# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

'n Klein Begin

Opstand en oorlewing

Daar was 'n geur van opstand in die lug op die middaguur van 'n somersdag in Desember 1658. Johan Anthonisz (Jan) van Riebeeck, kommandeur van die Tafelbaaise verversingsstasie, het ernstige onraad vermoed toe veertien vryburgers onverwags opdaag en 'n petisie aan hom oorhandig. Gedurende die voorafgaande ses maande het die burgers vergeefs probeer vastel wat die prys sou wees wat hul regering, die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC), sou betaal vir die koring wat hulle gesaai het. Dit was nou reeds Desember en hulle het geweier om hul oes te lewer voor die kommandeur sê wat die prys sou wees. Hulle wou ten minste tien gulde per mud hê, anders sou hulle weier om 'n enkele voet meer grond te bewerk. Hulle was ook gegrief dat hulle self hul lewens en plase teen die bedreiging van die inheemse Khoi-Khois moes beskerm. 

Dit was vir hulle die grootste onreg dat die regering veehandel met die Khoi-Khois  vir hulle verbied het. In die petisie was daar sekere ontsteltenis dat al hierdie dinge gedoen word aan hulle, "die verdedigers van die land", soos hulle hulself genoem het. Hulle wou nie die slawe van die Komanjie wees nie. In plaas daarvan om hulle te help, het die regering hulle onderdruk. 

Jan van Riebeeck het die VOC-nedersetting wat bekend sou word as die Kaap van Goeie Hoop op 6 April 1652 gestig. (Die naam Kaapstad sou eers meer as 'n eeu later in gebruik kom). In 1657 het hy nege Kompanjiesamptenare uit die diens ontslaan om voltydse boere te word. Hy het aan hulle klein lappies grond van ongeveer 13 morege (omtrent 11 hektaar) toegeken. Met hierdie stap het die VOC nie beoog om 'n kolonie van Europese setlaars te stig nie. Al wat dit van die boere verlang het, was om vars voedsel te verskaf aan die bemanning van die VOC-skepe wat Tafelbaai aangedoen het en aan die VOC-personeel in Tafelbaai. 

Die burgers se opdrag was om te saai en te plant wat die regering voorskryf. Hulle moes die lae pryse aanvaar wat die regering vasstel. Die volgende jaar het Van Riebeeck die burgers belet om sonder sy toestemming vee aan mekaar of aan verbygaande skepe te verkoop. Hy het ook alle handel tussen die burgers en die Khoi-Khois verbied. Oor dié verbod en die stilwye oor die koringprys het die burgers in verset gekom teen die ampsdraers van die magtige VOC. Daar was 'n rede waarom Van Riebeeck nie aan die burgers die koringprys wou meedeel nie. Sy base in Amsterdam het hom beveel om slegs vyf gulde per sak te betaal, en hy het geweet dit is ver te laag. In die smokkelhandel wat weldra sou ontstaan, het die burgers, tot die ontsteltenis van die amptenare, 12 gulde gekry vir 'n sak koring wat hulle aan die skepe verkoop het. 

Op daardie dag in Desember toe Van Riebeeck die vryburgers te woord moes staan, het hy goed geweet dat veel meer as net die prys van koring ter sprake is. In sy dagboek het hy geskryf die burgers wil graag hul eie base wees en wil die gesag van die wettige owerheid uitdaag. "ja selfs dié van die Kompanjie en hul eie Here en Meesters" - 'n verwysing na die Here Sewentien, die VOC-direkteure in Amsterdam.

Van Riebeeck het die protesterende burgers betig en hulle aangesê om "hulle te gedra soos gehoorsame diensknegte en om nie die Kompanjie in enige opsig te dreig soos wat hulle pas op so 'n ondermynende en rebelse manier gedoen het nie". Die Kompanjie het hulle gevoed en voorsien van alles wat hulle nodig het. Teen groot koste het dit die burgers uit 'n nederige posisie opgehef. Die burgers is nie die Kompanjie se slawe nie, maar tog sy onderdane. Na hierdie sedeles het die kommandeur die skokkende nuus bekend gemaak: die burgers sal slegs ses gulde per sak kry. Van Riebeeck het opgemerk dat "die burgers moed verloor en heeltemal neerslagtig word". Maar as paternalistiese baas het hy raad gehad: hy het hulle 'n glasie wyn aangebied. In sy dagboek het hy aangeteken dat die burgers "in 'n goeie bui teruggegaan het en selfs met mekaar die gek geskeer het".

Swaar tye het vir die koringboere voorgelê. die klimaat was wispelturig, die reën het dikwels weggebly, en in die lente en vroeë somer het 'n tierende suidoostewind opgekom wat 'n belowende oes kon vernietig. Soms het die boere kwalik hul saadkoring teruggewen. In sy korrespondensie met die VOC het Van Riebeeck die burgers gekritiseer as lui en te geneig tot drank, maar hy het geweet dat hul reg gehad het om oor die pys te protesteer. In 1661 rapporteer hy dat die burgers met die koringprys skaars kan bestaan. Drie jaar later is die regering genoodsaak om die sondagkollekte in die kerk en die inkomste van klein boetes te gebruik om hulp te verleen aan burgers "wie se kinders kaal rondloop en wat so arm is dat hulle langs die vee in 'n stal op 'n bietjie strooi en die harde grond moet slaap".

'n Magtige Maatskappy

Gedurende die eerste helfte van die sewentiende eeu was die Nederlanders die wêreld se vernaamste handelsnasie. Die VOC is in 1602 in Amsterdam gestig as 'n geoktrooieerde maatskappy met die reg om in die Ooste handel te dryf. Teen 1650 was dit die wêreld se grootste handelsonderneming. In 'n oorsig wat The Economist in die jaar 2000 van die vorige millenium gegee het, word die VOC se invloed vergelyk met die impak wat die handelsryke van Henry Ford en Bill Gates in die twintigste eeu op die wêreld gehad het. 

Die VOC het 'n uitgebreide handelsnetwerk gehad met Amsterdam as sy tuisbasis. dit was 'n entrepot wat speserye, suiker, tabak, hout en vervaardigede artikels van sy Oosterse ryk ingeneem en weer na talle lande uitgevoer het. Tussen 1602 en 1699 het 1 755 Kompanjieskepe van Nederland na Batavia (vandag Djakarta) in Java geseil. Net in die jare 1652 tot 1662 het 250 skepe met 40 200 mense aan boord verby die Kaap na die Ooste geseil. In die Ooste het die VOC 'n monopolie bedryf waar dit kon. Soms het hy oorlog gevoer om die heerskappy te bekom en het gou Bantam, die Molukke, Java en Amboina beset. Hy het plaaslike heersers verplig om aan die VOC eksklusiewe handelsregte te verleen. Op verskeie plekke het die Kompanjie sy Portugese en Engelse mededingers verdryf.

In 1619 het die VOC 'n Raad van Indië in Batavia gevestig met 'n goewerneur-generaal aan die hoof. Die raad was die vernaamste gesag van die VOC in die Ooste. Toe die VOC in 1652 die Kaapse stasie stig, het dit die nedersetting onder die gesag van sowel die Here Sewentien in Amsterdam as die Raad van Indië in Batavia geplaas. Hierdie liggame het tug oor die amptenare uitgeoefen. Baie van die amptenare het van hul werkgewer gesteel of vir hulle eie rekening handel gedryf om te vergoed vir hul lae salarisse. Voordat Van Riebeeck an die Kaap gekom het, is hy beboet oor private handel wat hy gedryf het en is hy uit 'n pos in Japan ontslaan. As Europese nedersetting het die Kaap ernstige tekortkominge gehad. Dit het oor geen groot stapelprodukte beskik soos rys, suiker, tabak, wol of hout wat die Kaap se ekonomie in die wêreld se handelsnetwerk kon integreer nie. Anderkant die eerste bergreekse was die reën min en die grond arm. Behalwe met vee kon daar nie juis veel handel gedryf word met die inheemse Khoi-Khois en die San (of Boesmans) wat die grootste deel van die suidpunt van Afrika bewoon het nie. Kultureel en tegnologies was hierdie inboorlinge veel minder gesofistikeerd as die inheemse mense wat die Nederlanders in die Ooste teëgekom het. 

Behalwe die Kaap was Ceylon (vandag Sri Lanka) en Batavia die enigste twee plekke waar die Kompanjie werklik wortel geskiet het. In Ceylon was daar in 1650 ongeveer 68 getroude burgers, terwyl daar in 1674 ongeveer 340 in Batavia was. Onder die burgers hier was wynhandelaars en kroeghouers die grooste groep. Die ander was meesal ambagslui.

"Noodsaak is die vader van die Eurasiër", so het die spreekwoord gelui. Met 'n tekort aan Europese vroue in die Ooste, was dit algemene praktyk vir die Nederlanders en ander Europeërs om verhoudings met inheemse vroue of met mense van gemengde bloed, die sogenaamde Eurasiërs, aan te gaan. Vryburgers in die Ooste het soms met Oosterse vroue getrou, maar die meeste verbintenisse was buite-egtelik. Die kinders is as Christene opgevoed en wetlik en sosiaal is hulle en hul moeder as deel van die klein Europese gemeenskappies beskou. Hulle is inderdaad Europeërs genoem. Goewerneur Simon van der Stel was self die produk van so 'n mengsel van kulture en bloed. Sy moeder, Maria Lievens, is gebore in Batavia, die dogter van 'n Nederlandse seekaptein en Monica da Costa, 'n inboorling vrou van die Ooste. 

Die Kompanjie se senior amptenare in die Ooste was 'n aparte klas, ver verhewe bo die gewone soldate of matrose in Kompanjiesdiens. Hulle het die Indonesiese inheemse adel probeer naboots. Hulle was later gretig om hul status op buitensporige wyse in die openbaar te vertoon, dikwels deur middel van 'n hele optoggie van bediendes en 'n statussambreel. Hulle het graag huispartytjies gehou met 'n slaweorkes wat op die stoep musiek maak. Almal het daarna gestreef om slawe te besit en om geen handearbeid te verrig nie. Die nedersetting in Tafelbaai het baie van Batavia se kenmerke en instellings oorgeneem: die amptenare se groot mag en aansien, Die Kompanjie se streng standebewustheid en sosiale etiket, die kerk se politieke en maatskaplike onmag, die swak onderwys, die afhanklilkheid van slawearbeid, en die gebruik van Maleis en Portugees as lingua franca. Soos in Indonesië is kinderopvoeding hoofsaaklik opgedra aan vroulike slawe. Aan die Kaap het hierdie slawe uit die Ooste 'n groot bydrae gelewer tot die plaaslike kultuur, veral met die voedsel wat hulle voorberei het. Geregte soos bobotie, sosaties, blatjang en samosas, wat saam met rys en speserye soos kaneel, peper, naeltjies, gemmer, borrie en saffraan uit die Ooste geëet is, het 'n vaste deel van die kospatroon geword. 

Soos in die Ooste het die senior Kompanjiesamptenare aan die Kaap die toon aangegee. Hulle het krampagtig geklou aan die status van hul rang. Rang het bepaal wie sit waar in die kerk en by ander openbare geleenthede, selfs ook wie loop voor in 'n begrafnisstoet. 'n Vroue het 'n plek ooreenkomstig die rang van haar eggenoot ingeneem. Die weeldewette van 1755 het in groot besonderhede voorgeskryf hoe mense met 'n bepaalde rang in die openbaar moet optree, byvoorbeeld hoeveel perde hulle voor hul wa mag inspan en watter uniforms hul personeel mag dra. Die burgers in en om die Kaap wat in regeringsrade gedien het, het gou dieselfde statusbewustheid as die senior amptenare aan die dag gelê.

Die Kaap het die Kompanjie se administratiewe sturktuur in die Ooste oorgeneem. Dit was kleurblind en gebasseer op die volgende wetlike statusgroepe: Kompanjiesamptenare, burgers en slawe. Behalwe herdie wetlike satusgroepe was daar ook 'n belangrike tuseengroep, naamlik die vryswartes. Hulle was eers slawe, maar is deur hul eienaars vrygestel deur 'n proses wat manumissie genoem is. Saam met die onderskeid tussen Christen en heiden, en Europeër en en nie-Europeër het die onderskeie statusgroepe die belamgrikste invloed uitgeoefen op die manier waarop die mense in die Kompanjie se gebiede oor hul plek in die sameleweing gedink het.

Terwyl in die Ooste nie veel op kleur gelet is nie, het die mense in Europa dit sekerlik nie misgekyk nie. Die Europeërs van die sewentiende eeu het hulle self hoër as die mense van die ander kontinente geag, veral dié van Afrika. In hul eie oë was hulle die middelpunt van die mensdom en die maatstaf vir beskawing. In die Engeland van William Shakespeare was die stereotipes van swartes as vuil, wellustige en onbetroubare mense reeds goed gevestig. Swart mense was nie die enigste wat onder stereotipering gely het nie. Jode en lyfeienes in Noordwes-Europa is ook soms "Gam se geslag" genoem - 'n verwysing na die Bybelse vloek wat Noag oor die kinders van Kanaan uitgespreek het. Toe slawerny in die Europese kolonies in die loop van die sewentiende eeu begin posvat, was "Gam se geslag" die term waarmee die slawebesitters die slaaf tot die buitenste duisternis verdoem het. En omdat slawe swart of bruin was, het Gam se geslag mettertyd 'n skelwoord geword vir diegene wat nie wit was nie. Toe Europa in die sewentiede eeu tot kolonisasie oorgaan, het Europeërs die eerste keer op groot skaal met ander beskawings kennis gemaak. dit het hul bewussyn van hulle self en hul eie beskawing versterk en omlyn. Portugese, Spanjaarde, Engelse en Nederlanders was ewe oortuig dat hulle as Europeërs kultureel meerderwaardig was. vir die sewentiende-eeuse Nederlanders was om swart te wees die teenoorgestelde van dit wat hulle as normaal, mooi en aantreklik beskou het. Hierdie vooroordeel is versterk deur die kulturele meerderwaardigheid wat Christene teenoor heidene, en wat die "beskaafde" Europeërs teenoor die "barbaarse" inboorlinge van Afrika gevoel het. 

Ras as biologiese term het eers teen die einde van die negentiende en die vroeë twintigste eeu wortelgeskiet om die onderskeid tussen wit en swart aan te dui. Tot dan toe is "ras" amper in dieselfde sin gesien as "nasie" gebruik met die klem op kultuurverskille, soos dié tussen die Angel-Saksiese en die Hollandse "ras". Aan die Kaap is vooroordele aanvanklik selde in kleurterme uitgespreek. 

'n Gemeenskap van Immigrante

Jan van Riebeeck het op 6 April 1652 met drie skepe in Tafelbaai aangekom. Negentig Europeërs het aan land gestap: "swak en onkundige mense", soos hy hulle beskryf het. In die eerste drie dekades was die meeste Europese immigrante enkellopende mans uit Nederland. Tussen 1688 en 1700 het ongeveer 200 Franse Hugenote bestaande meesal uit gesinne, aangekom en later het nog enkeles bygekom. Behalwe die Franse vroue was die meeste vroulike Europese immigrante Nederlanders, veral jong vroue of dogters uit weeshuise in Nederland. 

Die meeste van die manlike immigrante was ongeletterde of halfgeletterde kleinboere of arbeiders van Noordwes-Europa. Die Kompanjie het hulle as soldate of matrose vir minstens vyf jaar in diens geneem. 'n Loopbaan as matroos of soldaat in VOC-diens was onbenydenswaardig. Die daaglikse loon was baie laer as die van die arbeider op land of 'n matroos in die handelsvloot. Op die VOC-skepe moes hulle swak kos, hardvogtige dissipline en siektes trotseer. Vyftien tot 20% van diegene wat na die Ooste geseil het, het onderweg gesterf. Gedurende die 18de eeu was die meeste Europese immigrante aan die Kaap enkellopende manlike Duitsers. O.F. Mentzel, 'n Duitse reisiger, beskryf die omstandighede waarin 'n tipiese Duitse immigrant in die Kaap beland het: Hy het in Nederland opgedaag, swak geklee, sonder geld en naarstig op soek na werk. As hy geen geld gehad het om homself te onderhou terwyl hy wag om deur die VOC gewerf te word nie, het hy gewoonlik in die hande van 'n agent geval, wat hom geld vir sy onderhoud voorgeskiet het totdat hy sy eerste betaling ontvang het. In sommige gevalle het dit vyf jaar geduur voordat hy sy agent kon afbetaal. Aan die Kaap moes hy spaarsaam leef. Hy het 28 stuiwers per maand as kosgeld of 'n kontantloon ontvang, en 'n ekstra 28 stuiwers as onderhoud. Saam daarmee het hy ses pond brood per week verdien. Weens die groot skuld wat hy moes afbetaal, moes hy dikwels met minder as twee stuiwers per dag uitkom. Selfs in die eenvoudigste eethuis het 'n klein porsie vleis twee stuiwers gekos. Hoewel die immigrante uit die laer range van die Wes-Europese samelewing gekom het, was hulle geen uitvaagsels nie. Hulle was ondernemend genog om die kans te waag om ten minste vyf jaar in n verafgeleë land te gaan werk. Van die Duitsers wat na die Kaap toe gekom het, was ambagslui wie se lewe deur die Dertigjarige Oorlog ontwrig is. Dit was hulle wat die beste in hul nuwe vaderland gevaar het.

Nederland, eerder as Duitsland of Frankryk, het die aard van die Kaapse Nederstetting die meeste beinvloed. In die Europa van die sewentiende eeu het die Nederlanders die meeste individuele mobiliteit en die grootste gelykheid voor die reg geniet. In die provinsie Holland, waar die Romeins-Hollandse reg  gegeld het, is geen spesiale voorregte aan die adel toegeken nie. In die woorde van die groot juris Voet het dit "gelykheid bewaar en die burgers op gelyke vlak saamgebind". In 1665 het 'n Franse besoeker aan Nederland verbaas opgemerk dat diensknegte so baie regte geniet dat hul meester hulle nie eens 'n klap kon gee nie. Dit was die Romeins-Hollandse reg wat in die Kaap toegepas sou word. 

In Nederland het die Gereformeerde Kerk, gebaseer op die Calvinistiese leerstellinge, amptelik voorrang geniet. Dit was egter nie die staatskerk nie en slegs die helfte  van die bevolking was lidmate. Die fundamentele Protestantisme het die individu toegelaat om sy sieleheil sonder bemiddeling van priesters of heiliges te soek, en om wêreldlike voorspoed na te streef. Die Gereformeerde Kerk was sterk gekant teen die streng hiërargie van die Katolieke Kerk. Lidmate het geensins  dieselfde eerbied aan predikante betoon as wat Rooms-Katolieke teenoor hul priesters aan die dag gelê het nie. Die staat het die kerk noukeurig dopgehou en daarop gestaan dat dit hom nie moet kritiseer nie. Dit was ook in die geval van die Kaap, waar die VOC die Gereformeerde predikante besoldig het. In Nederland het die meeste mense ook nie baie eerbied teenoor politieke gesagsdraers betoon nie. Die staat was 'n losse konfederasie van provinsies en stede met die State-Generaal as 'n soort konfederale parlement, en die Prins van Oranje was as stadhouer die simboliese hoof van die staat. Vergeleke met die res van Europa was die klasseklowe nie skerp nie. Daar was in Nederland 'n klein bolaag van aristokrate, gevolg deur die "hoë bourgeoisie", en onder hulle weer 'n breë stratum van die burgerlike middestand wat bestaan het uit geskoolde ambagslui, winkeliers en verskaffers van diverse goedere. Laer af was daar 'n werkersklas wat oor die algemeen swak betaal is, maar nietemin gereelde werk gehad het. Heel onder was die "grou" - die droesem van die samelewing. Belangrik was dat 'n ondernemende arm man kon uitstyg tot die middestand. Die burgers was vryer om hul eie belange na te streef as elders in Europa. Hier het die kapitalisme met sy revolusionêre uitwerking op die samelewing reeds goed wortelgeskiet. Die begrip van individuele grondbesit het sterk posgevat. saam was kapitalisme en Calvinisme 'n kragtige brousel. Alhoewel die kerk gewaarsku het teen aanbidding van die "goue kalf", was voorspoed vir baie mense die sigbare teken van 'n vrome lewe. 

Die meeste immigrante wat vryburgers aan die Kaap geword het, was nederige en onkundige mense, maar die term 'burger' was dieselfde as wat gebruik is vir die vooruistrewende burgers in die sentrum van die sewentiende-eeuse Nederlandse samelewing wie se stralende selfvertroue Rembrandt, Steen, Vermeer, Hals en ander skilders so goed verewig het. Die Nederlandse burgers is nie op grond van hul ekonomiese funksie gedefinieer nie. Hulle was heel eerste burgers - 'n politieke term - en slegs tweede homo economicus, mense gedrewe deur hul eie materiële belange. Die Kaapse burgers het dieselfde politieke status nagestreef, maar vir die Kompanjie het hulle hoofsaaklik 'n lae ekonomiese status gehad. 

Die Kompanjie se heerskappy en die burgers se strewe

Van Riebeeck se vrystelling van sommige Kompanjiesamptenare in 1657 om as "vrybrugers" te boer, het nie beoog om 'n eilandjie an vryheid te skep nie. Die doel was om geld vri dei VOC te bespaar. Die burger was onthef van sy taak as soldaat of matroos, maar hy was nog steeds aan die Kompanjie se regulasies vir die Kaap onderworpe. Hy moes belastings aan die Kompanjie betaal en kommandodiens verrig. 

Die burgers het gou hul eie mites oor die stigting van die Kaap en hul onmisbaarheid geskep. Hulle het hulle self gesien as mense wie se belange deurslaggewend vir die regering behoort te wees. Die term "verdedigers van die land" wat hulle in hul onderonsie met Van Riebeeck gebruik het, was die eerste teken van 'n ontluikende politieke bewustheid. Dit is verder aangewakker deur die belangrike rol wat hulle in die landadministrasie gespeel het. Die regering aan die Kaap was dikwels ontsteld oor wat hulle beskou het as die burgers se aanmatigende houding en buitensporige eise. In van Riebeeck se oë moes die burgers dankbaar wees vir die beperkte  vryheid wat hulle ontvang het. Hulle moes nie nuwe eise stel nie, maar hul belange ondergeskik stel aan dié van die Kompanjie, wat 'n magtige maatskappy was. In werklikheid was Van Riebeeck korrek: die Kompanjie, was 'n soewereine mag in eie reg. Volgens sy oktrooi van 1602 kon die VOC soldate werf, oorlog voer, verdrae sluit en die orde in sy nedersettings handhaaf. Die Nederlanders in sy diens moes trou sweer aan sowel die Kompanjie as die State-Generaal in Nederland. Hulle was dus onderworpe aan die Nederlandse wette én  aan die Kompanjie se regulasies. 

Vir die amptenare was die vergelyking wat die vryburgers tussen hulle status en die van Nederlandse burgers getref het, vergesog. Die Kompanjie kon voorregte toestaan, maar hy kon hulle ook terugtrek. Hy het die mag gehad om mense in sy diens vry te laat om te gaan boer of om 'n kroeg op te rig, maar kon ook die wat hulle wangedra, dwing om na die Kompanjie se diens terug te keer. Hy kon sulke mense selfs wegstuur van die Kaap, al het dit hul bande met hul eie gesin verbreek. Maar teen wil en dank moes die Kompanjie toegee dat die burgers nie bloot lyfeienes was wat hulle aan elke reëling moes onderwerp nie. Van Riebeeck het dit in sy botsing met die burgers oor die koringprys in Desember 1658 ontdek. 

'n Verversingstasie brei uit

Die burgers se hoogste prioriteit was ekonomiese oorlewing: die van die Kompanjie was maksimum wins, wat beteken het dat hy die produktepryse so laag as moontlik vasgestel het. Ook in 'n ander opsig het die Kompanjie en die burgers botsende oogmerke gehad. Die Kompanjie sou 'n klein, netjiese, kompakte nedersetting hê, wat nie veel verder sou strek as die skaduwee van die fort wat hy in Tafelbaai gebou het nie. Die burgers, aan die ander kant, wou hul boerdery uitbrei. Hulle het min geesdrif getoon vir die harde werk wat die saai en oes van koring, bemesting van die lande en die aanplant en snoei van wingerde vereis en het veeboerdery verkies. En die burgers wou ook nie self werk nie. Oral in die wêreld was Europese koloniste traag om die grond te bewerk as daar slawe of inheemse arbeid beskikbaar was. Toe die eerste skeepsvrag slawe in 1658 in Kaapstad aankom, was die vryburgers wat geboer het nog veel ste arm en te vasgevang in skuld om slawe te bekostig. Weldra sou hulle wel in staat wees om dit te doen. 

Intussen het vee 'n al hoe groter deel van die boerdery geword. Die burgers het in weerwil van die regulasies vee van die Khoi-Khois geruil en op veld anderkant hul gesaaides laat wei. Hulle het hul vee al hoe dieper in die binneland begin instuur om goeie weiding te kry. Veeboerdery, wat algaande 'n onafhanklike tak van die landbou geword het, het teen die agtiende eeu die koring- en wynbou in omvang oortref. 

Vir die ongeveer honderd duisend Khoi-Khois wat in die gebied van die huidige Wes-Kaapseprovinsie  gewoon het, was die vinnig uitbreidende veeboerdery 'n groot bedreiging . Die Skiereilandse Khoi-Khois met wie die burgers die eerste in aanraking gekom het, was jagters en veeherders. Toe hulle besef dat die Europeërs gekom het om te bly en hul weivelde te beset, het hulle bekommerd geraak. Toe hulle die burgers sien landerye ploeg, het die kommer in vyandskap verander. 

In 1659 het die Skiereilandse Khoi-Khois onder Doman die eerste uitgebreide aanval op die nedersetting geloods. Hulle het plaashuise verwoes en vee weggevoer. In 1660 rapporteer Van Riebeeck dat hy vrede gesluit het, maar dat die Khoi-Khois ontsteld is oor die nedersetting. Toe hy teenooor die Khoi-Khois opmerk dat daar nie genoeg weiveld vir almal in en om die Kaap is nie, het hulle gevra: "Het ons dan nie rede om jou te verhinder om ons vee in die hande te kry nie, want as jy baie vee het, sal jy nie al ons weiveld gebruik nie?" Hulle het ook gevra: "Wie moet die eerste wyk: die regmatige eienaar of die vreemde indringer?"

Van Riebeeck, en ook sy opvolgers, het nooit 'n duidelike en konsekwente beleid teenoor die Khoi-Khois gevolg nie. Sy bevele was dat die Khoi-Khois verdraagsaam behandel moet word, maar dat hy gyselaars op Robbeneiland kan aanhou as die diefstalle voortduur. Die kommandeur het gou ingesien dat botsings oor grond, vee en water nie sal ophou nie en dat vrede met die Khoi-Khois op die duur onmoontlik is. Terselfdertyd het hy besef dat om hulle dood te maak "barbaars en on-Christelik" is. Hy het wel daaraan gedink om die Skiereilandse Khoi-Khois in kettings te slaan en dwangarbeid te laat doen, soos om robbe te vang en silwer (wat nog ontdek moes word) te delf, maar die Here Sewentien het geweier. 

'n Nedersetting met 'n unieke Karakter

In 1662, by Van Riebeeck se vertrek was die nedersetting se bevolking saamgestel soos onderstaande tabel aandui:

Kaapse Bevolking 1662

                                                                 Kompanjie Amptenare                                Burgers

Manlik                                                                     57                                                          36

Familie                                                                   113                                                        37

Slawe                                                                      24                                                          23

Die meeste burgers het in die klein dorpie rondom die Fort as skrynwerkers, messelaars en smede gewerk of kroeë en losieshuise aangehou. Sestien was boere. Die Kompanjie se keuse van Europeërs as vryburgers was nie 'n beginselbesluit nie. Sommige van die top-amptenare sou Chinese of vrygestelde slawe as boere verkies het en het in briewe dikwels hul minagting uitgespreek vir die vryburgers en hul talle gebreke. Van vroeg af het die burgers geleer om die regering te wantrou, iets wat meer as drie eeue lank 'n kenmerk van die burgemeenskap sou bly.

Wat die Kaap as nedersetting sy unieke karakter gegee het, was nie die geweld wat teen die inheemse bevolking gebruik is nie - dit was algemeen in die Europese kolonies - maar dat die Europeërs verkies het om met die inheemse mense handel te dryf en hulle op groot skaal in diens te neem, eerder as om hulle uit te wis of te verdryf. Baie van die Khoi-Khois het van die Kaapse Skiereiland en omgewing weggetrek nadat burgers hulle verdring het. Maar talle het aangebly, alhoewel hul weiveld nou deel van 'n burgers se plaas was. Hierdie Khoi-Khois en burgers het heeltemal afhanklik van mekaar geraak. Die boere het arbeiders nodig gehad en die Khoi-Khois het kos vir hulle self en weiveld vir hul paar stuks vee gesoek. Party is teen hul wil op die plase aangehou, maar baie het vrywillig aangebly. Van Riebeeck het in die eerste jare deur middel van 'n wildeamandelheining skeiding tussen die mense van die hawedorpie en die Khoi-Khois probeer bewerkstellig. Maar dit was tevergeefs. 'n Komplekse sameleweing was aan die vorm aanneem waarin Europeërs, slawe en Khoi-Khois verstrengel geraak het.

Namate die kolonie uitgebrei het, het die veeruil met die Khoi-Khois ook toegeneem. Aanvanklik het die Skiereilandse Khoi-Khois hulle as middelmanne aangebied en stamme dieper in die binneland oorreed om die vee aan hulle te verkoop, wat hulle weer teen 'n profyt aan die Kompanjie verkoop het. Algaande het die burgers hierdie middelmanne uitgeskakel en die rol oorgeneem. Die regering het die veeruil verbied, maar sy gesag het nie ver genoeg gestrek om dit uit te wis nie. Die owerheid kon ook nie verhinder dat die burgers hul vee anderkant hul plaasgrense laat wei nie. In 1662 het Van Riebeeck die Kaap verlaat met die besef dat sy plan vir 'n kompakte, intensiewe nedersettting misluk het. 'n Gebied wat hy gedink het groot genoeg sou wees om onderhoud aan duisend gesinne te verskaf, was nou, nadat slegs vyftien plase uitgemeet is, as ten volle beset beskou.

Sewentien jaar lank na Van Riebeeck se vertrek het die nedersetting nie veel verder as die sandvlakte aan die buitewyke van die Skiereiland gestrek nie. Die weerstand van die Skierleindse Khoi-Khois moes eers verkrummel, iets wat teen die einde van 1670's gebeur het. daar was nou 240 volwasse burgers, van wie die helfte boere was. 

Die Nedersetting brei uit

Simon van der Stel, wat in 1679 as bevelvoerder van die Kaapse nedersetting oorgeneem het, het die taak gekry om die nedersetting uit te brei. Hy het in dieselfde jaar opdrag gegee om op Stellenbosch 'n drosdy te bou, wat as die setel van die distrik se administrasie sou dien. Hier het die regering 'n amptenaar as landdros aangestel en aan hom vier burgers as heemrade toegewys. Die Kollege van Landdros en Heemrade het in die distrik orde gehou en kleiner gedinge aangehoor en geskik. Onder Van der Stel is heelwat groter plase as onder Van Riebeeck toegeken - dit het van 32 tot 64 hektaar gewissel. In die distrik Stellenbosch was dieselfde kragte werksaam as wat in die Kaapse distrik intensiewe landbou ondergrawe het: kapitaal en arbeid was skaars, maar grond was daar in oorvloed. In Stellenbosh het die afstand van die mark dit selfs aantrekliker gemaak om na ekstensiewe boerdery oor te slaan. Teen 1687 het Van der Stel die distrik Stellenbosch as ten volle beset beskou. Grond wat geskik was vir eintensiewe landbou is meesal gebruik vir weiveld. Dieselfde patroon het ontvou in Drakenstein (later genoem Paarl), Franschhoek, Wagenmakersvallei (Wellington), die Swartland (Malmesbury) en die Land van Waveren (Tulbach), wat almal teen die einde van die sewentiende en begin van die agtiende eeu gevestig geraak het.

Die burgers wat naby die Kaapse mark gebly het, het voortgegaan om koring, wyn en groente vir die mark te produseer. Hulle moes funksioneer in 'n kopersmark wat swaar ten gunste van die Kompanjie gelaai was. Koring moes heel eerste aan die Kompanjie aangebied word teen 'n prys wat dié was gestel het. Die Kompanjie het ook die eerste aanspraak op groente en vrugte gehad. Dit het die wynhandel verpag aan kontrakteurs, wat die produk teen lae pryse aan die Kompanjie moes lewer. Terselfdertyd het die pagter 'n alleenreg gehad om wyn te verskaf aan die veelvuldige kroeë in die Tafelbaai. Die boere is nie toegelaat om hul eie wyn te verkoop nie. Die verkoop van vleis is op dieselfde manier verpag. Die burgers het streng opdrag gehad om hul produkte aan die skepe te verkoop eers drie dae nadat hulle in Tafelbaai anker gegooi het, maar grootskaalse smokkelary in allerlei produkte was aan die orde van die dag. Vir die boere was daar min vooruitsigte vir uitvoer: in 1659 skryf Van Riebeeck: "Vandag is daar tot lof van God vir die eerste keer wyn van die Kaapse druiwe gepars", maar die kwaliteit van die wyn was te swak om dit uit te voer. Die Kompanjie het versoeke van die burgers om hul produkte in hul eie kepe uit te voer, verwerp. 

So beperk was die algemene vooruitsigte vir die boere dat 'n besoekende kommissaris in 1667 opgemerk het: "Die Hollandse koloniste hier dra die naam van vrye mense, maar hulle word so beperk in hul aktiwiteite dat die gebrek aan vryheid alte duidelik is." Simon van der Stel het nooit baie simpatie met die boere aan die dag gelê nie, maar selfs hy het geskryf dat die meeste burgers "hier met leë hande gekom en skuld by die Kompanjie gemaak het. Dit rus swaar op hulle voordat hulle daarvan ontslae kan raak." Die vryburgers wat in Tafelbaai gebly het, het beter geleenthede geniet as die burgers wat boere geword het. Omtrent almal het losieshuise aangebou en was bedrywig in die smokkelhandel. Meer as een senior Kompanjiesamptenaar het die begeerte uitgespreek om Kaapstad te bevry van die vryburger-"skuim" en die kroeë as "die moeder van alle skandalige praktyke" bestempel. Boere het die regering aanhoudend gesmeek om na die hawedorpie te mag trek en daar 'n nering te beoefen. Die rergering het die versoeke gewoonlik verwerp. Die Kompanjie wou hê dat die burgers moes boer en hul produkte teen lae pryse op die mark bring. 'n Hoë Kompanjiesamptenaar het geskryf: "Ons sal nooit edellui hier word voordat ons eers goeie boere word nie." Maar om edellui te word was 'n hersenskim. Die boere het gesukkel om net te oorleef.

Om 'n Hollandse karakter te bewaar

In 1688 het die eerste geselskap van ongeveer 150 Franse Hugenote aangekom nadat hulle aan godsdiensvervolging in Frankryk ontsnap het. Sommige van hierdie mense wat in die laaste twaalf jaar van die sewentiende eeu en die eerste kwart van die agtiende eeu aan land gestap het, was in hul vaderland suksesvoller as die meeste Hollandse of Duitse immigrante. Jacques de Savoye was byvoorbeeld 'n voorspoedige handelaar, Joshua Celliers, Jac de la Porte en Isak Taillefert was wynboere, Jean Prieur du Plessis 'n mediese dokter, en Estienne Bruére 'n wamaker. Francois Guillaumet, wat eers in 1726 van Berlyn aangekom het, was 'n kleremaker wat die snynywerheid goed geken het. Maar die meeste Hugenote was kleinboere, ambagslui of arbeiders. Die Kompanjie het dit as vanselfsprekend beskou dat sy Kaapse stasie 'n Nederlandse karakter sou hê. Die aankoms van die Hugenote het dit in die oë van Simon van der Stel nodig gemaak om die Nederlandse aard van die nedersetting te versterk. Hy het die meeste Hugenote in Franschhoek en Drakenstein gevestig en bevel gegee dat hulle tussen ander burgers grond moes kry sodat "hulle ons taal en sedes kan leer en met die Hollandse nasie geïntegreer kan word". Toe die Franse verlof vra om hul eie gemeente te stig, het hy die versoek as verregaande beskou. Hy het gewaarsku dat hulle gou hul eie "magistrate, kommandeur en prins" sou wou hê. Die owerheid in Amsterdam was toeskietliker en het die Hugenote toegelaat om hul eie gemeente te stig. In 1699 het Drakenstein die derde gemeente na Kaapastad en Stellenbosch geword. In 1701 is 'n strenger beleid gevolg. Die Here Sewentien het beveel dat die nodige maatreëls getref moet word "om te verseker dat die Franse taal geleidelik sal verdwyn." Hierdie beleid van gedwonge kulturele assimilasie het tot groot hoogte geslaag en teen 1750 was daar niemand onver 40 wat nog Frans kon praat nie. Die Hugenote het baie gedoen om die vryburgerbevolking te stabiliseer. As mense sonder 'n vaderland waarheen hulle kon terugkeer, moes hulle wortelskiet of ondergaan. Godsdiensvervolging het hulle vasbeslote gemaak om struikelblokke te oorkom. Die Hugenote het teen 1700 maar 8,5% van die burgers gevorm, maar hul toekomstige  invloed was groot. Nasate an Hugenote sou leiersposisies in die Afrikanergemeenskap verwerf buite alle verhouding tot die getalle van die oorspronklike immigrante. 

Die Hugenote het ook in 'n ander belangrike opsig 'n verskil gemaak. Voorheen het die tekort aan Europese vroue baie mans genoodsaak om slawe as bruide of minnaresse te neem. Die Hugenote was oor die algemeen reeds getroud en jonk. Na gelang die dogters in hul groot gesinne hubaar geraak het, het die mans se vaste verbintenisse met nie-Europese vroue al hoe minder geraak. 'n Patroon van ondertrouery onder die Eruopeërs het al vaster geword. 

Duits het saam met Frans 'n korstondige verskyning op die Kaapse toneel gemaak, maar die Duitsers was hoofsaaklik enkellopende mans. Hulle het verskillende dialekte  gepraat en het met of Hollandse of Franse vroue getrou. Die VOC het geen poging aangewend om die Duitsers se godsdienstige voorkeure tegemoet te kom nie. 'n Versoek om 'n Lutherse kerk te bou, is eers in 1780 toegestaan. Duits het dus redelik gou uitgesterf.

'n Noodlottige besluit

Binne tien jaar na die stigting van die Kaapse stasie is slawerny ingevoer. Die eerste skeepsvrage slawe het in 1658 aangekom en wel van Angola en Dahomey (nou Benin) in Wes-Afrika. Daarna is uit verskeie ander bronne geput. Die Kompanjie het reise na Madagaskar en later na Mosambiek onderneem om slawe te koop. Slawe is ook van Batavia en Ceylon na die Kaap gebring. Tussen 1680 en 1731 het omtrent die helfte van die slawe van Madagaskar gekom, terwyl Indonesië en Indië saam ongeveer 'n derde gelewer het. 

Slawerny het die Kaap se geskiedenis fundamenteel en onherroeplik verander. As 'n regering slawerny nie uit die staanspoor verbied het nie - wat in Australië wel gebeur het - was dit omtrent outomaties dat die gedwonge arbeid gebruik sou word indien grond in oorvloed en arbeid skaars was. Slawerny het 'n sameleweing se hele etos bepaal. Dit het vryheid en status gedefinieer. 'n Slaaf se onvryheid het ander mense se vryheid, regte en voorregte soveel skerper laat uitstaan. Mense se status het toegeneem namate hul besit van slawe uitgebrei het. Vir 'n Europeër om 'n handearbeider in diens van iemand anders te wees, was om 'n status  amper soortgelyk aan dié van 'n slaaf te hê. Dit was 'n lot wat die Kaapse burgers tot elke prys wou vermy. Toe slawe op groot skaal begin inkom, het die Kompanjie opdrag gegee dat eers in die boere se behoeftes voorsien moes word. Ongemerk het slawerny 'n greep op die maatskaplike en ekonomiese lewe gekry. Binne weke het Van Riebeeck 'n proklomasie uitgereik wat getoon het in watter mate slawerny die samelewing laat ontaard het. Baie slawe het teen oestyd weggeloop en die burgers is dus toegelaat om slawe in kettings te slaan, behalwe ou mans, jong seuns en vroue. 'n Tweede proklomasie het bepaal dat die kommandeur sy toestemming moet gee voordat 'n slaaf aan 'n paal vasgemaak en 'n loesing gegee word. Eienaars kon nie self swaar strawwe toedien nie, maar moes 'n klag by die fiskaal (staatsaanklaer) indien. 

Lank het die Politieke Raad geen ernstige bespreking gehou oor die kwessie van slawearbeid nie, maar teen 1716 het 'n brief van die Here Sewentien die raad genoop om by dié onderwerp stil te staan. Die vraag is gedebbateer: moet die regering voortgaan om slawe in te voer? Om moet immigrasie van vrye Europese arbeiders aangemoedig word. Mense wat later opsigters of ambagslui kan word en selfs boere? In die Politieke Raad was raadslid D.M. Pasques de Chavonnes die enigste wat gevra het die regering moet slawearbeid afskaf. Hy het op die nadelige maatskaplike gevolge van slawerny gewys en gesubsidieerde immigrasie van Europese arbeiders aanbeveel. As vrye arbeiders wat kontant verdien, sou hulle die binnelandse mark laat uitbrei en sodoende die welsyn van die kolonie verhoog. Net so belangrik was die feit dat 'n ekonomie gebaseer op vrye arbeid vir 'n veel veiliger samelewing sou sorg; aangesien niemand vrye arbeiders so stip hoef dop te hou as slawe nie. Die ander lede van die raad het min entoesiasme vir vrye arbeiders getoon. Vir die sekretaris was dit 'n voldwonge feit dat hulle "min respek vir hul meester sal toon en sal probeer om aan hom voor te skryf". Europese immigrante sou net die getal arm burgers laat toeneem. Die raad het dus besluit om die voortgesette invoer van slawe as die goedkoopste en wenslikste opsie aan te beveel.

In 1750 het die Here Sewentien die Kaapse regering weer gevra om die uitvoerbaarheid van gesubsidieerde Europese immigrasie na die Kaap te ondersoek. In hierdie geval  het die regering die burgerlede in die Raad van Justisie en ook die heemrade in die binneland geraadpleeg. Hierdie spreekbuise vir die burgers het geen noodsaak gesien vir 'n bestendige stroom van Europese immigrante wat die Europese bevolking selfversorgend in arbeid sou maak nie. Hulle was tevrede met slawearbeid, want hul prioriteit was dat die beskikbare grond en ander geleenthede vir hulle en hul kinders opsy gesit word. Immigrante sou die Kaap ruineer en "slegs die ernstige armoede wat reeds heers, vererger." Dit het die lot van die Kaap beseël. Die kolonie wou nie in staat wees om uit sy ekonomiese keurslyf te ontsnap deur die mark te vergroot deur middel van 'n bestendige toename in vrye arbeiders nie.

Klas en kleur: vloeibaarheid en wrywing

Teen 1705 het die boerderybedrywighede van goeweneur Willem Adriaan van der Stel en ander hoë amptenare 'n politieke krisis veroorsaak. Dit word in die volgende hoofstuk beskryf; hier let ons slegs op die wrywing tussen statusgroepe wat hierdie konflik blootgelê het op 'n tydstip toe die kolonie se bevolking nog klein was. Die bevolking was toe soos volg saamgestel:

                                                                                  Kaapse Bevolking 1706

                                                            Kompanjiesamptenare                                 Burgers

Manlik                                                             542                                                          568

Vroulik                                                            104                                                       1 151

Slawe                                                              404                                                          991

Ten einde die ongeveer 1 400 slawe te beheer, was dit nodig dat die Kompanjiesdienaars en burgers, as die dominante statusgroepe, saamstaan. Die slawe het al te goed geweet dat die Stellenbosse burgers in 'n botsing met die senior amptenare gewikkel is en dat 'n hele aantal burgers in aanhouding is. Volgens landdros Johannes Starrenburg van Stellenbosch het sommige van die slawe opgetree asof hulle "prinse van die bloed" is. Sowel Willem Adriaan van der Stel as sy vader, Simon, was daarvoor bekend dat hulle goeie verhoudinge gehad het met hul slawe en Khoi-Khoi-bediendes en ook met die vryswartes aan die Kaap, wat ongeveer sestig getel het en van visvang en groenteboerdery 'n bestaan gemaak het. Hulle het Willem Adriaan van der Stel in sy konflik met die burgers ondersteun. Die burgers het gou vermoed dat die regeringhul posisie ondermyn deur die ondergeskikte bevolking voor te trek. Die burgers het dit as 'n aanslag op die Europese beskawing uitgebeeld. In 'n brief aan die Here Sewentien het Adam Tas en sommige ander vooraanstaande Stellenbosse burgers hul vrees uitgespreek dat die Khoi-Khois die geskille tussen boere en amptenare kon gebruik om "alle Christene uit te wis, goeie sowel as slegte mense". Die burgers het ook beweer dat Van der Stel steeds die "swart volkie" begunstig ten koste van die "Christen onderdane". Hulle was waarskynlik ontsteld daaroor dat Van der Stel, in 'n poging om handtekeninge vir sy verdediging te werf, vryswartes en ander gekleurde mense in Tafelbaai met wyn, bier, koffie en tabak onthaal het. Tas en die ander Stellenbosse burgers het hul vrees uitgespreek oor die "Kaffirs...mulatte, mestiese en casticos en al die ander swart gebroedsel wat onder ons bly en deur huwelike en ander verbintenisse met Europese en Afrikaanse Christene vermeng het. Tot ons verbasing het hul mag, getalle en hoogmoed toegeneem en is hulle toegelaat om wapens te hanteer en saam met Christene aan militêre oefeninge deel te neem. Dit is hulle wat nou aan ons sê dat hulle ons sal vertrap. Niemand kan mense met Gam se bloed vertrou nie. Die swart volkie word heeltyd voorgetrek."

Die term "Kaffirs" (ook gespel Kaffers) wat in die dokument verskyn, is oorspronklik deur Arabiese Moslems vir die swart mense van Afrika gebruik. Dit het beteken ongelowiges of heidene, Hollandssprekendes het eerste die term in Batavia gebruik, waar die fiskaal slawe van Angola of Mosambiek as polisiemanne aangewend het. Aan die Kaap het slawe in dieselfde hoedanigheid gefunksioneer en hulle het hier ook die naam "kaffers" gekry. As mense wat in die strate summier die regeringsgesag toegepas, losbandiges vasgevat en mense gerresteer het, was hulle besonder gehaat. Teen die einde van die agtiende eeu het amptenare en burgers begin om die naam vir die Xhosasprekendes aan die Oosgrens te gebruik, wat gou laat blyk het dat hulle nie daarvan hou nie. Aan die Kaap was daar teen die einde van die sewentiende eeu 'n sterk korrelasie tussen wetlike status, kleur en godsdiensidentiteit - om vryburger te wees, wit te wees en Christen te wees, het hoofsaaklik saamgeloop - maar  daar was nog geen sterk verdeling op grond van kleur nie. Daar was verskeie vrye mense van gemengde afkoms wat prominente figure was. Dit wil voorkom of hulle nie diskriminasie ondervind het nie. 

Hierdie "gekleurde" vrye mense was die produk van die aansienlike vermenging oor die kleurlyn binne huweliksverband. Dit was toe te skryf aan die wanbalans van die geslagte in die wit gemeenskap. teen 1700 was daar in die Kaapse distrik twee keer soveel Europese mans as vroue in die volwasse burgerbevolking, en in die binneland was die verhouding drie tot een. Huwelike tussen wit mans en gekleurde vroue wat lig van kleur was, was algemeen. Daar was ook talle stewige buite-egtelike seksuele verbintenisse tussen mense van verskillende kleure. Dan het daar ook grootskaalse vermenging plaasgevind in die vorm van buite-egtelike seks in die slawelosie, wat deur burgers, besoekende soldate en matrose besoek is. J.A Heese, bekende genealogiese navorser, het geskat dat 7% van die Afrikanerfamilies in die twintigste eeu 'n nie-Europese stammoeder gehad het. Gedurende die eerste jare was die situasie vloeibaar genoeg vir kinders uit gemengde huwelike om in die europese gemeenskap aanvaar te word. Daar was twee besondere gevalle. Die een was die slavin Armosyn Claasz, die dogter van 'n slawevroue en 'n man wie se identiteit onbekend was. Sy het in die Kompanjieslosie die lewe geskenk aan kinders van vier verskillende vaders. Party van hulle is beskryf as halfslag, wat beteken dat hul vader wit was. Baie van hierdie kinders en hulle nasate is opgeneem in wat later bekende Afrikaner families geword het, soos Volschenk, du Plessis, Pretorius, Myburgh en Esterhuizen. Die ander geval het betrekking op die verbintenis tussen Louis van Bengale en Lysbeth van die Kaap, albie nie-Europeërs. Drie dogters is uit hierdie verbintenis gebore en Lysbeth het twee dogters uit 'n ander verhouding met 'n Europeër gehad. Al die kinders het in verhoudings met Europeër betrokke geraak, of binne of buite die huwelik, en die meeste van hul nasate is in die Afrikanergemeenskap van vandag opgeneem. Die families wat op die mees direkte wyse betrokke was, is Brits, Van Deventer, Slabbert, Fischer en Carstens.

Daar was baie min gevalle van Europese vroue wat met nie-Europeërs getrou het. Die mees opvallende geval was dié van Marguerite de Savoye, 'n dogter van Hugenote-ouers, wat in 1690 met Christoffel Snyman getroud is. volgends mondelinge oorlewering het hy 'n bestaan gemaak van wingerde snoei. Hy as die seun van Hans Christoffel Snyman, 'n Hollander, en Citrijn van Bengale, wat nie getroud was nie. Die bekende Snyman-familie stam van hulle af. Nog 'n geval was dié van Maria Roos, wat met David Simon Hoon getrou het, die seun van 'n slaaf van Madagaskar en sy vrou, Rachael, wat van Indiese afkoms was. Ander 'gekleurde' mans wat to die 'wit' gemeenskap toegetree het, is onder meer die stamvaders van die families Antonissen, Jonker, Jacobs en Serfontein. In 1685 het 'n besoekende kommissaris huwelike tussen Europeërs en "heelslag" - slawevroue (dit wil sê mense van 'suiwer' Asiatiese of Afrkaoorsprong) verbied. Hy het daarteenoor huwelike tussen Europeërs en "halfslag"-vroue toegelaat met die veronderstelling dat hulle in die Europese samelewing opgeneem sou word. Hierdie wetgewing is egter nooit streng toegepas nie. 

Die Europeërs het nie 'n hegte gemeenksap gevorm nie. Tussen 1657 en 1707 was daar altesame 1 613 vrye volwasse burgers wat op een of ander tyd aan die Kaap vertoef het. Van hulle was ongeveer 'n derde boere en 'n kwart knegte of voormanne. Ryk mense het knegte dikwels in 'n ongunstige lig beskou en soms selfs as gevaarlik. Daar was 'n regulasie wat mense verbied het om 'n kneg teen sy meester aan te hits. Op plase het kengte hul werkgewers as "baas" aangespreek en in buitegeboue gewoon. Daar was 'n paar gevalle waar blanke knegte vir vryswartes gewerk het en soms was daar ook vryswartes wat as knegte beskou is. Dit het besoekers aan Tafelbaai opgeval dat knegte saam met slawe, arm burgers en behoeftige soldate of matrose in kroeë gedrink en kaart gespeel het. Die belangrike punt was egter dat 'n Europese kneg heeltemal vry kon word en opgang kon maak. Pieter Visagie en Willem Schalk van der Merwe was albei knegte wat later onafhanklike boere geword het - die stamvaders  van bekende Afrikanerfamilies. In die laaste dekades van die sewentiende eeu het Henning Husing van die posisie van kneg tot die rykste man in die kolonie gevorder. Hierdie gevalle was buitengewoon. Die kneg se posisie is deur die slawe en die Khoi-Khoi-arbeiders in die Wes-Kaap ondermyn. In die agtiende eeu het sommige kengte onderwysers op plae in die binneland geword. Hul satus was nederig en hulle is min betaal. Party knegte was gelukkig genoeg om met 'n boer se weduwee te trou, maar die grootste gros was behoeftig en het waar onder skuld gebuk gegaan. Sommige was van die kerk se aalmoese afhanklik. In Kaapstad het knegte verhoudings met vryswartes of slawevroue gehad, en aan die grens het sommige met Khoi-Khoi-vroue saamgeleef. Die kinders van hierdie verbintenisse is gewoonlik nie in die heersersgroep opgeneem nie. In sy beleid teenoor die Kaapse nedersetting het die Kompanjie nie juis idealistiese motiewe gehad nie. Sy hoofdoel was om 'n goeie opbrengs aan sy aandeelhouers te verskaf. Maar die Kompanjie se obsessie met wins het nie beteken dat hy onverskillig gestaan het teenoor sake soos die Hollandse kultuur en die sedelike welsyn van sy onderdane nie. Die Kompanjie het predikante, sieketroosters en onderwysers aangestel en het beveel dat in sowel die kerk as die skool die Gereformeerde geloof en die Hollandse taal onderrig moet word.

Toe die eerste slawe ingevoer is, het die regering opdrag gegee dat slegs Hollands met hulle gepraat moet word. Slawe kon nie vrygestel word as hulle nie Hollands kon praat of skryf nie. Toe 'n amptenaar 'n woordelys van Khoi-woorde opstel, het die Kompanjie onderneem om dit te publiseer, maar bygevoeg dat dit belangriker is dat die Khoi-Khois die Hollandse taal leer as omgekeerd. Die regering was bekommerd dat die burgers kon ontaard en het dus die predikante ondersteun in hul pogings om die swak kerkbywoning, wat in die eerste eeu so opvallend was, te verbeter. Die aandrag van die kerk dat mense moes kon lees en skryf voordat hulle aangeneem word, was 'n belangrike aansporing vir die burgers om basiese onderrig aan hul kinders te gee.

'n Uitbreidende samelewing

Die laaste dekade van die sewentiede eeu was 'n goue tydperk vir die kleiner boere in die Wes-Kaap. Daar was genoeg onbesette grond vir hulle om te gebruik en hulle kon Khoi-Khois goedkoop as arbeiders gebruik. Die opbrengs op kapitaal van die armer boere was aansienlik hoër as dié van die ryker boere, wat slawearbeid aangewend het. In die eerste dekades van die agtiende eeu het sake vir die kleiner boere begin skeefloop. Hulle het hul arbeidsmag verloor toe die Wes-Kaapse Khoi-Khois in die pokke epidemie van 1713 feitlik uitgewis is. Die kleiner boere kon selde meer as een slaaf bekostig. Die Kaapse mark het klein gebly. 'n Groeiende deel van die bevolking het uit slawe bestaan, met geen of slegs 'n klein kontantinkomste. Toenemend het die groter plase die kleiner plase begin insluk. 

Die deel van die boere wat as welvarend beskou kon word, kon teen 1710  op omtrent 7% van die vrye bevolking gestel word. 'n Groot gedeelte was baie arm. In 1705 is gerapporteer dat twee vyfdes van alle huishoudings geen bates hoegenaamd het nie. Boere het daarop aangedring dat hulle toegelaat moet word om hul vee buite die grense van hul plase te laat wei. Simon van der Stel het 'n voorgevoel gehad van wat dit sou beteken. Hy merkop dat as die burgers die vryheid gegun sou word om ekstensief met vee te boer, "die hele Afrika nie groot genog sou wees om hirdie klas mense te bevredig nie." 

Die vrees was nie heeltemal ongegrond nie. Die veeboere wat sou wegtrek sou nie dikwels van woonplek verander nie, maar eerder hul seuns uitstuur om nuwe grond te vind. Daar was egter ook die nomadiese trekboere wat bly trek het agter weiveld aan en daarvan 'n lewenswyse gemaak het. Toe 'n veldkornet Kruger, 84 jaar oud, in 1834 aan die walle van die Oranjerivier gevra is hoe ver die mense nog sou trek, was sy antwoord: "Tot hulle by die see kom, soos Abraham, Isak en Jakob voor hulle". Die persoon wat die vraag gestel het, het opgemerk dat die omstandighede nou heeltemal anders is en wou weer 'n keer weet hoe ver die boere sou trek. Die oubaas het sy hand gelig om 'n ver afstand te beduie en met 'n luide, besliste stem gesê: "Tot die anderkant uit."

Teen die 1710's toe daar omtrent 400 plase was, het die regering die grootste deel van die vlakte wes van die eerste bergreekse as ten volle beset beskou. Teen 1717 is daar besluit om alle toekennnings van grond in hierdie streek te staak. 'n Klein vrye bevolking was oor 'n groot gebied uitgestrek. In die distrikte Stellenbosch en Drakenstein was daar slegs twee vry mense vir elke 2,6km. Dit was te min om 'n behoorlike netwerk van paaie te onderhou. Die swak paaie het mense verder ontmoedig om intensiewe landbou te beoefen en produkte na die mark te neem. Van die 1680's af was die Kaap selfdonderhoudend in koring, hoewel net 'n derde van die burgers gesaai het. 'n Oorproduksie van die vernaamste gewasse het ontstaan. Die verskuiwing na veeboerdery wat vroeër begin het, was nou onomkeerbaar. 

Vroeg in die agtiende eeu het die regering aalle beheer oor die buiteliggende gebiede laat vaar. In 1703 is die reël dat burgers hul vee nie verder as 'n dagreis van hul plaas moet laat wei nie, teruggetrek. Die regering het nou begin om weipermitte uit te reik en in 1714 is hierdie beleid uitgebrei tot wat bekend sou staan as die stelsel van leningsplase, waarvolgens boere 'n groot stuk grond teen 'n geringe bedrag per jaar sou huur. Hierdie stelsel sou die burgers aanmoedig om vinnig oor 'n uitgestrekte gebied te versprei en sou die regering se vermoë om sy onderdane te beheer in die wiele ry. Hoe dieper die burgers in die binneland ingedring het, hoe meer het hulle gevoel dat hulle onafhanklike mense is met hul wortels in Afrika. 

'n Spesiale soort burger

Teen 1706, toe die nedersetting net meer as vyftig jaar oud was, het die totale bevolking tot ongeveer 3 500 mense gegroei. Ons weet wat die uiteindelike lot was van 570 mense, of ongeveer 'n derde van die 1 613 vryburgers wat gedurende die eerste vyftig jaar in die Kaap gewoon het. Van hierdie 570 het meer as die helfte vryburgers gebly, 30 is verban, 39 is terug in die Kompanjiesdiens, 70 het hulle versteek in skepe wat weer verder gevaar het en 103 het verlof gekry om die Kaap te verlaat. In hierdie stadium het die burgers hul identiteit uit verskeie bronne geput: hul Europese afkoms, wat nou gekoppel was aan hul Christelike geloof, die Hollandse taal en hul burgerstatus. Die vryburgers wat geboer het, het 'n spesiale soort burger geword. Anders as die burgers wat 'n nering in die hawedorpie beoefen het, het hulle vir eits meer as hul eie belang gewerk. Hulle was, in hul woorde van 1658, die "verdedigers van die land" teen die inheemse vyande, en hulle was ook die nedersetting se voedselprodusente. Hul oorlewing het daarvan afgehang dat die regering hul regte en voorregte eerbiedig. . Hulle sou 'n nekslag toegedien word as die klein maar magtige groepie senior amptenare sou besluit om self te begin boer en die mark te voorsien. Juis so 'n bedreiging het vroeg in die agtiende eeu opgeduik. 

Hermann Gililomee

Die Afrikaner: 'n Biografie

Tafelberg Uitgewers

ISBN 978-0-624-04181-8