Koningin Victoria se Afrikaners

Die vestiging van 'n ryk

In 1822 skryf W.W. Bird, 'n Britse amptenaar getroud met 'n Afrikaanse vrou: "An Englishman, from the Orkneys to New South Wales, is the same unbending creature. He accommodates himself with difficulty to the manners of other countries and nothing can be right or proper that is not English, and to which he is unaccustomed." Die skouspelagtige opkoms van Brittanje as wêreldmag het by Britte in die kolonies die idee laat posvat dat die Britse manier van dinge doen verreweg die beste is. Dit sou ook die geval wees in die Kaapkolonie, wat Brittanje in 1806 weer beset het nadat dit tussen  1803 en 1806 deur die Bataafse bewind van Nederland bestuur is. Na 1806 se verowering was dit, anders as in 1795, Brittanje se voorneme om besit van die Kaap te behou omdat dit van groot strategiese waarde was as halfwegstasie op pad na Indië, die juweel van die Britse ryk.

In 1814 is die Kaap formeel aan Brittanje oorgedra kragtens die vredesverdrag wat tussen die strydende partye in Europa gesluit is. Die verbintenis tussen die Britse ryk en die kolonie aan die suidpunt van Afrika het lank geduur. Wit politici het in die eerste helfte van die twintigste eeu heftig oor die soewereiniteit van Suid-Afrika gestry en die term  ryk is deur statebond vervang, maar in 'n onlangse gesaghebbende studie van die Britse ryk verskyn 'n wêreldkaart waarin al die Britse imperiale gebiede teen 1939 rooi ingekleur is. Hierop is Suid-Afrika saam met 'n kwart van die wêreld rooi.

Die vestiging van Engelse kultuur en Britse setlaars

Al was die Kaap nie op sigself vir Brittanje belangrik nie, wou die nuwe heerser sy stempel daarop afdruk, veral in Kaapstad en die vernaamste dorpe. Dit het uitdrukking gevind in die bevordering van Engels as 'n "progressiewe taal van beskawing", en van Engelse kleredrag, argitektuur en sosiale etiket. In baie opsigte  was Engelse nasionalisme die oorspronklike nasionalisme in Suid-Afrika, waarop sowel Afrikaner- as Afrika-nasionalisme later sou reageer.

Reeds gedurende die eerste Britse besetting tussen 1795 en 1803 het sommige van die Britse heersers die burgers laat verstaan dat daar min in hul geskiedenis is waarop hulle trots kan wees. 'n Waarnemende goewerneur, generaal Francis Duncas, het die koloniste wreed, lafhartig en geslepe genoem. Selfs lady Anne Barnard, wat gesellig met die elite van die Kompanjiestryd verkeer het, het opgemerk dat "...a little parade...procures respect from the stupid heads." Met verwysing na hierdie gesindheid het J. Howison in 1834 oor sy landgenote geskryf: "They never have intercourse with foreigners without allowing them to perceive how thoroughly they despise them."

Vir die Kaapse burgers was dit moeilik om die Britse gevoel van meerderwaardigheid uit te daag. Diegene onder hulle wat ingelig was, het geweet dat die gemeenskap gesisoleerd, swak opgevoed en ver agter ontwikkelinge in Europa is. Die feit dat die Kaap so min militêre weerstand teen die Britse besettingsmag gebied het, het by die burgers  'n gevoel van onmag gewek, wat vererger is deur die feit dat hulle nou verowerdes onder 'n Britse outokrasie was.

In die anderhalwe eeu na die vestiging van 'n nedersetting het die kolonie bestendig vordering gemaak. In Kaapstad en op Stellenbosch en op die welvarendste wynplase waar daar elegante huise in die Kaaps-Hollandse styl met smaakvolle Kaapse meubels. Die kolonie was egter nie juis op die voorpunt van  ekonomiese en kulturele sukses nie. Daar was aan die Kaap geen eie koerante, tydskrifte, boeke, skilderye of uitvindings waarop geroem kan word nie.

Brittanje se besluit om in 1820 ongeveer 4,000 Britse setlaars na die Kaap te stuur, het nie net ten doel gehad om van die oortollige bevoking in Brittanje ontslae te raak nie, maar ook om die Kaap as kolonie 'n sterker Britse karakter te gee. Die setlaars was oor die algemeen arm, maar die meeste het tog meer vaardighede as die burgers gehad. Omtrent 'n derde was ambagslui en 'n tiende professionele mense. Hulle is omtrent almal in die Suurveld gevestig om as buffer teen Xhosa-invalle te dien. Binne tien jaar het die meeste die gebied verlaat en na dorpe en stede getrek.

Alhoewel die Brittanje wat die setlaars verlaat het nog ver van 'n populêre demokrasie was, was dit geen outokrasie nie. Die idee van individuele vryhede was teen die eerste dekades van die negentiende eeu reeds stewig gevestig. Die Engelssprekende setlaars aan die Kaap was nie bereid om die outkrasie wat veral in die eerste twee dekades van die Britse bewind bestaan het, net so te aanvaar nie. Hulle het ook hier op hul regte aangedring. In 1824 het John Fairbairn en Thomas Pringle 'n koerant, The South African Commercial Advertiser, gestig.

In dieselfde jaar het 'n Hollandse tydskrif, Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tydschrift, verskyn. Dit is geredigeer deur Abraham Faure, 'n predikant in Kaapstad. Fairbairn, Pringle en Faure het saam geveg teen die poging van goewerneur Somerset om 'n vrye pers te onderdruk, en teen 1827 was die stryd gewonne. Die pers het die reg gehad om oor politieke sake debat te voer en om oor regeringsoptrede verslag te doen en dit te kritiseer. 

Dit was die Britse setlaars wat die nuwe geleenthede die beste benut het nadat 'n veel vryer ekonomiese beleid ingevoer is. In die dorpe en stede het hulle die ambagslui en winkeliers geword. Saam met die Jode was hulle die smouse wat die binneland deurkruis het om met sowel boere as Xhosas op die grens handel te dryf. Dit was hulle wat eerste die potensiaal vir grootskaalse grondspekulasie raak gesien het, wat in die jare dertig die wolboerdery in die oostelike deel van die kolonie ingevoer het en wat die groot in- en uitvoerfirmas in Kaapstad en Port Elizabeth gestig het. Teen die einde van die eeu was die Afrikaners, selfs in die republieke, omtrent heeltemal afwesig as ondernemers in die nywerheid en as ambagslui.

Gedurende die tweede helfte van die eeu was Britte die ingenieurs van die paaie, brûe, passe, mynskagte en spoorweë. Britse en Joodse ondernemers het die gesofistikeerde nywerheids- en finansiële maatskappye gestig. Die verstedelikte Afrikaners het tot betreklik laat in die twintigste eeu 'n heel ondergeskikte rol in hierdie ekonomiese revolusie gespeel.

'n Verengelsingsbeleid

Nadat Brittanje in 1814 finaal beheer oor die Kaap gekry het, was die bewindshebbers gretig om die Kaap te "verbeter" en te "beskaaf". Een van die eerste stappe was 'n nuwe taalbeleid. In 1822 het die regering aangekondig dat Engels oor die volgende vyf jaar ingefaseer sou word as die taal van die regering en die howe.

Gedurende die 1820's het die Somerset-rereging ook geprobeer om die skole en die kerk te verengels. Die vrye regeringskole het onderwys met slegs Engels as voertaal aangebied. Die burgers was gretig om hul kinders Engels te laat leer, maar was daarteen gekant dat Hollands uitgedryf word. Hulle wou skole hê wat die kinders in albei tale onderrrig. Namate die Britse bewind stewiger gevestig geraak het, het die ouers se aandrang op Hollands afgeneem. Toe die Anteneaum (later die South African College en nog later die Universtiteit van Kaapstad) gestig is, het die ouers en die NG predikante nie omgegee dat die meeste van die leerkragte Engelse en Skotte was nie. Die predikante was egter ontsteld toe die Kollege godsdiensonderrig wou gee. Hulle was bevrees dat die jeug by 'n Engelse kerk sou aansluit.

Die Britse bewindhebbers het geweet dat die taalstryd in die kerk gewen of verloor sou word. Omdat hulle bewus was van die NG Kerk se belangrikheid het die Britte dit behou as 'n "established church", wat in feite 'n staatskerk was. Net soos die Kompanjie het dit jaarliks 'n groot bedrag aan die kerk betaal as salarisse en boukoste. Hulle het die reg behou om predikante in bepaalde gemeentes aan te stel en te verplaas. Lord Charles Somerset, wat in 1814 goewerneur geword het, het eers Hollandse predikante gesoek om die vakatures te vul, en toe hy nie daarin slaag nie, het hy hom tot Skotland gewend. Teen 1834 sou van die 22 NG predikante 12 Skotte wees.

Somerset wou hê dat die predikante in Kaapstad Engels gebruik. Hy het hulle daarop gewys dat vlotheid in die taal 'n vereiste is vir aanstelling as regeringsamptenaar. Die predikante het die verengelsing van die kerk verwerp en J.A. Turger, hoofregter, het die goewerneur in 1824 aangeraai om versigtig te trap. Slegs waneer die burgers vlot in Engels is, sou die verreiste toegepas kon word sonder dat dit as 'n vernedering beskou word.

Die eerste sinode van die NG Kerk, in 1824, het 'n versoek van die Skotse predikante om ook in Engels te preek, verwerp. Die druk het egter voortgeduur en in 1834 was daar 'n soortgelyke versoek voor die sinode. De Zuid-Afrikaan het emosioneel gereageer; "Lede van die Sinode...deur die taal van u godsdiens te verander, doen julle die eerste stap om u geloof en godsdiens te versaak."

'n Taal en kultuur onder bedreiging

Op sekulêre gebied het Engels vining veld gewen. In 1828 is die kolleges van landdros en heemrade afgeskaf en vervang deur magistrate en kommissarisse, wat hoofsaaklik Engels as eerste taal gepraat het. In Kaapstad is die munispale raad afgeskaf en in die plek daarvan het Engelssprekende trustees en kuratore gekom.

Engels het die vernaamste taal van die administrasie geword en al die senior amptenare het hule briewe in Engels geskryf. Dit was ook die vernaamste medium vir die openbare politieke debat. In 1828 het Piet Retief sy manifest waarin hy redes vir die trek uit die kolonie uiteensit, eers in 'n Engelse koerant gepubliseer.

Die Britte het nie te veel aan die regbspleging getorring nie. Baie van die regspleging het gebaseer gebly op dié  van die sewentiende- en agtiende-eeuse Nederland. Vroeg in die negentiende eeu het Nederland 'n nuwe regskode ingevoer, maar in Suid-Afrika het wat laer die Romeins-Hollandse reg genoem sou word tot die huidige tyd voortbestaan.

Regsgeleerdes soos Christoffel Brand, wat in Leiden gestudeer het, het 'n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van die reg op die basis van Romeinse reg en presedente wat voor die Franse Revolusie in Nederland geskep is. Met verloop van tyd het die regstelsel in Suid-Afrika toenemend ook Engelse handels- en versekeringsreg geïnkorporeer.

Engels is van 1828 af as die enigste amptelike verslagtaal in die howe gebruik. Getuienis en kennis van Engels was een van die vernaamste vereiste vir jurielede. Na 1834 kon 'n jurielid gediskwalifiseer word as sy Engels gebrekkig was.

Dit is merkwaardig hoe gelate baie burgers dit aanvaar het. Daar is verskeie verklarings hiervoor. As mense wat baie ingestel was op die handel, was die Kaapse Afrikaners geneig om die taal as instrument  eerder as die simbool van hul identiteit te beskou. Dit was daarby vir baie Afrikaners voordelig om die nuwe heersers ter wille te wees. Baie van die ou amptenare van die Kompanjie het hul regeringsposte behou en hul lewenspeil het verbeter. 'n Klein lagie van die Kaapse elite en in die besonder seekere families, soos die Cloetes en Van der Byls, het doelbewus besluit om te verengels. Hulle het bekend geword as die "Cape Dutch" of "Anglomen". In 1831 het Henry Cloete verklaar: "The Cape Dutch are essentially English. Their habits, their intermarriage, their general improvements, all exhibit and prove this fact."

Op die boerebevolking het Britse imperialisme 'n heelwat swakker uitwerking gehad. Die meeste wyn- en koringboere het met rasse skrede vooruitgegaan, maar die materiële sukses het min laat verengels. In die binneland agter die eerste bergreekse het die boere afgesonder geleef. Hulle was ontsteld oor die regering se afskaffing van die kolleges van landdros en heemrade in 1828, maar daarby het dit gebly. Apatie en afsydigheid eerder as intense afkeer van die Britse gesag het die houding van die meeste boere in 1830 gekenmerk.

Daar was ook psigologiese verklarings hiervoor. Thomas Philipps, 'n Britse setlaar, het geglo dat die instelling van slawerny baie negatief op die burgers ingewerk het. Hy het geskryf: "As to the Dutch, with very few exceptions, they are so accustomed to obey that they tremble at a shadow... One of the very worst effects of the system of slavery is predominant in them, in proportion as they tyrannize over their domestic slaves, in the same ratio they degradingly crouch at the feet of their rulers."

Andries Stockenstrom was die mees senior amptenaar wat hom self as 'n Afrikaner geidentifiseer het. Hy was onder meer lid van die goewerneur se adviesraad, wat in 1825 ingestel is. Hy het hom bekommer oor die Afrikaners se "apatiese instemming" met alles wat die regering doen. Dit het die indruk gelaat dat daar  "met die Kaapse koloniste enigiets gedoen kan word omdat hulle in alles berus". Hy het by sy mede-Afrikaners daarop aangedring dat hulle hulle teen "elke belediging of benadeling" moet verset. Die feit dat iemand toevallig mag besit, gee hom nie die reg om "oor sy medemense baas te speel asof hulle 'n minderwaardige spesie is wat net geskep is om te sidder wanneer hy frons nie".

Maar die Britse amptenare en reisigers was nie al mense wat die Afrikaners gedefinieer en beskryf het nie. Ander Britte het hul eie opvattings gevorm. Die Britse setlaars aan die oosgrens het die probleem van die grensboere sekerlik beter verstaan as die amptenare. Hulle moes self sukkel om arbeid in die hande te kry en hul persoonlike veiligheid te verseker. Die opgevoede setlaar Thomas Pringle het sy Afrikanerbure as ongekultiveerd en bevooroordeeld teen die Khoi-Khois beskou, maar hulle ook beskryf as beskaaf, geoedgeaard en vernuftig in die handel.

Die Britse professionele en sakelui in Kaapstad het gegeprobeer om goeie verhoudinge met hul eweknieë anderkant die taalgrens aan te knoop, maar hulle het altyd "amalgamasie" bepleit met die veronderstelling dat die nuwe gemeenskap wat sou ontstaan hoofsaaklik 'n Engelse kultuurkarakter sou hê. Dit was in hierdie gees dat Fairbairn se South African Commercial Advertiser 'n pleidooi gelewer het vir "an end to the national distinctions and loyalties" en vir die "cordial and complete amalgamation of the Dutch and English colonists which is so...essential to the future interests and well-being of both."

Die soeke na 'n nuwe identiteit

Die Gerformeerde godsdiens en die Hollandse taal was die hoeksteen van die burgers se kulturele erfenis.  Die Kompanjie het dit van die vroegste dae van die volksplanting beklemtoon en veral die kerk het daaraan vasgehou. Teen die 1820's het die prentjie radikaal verander. Hollands was nie meer die taal van die regering in Kaapstad en die plattelandse dorpe nie. Evangelisme, wat die klem meer op die geloofservaring as die leer plaas, sou weldrae in die kerk sterk na vore kom en soms dreig om die verkondiging van die leer te vervang. Die kerk sou later swig voor die druk om Engelse dienste in te voer.

Nietemin sou die kerk, saam met die koerante en tydskrifte, die vernaamste bolwerk teen die druk van die Engelse kultuur en "amalgamasie" wees. Wat vandag 'n volks- of etniese identiteit genoem word, het in die negentiende eeu bekend gestaan as "nasionaliteit" en soms ook as "ras". Dit was met die bevordering van 'n bepaalde nasionaliteit dat ds. Faure hom van 1824 besig gehou het in sy Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift.

Hy wou hê dat die burgers lojale Britse onderdane bly, maar hulle terselfdertyd met hul eie geskiedenis en kultuur verneenselweg. Artikels oor Nederlandse heldemoed beklemtoon 'n emosionele band met die stamland eerder as Engeland. Die blad beeld die stigting van die Kaapse volksplanting in 1652 as 'n daad met groot godsienstige en historiese betekenis. Dit het Jan van Riebeeck se dagboek in aflewerings gepubliseer, en sowel die kommandeur as die eerste vryburgers word geskets as vroom mense besiel met die missie om die evangelie te versprei.

'n Ander toon is te bespeur in die eerste Hollandse koerant, De Zuid-Afrikaan, wat op 9 April 1830 die eerste keer verkyn. Die blad bepleit toenadering tussen die twee wit gemeenskappe en hoop dat die naam Afrikaner daarvaoor inslag sal vind indien 'n nuwe inklusiewe gemeenskap ontstaan. De Zuid-Afrikaan gebruik die terme Afrikaner en Suid-Afrikaner feitlik as wisselvorme. "Met die naam Zuid-Afrikaan hys ons 'n banier waaronder alle koloniste, sowel die ou koloniste as die nuwes, hulle kan skaar. Almal wat in die land woon en daaruit 'n bestaan put, is Afrikaners...Almal wat die land aanval, moet streng deur alle Afrikaners, sowel Engelse as Hollanders, bejeën word." Die verwysing na "koloniste" kom daarop neer dat bruin en swart mense nie as Afrikaners beskou word nie.

Twee sake het groot wrywing tussen die Afrikaners en hul Engelssprekende landgenote gewek. Die een was die manier waarop slawerny afgeskaf moes word. Daarvoor het Christoffel Brand, later redakteur van De Zuid-Afrikaan, en Fairbairn skerp gebots.

Brand het in 1820 in Leiden gepromoveer op 'n doktorale proefskrif waarin hy argumenteer dat die kolonies "dieselfde burgerrregte, dieselfde wette, instellings en voorregte" as die burgers in die hoofstad van die koloniale moondheid moet hê. Daar is algmeen aanvaar dat selgs die feit dat die proefskrif in Latyn geskryf is die goewerneur beweeg het om hom nie by sy terugkoms in Kaapstad in hegtenis te laat neem nie.

Die ander twispunt was die Groot Trek. Fairbairn het in 1837 geskryf dat Piet Retief en sy mense gelas moet word om terug te kom of anders die gevaar loop om voor die voet doodgeskiet word. Die Kaapse Afrikaners was geneig om krities oor die trek te wees, maar het tog ook gevoelens van simpatie en solidariteit gehad. Die trekkers se oorwinning oor Dingane se mag by Bloedrivier in 1838 het aan Brand groot vreugde verskaf. Hy het aan Andries Pretorius geskryf: "Die manmoedigheid en dapperheid van u en u manskappe het by die geleentheid uitgeblink en die wêreld sal met agting en eerbied van die naam Afrikaanse Boer hoor."

In 1837 het hy met 'n sekere mate van wrewel in 'n Engelse tydskrif geskryf: "England has taken from the old colonists of the Cape everything that was dear to them: their country, their laws, their customs, their slaves, yes even their mother tongue." Die Hollandse koloniste het alles in hul vermoë gedoen om te bewys dat hulle Brits is, maar dit was nie genoeg nie. Hy vervolg: "Their conquerers had continually worked to remind them that they were Hollanders."

Maar teen die einde van die 1830's was daar veel minder wrywing tussen die twee wit gemeenskappe, verpersoonlik deur die twis tussen Brand en Fairbairn. Albei gemeenskappe het hard geprobeer om die Britse parlement te oortuig dat hul onderlinge konflikte tot die verlede behoort en dat die tyd ryp is vir 'n wetgwende vergadering vir die kolonie. Brand se benadering het begin verander. In 1841 het hy beskryf dat die twee gemeenskappe moet verenig en dat hulle moet saamstaan oor openbare aangeleenthede. Iets meer as tien jaar later het Brand sir Christoffel Brand geword.

Die ideologie van vooruitgang en sy slagoffers

Die Kaapse Afrikaners het die spanning van hul dubbele politieke persoonlikheid - lojale Britse onderdane en tog ook nie Britte nie - probeer versoen deur die fokus van hul lojaliteit koningin Victoria te maak. Sy het die troon in 1837 bestyg as 'n mesie van 18 en is 64 jaar later oorlede. In haar eerste 25 jaar op die troon was die Britse kolonies sekondêr in die Britte se politieke beskouing. Toenemend het die ryk egter 'n sentrale plek begin inneem, nie onder die Britte self nie, maar onder die onderdane in die kolonies.

Nie net Britte nie maar baie mense oor die hele wêreld het die Britse ryk beskou as die groot mag wat ekonomiese en politieke vooruitgang en vrede aan die wêreld bring, wat mense bekeer en beskaaf en wat agtergeblewe gemeenskappe ophef en ontwikkel deur aan hulle spoorweë, paaie en onderwys - en ook die Engelse taal en kultuur - te bring. Die mense wat die nuwe sekulêre godsdiens van vooruitgang verkondig het, was dikwels oortuigde Christene, en hulle het alle vorme van bygeloof en voooroordeel verwerp. Na hulle mening kon mense met die nuwe kennis wat deur wetenskaplike navorsing beskikbaar gestel is, die samelewing en die maatskaplike instellings rasioneel herorganiseer met die oog op groter geluk en welsyn vir almal.

In Britse oë was vryhandel 'n belangrike deel van die imperiale beleid en ideologie. Volgens die ideologie van vooruitgang deur vryhandel het die onsigbare hand van die mark harmonie veroorsaak deur mense aan te spoor om hul eie belang na te streef en hulle laat vergeet van hul lojaliteit aan stam of nasionaliteit. Die Afrikaners was nie ondersteuners van vryhandel nie. Wat hulle aangetrek het, was Victoria se klem op die Christelike godsdiens, konserwatiewe sedes, morele plig en ordelikheid. Gedurende die tweede helfte van koningin Victoria se regering het die Kaapse Afrikaners haar toenemend beskou as 'n soort superskeidsregter wat sal sorg dat Brittanje aan sy beskawingsopdrag getrou is en dat dit nie die wit mense in suid-afrika as 'n klein gemeenskap afknou nie.

Tussen 1830 en 1870 was ds. G.W.A. van der Lingen van die Paarl feitlik die enigste mens wat daadwerklik teen die Britse evangelie van vooruitgang en verengelsing teenstand gebied het. Hy het voor 1830 twaalf jaar lank in Nederland gestudeer en was diep geskok oor die toestand van georganiseerde Christelike godsdiens. Daar het 'n liberale teologie ontwikkel wat groot klem op rasionaliteit gelê het. Dit het die letterlike vertolking van die Bybel veral ten opsigte van die erfsonde en wonderwerke betwis en ook bedenkinge uitgespreek oor die goddelike aard van Christus en die Heilige Gees.

Van der Lingen het sterk onder die invloed gekom van die konserwatiewe Réveilbeweging in Nederland, wat antirevolusionêr was en gekant teen die rasionele kritiek van die kerk se leerstellinge. Daar het 'n soort konserwatiewe herlewing plaasgevind wat 'n terugkeer tot die suiwer gereformeerde geloof en Calvinistiese beginsels vooropgestel het. Met sy terugkeer na die Kaap in 1830 was Van der Lingen vuur en vlam om hierdie antirevolusionêre en antiliberale beginsels in te voer.

Volgens hom kon die Britse ryk van die negentiende eeu nie vergelyk word met die glorie van die sewentiende-eeuse Nederlandse ryk nie, wat ook die nedersetting aan die Kaap gestig het. Hy het geglo dat hierdie ryk nie in Nederland self herstel kon word nie, omdat sekularisasie te ver gevorder het. Aan die Kaap moet die herlewing van die Hollandse mag en kultuur geskied, het hy geglo. Dit is die Nuwe Jerusalem, die Beloofde Land.

Hy was so belewe soo elke Victoriaan wat besiel was met sy kultuur. Daar was ongeveer tienduisend boeke in sy private biblioteek - 'n kwart van die aantal boeke destyds in die Suid-Afrikaanse biblioteek. Hy het ook 30,000 sigare van hoë kwaliteit nagelaat.

Die Cape Argus het sy voorkoms op sinodale vergaderings as volg beskryf: "[His] blanched face, grey locks, velvet skull-cap, and lappet dropping from the shoulders down the back, made one imagine that one of the members of the Synod of Dordt [of 1618] itself had made its reappearance on earth."

Van der Lingen mag wel na 'n historiese  relikwie gelyk het, maar hy kon goed insien dat die beleid van vryhandel vir baie boere rampspoedig is. Boere se beleggings in die uitbreiding van hul wingerde en die aankoop van nog slawe het 'n groot terugslag ondervind deurdat die voorkeurtarief van Kaapse wyne op die Britse mark afgeskaf is en planne boonop bekend geraak het om slawerny te beëindig. Daarna het die onbevredigende uitbetaal van kompensasie vir slawe baie eienaars skade laat ly.

Van der Lingen het nie net die idee van vooruitgang aangeval nie, maar ook die liberale teologie. Sy vernaamste vyande was liberale Hollanders soos dr. A.N. Changuion, wat sy eie instituut in kaapstad gestig het en sy liberale opvattings in De Zuid-Afrikaan verkondig het. Van der Lingen het ook die demokratiese gees wat in Europa vaardig was as 'n bedreiding beskou. Hy het die revolusies van 1848 in Europa aangeval.

Sy vernaamste teiken was die Britse imperialisme met die kulturele en materiële waardes wat daarmee gepaard gegaan het. Vir hom was die taal die persoon: Iemand wat 'n ander se taal na-aap, sal noodwendig ook daardie persoon se swakhede oorneem. Die Cape Argus het geskryf: "His keenest antipathy was towards the English language."

Van der Lingen het amper ewe veel energie bestee aan sy oorlog teen sekere manefestasies van vooruitgang. Gedurende die 1860's het hy en sy konserwatiewe Paarlse volgelinge 'n veldtog gevoer teen die treine wat op Sondae na die Paarl geloop het. Hy en sy volgelinge het hul optrede beskou as 'n groot konserwatiewe offensief teen die ongeloof. Hull het twee busmaatskappy gestig om aan die mense van die Paarl alternatiewe openbare vervoer te bied. Net om hierdie ondernemings aan die gang te hou, het sommige mense tot £ 500 elk bygedra.

Van der Lingen sou waarskynlik 'n gedeeltelike oorwinning behaal het as hy nie op 'n kritieke punt te veel gewaag het nie. Hy het sy volgelinge gevra om hierdie nuwe vervoermiddel, die trein, heeltemal te boikot totdat die kolonie die Gereformeerde waardestelsel onvoorwaardelik aanvaar. Sy vyande het hierdie geleentheid aangegryp om Van der LIngen se stryd teen vooruitgang bespotlik te maak.

Die viering van 'n volksplanting

In 1852 was die wit volksplanting twee eeue oud. Die viering van hierdie geleentheid was 'n oomblik van waarheid vir die kerk en vooraanstaande Afrikaners. Indien hulle 'n spesiale plek beklee as "die oorspronklike koloniste" was 6 April ook 'n spesiale dag, wat spesiale erkenning van die regering verg, Afrikanerleiers het die regering gevolglik gevra om dié dag tot 'n openbare vakansiedag te verklaar. Hulle wou ook hê dat dit 'n godsdienstige vakansiedag moet wees omdat die gereformeerde Christendom en die Europese vestiging aan die Kaap albei op daardie dag gebore is.

Die regering het die versoek geweier. In sy antwoord het die owerheid opgemerk dat dit die regering se plig is om alle kerkgenootskappe te bevorder en nie een uit te sonder nie. Vir die Kaapse Afrikaners het hierdie teenslag 'n soort identiteitskrisis geskep. Die leiers se taak was nou om in hul openbare redes gronde aan te voer waarom die dag spesiaal herdenk behoort te word.

Die tekste van die preke wat op 6 April 1852 deur Faure en Van der Linen gehou is, is die enigste bronne wat ons vandag het wat lig werp op die wyse waarop die geleentheid gevier is. Faure se preek was 'n geleerde referaat wat op historiese dokumente gegrond is. Dit was 'n ietwat desperate poging om sy kerk te verdedig teen die beskuldiging dat hy sy roeping om die evangelie aan die slawe en inheemse mense te bring, versaak het. Op die keper beskou, het die NG Kerk wel deeglik daarin geslaag om die koloniste onder sy vlerk te hou, maar sy sendingspogings was so karig dat hulle nie juis gevier kon word nie.

Van der Lingen se preek het 'n ander benadering gehad. Hy het die "nuwe koloniste" (die koloniste van Britse afkoms) gekritiseer omdat hulle nie kans gesien het om die vestiging van die Christendom aan die Kaap te vier nie. Een van sy ander teikens was die ou koloniste. Hulle verwaarloos die taal en gebruike van hul voorvaders. Hulle praat 'n vreemde taal krom en skeef en hulle laat hul kinders in 'n vreemde taal onderrig. Hulle verwaarloos die taal wat God aan hulle gegee het.

Net soos dié  van Faure was Van der Lingen se preek uit voeling met die werklikheid. Slegs 'n klein opgevoede groepie Afrikaners kon nog Hollands korrek en vlot praat. Die ander het almal die "volkstaal", wat later bekend geraak het as Afrikaans, gepraat. Die feesvierings van 1852 het geen besondere merk gelaat nie.

"Nie bereid om 'n Engelsman te word nie": die verset teen assimilasie

Toe verteenwoordigende regering in 1853 ingestel is, was daar ongeveer vyftig dorpe in die kolonie. Die kolonie het in die voorafgaande halfeeu aansienlik ontwikkel. Die ontwikkeling van die finansiële  stelsel, die besnoeiing van die koloniale skuld en die verbeterde openbare onderwys het baie tot die kolonie se ontwikkeling bygedra. Die aantal kinders op skool het gestyg van 4,000 in 1842 tot amper 20,000 in 1860.

Ongeveer 200,000 Afrikaners het teen die 1860's onder die hele suid-Afrika gewoon. Van hulle was 136,000 of ongeveer twee derdes in die Kaapkolonie. Sowat drie uit elke vier wit mense in die kolonie was Afrikaners. In die twee Boererepublieke was die verhouing nege uit tien.

WIT SUID-AFRIKAANSE BEVOLKING TEEN ONGEVEER 1860

                                             Wit Mense                 Afrikaners               Afrikaners as %

Kaapkolonie                         181,592                     136,000                  75%

Oranje-Vrystaat                      35,000                       30,000                  86%

Transvaal                               30,000                       27,000                  90%

Natal                                      15,000                         2,750                  20%

Baie van die dorpe het 'n hoofsaaklik Engelse karakter gehad, maar die Afrikanerkoloniste is glad nie uit die stedelike ekonomie in Kaapstad gedruk nie. Baie kapitaal het beskikbaar geword nadat kompensasie vir die vrygestelde slawe betaal is. In Kaapstad het Afrikaners op groot skaal in eiendom belê. J.A.H. Wicht het honderde huise in Kaapstad besit, wat hy uitgehuur het, sommige in 'n baie swak toestand. Hy het as 'n "slum landlord" bekend geraak.

Die stelsel van verteenwoordigende regering van 1854 tot 1872 was 'n teleurstelling. Alle besluite moes deur die Parlement goedgekeur word, maar die goewerneur, wat deur Brittanje aangestel is, het steeds die stelsel oorheers. Sy uitvoerende raad, wat ook in Londen benoem is, het hoofsaakliklik onafhanklik van die Parlement gefunksioneer. Die lede is betaal uit 'n begroting waaroor die Parlement geen beheer gehad het nie.

Van die begin was die Afrikaners se deelname aan die stelsel swak. Slegs 'n derde van die parlementslede was Afrikaners, alhoewel Afrikaners driekwart van die kieserkorps verteenwoordig het. Die Parlement het hoofsaaklik aan die belange van die Engelse gemeenskap aandag geskenk. Die vernaamste stryd was oor die aandrang van die oostelike distrikte op self-administrasie, 'n saak van weinig belang vir die Kaapse Afrikaners.

Iemand wat stemme gewerf het, het in 1869 vasgestel dat nege tiendes van die jong boere in sy distrik nie geregistreer het nie. Baie wat wel geregistreer het, het allerhande verskonings uitgedink waarom hulle nie stem nie. Die Parlement sou dan nie tot die kolonie se voordeel wees nie, hulle het gelieg of die veldkornet het hulle nie gewaarsku nie.

Toe J.H. ("Onze Jan") Hofmeyer Bloemfontein in 1883 besoek, het hy gesê dat anders as die Vrystaatse Afriakners die Kaapse Afrikaners huiwer om hulle vir die Parlement verkiesbaar te stel, omdat hull eEngels nie goed genoeg ken nie. As 'n AFrikaner in die Vrystaat voor die hof verskyn, word sy saak nie soos in die Kaap aangehoor in 'n taal wat hy nie verstaan nie. Op kommando word nie van hom verwag om soos in die Kaap te dien onder 'n man wat hy nie gekies het nie, wat nie sy taal ken nie, wat nie sy aard verstaan nie en wat hom minag.

Daar is geskat dat ongeveer driekwart van die Afrikaners in die Kaapkolonie gedurende die 1860's  nie Engels verstaan het nie. Desnieteenstaande het die gebruik van Engels as die openbare taal toegeneem. Kandidate vir die ongeveer 4,500 poste in die sentrale regering en plaaslike besture moes Engels vlot praat, maar nie Hollands nie. In die howe is alle Hollands in Engels getolk.

In 1865 het die regering besluit dat alle onderrig in staatskole in Engels moet plaasvind. Die paar uitsoekskole wat deur kinders van die wit elite bygewoon is, was bolwerke van die Engele kulturele invloed. Onder hulle was die Diocesan College in Kaapstad (gestig in 1849), St. Andrew's in Grahamstad (gestig in 1856), die Grey Institute in Port Ellizabeth (1856) en die Stellenbosch Gymnasium (1866). Maar selfs in skole op klein dorpies het Engelse en Skotse onderwysers net Engels met Afrikanerkinders gepraat. Kinders is selfs gstraf as hulle Hollands gepraat het. Die groot ideaal wat vir hulle voorgehou is, was om soos Engelse "ladies" en "gentlemen" op te tree.

Hollands as taal het wel nog sy plek gehad. Die meeste kerkdienste in die NG Kerk was Hollands. In Kaapstad was daar Hollandse koerante en buite Kaapstad was daar teen 1871 24 koerante wat gewoonlik twee keer per week verskyn het en wat van Hollands en Engels gebruik gemaak het.

Engelse koerante soos die Cape Argus en die Cape Monitor het 'n strydlustige kulturele imperialisme aan die dag gelê. Hulle het die engelse as "The dominant race" bestempel en dit betreur dat die goewerneur 'n beleid volg van "pleasing all parties". Na hul mening het Hollands min status onder die tale van Europa gehad en was dit aan die Kaap aan die kwyn. Afrikaans was in die woorde van die Cape Argus 'n "miserable bastard jargon" wat nie die naam taal enigsins werd is nie.

Hierdie koerante het besluit dat die burgers geen rede het om oor die moontlike verlies van hulle taal en nasionaliteit te treur nie. Volgens die Cape Argus sou  niks die kolonie se morele en maatskaplike vooruitgang meer bevorder nie as die vervanging van "Cape Dutch" deur die Engelse taal. Die Cape Argus het geskryf dat die toekomstige taal van die land Engels is en bygevoeg: "Let your language and your nationality go, and you need not fear for your religion."

Onder die Afrikaners het groot druk opgebou om Engels vlot te praat en die simbole van die Engelse nasionalisme - gedrag, kleredrag, etiket en taal - aan te neem. In 1839 het 'n artikel in die tydskrif Elpis verklaar dat ouers oor die algemeen baie graag wil hê hul kinders moet net in Engels opgevoed word. Die skrywer het darop gewys dat die siening selfs in die grensdistrikte is dat "beskawing" hand aan hand gaan met die oorheersende posisie van Engels as taal.

De Zuid-Afrikaan het probeer wal gooi. In 1857 het die blad erken dat daar 'n dag sal kom wanneer die Nederlandse nansionaliteit heeltemal verdwyn het. Die blad het dit nietemin betreur dat mense in 'n poging om "beskaaf" te wees hul voorvaders se taal, sedes en opvattings versaak. Dit sal uiteindelik daatoe lei dat hulle hul godsdiens ook prysgee.

Die Zuid-Afrikaan het dus assimilasie verwerp, maar wel gehoop dat in 'n samesmelting van die twee gemeenskappe iets van 'n besondere nasionaliteit sou oorbly. Die blad het vier jaar vroeër geskryf: "Dit is 'n dwaling, wat ons reeds baie kere bestry het, dat ons as Britse onderdane verplig is om die Britse nasioinaliteit ons eie te maak. Die koloniste van Hollandse oorsprong kan nie Engelsmanne word nie en moet ook nie Nederlanders wil wees nie." Dertig jaar later sou "Onze Jan" Hofmeyr verklaar dat die Afrikaner nie bereid is om sy nasionaliteit te laat vaar nie. Hy stel dit so: Die Afrikaner is wel bereid om 'n Britse onderdaan te bly en wel in die sin van onderworpenheid aan wet en gesag en gehegtheid aan orde. Hy is net so 'n lojale Britse onderdaan as enigiemand anders, maar met dit alles is hy nie bereid om Engelsman te word nie.

'n Stryd oor die hernuwing van 'n kerk

Die meeste dorpe het as kerkplekke tot stand gekom war die NG kerk 'n gemeente gestig en daarna 'n kerk gebou het. Hoewel die smelewing al hoe vinniger probeer moderniseer het, het die kerk hoofsaaklik 'n vesting van tradisionele gebruike en statusonderskeide gebly. Die victoriane se klem op verskille in rang en klas het hierdie veniging versterk.

Dit was gewoonlik die welgestelde Afrikaners wat die geld gegee het om die kerk op te rig of wat skuld op die boukoste afgelos het. In hul allegdaagse lewe was die Afrikaners geneig om mekaar as gelykes te beskou, maar in die kerk het die ryker Afrikaners hul rang en rykdom probeer ten toon stel. Hulle het die voorbanke van die kerk vir hulle en hul familie

Hermann Gililomee

Die Afrikaner: 'n Biografie

Tafelberg Uitgewers

ISBN 978-0-624-04181-8