in die gebied van Trans-Oranje met hul vee gelê het. In die eerste golf van migrasie van die Voortrekkers, wat in 1840 geëindig het, het ongeveer sesduisend mense (20% van die wit mense in die oostelike distrikte en 10% van die kolonie se wit bevolking) getrek. Teen 1845 het altesame 2,038 families, of 15,000 burgers en familielede, vergesel van ongeveer 5,000 bediendes, die kolonie verlaat.

Amptenare en kerkleiers het besef dat hulle met 'n epogmakende gebeurtenis te make het. Hul kommentaar was amper eenparig negatief. Sommige was wel bekommerd oor wat van die trekkers sou word, ander oor die lot van die inheemse bevolking. Andries Stockenstrom het gevrees dat die trekkers swart mense, net soos die Khoisanmense voor 1828, tot knegskap sou dwing. Hy het die regering in die Kaap aangeraai om trekkergrondtransaksies te verwerp aangesien so iets grotendeels "die produk van geweld en bedrog" sou wees.

Gideon Joubert, 'n vername grensboer, het verwag dat die trekpartye gou uitgewis en die oorlewendes gedwing sou word om terug te keer. Die alternatief was dat hulle in die verre binnneland in 'n staat "erger as dié van heidene" sou verval. Die Kaapse sinode van 1837 het sy kommer uitgespreek oor die vertrek "in die woestyn sonder 'n Moses of Aaron", deur mense op soek na 'n Kanaan" sonder dat hulle 'n belofte of rigthingaanwysing het. De Zuid-Afrikaan, die enigste Nederlandse koerant, was ontsteld daaroor dat die Voortrekkers hulle aan die Britse gesag onttrek het.

Christoffel Brand, een van die vernaamste Afrikaanse koloniste aan die Kaap, het in 'n ander trant geskryf aan Andries Pretorius, een van die latere trekleiers: "Jy moet nooit vergeet nie dat ek 'n Afrikaner is en dus belang het by my landgenote wat geemigreer het." Ds. G.W.A. van der Lingen van die Paarl het aan Pretorius raad gegee voor sy vertrek, maar het die uitnodiging om die trek as predikant te vergesel van die hand gewys. Die trekkers sou tot 1849 sonder 'n geordende predikant wees.

Teen die middel van die jare dertig was die aanraking tussen wit mense en inheemse swart mense beperk tot 'n strook ongeveer tweehonderd kilometer lank aan weerskante van die Visrivier. Daarbenewens was daar nog 'n paar plekkies, byvoorbeeld in die omgewing van Port Natal, waar Engelse handelaars en jagters tussen 'n groot inheemse bevolking gewoon het. Teen die vroeë jare veertig het die prentjie dramaties verander. Nou was wit en swart op talle plekke in aanraking.

Die binneland was nie leeg soos van die trekkers geglo het nie. Mzilikazi se Ndebele-koningkryk was gevestig in die Marico-vallei, wat later deel sou wees van Wes-Transvaal (nou die provinsie Noordwes). Hierdie Ndebele-koningkryk het groot dele van die latere Transvaal en Noord-Vrystaat geplunder en tydelik ontvolk gelaat. Moshweshwe, wat die Basotho-nasie uit vlugtelinge opgebou het, het grond oos en wes van die Caledonrivier beset. In Natal het Dingane Shaka, koning van die Zoeloe-nasie, laat vermoor en hom as koning opgevolg. En dan was daar ook digte besetting deur die Pedi's en die Swazi's in wat later as Oos-Transvaal bekend sou staan (nou Mpumalanga), en die Vendas, wat in die noordelike Transvaal gewoon het.

Die eerste twee partye, die Tregardt- en die Janse van Rensburg-trek, het in September 1835 uit die kolonie beweeg. Hendrik Potgieter en sy party het laat 1835 of vroeg 1836 hul plase in die Tarkawyk verlaat. Gert Maritz en sy trek het in September 1836 uit Graaff-Reinet vertrek met meer as sewehonderd mense, onder wie etlike honderde wit mans. Piet Retief en sy groep van honderd mans, vroue en kinders het die distrik Albanie in Februarie 1837 verlaat.

Vroeg in 1837 was daar volgends die Grahamstown Journal ongeveer 230 waens naby die bron van die Caledonrivier, terwyl daar aan die Oranjerivier tagtig of meer waens was en ook talle klein trekke. In April 1837 het meer as honderd mense van die Uys-familie onder die leierskap van Piet Uys die distrik Uitenhage verlaat. Teen die lente van 1837 was daar vyf of ses groot kampe tussen die Oranje- en die Vaalrivier, altesame 2,000 trekkers.

Rampspoed en oorwinning

Die emigrante het goed geweet dat hulle kritici verwag hulle gaan die grond van swart mense afvat. Hulle was nie van plan om die inheemse mense uit te wis nie. Swart mense was vir hulle mense met wie hulle op 'n manier moes saamleef. Hulle het geweet dat hulle teen sommige stamme sou moet veg, maar hulle wou eintlik graag die swart mense as arbeiders gebruik of as bondgenote teen vyandige swart stamme. In hul kommando's was van vroeg af inheemse swart mense, gewoonlik as agterryers, wat die perde versorg en die kos gemaak het. Die eerste groot kommando, onder leiding van Potgieter en Maritz, het betaan uit 103 wit trekkers, 40 gekleurde mense en 60 swart mense. Deel van die Voortrekkers se intellektuele bagasie was hul ervaring van die praktyke en meganismes wat aan die oosgrens ontwikkel is: die inboek van inheemse kinders, die terugvatstelsel, vegtegnieke soos die kommando en die laer, en die verdrag as 'n model van 'internasionale betrekkinge'. die kommando was reeds sedert 1715 in geberuik; die laer, 'n kring waens met doringbosse tussen die wiele gesteek, is waarskynlik die eerste keer in die grensoorlog van 1779 tot 1781 aanewend. Mondelinge ooreenkomste of formele verdrae met swart kapteins was deel van die grenspolitiek. Toe die trekkers die kolonie verlaat, was Andries Stockenstrom besig om namens die kolonie verdrae met die onderskeie swart kapteins te sluit met die doel om vrede en orde aan die grens te handhaaf.

Die eerste rampe het die trekkers gou getref. Naby die Limpopovallei het vyandige stamme die Van Rensburg-trek uitegewis. Tregardt en sy mense, wat aanvanklik in die Soutpansberg vertoef het, het geprobeer om Delagoabaai (die huidige Maputo) te bereik, maar die meeste an die mense het onderweg aan die koors beswyk, ook Tregardt self. Potgieter se trek het begin met slegs 33 gewapende mans met hul vrouens en kinders en het tot 200 aangegroei nadat die trekke van Sarel Cilliers en Casper Kruger daarby aangesluit het.

Potgieter, 'n energieke man met 'n stugge geaardheid, het ooreenkomste met sekere swart kapteins aangegaan om in vrede te leef, maar in Augustus 1836 het Ndebeles die Liebenberg-familie, 'n deel van Potgieter se trek, aangeval en ses mans, twee vroue en ses kinders doodgemaak. Die doel van die Ndebeles was waarskynlik om die groot kudde vee wat die trekkers saam met hulle gebring het, weg te voer. Twee maande later, in Oktober 1836, het 'n Ndebele-leër van vierduisend tot sesduisend man Potgieter se laer aangeval en in die slag by Vegkop het 35 manlike trekkers die massiewe aanval met die verlies van twee lewens afgestaan. Die Ndebeles het egter omtrent al die trekkers se vee weggevoer. 

In Januarie 1837 het 'n kommando, met Potgieter en Maritz aan die spits, uitgetrek om Mzilikasi te"straf". Hulle het vierhonderd swart mense doodgemaak, Mzilikazi se stat by Mosega verwoes en seweduisend stuks vee weggevoer. In November het nog 'n kommando, hierdie keer met Potgieter en Piet Uys aan die hoof, Mzilikazi gedwing om na die huidige Zimbabwe te vlug. Daar was nou geen ernstige bedreiging meer vir die trekkers op die Hoëveldplato nie.

Swart vyande was nie die enigste bedreiging nie. 'n Miskien nog groter gevaar was die verskille, twis en skeurings onder die Trekkers, wat amper die hele trekbeweging verongeluk het. Die trekkerleiers was welgestelde mense, maar hulle het min beheer oor hul volgelinge gehad, veral omdat klasseverskille nie op die trek groot gewig gedra het nie. Leiers kon nie gesag uitoefen  omdat hulle grond of vee kon uitdeel nie. Die trekkerleiers moes op familiebande en militêre reputasie staatmaak om 'n kerngroepie volgelinge te kry.

Die leiers kon nie oor die uitendelike bestemming saamstem nie. Reitef was vasbeslote om naby 'n hawe te bly waarvandaan die trekgemeenskap goedere kon in- en uitvoer en was dus gretig om na die Natalse kusvlakte te trek. 

Potgieter wou weer so ver as moontlik van die Britse regering wegtrek. Hy wou hom in die gebied onderkant die Vaal gaan vestig, waar hy 'n de-facto-onafhanklikheid wou verwerf. Retief het verkies om met die Britte oor onafhanklikheid te onderhandel. Daar was ook godsdienstige en politieke geskille. In die afwesigheid van 'n NG predikant het Erasmus Smit, swaer van Maritz en 'n voormalige sendeling in diens van die Londense Sendinggenootskap, geprobeer om die leemte te vul. Hy was oud, sieklik, aan drank verslaaf en nie as predikant georden nie.

Vir baie trekkers was hy onaanvaar. Argumente oor die beste politieke organisasie het ook die trekkergemeenskap verdeel. Potgieter was 'n patriargale figuur wat hom op die welsyn van sy eie trek toegespits het; daar het spoedig 'n soort outokrasie onder die Potgieter-familie ontwikkel. Maritz, daarteenoor, het die trek beskou as 'n gemeenskaplike onderneming - 'n verenigde "maatskappy" of 'n volk - en het daarop aangedring dat die leiers hulle aan 'n gekose raad se besluite moet onderwerp. 

Daar was wel korstondige momente van eenheid. In Desember  1836 het die trekkers by Thaba Nchu vir Maritz en Potgieter onderskeidelik as politieke en die miltêre leier aangewys. Toe Retief en sy geselskap in 1837 daar opdaag, het die twee leiers nie meer goed saamgewerk nie. In April 1837 het die trekkers Rtief as hoofleier aangewys met die titel "goewerneur". Hy was ook die militêre opperbevelvoerder. Maritz het aangebly as hoof van die regspleging en president van die "Raad van Politie", wat die burgerlike geag was (in Natal sou dit as Volksraad bekend word). Potgieter is van 'n gesagsposisie uitgesluit. 

Twee maande daarna het die trekkers op 'n vergadering by Winburg nege artikels aangeneem. Daarvolgens is die sogenaamde Vrye Provinsie Nuwe Holland in Suid-Oos Afrika opgerig. Toe die Uys-trek kort daarna opdaag, het Piet Uys geweier om besluite te aanvaar waaraan sy eie trek geen deel gehad het nie. Die uitsluiting van Potgieter en Uys uit die bestuursliggaam het groot spanning laat ontstaan. Dit is tydelik verlig deur die besluit om in twee rigtings te beweeg: een groep het onder die leiding van Retief, Maritz en Uys na die hawe Port Natal en die skynbaar, ontvolkte, vrugbare natalse kusvlakte koers gekies; die ander het onder Potgieter na Transvaal getrek met die doel om Mzilikazi as mededinger heeltemal uit te skakel. 

Maritz het gou agterdogtig geraak oor Retief se outokratiese neigings en gewaarsku dat hy ongeëwenaarde magte en beheer vir homself toe-eien. Die kritiek het Retief net meer vasbeslote gemaak om alles in die werk te stel om 'n ooreenkoms met Dingane te bereik ten einde grond vir vestiging in Natal te kry. Soos aan die oosgrens het hy 'n onuitputlike geloof gehad in sy vermoë om met onderhandeling of desnoods intimidasie sy doel te bereik. 

Dingane het na 'n eerste gesprek besluit om die uitgebreide gebied tussen die Mzimvubu en Tugela aan Retief beskikbaar te stel op voorwaarde dat Retief vee terugkry wat Sekonyela, die Tlokwa-kaptein, van hom gesteel het. Verskeie mense het Retief teen Dingane gewaarsku, maar hy was nou onder soveel druk van sy eie mense dat hy bereid was om baie te waag. 'n Engelse sendeling wat Dingane twee jaar lank geken het, het Retief gewaarsku, maar volgens oorlewering het Retief geantwoord: "Net 'n Hollander kan 'n Kaffer verstaan, nie 'n Engelsman nie."

Retief se kans op sukses is deur flaters bemoeilik. Retief het aan Dingane gesê hoe swaar die trekkers Mzilikazi gestraf het. Dingane se raadsmanne wat Retief en sy mense na Sekonyela vergesel het, het gesien hoe oneerbiedig die wit mense die kaptein behandel: "Sal Dingane op dieselfde manier behandel word?" het hulle gevra. Die antwoord was: "Ons sal Dingane op dieselfde manier behandel as ons uitvind dat hy 'n skelm is." Selfs voor die finale onderhandelings het sekere trekkers reeds in die Drakensberg oorgesteek en dit het Dingane se agterdog versterk.

Retief het by Ungungundlovu, Dingane se woning, opgedaag met sewentig wit trekkers en dertig bediendes, vol vertroue om met hom 'n verdrag te sluit oor die oordrag van die grond. Op 6 Februarie 1838 het Dingane Retief oorreed om sy manskappe te beveel om hul wapens buite die stat te laat bly. Op sy bevel het Dingane se krygers die trekkers en hul bediendes met knuppels doodgeslaan. Retief is om die lewe gebring nadat al sy mense uitgewis is.

Die slagting het 'n uiters gevaarlike tyd vir die trekkers ingelui. Dingane het ses- tot-seweduisend Zoeloe-krygsmanne uitgestuur om al die trekgroepe op die Natalse vlaktes uit te moor. Teen hierdie groot mag het die trekkers slegs 800 man gehad, in groepies versprei. Zoeloe-impi's het ongeveer 300 wit trekkers en 200 bediendes vermoor en tussen 20,000 en 25,000 beeste weggevoer. Baie trekkers het al hul vee verloor. Uys en Potgieter het hulle na Natal gehaas, maar die kommmando wat 'n Zoeloe-mag aangeval het, is verslaan. Uys, sy seun en nog nege het gesneuwel. Onenigheid en dwarstrekkery was weer aan die orde van die dag. Potgieter en sy manne het hul rug op Natal en die angsbevange trekgeselskap gekeer en besluit om hul energie aan die stigting van 'n nedersetting in Transvaal te wy. Die Natalse trekkers se lotgevalle het nog 'n laagtepunt bereik met Maritz se afsterwe in September.

Twee maande later, in November 1838, het Andries Pretorius aangekom met 'n geselskap van 60 man. Pretorius, 'n lang, fors man met 'n indrukwekkende houding, het selfvertroue gehad wat dikwels in arrogansie oorgegaan het. Maar hy was, soos Stockenstrom opgemerk het, geen dwaas nie. Hy was 'n briljante militêre en politieke strateeg en organiseerder. Hy het ongetwyfeld die meeste tot die uiteindelike sukses van die trek bygedra.

Pretorius is as kommandant-generaal aangestel en het sy manne uitgelei op 'n sorgvuldige beplande kragmeting met die Zoeloe-mag. Hy het ingestem toe Sarel Cilliers voorstel dat 'n gelofte met God gesluit word. 'n Paar dae voor die slag het Cilliers en die lede van die kommando 'n plegtige gelofte afgelê dat as God die oorwinning aan die Voortrekkers besorg, hulle en hul nageslag die dag altyd sou gedenk en ook 'n kerk sou bou. Pretorius het by 'n tak van die Buffelsrivier laer getrek. Op 16 Desember het 468 trekkers, 3 Engelse en 60 swart mense hier meer as tienduisend Zoeloes afgewag. In 'n stryd wat twee ure geduur het, is slegs drie trekkers lig beseer. Drieduisend Zoeloes is doodgeskiet. Die nederlaag in wat bekend geword het as die slag van Bloedrivier het Dingane se mag 'n nekslag toegedien.

Die Zoeloes het nou geskeur. Dingane se halfbroer Mpande het hom by die trekkers gevoeg en het 'n leër van 10,000 manskappe gestuur om Pretorius in 'n opvolg-ekspidisie teen Dingane by te staan. Die sogenaamde "Beeskommando" het Dingane finaal verslaan en teruggekeer met 41,000 beeste. Dingane is kort daarna doodgemaak en Pretorius het Mpande tot koning van die Zoeloes verklaar, en 'n vasal van die Republiek Natalia, wat die trekkers in 1839 gestig het.

Die Afrikaners; 'n spesiaal geroepe volk?

In die twintigste eeu het Afrikanernasionaliste dikwels na Bloedrivier verwys as die veldslag wat die trek gered en die oorwinning van die Christendom en beskawing verseker het. Nugter beskou, het die oorwinning slegs 'n tydelike brughoof vir die trekkers in Natal besorg. Die lot van die trek sou op die Hoëveld beslis word, nie in Natal nie.

Is die trekkers se geroepenheidsbesef inderdaad deur die gelofte en die slag van Bloedrivier gelouter en versterk? In onlangse werke word betoog dat dit verkeerd is om te glo dat die Afrikaners van die agtiende en die negentiende eeu hulle self as 'n uitverkore volk met 'n goddelike opdrag beskou het. Sommige redeneer dat Paul Kruger hierdie opvatting in die 1880's die eerste keer begin propageer het. Ander verklaar dat 'n groep intellektuele van Potchefstroom eers na die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) die onontwikkelde idee van 'n uitverkore volk in 'n ideologie omgeskep het.

Dit is geen klein akademiese twis nie. Soos André du Toit aandui, is die idee van die geroepenheid van 'n nasie 'n nasionalistiese idee. As nasionalistiese opvattinge onder die Afrikaners reeds bestaan het voor die industrialisasie van Suid-Afrika, wat in 1886 in alle erns begin het, kan verwag word dat hierdie nasionalisme lewenskragtig sou bly en selfs 'n algehele magsverlies sou oorkom.

Die ortodokse Calvinisme het van die vroeë negentiende eeu waarin die burgers oor die probleme van die dag skryf, is daar nie juis sprake daarvan dat die doopteologie in hul alledaagse lewe vantoepassing gemaak is nie. Hoogstens is daar tekens dat hulle hulle self beskou as 'n spesiale groep mense wat deur die Voorsienigheid hier geplaas is met die opdrag om hulle te handhaaf. Die kerk het beklemtoon dat hulle nie hul geloof en kultuur mag verwaarloos nie.

Aanvanklik was die trekkers baie vaag oor hul reg om die binneland te beset en hulle het geen spesifieke Bybelse regverdiging daarvoor gegee nie. Toe hulle uit die Kaapkolonie weg is, was hul lojaliteit in die eerste plek teenoor hul eie trekgeselskap. Vryheid het beteken om vry te wees van die voortdurende bedreiging van lewe en eiendom, maar daar was geen ontwikkelde besef van 'n reg om die binneland te koloniseer nie.

Die trek was 'n traumatiese ervaring. In 1839 het die Volksraad mismoedig geskryf dat die trekkers nou drie jaar lank in onbekende streke rondswerf "sonder kompas, sonder gids, sonder ervaring, blootgestel aan al die struikelblokke wat die natuur in hulle weg geplaas het." Daar is berge wat so hoog is dat hulle tot aan die wolke strek en daar is ernstige behoeftes en teleurstellings. Hulle word omring en vervolg deur tallose roofdiere en is sonder enige regering en wette.

Na Bloedrivier het die trekkers min gedoen aan die verspreiding van die Christendom onder die Zoeloes. Pretorius se mense het hul gelofte nagekom deur 'n kerk in Pietermaritzburg te bou, maar daar is geen bewys dat hy weer na die gelofte verwys het nie. Na 1839 is openbare vierings van die gelofte gestaak.

Teen 1841 begin die Natalse trekkers teken van 'n geroepenheidsbesef toon. In hierdie jaar het die Natalse Volksraad aan die goewerneur in Kaapstad geskryf dat hulle hulle as 'n instrument in God se hand beskou om die Christelike beskawing te bevorder en swart mense te verhinder om mekaar uit te moor, te roof en geweld te pleeg. In 'n brief van 1842 aan die goewerneur verklaar hulle dat hulle "besit geneem het van die onbewoonde stroke land wat ons deur vriendskaplike onderhandelings en ook met ons bloed en geld verwerf het."

Die Natalse trekkers het hulle al hoe meer beskou as lede van 'n verenigde burgerlike maatskappy - 'n gemeenskap van burgers met die reg om hul eie wette te maak vir die nedersettings wat hulle gestig het.

Hier is daar nog min konkrete aanduiding dat die trekkers hulle elf soos die mense van Israel as 'n uitverkore volk beskou. Gedurende die 1850's kry ons egter twee uitsprake wat wel as getuienis hiervoor beskou kan word. Andrew Murray, wat in die 1850's predikant in Bloemfontein was, verwys na die neiging onder die trekkers "not to distringuish clearly between the nations of Israel and their own to the savages with whom they saw themselves surrounded....They thought that in going forth to conquer they were extending Christianity."

Dan is daar ook 'n verwysing spesifiek na die Doppers. Die bron is W.W. Collings, 'n Engelsman wat in die 1850's soos Murray in Bloemfontein woonagtig was en 'n dagboek bygehou het. (Dit is egter eers meer as vyftig jaar later gepubliseer.) Hy verwys na die Doppers as 'n "peculiar sect evidently obsessed with 'Jehova's wonderful manifestation to his ancient people..in the old Testament." Hy voeg dan by dat die Doppers "seem to be possessed with the idea that they too are a Divinely favoured people in the same sense that Israel was, and have been signally endowed by the Almighty with sufficeint intuitive knowledge and understanding to undertake any mental or other duties."

Volgens Collins is die idee van 'n uitverkore volk by die Doppers oorgedra van vader na seun. As hy korrek was, het hierdie opvatting ontstaan terwyl die Doppers nog in die Kaapkolonie was en het die ervaring van die trek dit heel moontlik versterk. Die gemeenskap van Doppers in die noordoostelike distrikte van die Kaapkolonie was lidmate van die NG Kerk, maar is beskou as vromer en meer konserwatief as enige ander gemeenskap in die kolonie.

Paul Kruger is in 1825 in hierdie gemeenskap gebore. Hy is meer as elke ander Afrikanerleier ten nouste verbonde met die konsep van 'n uitverkore volk wat, soos die israeliete van ouds, 'n verbond met God het om 'n goddelike plan uit te voer. Dit is sekerlik nie toevallig nie dat dit Kruger was wat in 1880 die viering van die gelofte van 1838  in Transvaal laat herleef het.

Hy was maar 'n seuntjie van tien jaar toe sy familie as trekboere die kolonie verlaat het. Hulle het later by Hendrik Potgieter se trek aangesluit. Hy was elf jaar oud toe die Ndebeles Vegkop aangeval het. In 1838 was hy in Natal toe Dingane se leër  geprobeer het om die Voortrekkers uit te wis na die massamoord op Retief en sy manne. Die drama en trauma van die Groot Trek het Kruger in sy geloof gesterk, ook die geloof dat God sy hand oor die trekkers as verbondsvolk gehou het.

Kruger het nie meer as drie maande formele onderwys gehad nie. Hy het dikwels die Bybel op die letterlikste wyse geinterpreteer en daar is rede om aan te neem dat hy tot die einde van sy lewe geglo het dat die aarde plat is. Om enigiets anders te aanvaar, was vir hom net so moeilik as om vir vroue in die republiek die stemreg te gee.

Die vernaamste godsdienstige invloed op Kruger was nie die neo-Calvinisme wat S.J. du Toit  van die jare sewentig af in die Kaapkolonie sou propageer nie. Dit was eerder 'n ortodokse Calvinisme in die sin dat hy geglo het God hou persoonlik sy hand oor hom en sy mense as verbondsvolk. Hy het egter nie geglo dat die volk of die leier heilig is of verhewe bo enige aardse wet of enige ander volk nie. Die volk kon hom verhewe voel wanneer hy aan die Woord van God gehoorsaam is. Net so is daar ook tye wanneer hy nederig en boetvaardig moet wees omdat hy afvallig was.

Ons kan besluit dat die idee van geroepenheid by sekere burgers in die kolonie aanwesig was en dat die ervaring van die trek dit heel waarskynlik versterk het. By die Doppers en spesifiek by Paul Kruger was daar reeds in in die middeldekades van die negentiende eeu 'n vereenselwiging met die kinders van Israel te bespeur.

Die idee van 'n goddelike missie was egter nie wyd verspreid of goed geformuleer onder die Voortrekkers nie en selfs onder die Doppers was daar verskille oor die aard van hul missie. Was dit om die land te verower, of was dit om sendingwerk te doen? Of was dit om te leef ooreenkomstig 'n letterlike vertolking van die Bybel? kruger het sekerlik nie die kettery onderskryf dat swart mense minderwaardig en vir ewig verdoem is nie. Behalwe Calvinisme was Kruger se vernaamste beginsel die ZAR se republikeinse vryheid, wat hy tot elke prys wou verdedig. Hy was oortuig dat hy vervloek sou wees indien hy die onafhanklikeid van die staat opoffer.

'n Unie van burgers

Die onderskeie trekgroepe het verskillende opvattinge oor politieke stelsels gehad. Daar was die republikanisme wat gehuldig is deur Pretorius en 'n "volksraadparty" in Natal; die tweede was 'n semi-outokrasie onder Potgieter op dei Hoëveld; en die derde was wat 'n mens kan noem die staatloosheid en uiterste individualisme wat die trekkers gekenmerk het wat hulle in die suidoostelike deel van die latere Oranje-Vrystaat gevestig het.

Pietermaritzburg was die hoofdorp van die republiek wat in 1839 in Natal uitgeroep is en daar was nog twee klein dorpies, Congella naby Port Natal en Weenen. Die grondwet van die klein republiek het voorsiening gemaak vir 'n volksraad van 24 lede, en 'n stelsel van plaaslike regering bestaande uit 'n landdros of magistraat bygestaan deur burgers wat heemrade genoem is, en veldkornette in die wyke. Alle burgers kon vir kommandodiens, onder bevel van veldkornette en distrikskommandante, opgeroep word.

Aan die hoof was 'n kommandant-generaal wat deur die Volksraad aangestel is. Pretorius het hierdie pos beklee, wat in die praktyk die hoogste posisie in die staatjie was. In 1841 is die republiek uitgebrei deur in die Volksraad verteenwoordiging aan die trekkergemeenskappe in Winburg, suid van die Vaal, en Potchefstroom, noord van die Vaal, te gee. In die republiek het 'n "volksraadparty" ontwikkel, wat sterk teenstand teen onderbreidelde persoonlike mag gebied het.

In 1840 het hierdie party die pos van kommandant-generaal in vredestyd afgeskaf. Dit het steeds daarop aangedring dat die leiers hulle onderwerp aan die wil van die mense, soos dit in die Volksraad weerspieël is. Dit het 'n radikale vorm van selfregering ingestel, met jaarlikse verkiesings, wit manlike stemreg en die reg om memoranda of appelle aan die Volksraad te rig.

Die republikanisme van die Kaapse burgers van die laat agtiende en die vroeë negentiende eeu en die van die trekkers het min politieke of filosofiese diepte gehad. Die versnaamste idees was slagspreuke geleen van die republieke in die Verenigde State, Nederland of Frankryk. Daar is geen aanduiding dat die geskrifte van republikeinse denkers bestudeer is nie. Maar al die kerngedagtes van 'n ideologie van republikanisme was aanwesig: 'n vrye, onafhanklike klas burgers wat eiendom besit en regte, pligte en voorregte het. hierdie idees het reeds lank voor die trek posgevat.

Die trek het hierdie ontwikkeling baie versterk en daar was nou 'n groot verskil tussen die koningesinde Kaapse Afrikaners - die "loyal Cape Dutch", soo die Britte hulle genoem het - en die republikeinse trekkers. Henry Cloete, 'n Kaapse Afrikaner wat grootliks verengels het, het hom in 1843 uitgespreek teen die "strenge republikeinse gevoelens" van die trekkers, en bygevoeg dat hulle so begeester is deur hul idee om die land gesamentlik te regeer dat hulle amper eenparig elke voorstel om hulle te onderwrp aan 'n permanente hoof of oppergesag van die hand wys.

Die trekgeselskap in Natal het op sy sterkste uit selgs 6,000 volwassenes en kinders bestaan. Die taak om 'n nuwe staat in Natal te bou, is baie bemoeilik deur die afwesigheid van 'n sterk uitvoerende gesag. sonder betekenisvolle inkomste kon amptenare nie behoorlik betaal word nie. Daar was geen polisiemag van betekenis nie. Die harde munt wat die trekkers met hulle saamgebring het, was gou uitgeput en die ammunisie baie skraps.

Gedwonge arbeid

Vir die boere was die hoogste prioriteit om swart arbeid vir hul bestaansboerdery te kry en hulle het van die regering verwag om vir hulle arbeiders te kry. Die aantal swartes binne die grense van Natal het van 'n geskatte 10,000 in 1838 tot 40,000 in 1842 gestyg. Volgens 'n ander skatting was daar al 100,000 swart mense. Die maklikste manier om argbeiders in die hande te kry, was om vroue en kinders te vang, soos die kommando's aan die Kaapse noordgrens vyftig jaar tevore Boesmankinders gevang en ingeboek het.

Voor Bloedrivier het Pretorius die burgers gewaarsku om nie Zoeloekiners en -vroue gedurende die geveg te vang nie, aangesien dit hulle aandag sou aftrek. Die implikasie was dat dit tot na die slag gelaat moes word. In die opvolg-ekspedisie, die sogenaamde Beeskommando van 1839 teen Dingane, het die krygsraad elke lild van die kommando gemagtig om twee kinders te vang. Die kinders moes formeel geregistreer en ingeboek word by die amptenare van die republiek; die seuns moes vrygelaat word op ouderdom 25 en dogters op ouderdom 21. Ben Liebenberg, biograaf van Pretorius, skryf dat twee kinders vir sommige burgers nie genoeg was nie; in 'n versoekskrif deur 68 mense is gevra dat in plaas van "twee kleine Zoeloes" vyf gevang mag word. Die krygsraad het toe op vier besluit.

Volgens Liebenberg is daar ver oor die duisend kinders uit Zoeloeland weggevoer. Pretorius het in hierdie veldtog agt kinders tussen 5 en 13 jaar oud gevang, maar dit het vier jaar geduur voordat hy hulle by die sekretaris van die Volksraad geregistreer het. In 1841 het die Volksraad sy onsteltenis uitgspreek oor 'n verslag dat daar handel in Zoeloekinders is, maar dit het nie die mag gehad om hierdie praktyk uit te wis nie. Die grens tueen die vang van kinders en handel dryf met menslike wesens, soos in slawerny, was vir mense wat ver van die regering woonagtig was nie baie duidelik nie.

Toe die eerste aansienlike getalle vee van die trekkers gesteel is, het die Volksraad hom tot Pretorius gewend om 'n kommando saam te stel en die diewe te "straf." Sy optrede was soortgelyk aan die weerwraakaanvalle van kolonel Henry Somerset se patrollies aan die Kaapse oosgrens. In albei gevalle het die kommando's opgetree op grond van karige inligting, en die bedoeling was nie soseer om net die skuldiges te straf nie, maar om al die stamme in die omgewing so te intimideer dat hulle nooit weer sou steel nie. Pretorius het 'n kommando na die suide gelei en kaptein Ncaphayi sonder waarskuwing aangeval. Hulle het 30 mense doodgemaak, 17 kinders weggevoer om ingeboek te word en 3,000 beeste gebuit.

Die Natalse trekkers het ook geprobeer om volwasse Zoeloes as werkers te verkry, maar hulle het nie probeer voorgee dat dit sonder dwang sou slaag nie. J. du Plessis het later gesê: "Daar is geen manier om die Kaffers te regeer behalwe by wyse van vrees nie, en die Kaffers sal nie werk vir wit mense nie behalwe as hulle weet dat hulle gestraf sal word wanneer hulle weier." Zoeloemans was in elk geval ne daaraan gewoond om vir ander mense landbou te behoefen of vee op te pas nie. Hulle sou selgs werk as hulle bang was vir swaar straf.

In 1840 het die Volksraad Pretorius se versoek geodgekeur dat 'n patrollie uitgestuur word om kapteins saam met hul volgelinge aan te keer en te verplig om vir boere te werk. Dit is nie bekend of hierdie besluit uitgevoer is nie. Die Volksraad het dit ook oorweeg om wetgewing ta passeer wat rondswerwende swart mense sou verplig om by die wittes in diens te tree. Die Zoeloes is herhaaldelik vermaan dat as hulle nie vir die trekkers wil werk nie hulle moet wegtrek, maar dié dreigement het min afgeskrik. Pretoirus was ontstig oor die weiering van die Zoeloes om op sy of ander plase te werk: hy het nie gehuiwer om hulle te dwing om te werk nie en het hulle selfs afgeransel.

Die trekkers se eie drang na vryheid en selfregering het nie vir die swart mense gegeld nie. Hule is as minder beskaaf gereken, net goed om bevele te gehoorsaam en gestraf te word as hulle weier. Vryheid was volgens hierdie opvatting 'n blanke reg.

Ontstoke armes en woedende vroue

Brittanje het self geen aanspraak op die verre binneland gehad nie en kon niks doen aan die feit dat 'n groot aantal koloniale onderdane hulle buite die koloniale grense vestig nie. Toe dit lyk of die swart gemeenskappe ontwrig sou word, het die Britse houding egter verander. Sendelinge het nuus van die Pretorius-kommando teen Ncaphayi deurgestuur. Daar was ook berigte oor die van van Zoeloekinders om ingeboek te word, en die Volksraad se voorneme om "oorbodige" Zoeloes na 'n gebied suid van die republiek se grens te verskuif. Dit het by die Britte die vrees laat ontstaan dat die Zoeloes in opstand kon kom en dat die onrus oor die Kaapkolonie se grens kon spoel. Met Britse beheer oor die hawe van Port Natal kon 'n oog gehou word oor die invoer van ammunisie na die trekkers en so kon die moontlikheid van geweld beperk word.

In 1838 het Britse troepe Port Natal 'n kort tydjie beset. In 1842 het die Britse minister van kolonies die anneksasie van Natal goedgekeur en op 12 Mei 1843 is Natal tot Britse kolonie geproklameer. Advokaat Henry Cloete is met 250 man na Port Natal gestuur om as verteenwoordiger van die kroon 'n ooreenkoms met die Natalse Volksraad ten opsigte van die geannekseerde gebied aan te gaan. In Julie 1842 het die Volksraad Cloete in Pietermaritzburg ontvang. Met 'n oproerige skare buite die gebou het die volksraad, wat net uit mans bestaan het, besluit om die republiek te laat vaar en hulle aan Britse gesag te onderwerp.

Cloete se koms het die klas- en geslagsverdelinge in die trekkergemeenskap blootgelê. Die meer welgestelde, beter opgevoede en invloedryke mense het reeds gevestig geraak en die Britte sou heel waarskynlik hul grondeise erken. Volgens J.N. Boshoff het hulle materiële belange swaarder as "die punt van vryheid" geweeg. Pretorius was 'n vooruitstrewende boer op wie se plaas, Welverdiend, uitgebreide kampe en tuine onder bewerking was. Hy het verskeie ander plase gehad. Pretorius was dus klaarblyklik 'n lid van die bogenoemde groep, maar sy houding sou daarvan afhang of die Britte hom sou toelaat om arbeiders op sy manier in diens te hou.

Die hoofsaaklik arm en ongeletterde deel van die trekkers was heftig gekant teen die onderwerping aan die Britste gesag en hulle sou min verloor as hulle beter vooruitsigte op die Hoëveld oorkant die Drakensberge sou gaan soek. Hulle was waarskynlik sterk verteenwoordig in die skare buite die gebou waar die Volksraad Cloete te woord gestaan het.

Daar was ook sterk politieke verskille tussen mans en vroue. Afrikanervroue was 'n dryfkrag agter die trek. Met die aanvang van die trek het 'n Britse grensboer geskryf: "They fancy they are under a devine impulse...the women seem more bent on it than the men." Die vroue het die trek nie net as aanhangsels van hul mans aangepak nie; hulle het besluite geneem en dissipline oor die bediendes toegepas. Hierdie gesag is in die dekade voor die trek ondermyn toe bediendes en ingebokte slawe begin het om hul baas en nooi voor die hof te sleep.

Trekkervroue het reeds in 1838 op die voorgrond getree met hul sterk teenkanting teen die Britse besetting van Port Natal. Die Britse bevelvoerder het gerapporteer dat die vroue, ondanks ontberings en groot onsekerhede, die gedagte aan terugkeer na die kolonie met minagting verwerp het. Hy het bygevoeg dat wanneer sommige mans onseker raak en dit begin oorweeg om na die kolonie terug te keer, dit die vroue is wat hulle opnuut aanspoor en die gees van verset onder hulle lewendig hou.

By die vergadering in Peitermaritzburg het 'n afvaardiging van vroue Cloete gekontronteer. Die leidster was Susanna Smit, suster van Gert Maritz, wat voorsitter van die Volksraad was. Haar ma het haar op dertienjarige leeftyd teen haar sin laat trou met die sendeling Erasmus Smit, wat twee dekades ouer was. Op die trek moes die egpaar Smit van 'n karige pensioen leef en hul finansiële toestand was so benard dat hulle soms net brood, bitter koffie en eiers gehad het om te eet.

Die historikus George Cory, wat waarskynlik op oorlewering staatgemaak het, beskryf Susanna Smit as volg: "This lady appears to have been an Amazonian of fine build and stature and to have posessed a voice and command of language commensurate with her size and strength." Hy sê Erasmus Smit was "small and timid". Sy vrou se besware was so heftig dat hy haar tot bedaring probeer bring het. "Stil, my vrouw, bly 'n bietjie stil, stil my kind." Cory gee Susanna se reaksie in Engels: "You wretch", she shouted in expressive idomatic Dutch: "Shall I be still while you stand there silent? I will wear the breeches now."

Susanna Smit en haar afvaardiging van vroue het aan Cloete gesê dat die mans beloof het om aan hulle seggenskap te gee "in alle sake wat die land raak", omdat die vroue in gevegte skouer aan skouer met die mans gestaan het. Hulle is verontwaardig dat die Volksraad, wat net uit mans bestaan, nou bereid is om hulle aan die Britse gesag te onderwerp ten spyte van die vroue se sterk besware.

Smit en haar afvaardiging het Cloete meegedeel dat "dit hulle vaste voorneme is om hulle nooit aan Britse gesag te onderwerp nie. Hulle sal eerder oor die Draaksberg [Drakensberg] kaalvoet terugstap om in vryheid te sterf, aangesien hulle die dood verkies bo die verlies van vryheid."

Die vroue se woede het Cloete ontstel. Hy het geskryf: "It was a disgrace on their hunsbands to allow them such a state of freedom." Die vroue se proteste was tevergeefs. Die Bristse gesag met dieselfde nierassige orde aan die Kaap sou in Natal gevestig word, almal sou voor die gereg gelyk wees, aggressie teen die inheemse stamme sou gestraf word en slawerny sou nie toegelaat word nie.

Pretorius het vier jaar gewag voordat hy uit Natal weggetrek het. Hy het Natal verlaat slegs toe dit begin duidelik word dat daar geen hoop is vir 'n maatskaplike orde waar swart mense verplig sou wees om as plaasarbeiders te werk of in verafgeleëe lokasies te woon nie. Susanna Smit het nie kaalvoet oor die Drakensberg teruggestap nie, maar in Natal aangebly. Sy het in 1862 in Pietermaritzburg gesterf.

Potgieter se semi-outokrasie

Potgieter en sy mense het hulle nie gebonde gevoel aan die Natalse Volksraad se onderwerping aan Britse gesag nie. Hy wou sy eie regering tot stand bring en dit sou sterk verskil van die volksdemokrasie van die Natalse trekkers. In 1844 het die Potgietergemeenskap by Potchefstroom 'n burgerraad ingestel en 'n grondwet van 33 artikels aangeneem wat vir jaarlikse verkiesings voorsiening gemaak het. Die volgende jaar het Potgieter besluit om sy vesting van Potchefstroom na die aanloklike Oos-Transvaalse Bosveld te verskuif. Hier het hy die dorpie Andries Ohrigstad gestig. Dié skuif was rampspoedig. In die welige plantegroei het 'n verwoestende vyand geskuil: die tstse-vlieg, wat vee by die honderde en duisende laat vrek het. Een boer het 1,200 skape, 14 perde en 200 beeste verloor.

Dit was ook nie die enigste probleem nie. Die swart stamme in die omgewing het by die dag vyandiger geword. Die gemeenskappie van trekkers het self gevaar geloop om te disintegreer. Baie trekkers het die veeboerdery laat vaar en was gedurig uit op die jag om olifante te skiet en ivoor in die hande te kry.

Om die naarheid te kroon, het politieke twiste die gemeenskappie lamgelê. Potgieter het hom self die hoogste gesag toegeëien. Sy regverdiging was dat die Pedi-leier, Sekwati, die grond aan hom persoonlik afgestaan het in ruil vir 'n belofte dat die trekkers hom in die toekoms teen Swazi-aanvalle sou beskerm. Potgieter het op jurisdiksie oor die distrikte Potchefstroom en Winburg aanspraak gemaak as sogenaamde adjunkkolonies. Kort nadat hy op Ohrigstad aangekom het, het hy aangekondig dat die burgerraad nie langer by Potchefstroom sou vergader nie, maar waar hy en sy naaste volgelinge is.

Tussen 1845 en 1860 was die trekkergemeenskappie in die noordelike Transvaal onder die gesag van die Potgieter-familie. Hendrik Potgieter is na sy dood in 1852 opgvolg deur sy seun, Piet, en daarna deur Stephanus Schoeman, wat met Piet se weduwee getrou het. Selfs Potgieter se eie seun het erken dat sy vader eintlik geinteresseerd was in 'n "eenkoppige" regering. Sy opponente het gevrees dat hy van plan is om diktatoriale magte te eis en alle besluite  van die burgerraad te ignoreer.

Party van die trekkers wat uit Natal uitgewyk het, het hulle by die gemeenskap aangesluit. As lede van die volksraadparty was hulle ultrademokraties. 'n Verlammende twis het feitlik onmiddelik uitgebreek. Die leier van die sogenaamde volksraadparty, J.J. (Kootjie) Burger, was baie krities teenoor Potgieter se volgelinge. Volgens hom het hulle nie omgegee om wette te ignoreer nie omdat hulle so lank daarsonder geleef het. In 1845 het 'n Volksraad in Ohrigstad tot stand gekom met Burger as sekretaris.

Die geskille tussen die Potgieter-mense en Burger se volksraadparty was van diepgaande aard. Burger se party het die heil van die gemeenskap in die veeboerdery gesien; Potgieter het al hoe meer in jag en veebuitery belang begin stel. Hy het bondgenootskappe met sekere swart kapteins gesluit en ander stamme beroof. Saam met Coenraad de Buys se basterseuns het hulle jaarliks 'n heffing van die omliggende swart stamme geëis. Potgieter het vinnig ongewild begin raak. Sy vyande het hom daarvan beskuldig dat hy te wreed teenoor die swart mense is en te veel "na hul vee en na olifanttande smag".

In 1846 het Potgieter die Volksraad se verlof gevra om 'n kommando teen Mzilikazi uit te stuur. Die voorwendsel was dat hy die paar wit kinders wat vermis is na die Ndebele aanval tien jaar vroeër op 'n Voortrekkerlaer wou gaan terugkry. Burger, as hoof van die volksraadparty, wou hê dat daar streng bevele uitgereik moet word dat die kommando nie onskuldige krale aanval en onskuldige bloed vergiet nie.

Die Potgieter-kommando het hulle nie daaraan gesteur nie. Toe hulle Mzilikazi nie kon vind nie, het hulle 'n ander stam aangeval. Volgens die sendeling David Livingstone is 'n enorme aantal beeste en 10,000 skape buitgemaak en 400 mense is gevange geneem.

Op hierdie tydstip was die Potgieter-mense en die volksraadparty op die rand van 'n burgeroorlog. Elke kant was verstrengel in konflikte tussen wart stamme, en elkeen het geprobeer om swart bondgenote teen hul opponente, wit of swart, in hul gevegte aan te wend. Toe 'n Zoeloe-aanval op Ohrigstad dreig, het Potgieter dit goed geag om die nedersetting te verlaat met nog 'n kommando teen Mzilikazi in die huidge Zimbabwe.

Hy kon sy vyand weer nie vind nie en kon dié keer geen buit terugbring nie. Toe die kommando terugkeer, het hulle sonder aanleiding kaptein Langa en sy Transvaalse Ndebeles aangeval. Langa was 'n vriend en bondgenoot van die Orighstadnederstetting.

In kliniese taal, wat die trefkrag soveel groter maak, vertel die Stellenbosse historikus P.J. van der Merwe die verhaal van die afgryslike gebeure. Langa se kraal was baie groot en ryk aan vee. Langa het gehoor dat die boere hom wil skiet en het 'n deputasie van 20 man na Potgieter se laer gestuur. Die boere was kwaad dat Langa nie self gekom het nie, en het almal doodgemaak.

Van der Merwe skryf verder: "Teen dagbreek die volgende oggend het die aanval [deur die Potgieter-kommando] begin. Die geveg het vier dae aangehou. Groot getalle beeste en skape is buitgemaak. Enorme getalle mense, sowel mans en vrouens, is om die lewe gebring en baie kinders is gevange geneem. Die stat was egter so groot dat dit nie moontlik was om almal dood te skiet of gevange te neem nie."

Van der Merwe skryf dat op die vyfde dag die vroue en kinders in die laer gejaag is om hulle van mekaar te skei, en vervolg dan: "Op Potgieter se bevel is al die vrouens - van wie sommige kinders aan die bors gehad het - in die laer deur swart mense met assegaaie doodgesteek. Die kinders is later drie tot vier per man, onder die lede van die kommando verdeel. Elke burger het 'n groot getal beeste gekry..."

In sommige gevalle het die kommandolede die kinders gehou om vir hulle te werk en in ander gevalle is hulle uitgeruil vir tussen £7 en £15 verkoop. Volgens 'n verslag is party lede van Potgieter se kommando vervul met weersin en het hulle kort daarna die kommando verlaat.

In Ohrigstad het Potgieter hom teen hewige kritiek vasgeloop. Adriaan de Lange, 'n inwoner, het gewaarsku dat die Potgieter-kommando die land in 'n krisis gedompel het waarvan dit eers na baie jare sou herstel. Hy het optrede teen Potgieter geëis en het selfs daaraan gedink om hom self te straf. Die Potgieter-faksie en hul opponente het op mekaar geskiet.

Hierna het die gemeenskap vinnig gedisintegreer. In 1849 het Potgieter en sy volgelinge Schoemansdal, 'n nuwe nedersetting, begin. Sy opponente het na die oostelike deel van Transvaal getrek en daar die dorpie Lydenburg gestig. Die omstandighede hier was net so treurig soos in Ohrigstad. In1850 het 'n verslag gemeld dat Ohrigstad heeltemal verlate is. Die eerste poging deur die trekkers om 'n nedersetting in die noordelike deel van Transvaal te stig, was 'n skandelike mislukking.

Die "staatlose" Afrikaners in Transoranje

Aan albei kante van die Oranjerivier het die trekkers in die 1830's en 1840's Griekwas teëgekom. Hierdie gemeenskappe het hulle self in "kapteinskappe" georganiseer, wat deur die Britse regering erken is. Een was by Klaarwater (later hernoem tot Griekwastad), wes van die Oranjerivier, waar Andries Waterboer in 1819 tot kaptein verkies is; die ander was by Philippolis, net oos van die Oranjerivier, waar Adam Kok die Derde in 1837 aan die bewind gekom het. 'n Raad het 'n kode van wette aangeneem en dit is toegepas deur veldkornette wat in elke wyk as die raad se verteenwoordigers opgtree het. Hierdie politieke stelsel het 'n sekere mate van stabiliteit gebring. Die eerste trekkers wat hulle in die huidige Vrystaat gevestig het, was trekboere wat hulle lojaliteit aan die Kaapse regering nog lank betuig het.

Die trekboere het nie met ander gemeenskappe gebots nie en Britse sendelinge soos John Philip het hulle nie as 'n bedreiging vir die Griekwas beskou nie.

Aanvanklik het Hendrik Potgieter ook vreedsame samwerking beoog. Toe hy in 1844 'n verdrag aan Kok aanbied, het hy geskryf: "Ons is emigrante net soos julle. Ons leef saam met julle in hierdie vreemde land en ons begeer om as niks minder as julle mede-emigrante beskou te word nie, [mense] wat die land bewoon en met julle dieselfde voorregte deel." In die Caledonvallei het boere nie omgegee om Moshweshwe se verlof te vra om in sy grondgebied te kom woon nie. Hulle het nie sy gesag in twyfel getrek nie.

Philp was bang dat die Voortrekkers die onafhanklikheid van die Griekwa-kapteins sou ondermyn en ook die Basotho onder Moshweshwe sou bedreig. Hy het goewerneur Napier oorreed om verdrae met Waterboer en Kok en ook met Moshweshwe te sluit ten einde die vrede in die gebied te bewaar. Die verdrae kon egter nie verhoed dat die Griekwa-kapteins al hoe grond aan die trekkers verkoop nie, wat die kapteins se gesag ondermyn het.

Hoe langer die Voortrekkers in die gebied gebly het, hoe meer spanning het dit versoorsaak. Dit is op die spits gedryf toe die kapteins sekere wit mense arresteer. Die Voortrekkers het heelwat meer gewere en ammunisie as Kok en Waterboer gehad en die kapteins kon al hoe minder op die Kaapse regering staatmaak. Die regering het sy vertroue in die verdrae begin verloor. Teen die einde van 1846 het die water nog troebeler geraak.

Andries Pretorius en baie Natalse trekkers het besluit om weg te trek van die Britse gesag. Hul lewe daar was onveilig; hulle is deur sowel Boesmans as swart mense bedreig. 'n Rukkie  het Pretorius dit oorweeg om die Britte saam met Zoeloe-bondgenote die stryd aan te sê, maar later daarteen besluit. Hy en die groot meerderheid van die Natalse trekkers het vroeg in 1848 hul plase verlaat en onafhanklikheid op die Hoëveld gaan soek.

Op hul trek oor die Drakensberg in gietende reën het hulle sir Harry Smith, goewerneur van die Kaapkolonie raakgeloop. Hy het met sy ontwikkelde sin vir oordrywing geskryf: "I was almost paralyzed to witness the whole of the population with few exceptions 'trêking' [sic]. Rains on this side of the mountains are tropical...and [these] families were exposed to a state of misery which I never before saw equalled."

Toe hulle weier om na hulle plase terug te keer, het Smith hulle meegedeel dat Brittanje van plan is om sowel die Transoranje as Transvaal as Britse gebiede te annekseer.

Pretorius het hom nie laat intimideer nie. In Februarie 1848 het hy aangekondig dat hy die Transoranje en Transvaal tot 'n onafhanklike staat wil verklaar. Hy was nou gereed om met militêre mag, petisies en onderhandelings, of wat ook al, onafhanklikheid te verkry. Maar Smith het die gebied tussen die Oranje- en die Vaalrivier as die Oranjerivier-soewereiniteit geannekseer en 'n Britse resident met 'n klein militêre mag in Bloemfontein geplaas.

Dit was 'n ernstige terugslag vir die Voortrekkers, wat gehoop het om hulle as 'n outonome gemeenskap hier te vestig. Pretorius het in 1848 die eerste keer verklaar dat die trek ontstaan het as die uiting van 'n begeerte tot onafhanklikeheid en vryheid. "Vir vryheid het ons alles opgeoffer, " het hy verklaar. Hy het die Afrikaners voorgehou as mense teen wie die Britte diskrimineer, 'n gemeenskap wat selfs minder regte as die Griekwas het. 'n Manifes wat deur negehonderd burgers onderteken is, het verklaar dat die Britte aan die gekleurde bevolkings selfregering en al die voorregte van vryheid toegestaan het. "Waarom is dieselfde reg tot selfregering nou van die trekkers weerhou?" Die antwoord het Pretorius self gegee. "As ons miskien gekleurd was, was dit miskien moontlik, maar nou vind ons dat dit onmoontlik is omdat ons wit Afrikanerboere is."

'n Britse "soewereiniteit" op die Hoëveld

Goewerneur Harry Smith het Pretorius en sy volgelinge as 'n ernstige bedreiging vir die Britse belange beskou. Hy het weldra met 'n troepemag van 800 man na die noorde vertrek en in 'n kort maar beslissende stryd het hy Pretorius se mag by Boomplaats verslaan. Pretorius het oor die Vaalrivier gevlug en nuwe volgelinge byeengebing naby die moderne Pretoria. Hy het met Potgieter om mag en invloed meegeding en daarin geslaag om die trekkers buite Potgieter se invloedsfeer na hom toe aan te trek. In 1849 het hy 'n volksraad vir die hele Transvaal-streek ingestel. 'n Kommandant-generaal is aangestel in elk van die vier belangrikste streke: die sentrale en suidelike streek, Soutpansberg in die noorde, Lydenburg in die ooste en Marico in die Weste. Die volksraad het aan Pretorius 'n mandaat gegee om oor 'n politieke skikking vir die trekkers noord van die Vaal met Brittanje te onderhandel.

Die Britse gesag oor Transoranje was wankelrig. Na die oorwinning by Boomplaats het die Britte slegs 'n gebrekkige administratiewe raamwerk ingestel om die soeweriniteit te beheer: 'n resident (Henry Warden), vier magistrate, vyf klerke, agt konstabels, een NG predikant, vier onderwysers en 250 troepe. Richard Southey, 'n vooraanstaande Engelse setlaar in die Oos-Kaap, het opdrag ontvang om die soewereiniteit se grense vas te stel.

'n Aansienlike aantal Britse setlaars het na die proklamasie van die soewereiniteit daar opgedaag en hulle in Bloemfontein en ander dorpe as professionele lui en as boere in die suidooste gevestig. Net soos in die geval van die setlaars aan die Kaapse oosgrens het 'n drukgroep hier ontstaan wat 'n streng beleid teen die naburige swart stamme geëis het. Hulle het gevra dat Moshweshwe deeglik aan bande gelê word en dat die grens so verskuif word dat die wit mense die vrugbare Caledonriviervallei kry. Die setlaars het hul vaste oortuiging uitgespreek dat die wit mense en die Sotho's in vrede kon saamwoon net as 'n vaste grens hulle skei.

Daar was opvallende verskille tussen die Britse setlaars en die Afrikaners in die streek. Die Engelssprekendes was geneig om hulle tot die Britse imperiale owerheid te wend om hulle aanspraak op grond te bevestig, paaie te maak, markte te skep en swart mense te onderwerp. Vir baie Afrikaners in die suidooste was dit geen prioriteit om 'n staat te stig nie, allermins 'n Engelse staat. Baie het verklaar dat hulle sou weier om belasting aan die soewereiniteit te betaal. Ook wou hulle nie 'n vaste grens hê wat die wit en die swart gebiede skei nie. Sommige boere het bestaan deur met die Sotho's handel te dryf, veral deur die ruil van ammunisie en gewere vir koring wat die sotho's geporduseer het. Hulle het ook nie omgegee om Moshweshwe te vra om aan hulle 'n dokument te gee wat hul grondaansprake bevestig nie.

Josias Hoffman, wat die eerste Vrystaatse president sou word, het beswaar aangeteken teen 'n plan om ongeveer drieduisend Sotho's uit die Caledonriviervallei te verjaag. "Die naturelle sal nie trek nie en sal wraak neem oor sulke onregverdige behandeling."

Hy het ook gesê: "As Southey dink dat hy die Boere na die kant van die Britse regering kan oorhaal deur hulle al die grond te gee, maak hy 'n fout. Hy ken nog die Boere, nog die Naturelle."

Henry Warden, die resident, het erken dat die burgers in die omstrede gebied langs die Caledonrivier aan die suidooste die geag van Moshweshwe bo dié van die Britse regering verkies. Sy beroepe om rasse-solidariteit ten einde "die gemeenskaplike vyand van die wit man te onderwerp" het op dowe ore geval. Die Agste Grensoorlog in in 1851 aan die Kaapse oosgrens uitgebreek. Dit het Engelssprekendes in die soewereiniteit paniekerig gemaak. The Friend, die Engelstalige koerant in Bloemfontein, het geskryf: "We see a war of races...the declared aim and intention of the black man being to drive the white man into the see." Die blad het gevra hoe die wittes moet reageer teenoor die "extensive conspiracy" en geantwoord: "We answer in one word: UNION: Let the white man in South Africa be united, and at the same time let them be just."

In 1852 het 'n groot mag onder die Kaapse goewerneur, sir George Cathcart, Moshewhwe aangeval, aar die offensief het gou momentum verloor. Moshweshwe, bedrewe diplomaat en krygsman, het gevra dat vrede gesluit word voordat die Britse mag 'n skandelike nederlaag ly. Dit was 'n leë oorwinning vir die Britte. Cathcart het die imperiale regering aangeraai om 'n vaste garnisoen van tweeduisend man in die soewreiniteit te plaas om die Britse gesag te versterk.

Die invloed van die sendelinge en ander humanitêre invloede het begin taan. Die liberaal John Fairbairn in Kaapstad, wat in die 1820's en 1830's hard geveg het om die Khoisan-mense te bevry en die slawe vry te stel, het nie meer so negatief oor die Groot Trek gedink nie. Hy en ander het nou hul aandag toegespits op die uitdaging om die binneland oop te stel en die inheemse volke "te beskaaf". Fiarbairn het geskryf: "It is now clear that the destruction of Matsilikatzi and the overthrow of Dingaan were steps in die Providential Scheme of tranquilizing Southern Africa. De Zuid-Afrikaan het nou die trek beskou as soortgelyk aan die uittog van die Israeliete uit Egipte en as 'n middel om die evangelie en "beskawing" aan die wilde stamme in die binneland van suid-Afrika te bing.

Maar die Britse beleidmakers in Londen was moeg daarvan om al hoe dieper in die politieke dryfsand van die verre binneland van Suid-Afrika te beland. Hul prioriteit was nou besparing. Hulle wou nie graag ekspansionistiese en militaristiese Engelse handelaars en spekulante ondersteun wat Moshweshwe se grondgebied begeer het nie. Die Britte wou nou eerder hê dat die trekkers die grensgeskille met die swart stamme besleg, die mense onderwerp en verplig om hulle arbeid aan die koloniste te lewer.

Met hierdie doelwitte  voor oë het Brittanje by die Sandrivier-konvensie van 1852 aan die Transvaalse trekkers die reg gegee om hulle self te regeer en ammunisie van die Britse Kolonies te koop. Brittanje het ook beloof om alle bestaande bondgenootskappe met die sogenaamde gekleurde nasies noord van die Vaal op te sê en om die wapenhandel met swart stamme te verbied. Brittanje se vernaamste eis was dat die republiek geen slawerny moes toelaat nie.

In die Oranjerivier-soewereiniteit was die Britte so haastig om hulle te ontrek dat die onderhandelaar nie met die trekboere wat lojaliste was wou praat nie en 'n groep burgers aangewys het wat hy as "verteenwoordigers" bestempel het. Met hulle het hy die sogemaande Bloemfontein-konvensie gesluit. Dit het die trekkers tussen die Vaal-en die Oranjerivier gemagtig om hulle eie regering te vorm en ammunisie van die Kaap of Natal te koop. Adam Kok het in die vroeë 1860's sy grond verkoop en oor die Drakensberge getrek om 'n nedersetting in Griekwaland-Oos te vestig.

Sonder voorbereiding of trompetgeskal  is die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) in 1852 uitgeroep en twee jaar later die Oranje-Vrystaat (OVS). Daar was nou ongeveer 20,000 burgers en hul families in die ZAR en 15,000 in die OVS. Sommige OVS-burgers het nie dadelik die gedagte laat vaar om hul staat in die Kaapkolonie te laat inlyf nie. Die groot meerderheid van die burgers het egter stoere republikeine geword. Aangesien Brittanje die hawens van Suid-Afrika en die verskaffing van ammunisie beheer het, het die Britte min te vrees gehad van hierdie twee arm republieke.

Die twee nuwe republieke was in werklikheid nie veel meer as state in naam nie. 'n Paar maande voor sy dood in Desember 1850 het Hendrik Potgieter in 'n moedelose bui aan sy medeleier Andries Pretorius geskryf dat die tyd van die verlossing nog nie naby is nie. Daardie dag sou nou eers aanbreek wanneer die trekkers deur hardwerkendheid en vreedsame gedrag 'n nasie word.

Diskriminasie in staat en kerk

Op verskillende tye moes die trekkers oor burgerskap-kwalifikasies besluit. Die grondwet van die Voortrekkers in Natal in 1839 het die stemreg beperk tot wit mans. Potgieter se mense het die 33 artikels in 1844 aangeneem, wat basters (mense gebore uit huwelike tussen Europeërs en nie-Europeërs) "tot die tiende graad" toegang tot hul instellinge ontsê het.

Of die trekkers nie-wittes van kerkdienste uitgesluit het, is nie bekend nie, deels omdat daar op die trek geen formele kerk was nie. Die NG Kerk het versuim om 'n predikant na die trekkers uit te stuur en eers in 1849 het Andrew Murray in Bloemfontein opgedaag. In plaas van predikante het die trekkers sendelinge gebruik, eers Erasmus Smit en later Daniel Lindley, 'n Amerikaner. Die trekkers het gemeentes gevorm, kerkrade gekies, kinders laat doop wanneer daar 'n geleentheid was, kommissarisse aangestel om mense te trou, skoolmeesters gebruik om elementêre onderwys te gee en "kategisme-meesters" om die Christene in die kerk se leerstellinge te onderrig. Die NG Kerk het geweier om hierdie huwelike te erken en het die kinders wat uit die huwelike gebore is as buite-egtelik beskou.

Die trekkers sou nie sommer iets doen wat regstreeks met die gevestigde parktyke in die Boland bots nie, waarvandaan die sterkste intellektuele en geestelike invloede uitgegaan het. Hulle was bitter teleurgesteld dat die Kaapse sinode die trek afgekeur het en geen predikante na hulle uitgestuur het nie. Maar hulle het waarde geheg aan hul lidmaatskap van die kerk van hul vaders. Hulle was ook daarvan bewus dat die NG Kerk in Kaapstad in die vroeë jare vyftig klem gelê het op sy eie nierassige aard, sonder druk van die regering. Hulle het verder geweet dat die Kaapse Afrikaners die Kaapse grondwet van 1853 met sy nierassige stemreg gegrond op lae eiendomskwalifikasies onder die kolonie die lae eiendomskwalifikasies en die nierassige stemreg teengestaan het, soms in sterk rassistiese taal. Robert Godlonton, redakteur van die Grahamstown Journal, wat simpatiek teenoor die trek gestaan het, het die universele stemreg as 'n "Groot onreg teenoor die Europese ingesetenes" beskou.

Daar was dus botsende invloede. Die Vrystaatse grondwet is opgestel deur J. Groenendaal, 'n  Hollandse onderwyser, en twee lede van die Engelssprekende party in die Vrsytaat, A. Coqui en J.M. Orpen. Die grondwet het as burgers aanvaar alle wit mense wat minstens ses maande in die republiek was. Die stemreg is aan alle volwasse manlike burgers toegeken, maar in die praktyk is 'n rasseonderskeid gemaak. Alle gemeentes het by die NG Kerk van die Kaapkolonie ingeskakel. Dit het beteken dat hulle die beleid van niediskriminasie op grond van kleur of ras aanvaar het.

In die ZAR het 'n Hollandse predikant, ds. Dirk van der Hoff, die leiding geneem om 'n kerk te stig wat swart mense uitdruklik uitgesluit het. Hy het in 1852 uit Nederland aan die Kaap aangekom en was baie jare die enigste predikant in die ZAR. Hy was 'n godsdienstige entrepreneur wat regstreeks in mededinging met die Kaapse NG Kerk was. Die Kaapse kerk was gretig om die gemeentes in Transvaal in te lyf en het 'n afvaardiging gestuur om dit te bewerkstellig. Hierdie predikante het daarop gewys dat die kerk "bestaande verskille in rang en stasie erken" en in baie gevalle aparte kerkgeboue toegelaat vir mense wat nie wit is nie. Maar hulle het dit beklemtoon dat daar geen uitsluiting op rassegronde kon wees nie.

Die afvaardiging het in die Kaapkolonie gaan rapporteer dat rassegelykheid die groot paaiboelie vir die republiek se mense is. Vasbeslote om sy eie kerk te vorm, het Van der Hoff 'n wit kerk voorgestaan. Hy het die vertroue geniet van Andries Pretorius se seun, Marthinus Wessel Pretorius, wat na sy vader se dood in 1853 die vernaamste politieke en militêre figuur in Transvaal was. Van der Hoff was voorsitter van 'n komitee wat besluit het om 'n nuwe kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NH Kerk), te vorm. Dit sou die staatskerk wees en dit sou nie by die sinode van die Kaapse NG Kerk aansluit nie.

Die gemeente in Lydenburg het geweier om Van der Hoff as hulle predikant te erken, omdat hy die bande met die Kaapse kerk wou verbreek. H.T. Burhrmann, ook 'n Hollander, het uit Lydenburg geskryf dat Van der Hoff volhou dat die Kaapse NG Kerk nie goed vir hulle is nie omdat die gekleurdes en die wit bevolking as gelykes gehandel word.

Die grondwet wat uiteindelik in 1858 vir die ZAR aanvaar is, het kategories verklaar dat daar geen gelykheid tussen wit en swart in of die kerk of die staat toegelaat sou word nie. In 'n belangrike  mate was dit toe te skryf aan die lugleegte wat ontstaan het toe die Kaapse NG Kerk so lank getalm het om bande met Transvaal aan te knoop. As hulle dit gedoen het, sou Van der Hoff dit baie moeiliker gevind het om sy rasse-agenda uit te voer. Die Lydenburgse gemeente het deel van die Kaapse kerk geword.

In 1859 is nog 'n kerk, die Gereformeerde kerk (die sogenaamde Dopperkerk), gestig, wat sy teologiese en morele beginsels betref die mees konserwatiewe van die drie kerke. Een van die stigters was Paul Kruger, wat polities en ideologies die grootste invloed van alle leiers op die ZAR sou uitoefen. Een van die invloede op Kruger was godsdienstige geskille in Nederland. In 1834 het 'n Calvinistiese herlewing in die werkersklas ontstaan wat gelei het tot die vorming van 'n aparte kerk. Dit het die teologiese liberalisme van die Gereformeerde Kerk van Nederland verwerp en saam daarmee ook die verswakking van die tradisionele  konfessionele standaarde, die gebruik van gesange in kerkdienste, wat beskou is as 'n simbool van die erosie van die ware Gereformeerde leerstellings, en sekulêre onderwys.

Saam met ander Doppers het Kruger die behoefte uitgespreek om 'n eie predikant uit Nederland te laat kom. Dirk Postma, wat in Nederland 'n afstigter was, het in 1859 die eerste predikant van die Gereformeerde Kerk geword. Gemeentes het in Transvaal en mettertyd ook elders in Suid-Afrika tot stand gekom.

Sukkelende nuwe demokrasieë

Die republieke se sukkelende ekonomieë kon nie die boere saamweef in 'n hegte gemeenskap of 'n doeltreffende staat bied nie. Die koloniale hawes was ver weg en nie een van die twee republieke het uitvoerprodukte gehad nie. Daarsonder was die harde munt gou uitgeput. Die twee republieke en hul burgers het diep in die skuld geraak by vreemde handelaars en banke.

Vir die burgers was dit, omdat die markte so ver verwyder was, moeilik om iets anders as 'n bestaansboerdery op die been te bring. As bestaansboere was hulle onwillig om belasting te betaal, omdat die staat so min dienste verskaf het. Baie het geweier om te gaan wanneer hulle vir kommandodiens opgeroep is. Markte, dorpe en 'n gemeenskapsbesef het bitter stadig ontwikkel.

In 1851 het die Transvaalse Volksraad, wat voor die republiek se stigting bestaan het, hom tot die gelykheid van elke burger verbind: "Elk is vrij, wij otzien ons niet voor elkander rijk of arm, allen is elkander als mensch gelijk." Maar afgesien van hierdie gelykheidstrewe het die meeste Voortrekkers en hul kinders eerder geweet wie hulle nie is nie - nie Britse onderdane nie - as wie hulle is.

Ons tref verskillende vorme van identifikasie aan in die voorleggings wat  die wyke in die OVS opgestuur het na die komitee wat in die vroeë jare vyftig 'n grondwet aan die opstel was. "Afrikaner" is slegs een van verskeie terme. Een dokument verklaar: "Ons noem alle mense Afferkaanders [sic]  nie slegs wanneer hulle in hierdie land gebore is nie, maar hulle moet ook ons geloof deel." In briewe in dieselfde argiefversameling verskyn ook ander vorme van identifikasie: "Hollandse Afrikanen" (een keer),  "Hollandse Boeren" (een keer), "Emigranten" (twee keer), "Boeren" (agt keer) en "Boers" (drie keer). In 'n belangrike mate was die verbintenis tot gelykheid onder die burgers 'n struikelblok in die poging om 'n stabiele republiek te stig. Albei repub lieke se enigste belangrikste hulpbron, naamlik grond, is verkwis deur dit gratis aan die burgers uit te deel. In die OVS was elke trekker tot 1866 geregtig op twee plase en in die ZAR was 'n soortgelyke beleid in swang. In 1871 het die ZAR se regering tydelik die uitgee van grond gestaak in 'n poging om tot 'n stelselmatiger vorm van vestiging oor te gaan.

Maar dit was te laat. In albei republieke het spekulasie met grond handuit geruk. Op baie plase het daar heeltemal te veel mense saamgekoek, terwyl groot gebiede onbewoon was. Maatskappye het ongeveer die helfte van die grond in Transvaal besit, maar op die meeste van die plase het geen wit mens gewoon nie. Tot die middel van die 1880's was daar nie meer as een witte per viekante myl in Transvaal nie. Die helfte van die burgerbevolking was teen die einde van die eeu sonder grond.

Die kerk het nie oral mense in die gemeenskap ingebind nie. In Transvaal het die drie gereformeerde kerke mekaar met agterdog bejeën. Die Hervormde Kerk was relatief liberaal in sy teologiese opvattings, maar was streng gekant teen sendingwerk. Die Doppers het sendingwerk in beginsel goedgekeur solank daar nie oorgegaan is tot die gesamentlike aanbidding deur wit en swart nie. Hulle en die NG Kerk het Duitse sendelinge verkies omdat hulle gedink het dat hierdie sendelinge die bestaande politieke en maatskaplike hiërargie eerbiedig. Die NG predikante was aanvanklik pro-Brits, wat spanning veroorsaak het. Hulle was ook geneig om meer liberaal te wees in hul houding teenoor swart mense. Hulle was wel in beginsel ten gunste van sendingwerk, maar het baie min daaraan gedoen.

In Transvaal het politieke twiste en skeurings die republiek tot en met die vroeë jare tagtig amper lamgelê. In die 1850's en 1860's was daar feitlik drie of vier republieke, elkeen met sy eie leier, wat met mekaar om mag meegeding het. Die gevaar van burgeroorlog was net anderkant die horison. Paul Kruger, wat in 1863 tot kommandant-generaal verkies is, het hard geprobeer om die staat se gesag te laat geld en om die burgers van hul pligte teenoor die staat bewus te maak. Maar selfs hy was dikwels moedeloos.

Ook in die OVS was dit 'n buitengewoon moeilike taak om die staat op te bou. In 1866 het die Bloemfonteinse tydskrif De Tijd geskryf hoe swak die jong staat nog is: "Ons het eenvoudige mense in 'n uitgestrekte, oop land omring van alle oorde deur vyande, sonder regters, sonder soldate, sonder geld, verdeel deur onkunde, uitgesuig deur geldskieters en bespot en geminag deur 'n kolonie langsaan."

Die republieke was volksdemorasieë. In die OVS het in die eerste dekade alle wit mans bo 16 jaar burgerskap en stemreg gehad. In 1866 is die grense enger getrek. Voortaan sou die volgende burgers van die staat wees: alle blankes wat binne die grense gebore is en alle blankes wat een jaar in die staat gewoon en vaste eiendom ter waarde van £150 besit het of wat drie jaar agtereenvolgens daar gewoon en 'n sertifikaat van burgerskap verwerf het. Die stemreg is toegestaan aan alle blanke meerderjarige burgers en aan vreemdelinge wat burgerskap verwerf het en eiendom terwaarde van £150 besit het (of 'n jaarlikse inkomste van minstens £200 gehad het). Die burgers het 'n president vir vyf jaar gekies om die uitvoerende gesag te behartig. Vir die volksraad, die hoogste wetgewende gesag, het burgers in elke veldkornetskap en dorp 'n verteenwoordiger gekies. Die wette sou gelyk vir almal (in die praktyk alle wit mense) wees, en eiendomsreg, persoonlike vryheid en die vryheid van die pers is gewaarborg.

In Transvaal is die stemreg eers in 1877 in 'n wet omskryf. Alle meerderjarige blanke burgers het volgens die grondwet die stemreg besit en volgens die wet van 1877 kon vreemdelinge burgerskap en saam daarmee die stemreg verwerf nadat hulle 'n jaar in die republiek woonagtig was en vaste eiendom besit het. In 1882 is die kwalifikasietydperk vir vreemdelinge tot vyf jaar opgeskuif en in 1890 tot 14 jaar.

In Transvaal was die vernaamste ampte dié van die president en die kommandant-generaal, wat albei deur die stemgeregtigde burgers gekies is. Die verteenwoordigers in die volksraad is in kiesafdelings verkies en die raad was volgens die grondwet die hoogste gesag. Die burgers het drie maande tyd gehad om deur middel van memories beswaar te maak voordat die Volksraad se besluite wet word. Die president het saam met 'n Uitvoerende Raad die uitvoerende gesag uitgeoefen. Hy moes vir sy besluite 'n meerderheid in die Uitvoerende Raad kry. Vir feitlik alle besluite moes hy die goedkeuring van die Volksraad ontvang.

Die stelsel van plaaslike regering was deels gegrond op die stelsel wat voor 1828 in die Kaapkolonie bestaan het. In die OVS het die Volksraad 'n landdros en ses heemrade vir elke distrik benoem en hulle is deur die president aangestel. In elke wyk het die burgers 'n veldkornet gekies en in elke distrik 'n veldkommandant.

Die staat se masjinerie om belastings van sy burgers te win, was heeltemal onvoldoende. Die kommando het die vernaamste instrument gebly waardeur militêre en polisiefunksies uitgeoefen is. In albei republieke was die leër en polisiemag baie klein en ondoeltreffend. Die twee republieke het swart mense van die staat en die kerk uitgesluit, maar nie van die kommando nie. Die swart mense was egter selde gewapen en het as agterryers gedien.

Die veldkornette en veldkommandante was in die eerste dekades van die republieke se bestaan die vernaamste bronne van regeringsgesag. Eers in die laaste twee dekades van die eeu het die landdros as verteenwoordiger van die sentrale owerheid meer gesag begin uitoefen. Die veldkornette en veldkommandante is hoofsaaklik uit die geledere van die groot grondbesitters gekies. Sommige landdroste het gekla dat hulle soos "keisers van die staat" optree.

In die eerste twee dekades het plaaslike "sterk manne" en veldkornette of kommandante swart mense vir arbeid opgekommandeer. Belasting wat van swart mense gevorder is, het dikwels in hierdie mense se sakke gebly. Die ryker boere was sterk genoeg om die wette te verontagsaam wat die getal swart families op 'n wit plase beperk het ten einde 'n beter verspreing te bewerkstellig.

Daar is aanduidings van 'n klassekonflik in die wit gemeenskap. Baie van die groot boere het hul bywoners of ander arm wit mense gestuur om in hul plek in die kommando te dien. 'n Korrespondent van 'n Vrystaatse koerant het reguit verklaar dat dit hoofsaaklik die arm burgers en hul kinders was wat tussen 1866 en 1868 vir die Vrystaatse regering teen die Sotho's geveg het. Die armer burgers was in die Volksraad beter verteenwoordig as in hul onderskeie distrikbesture. As daar nie in 1899 'n oorlog teen Engeland uitgebreek het nie, sou daar veral in Transvaal moontlik later 'n toenemende klassebotsing tussen die armer en die ryker burgers, elke groep met sy eie institusionele basis, gewoed het.

"Swart ivoor" en swart "inboekelinge"

In 1852 het 'n trekker, Coenraad Scheepers, namens 'n groot meerderheid gepraat toe hy gesê het: "[Blankes] en swartes kan nie saamleef nie behalwe waar die swart man in 'n staat van onderwerping teenoor die blanke is." Die swart mense het wittes ver oortref in getalle. Al faktor wat in die wittes se guns gewerk het, was die feit dat bongenootskappe tussen swart stamme teen die wittes nie voorgekom het nie. Soos die burgers aan die Kaapse oosgrens het die Vrystaatse en Transvaalse burgers onder die swart stamme krygsmanne vir die kommando's gewerf.

Vir die trekkers was die vind van arbeiders baie belangrik. Hulle het nie geprobeer om kompakte nedersettings te vorm of ten opsigte van arbeid selfversorgend te raak nie. Ds. Van der Hoff het in 1858 van die Transvaalse burgers geskryf: "Hulle is nie baie ywerig nie en verkies dat alles deur die Kaffers gedoen word." Die grootste deel van die landbou op die plase is aan swart mense oorgelaat, wat hul tradisionele landboumetodes aanewend het. Die trekkers het min gedoen om hierdie metodes te probeer vernuwe.

Die vreedsaamste manier waarop trekkers swart arbeid kon kry, was om hulle naby 'n swart stat te gaan vestig en 'n ooreenkoms met die kaptein aan te gaan. Hierdie praktyk het so algemeen geword dat Andries Pretorius die burgers verbied het om naby 'n swart stat te gaan woon. Die burgers het ook geprobeer om swart volwassenes in diens te neem in ruiil vir grawe of komberse of beeste. Hulle het dikwels geweld gebruk. Sommige burgers het kapteins gedwing om arbeid te verskaf en hulle gestraf as die arbeiders weggeloop het. Soms het kommando's gevangenes van 'n veldslag saamgebring. Kleinerstemme is partykeer gelas om arbeiders te verskaf en as hulle versuim, het die trekkers van hul vee gevat, hul kaptein gedreig en soms die mense geslaan. Die sterker swart stamme het nie dié soort optrede geduld nie.

In die Soutpansberg-gebied het kommando's swart kinders en vroue ontvoer en die kinders ingeboek. In sommige gevalle is die kinders aan ander burgers verkoop. Dit was die handel in "swart ivoor", wat gevolg het nadat die handel in wit ivoor saam met die olifante uitgewis is.

In die vroeë jare van die ZAR het ampsdraers aan hierdie praktyk meegedoen of hul oë daarvoor gesluit. 'n Veldkornet het waarnemende president Marthinus Wessel Pretorius, wat op die punt gestaan het om die noorde te besoek, gevra om te onthou dat hy swart arbeiders nodig het. "As jy 'n klein meisie vir my vrou kan kry, sal ek baie dankbaar wees, maar jy moet nie meer as ses of sewe pond betaal nie, want hulle is nie meer werd as 'n handvol vlieë nie."

Die ZAR-regering was bang vir sterk kritiek as die indruk sou ontstaan dat slawerny toegelaat word. Om dit te verhoed het die Volksraad reeds in 1851 'n wet oor ingeboektes aangeneem. Hiervolgens is bugers toegelaat om by die landdros of veldkornet aansoek te doen om swart kinders in te boek wat "as geskenke gegee of op enige ander wettige of vrywillige manier bekom is". Op 25-jarige ouderdom moes hulle vrygestel word van alle arbeidersverpligtinge. Die wet het dit egter ook toegelaat dat inboekelinge van een persoon na 'n ander oorgedra kan word, wat beteken dat handel in hierdie kinders kon ontstaan. Teen die middel van die jare vyftig het die handel inderdaad so 'n vlak bereik dat De Zuid-Afrikaan berig het gevangenes word dikwels van een deel van die ZAR na 'n ander "uitgevoer."

President J.N. Boshoff het die volksraad van die OVS meegedeel dat dit goed bekend is dat sekere boere ingeboekte kinders by ZAR-burgers koop. Party burgers het dit nie probeer wegsteek nie en dit ook nie as 'n misdaad beskou nie. Teen die jare sestig het sendelinge berig  dat inboekelinge die vernaamste bron van plaasarbeid in Oos-Transvaal is. Van Makapanspoort in die noorde het 'n Duitse sendeling gerapporteer dat wavragte kinders daarheen gebring is, en in 1871 het die ontdekker Carl Mauch geskryf dat "Swart Ivoor" die jag na wit ivoor vervang het nadat laagenomende nie meer wins opgelewer het nie.

Die handel het om begryplike redes die betrekkinge tussen wit en swart erg vertroebel. Nadat 'n Vrystaatse kommando in 1858 altesame 115 swart kinders ontvoer het, het 'n kaptein, Mahura, aan pres. Boshoff geskryf as hierdie kinders nie teruggegee word nie, is daar geen vooruitsig om vrede nie. Hy het bygevoeg dat Boshoff "sekerklik bekend moet wees met die tere gevoelens van 'n ouer teenoor sy kinders".

Binne die wit gemeenskap het hierdie praktyke al hoe meer spanning veroorsaak. In 1865 was ds. Charles Murray, 'n ampsdraer van die NG Kerk belas met die toesig oor sendingstasies, woedend toe hy 'n handelaar in kinders langs die pad teëkom. Hy het aan hom gesê hierdie praktyk is een van die redes waarom die Here se seën van die land onttrek is. Die handelaar, Gert Duvenhage, het geantwoord dat die praktyk nie met slawerny verwar moet word nie, aangesien "dit deur 'n sertifikaat vir inboekelinge gesanksioneer is."

In 1869 het die Transvaalse NG sinode die situasie as so ernstig beskou dat dit besluit het om sensuur toe te pas op alle lidmate wat daaraan skuldig bevind word dat hulle swart kinders gekoop of verkoop of uitgeruil het in stryd met die wette van die staat. Twee jaar later is besluit om hierdie resolusie terug te trek op grond daarvan dat die euwel nie langer bestaan nie. Dit is onduidelik hoe die sinode binne die bestek van twee jaar sulke botsende besluite kon neem.

Baie inboekelinge het weggeloop, maar genoeg het op die plase aangebly om 'n kenmerkende groep in die Transvaalse arbeidsmag te word. Hulle is nuwe name gegee en is Afrikaans geleer. Die bande met hul ouers en hul eie kultuur is verbreek. 'n tydgenootlike verslag deur die sendeling Albert Nachtigal vertel van 'n kind genaamd Mozane (hernoem Valentyn) wat op agtjarige leeftyd saam met sy broers en susters ingeboek is: "Eventually they became used to their new masters and their new life and were no longer as distressed as when they were seized. Valentyn was given over to play with and attend to the young Hermanus Steyn...The one learned from the other...bad as well as good." Anthony Trollope, bekende Engelse romanskrywer, het in 1878 geskryf: "[With] the white children there are always to be seen black children playing. Nor does there seem to be any repugnance at such intercourse on the part of anyone concerned."

Die boere het ingeboekte bediendes wat volwassenheid bereik het "mak Kaffers" genoem, of soms ook "oorlamse" mense. Hulle het Afrikaans gewoonlik goed gepraat en baie van die boere se kultuur oorgeneem.

Anthony Aylward, 'n Ier wat hom in Transvaal gevestig het, het die volgende prentjie geskilder: Wanneer die oorlamse saam met sy baas in 'n wa gereis of gejag of om 'n kampvuur gesit het, het hulle onophoudelik oor hul reis gepraat - die lotgvalle van daardie perd, die gedrag van daardie bul, die moeilikheid wat neef Jan gehad het en die goeie skoot wat oom Pieter geskiet het. Dit was onderwerpe waarvan hulle nooit moeg geraak het nie. As die swart man se vrou of sy kinders medisyne nodig gehad het, kon hulle die boer vra om dit te kry. Dit was inderdaad seldsaam vir boerefamilies om die dorp te besoek sonder om 'n klein presentjie of iets anders te koop om die harte van hul volk te verbly. Aylward het ook gemeld dat hy mense in hierdie klas van oorlamses hoër lone aangebied het om by hom te kom werk, maar hulle het geweier. Hulle houding was dat die boere hulle opgevoed het en dat hulle by dié wou bly.

Vanweë sy simpatie vir die Transvaalse burgers moet Aylward se getuienis met voorbehoude bejeën word. 'n Britse kommissaris wat gedeurende die anneksasie van 1877 tot 1881 in Transvaal gedien het, het egter dieselfde gevind: "The Boers treat that class of servants remarkably well. I mean to say that they always mix on a level of equality; they get their food and clothes and everything else. In fact, they are too valuable a class for the Boers to ill-treat." Wanneer hulle volwassenheid bereik het, het inboekelinge en ander oorlamses gewoonlik 'n stukkie grond ontvang en saam daarmee hul eie vee.

Dit kan egter nie betwyfel word dat onder hierdie stelsel van arbitrêre  mag ook groot onreg plaasgevind het nie. Hervormers in die staat wou arbeidsverhoudinge op 'n meer gereguleerde grondslag probeer plaas. In 1871 het 'n Arbeidskommissie van die Transvaalse Volksraad voorgstel dat arbeiders daarop geregtig is om hul werknemer te kies, onder 'n kontrak te werk en billike vergoeding te ontvang. Dit sou egter nog lank duur voordat die staat doeltreffend genoeg was om dit in die praktyk toe te pas.

Die stryd om gesag te vestig

Dit het lank geduur voordat die twee republieke hul gesag oor die swart mense gevestig het. Die Vrystaat het 'n gedugte teenstander in Moshweshwe gehad, wat 'n uitstekende strateeg was met 'n mag van ongeveer tienduisend man tot sy beskikking. Gedurende die jare vyftig het die Sotho's hul grond en koninkryk stewig verdedig. In die 1860's het die situasie egter verander. Moshweshwe was nou oud en nie meer in staat om die spanning tussen sy mense en die boere te besweer nie. Daar was 'n sterk toename in die aantal wit mense in die OVS en president J.H. Brand het begin om hulle as 'n politieke gemeenskap te verenig.

Nadat 'n oorlog in 1865 uitgebreek het, is 'n vrede gesluit waardeur 'n groot stuk Sotho-grond in wit hande geval het. Gevegte het weer uitgebreek, maar net voordat die Sotho's in 1868 finaal verslaan is, het Brittanje 'n protektoraat gevestig in wat nou slegs 'n bergkoninkryk was. Gedurende die 1870's en 1880's het die Sotho's sterk druk ondervind van boere wat grond, vee en arbeiders wou hê. 'n Kaptein het later verklaar. "Die boere het ons baie sleg behandel. Hulle het baie van my mense doodgemaak en ander aangerand, ook vir my." Baie Sotho's het weggetrek van die trekkers, sommige selfs oor die berge na Natal.

In die ZAR het die trekkers gesukkel om die veel talryker swart bevolking te beheer. Hulle het gedurig 'n tekort aan ammunisie gehad, terwyl baie swart mense in die vroeë 1870's gewere en ammunisie in Kimberley bekom het. Veral in die noordelike deel van die ZAR was wit beheer oor die swart mense uiters wankelrig.

Die nedersetting Schoemansdal, wat Potgieter in 1849 gestig het, het van die begin af gesukkel om te bestaan. Die klein gemeenskappie is omring deur talryke swart stamme. In die trekker-ekonomie het olifantjag en ivoor 'n buitengewoon belangrike rol gespeel en hierdie bestaanswyse het nadelig op die saamhorigheid van die gemeenskap ingewerk. Sommige Voortrekkers het gewere aan swart mans gegee om in hul plek te jag. Eers het die samewerking met hierdie sogenaamde swart skuts goed gewer,  maar daar het geskille oor die buit ontstaan. Hierop het van die swart skuts by die Venda-kapteins in die omgewing aangesluit. Omdat hulle monoplie in gewere daarmee heen was, was die trekkers nou in 'n benarde situasie.

Die trekkers se moeilikhede is vererger deur die roekelose optrede van mense in magsposisies wat vee van die omringende swart mense geroof het. Potgieter, wat geweier het om enige beperkinge op sy gesag te aanvaar, moet gewis 'n deel van die skuld kry. Na sy dood het sake verder versleg. Die trekkers het Joao Albasini, 'n Portugese handelaar met 'n Afrikanervrou, as superintendent van die swart stamme in die noorde aangestel. As iemand met ongeveer tweeduisend swart voglelinge het Albasini 'belasting' vir die regering en buit vir homself ingesamel deur op vee van swart stamme beslag te lê. Van die plaaslike kommandante en veldkornette het sy voorbeeld gevolg. Onder die al hoe vyandiger Vendas het die verset toegeneem en hulle het begin om plase aan te val en vee weg te voer.

In 1864, toe die ZAR in sy benardste situasie nog was, is Paul Kruger tot kommandant-generaal van die ZAR verkies. Vir Kruger het dit soms gelyk of die pogings om die boere se gesag te vestig voor onoorkomelike struikelblokke te staan kom. Hy het verklaar

Hermann Gililomee

Die Afrikaner: 'n Biografie

Tafelberg Uitgewers

ISBN 978-0-624-04181-8