# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Kompanjiesburgers

Hendrik Biebouw, die eerste Afrikaner?

Vroeg in Maart 1707 het Johannes Starrenburg, landdros van die klein dorpie Stellenbosch, vier jong mans gewaar wat soos "mal mense" in die straat afjaag. Hulle was dronk en rumoerig. In die Kompanjiesmeule het hulle met "veel gevloek" die skale rondgegooi. Starrenburg het hulle berispe en Hendrik Biebouw, sestien jaar oud, met sy rottang geslaan toe dié weier om sy bevele te gehoorsaam. Hierop het Biebouw geskreeu: "Ek wil nie loop nie, ek is 'n Afrikaner, selfs al slaan die laddros my dood en selfs sit hy my in die tronk, ek sal nie swyg nie."

Die landdros het Biebouw en sy trawante in die tronk gestop en by die regering aanbeveel dat hulle verban word. Die regering het die mag gehad om enkellopende mans wat leeglê in die Kompanjiesdiens terug te neem en weg te stuur. 'n Maand later is drie van die jong mans in die openbaar lyfstraf toegedien. In die Stellenbosche "opgaaf" of sensus van 1708 is Biebouw se naam geskrap met die enkele opmerking "weg". Biebouw is na alle waarskynlikheid na Batavia gestuur. Volgens een oorlewering het die skip waarop hy was noord van die huidige stad Perth gestrand en het hy sy lewe in wat vandag Australië is onder inboorlinge geslyt. Biebouw se gebruik van die term "Afrikaner" is vreemd. Teen die begin van die agtiende eeu is dié term net gebruik vir sekere slawe, vryswartes of Khoi-Khois wat in die Kaap gebore is, byvoorbeeld Hottentot Africaaner en Jager Afrikaner. In die verslag van die gebeure op Stellenbosch kom dit vir die eerste keer as naam vir 'n Europeër voor. In Kaapstad het die gebruik van die naam afrikaners vir gekleurdes wat deels van slaweafkoms was, voortgeduur en saam daarmee die stigmatisering daarvan veral in Britse kringe. In 1877 het die Cape Times in 'n hoofartikel geskryf; "The name was originally applied to the half-bred offspring of slaves, and even in a word the mark of slavery is detestable." Daar is verskillende interpretasies van Biebouw se kreet "Ek is 'n Afrikaner". F.A van Jaarsveld dink dat dit histories net so betekenisvol is as De Crevecoeur se beroemde vraag in 1783 oor Amerikaneridentiteit: "What, then, is the American, this new man?" Maar daar is gronde om hierdie interpretasie te betwis. Dit is onwaarskynlik dat die jong Biebouw die soort mens was wat oor 'n nuwe politieke identiteit getob het. Sy vader kon sy eie naam slegs met 'n kruisie teken en was volgens alle verslae brandarm. Voor hy met Hendrik se moeder, 'n Hollandse weeskind, getrou het, was hy in 'n buite-egtelike verbintenis met 'n slavin waaruit 'n dogter gebore is. Verre van 'n etniese nasionalis te wees, was Hendrik Biebouw met sy ongeletterde Duitse vader, Hollandse moeder en swart halfsuster eerder iemand wat oor sy identiteit verward was.

Biebouw het hom self 'n Afrikaner genoem, maar het hy daarmee enigiets meer bedoel as 'n verwysing na die plek waar hy gebore is? Wou hy slegs aandui dat hy 'n boorling van Afrika is? Of wou hy meer doen en aandui dat hy as iemand van Europse afkoms wat in Afrika gebore is met meer respek behandel moet word as wat landdros Starrenburg, 'n Duitser, gedoen het? Historici kan hierdie vrae nie beantwoord nie. Al waaroor hulle kan saamstem, is dat die wanordelike gedrag op daardie Sondag in Stellenbosh simptomaties was van die toenemende wrywing tussen amptenare en burgers in die klein gemeenskappie aan die punt van Afrika. 

Onwettige basters sonder wetlike regte

Die agtergrond van die voorval op Stellenbosch was die spanning wat tussen die hoë amptenare en burgers opgebou het. Die Kompanjie het van die staanspoor af beveel dat die amptenare nie self vir die mark mag produseer nie, aangesien die burgers andersins nie as boere sou kan oorleef nie. In 1685 het goewerneur Simon van der Stel egter by wyse van uitsondering die plaas Constantia (later Groot Constantia) ontvang en toe hy aftree, het die VOC aan Willem Adriaan, sy seun en opvolger, die plaas Vergelegen aan die voet van die Hottentots-Hollandberge toegeken. Hier het Willem Adriaan vir hom 'n plaas op die skaal van 'n groot adellike landgoed in Europa uitgelê, waar 200 slawe en 60 wit knegte gewerk het. Ander hoë amptenare  en die goewerneur se broer het ook plase ontvang. Teen 1705 was ongeveer 'n derde van die bewerkte gebied van die kolonie in die hande van ongeveer twintig Kompanjiesamptenare.

Willem Adriaan van der Stel het planne beraam om vir hom en sy vriende en agente 'n monopolie in die verkope van wyn, vleis, vis en koring te bekom. Die goewerneur het self 'n vyfde van die totale koringoes geproduseer, en saam met familielede al die wyn wat deur die wynpagter benodig is. Sy kudde van 18 000 skape en 1000 beeste kon al wat die vleis lewer wat die skepe, hospitaal en Kompanjiepersoneel kon gebruik. Van die amptenare het openlik gespog dat binne drie of vier jaar geen vryburgers meer nodig sou wees nie, aangesien die amptenare alles kon verskaf. 

Dit het 'n botsing veroorsaak tussen 'n amptenare-elite  en 'n burger-elite, op een vlak aangedryf deur botsende belange. Die leier van die rebelle, Henning Husing, was die rykste burger in die kolonie en soos sy vernaamste bondgenoot, Jacob van der Heyden, het hy 'n deel van die vleispag gehad. Daar was gerugte dat die goewerneur die vleishandel vir hom self wil bekom deur Husing en Van der Heyden uit te skakel. Die rebelle se vernaamste woordvoerder was Adam Tas, wat met 'n niggie van Husing se vrou getroud was. Terwyl die meeste burgers arm en halfgeletterd was, was Tas 'n man wat in Nederland in die middestand gebore is en daar 'n goeie opvoeding geniet het voordat hy hom aan die Kaap gevestig het. In 'n versoekskrif aan die owerheid in Batavia het hy die Kaapse amptenare van wangedrag beskuldig. 

Terwyl Husing, van der Heyden en Tas se eie- of familiebelange op die spel was, was daar burgers wat teen die amptenare in opstand gekom het omdat hulle dit as in die algemene belang beskou het. Jacques de Savoye, 'n bejaarde Hugenoot, het die stryd bestempel as 'n poging om te  verhoed dat die Kaap "geruineer" word. 'n Ander Hugenoot, Guillaume du Toit, het die gowerneur meegedeel dat hy die versoekskrif onderteken het omdat hy deur die welsyn van die hele gemeenskap en sy liefde vir sy mense gemotiveer is. Die helfte van die mense wat geteken het, was Hugenote, wat twintig jaar vantevore aangekom het, maar eers deur hierdie stryd ten volle in die burgergemeenskap geintegreer geraak het. 

Die owerheid in Batavia het Tas se versoekskrif na die Here Sewentien in Amsterdam gestuur, wat dit weer na die Kaapse amptenare aangestuur het met die versoek om hul optrede te verduidelik. Die amptenare was woedend. Hulle het hulle as die Kompanjie se "wettige kinders"  en die burgers as "onwettige basters" sonder wetlike regte beskou. Van der Stel het Tas en 'n paar leiers in die Donker Gat in die Kasteel laat opsluit, waar hulle aangehou sou word totdat hulle bevredigende antwoorde aan die hof verskaf het. Tas het 'n maand uitgehou en Van der Heyden selfs langer. Die goewerneur het Husing en drie ander burgers na Nederland verban en nege na Mauritius. 

Ses maande later het die Kaap die dramatiese nuus gehoor dat die Here Sewentien in Amsterdam die burgers gelyk gegee en Van der Stel en sekere ander amptenare teruggeroep het. Hulle het die bevel herhaal dat amptenare nie in die Kaapse mark handel mag dryf nie en het ook beveel dat alle amptenare hul plase moet verkoop. Dit was 'n reuse oorwinning vir die burgers. Hulle het die magtige amptenare verslaan. Hulle was nou onbetwisbaar die enigste verskaffers van voedsel. Die burgers het egter maar 'n minderwaardige soort burgerskap geniet. Hulle moes 'n eed aan die State-Generaal sweer en ook aan die Kompanjie. Hulle was die Kompanjie se burgers en moes al sy verordeninge gehoorsaam. Die feit dat die Kompanjie 'n burger kon verban, soos in die geval van Biebouw, was 'n nagmerrie wat bly spook het. 

'n Vestigingskolonie

Vir die Kompanjie het die hooffunksie van die Kaap die van verversingspos gebly. Die regering se vernaamste belangstelling was die skepe en hul vrag. Tussen 1726 en 1750 het gemiddeld 75 skepe per jaar Tafelbaai aangedoen. Maar ten tye van die stryd teen Van der Stel was die Kaap al lank nie meer net 'n verversingspos nie. Dit het ontwikkel in 'n vestigingskolonie, toenemend gekenmerk deur bestaanboerdery. Selfs in die Wes-Kaap met sy koring- en wynboerdery was die landbou hoofsaaklik ekstensief van aard. Toe die regering in 1717 die stelsel van eiendomsplase staak, was daar 400 plase in 'n gebied van 2 500 vierkante myl. In 1714 het die regering ekstensiewe boerdery 'n reusestoot gegee deur die toekenning van leningsplase. Dit was 'n nuwe vorm van grondbesit, wat vir die gebied anderkant die Wes-Kaap met sy gevestigde wyn- en koringplase bedoel was. Daarvolgens sou 'n boer 'n stuk grond van ongeveer 2 420 hektaar (of 6 000 acres) in lening van die regering ontvang. Dit is gemeet deur 'n perd 'n halfuur lank in elke rigting te laat stap. Die houer kon die plaas nie verkoop nie, maar slegs 'n opstal of geboue daarop. In die praktyk het die stelsel egter beteken dat 'n boer feitlik verniet grond gekry het en dit aan sy nageslag kon oordra. Feitlik net Europeërs  het leningsplase gekry. Elke jaar moes die boer 24 riksdaalders huurgeld, genoem rekognisiegeld, daarop betaal.

In 1713 het 'n pokke-epidemie die westelike Khoi-Khois in 'n groot mate uitgewis. Daarna het die verset van die westelike Khoi-Khois teen Europese uitbreiding verkrummel. Daar was nou niks wat die boere kon keer om vinnig diep in die binneland in te dring nie. 'n Klein  bolagie van Europeërs met 'n groot vraag na arbeid was die erfreg, wat bepaal het dat die langslewende in 'n huwelik die helfte van die boedel erf. Die ander helfte is in gelyke dele onder die kinders verdeel. Dan was daar ook die vinnige bevolikingsgroei. Die burgers het vroeg getrou en hul gesinne was gewoonlik baie groot. Shalck en Anna van der Merwe, die stamouers van die bekende Van der Merwe-familie, het 'n verstommende 135 kleinkinders gehad. (In 1900 het President Paul Kruger 156 kinders, kleinkinders en agterkleinkinders gehad). Die gebied wat deur die Europeërs  aan die Kaap beset is, het tussen 1703 en 1780 omtrent tien keer toegeneem. Toe die regering in 1798 vir die eerste keer die grense van die kolonie vasstel, het die nedersetting 110 000 vierkante myl (286 000 vierkante kilometer) belsaan. Dit het gestrek van die Buffelsrivier in die weste tot die Nuweveldberge in die noordooste en van daar af na die see langs die Tarka-, die Baviaans- en die Visrivier. 

Die leningsplase het groot nadele gehad, en was die grondslag van die onsistematiese kolonisasie van die binneland waardeur 'n klein klompie boere oor 'n groot gebied versprei geraak het. Wanneer 'n plaas oorbewei was, het die boer weggettrek of sy seuns gevra om die binneland in te trek op soek na nuwe grond. Polities het die Kompanjie egter met dié stap 'n belangrike veiligheidsklep geskep. Burgers kon na die binneland anderkant die bergreekse trek en hulle daar vestig. Dit was veel beter as die lewe van 'n gewonde blanke arbeider of kneg op 'n wyn- of koringplaas. Die "oortollige" burgerbevolking, waarvan Hendrik Biebouw 'n verteenwoordiger was, kon hier boer of bywoner word. 

Die regeringstelsel het gedurende die Kompanjiestyd omtrent onveranderd gebly. In Kaapstad het die Politieke Raad, bestaande uit die goewerneur en senior amptenare, die beleid uitgevoer en as Raad van Justisie reggespreek. Die Kompanjie het beperkte magsmiddele gehad om sy gesag op te dwing. In Kaapstad was daar 'n garnisoen van ongeveer 500 soldate, wat die Kaap teen aanvalle van die see beskerm het, maar selde binnelands aangewend is. Die staatsaanklaer, genoem die fiskaal, het onder hom 'n klein polisiemag van sogenaamde "kaffers" gehad, maar buite Kaapstad was daar feitlik nie sprake van polisiëring nie. In elke distrik het die regering 'n amptenaar, genaamd landdros, aangestel, wat die bestuur van die distrik moes behartig. Hy het slegs drie of vier amptenare tot sy beskikking gehad. Die landdros is bygestaan deur heemrade, wat vooraanstaande burgers was, en saam met hom 'n kollege van landdros en heemrade gevorm het. Die eerste heemrade is in 1682 in Stetllenbosch aangewys en daarna het gevolg Swellendam (1743) Graaff-Reinet (1786).

Aansoeke om grond en waterregte het voor die kollege gedien. Dit het siviele geskille besleg en kleiner strafsake soos aanranding verhoor. Dit kon weerbarstige slawe tot lyfstraf vonnis. In ernstige gevalle, by voorbeeld wanneer 'n slaaf na 'n loesing gesterf het, het die kollege getuienis aangehoor en dit na die enigste werklike geregshof, die Raad van Justisie in Kaapstad, aangestuur. 

Die hoeksteen van die stelsel was die burgers. In elke wyk het 'n burger die amp van veldwagmeester (later veldkornet) beklee. Hy moes die regering se proklamasies aan die burgers bekend maak, misdade rapporteer en nadoodse ondersoeke hou. Van die begin af het burgers 'n sleutelrol gespeel in die kommando's, wat verdediging van die distrik behartig het. Die kommando het sy oorsprong gehad in die beleid van die Kompanjie om soldate en burgers saam uit te stuur op ekspedisies om gesteelde vee terug te vind. In 1715 het die eerste kommando wat heeltemal uit burgervrywilligers bestaan het, uitgetrek. Hierna het die Kompanjie die verdediging van die binneland aan die burgers oorgelaat. Van 1739 was dit verpligtend vir elke burger met 'n belang in die buitedistrikte om kommandodiens te doen. Die landdros en heemrade het vir elke wyk 'n invloedryke boer as veldwagmeester (later veldkornet) aangewys, wat nie vergoeding gekry het nie, maar van belasting vrygestel is. Elke distrik het 'n krygsraad onder die voorsitterskap van die landdros gehad. Hierin het een of twee veldkommandante gedien - burgers met baie krygservaring - heemrade en oudheemrade. 

Omdat dit dikwels nodig was om vinnig op te tree om gesteelde vee terug te kry, het die veldkornet die inisiatief geneem. Hy kon sy mense oproep sonder die landdros se verlof. Daar was selfs 'n verdere afwenteling van gesag. Die wyke was groot en die kommunikasie tussen burgers swak. Gevolglik is 'n burger toegelaat om 'n kommando'tjie uit te roep om veediewe te agtervolg op voorwaarde dat hy die veldkornet van sy wyk agterna inlig. Die meeste van die tyd het die Kompanjie sy oë gesluit vir die onvermydelike wanpraktyke wat hierdie stelsel meegebring het. Dit het die Kompanjie net die verskaffing van ammunisie gekos, wat op die ou end die swaarste geweeg het.  

'n Komplekse Samelewing

Saam met die vryburgers het die slawebevolking ook vinnig gegroei. Maar terwyl natuurlike aanwas die vryburgerbevolking laat groei het, het die slawegemeenskap hoofsaaklik weens immigrasie vermeeder. Die aantal vryswartes het klein gebly weens die eenvoudige aard van die ekonomie. Daar was ook klein Bastergemeenskappies, hoofsaaklik in die buitedistrikte. Die term Baster het nie iemand aangedui wat buite die eg gebore is nie, maar iemand wie se vader gewoonlik 'n Europeër was en die moeder 'n Khoi-Khoi of 'n vryswarte. Die volgende syfers dui die bevolkingsgroei aan:

                                              Kaapse Bevolking in geselekteerde Jare

                                        Vryburgers                                 Burgerslawe                                Vryswartes                  Khoi-Khois en Basters

1730                               2 540                                          4 037                                            221                              Nie Beskikbaar

1770                               7 736                                          8 200                                            349                              Nie Beskikbaar

1820                               42 975                                        31 779                                         1 932                           26 975

Die burgergemeenskap kan as volg verdeel word: die mense in en om De Kaap (later genoem Kaapstad), die wyn- en koringboere van die Wes-Kaap en die veeboere anderkant die eerste bergreekse. Kaapstad was 'n kombinasie van 'n hoofstad, garnisoendorp, mark en hawe. Die lewe het gewandel rondom die Kasteel, waar die Kompanjie se hoofkwartier en garnisoen was, die talle kroeë, die hospitaal, die markplein en die losieshuise, wat sowel binnelandse besoekers as die bemanning van skepe gehuisves het. Daar was sterk bande tussen die senior regeringsamptenare en burgers wat suksesvolle sakeondernemings opgebou het. Dit was aan hulle dat die regering die belangrikste kontrakte, veral die wyn- en vleispag, toegeken het. 

Die Kaap was 'n veelrassige en veeltalige stadjie. Die meeste burgers het aan die handel en smokkelhandel deelgeneem en baie het losieshuise aangehou. Reisigers het opgemerk dat handel dryf en geldmaak amper 'n obsessie geword het. Robert Semple, wat in die eerste helfte van die 1790's aan die Kaap vertoef het, het geskryf dat die inwoners se gedagtes feitlik volledig op die handel toegespits is. "Gesprekke gaan oor koop en verkoop, en beste vriende verkoop goed aan mekaar met die doel om 'n profyt te maak." Die kultuurlewe was maar vlak. Teen die einde van die Kompanjiestyd was daar nie 'n hoërskool, teater, boekwinkel of koerant nie. Die meeste mense het nie gelees nie en openbare vermaaklikhede was skaars. In die huise van die vooraanstaande mense is daar dikwels partytjies gehou, waar slawe die musiek verskaf het. Kommissaris J.A. de Mist het in 1802 geskryf: "Die jong mense is lui en dit lyk of hulle n intense afkeer het van geestelike inspanning." Hulle het hul tyd verspeel met kaartspel, drink, rook en gedurende kuiery oor en weer. Hulle is maklik deur die modes van Europa en die Ooste beïnvloed en toe 'n Franse garnisoen in die eerste helfte van die 1780's aan die Kaap gestasioneer was, het die ryker burgers hul ydelheid en eersug ten toon gestel. 

Die mense het lou teenoor godsdiens gestaan. Op Sondae is handewerk soos skrynwerk of bouery verbied, maar die talle kroeë was omtrent almal oop en is druk deur soldate, matrose en werkers besoek. Mense het kerk toe gegaan met hulle gevolg van slawe, wat die pasalmboek, die Bybel en die statussambreel van die dame gedra het - en soms die dame self, in haar stoel. Die slawe moes buite bly totdat die diens oor was. Die burgers was minder bekommerd oor die uitsluiting van die slawe as oor hul rumoerige gedrag buite die kerk. 

In die Wes-Kaap duskant die eerste bergreekse het die boere hoofsaaklik wyn en koring geproduseer op grond wat as vrypagplase uitgegee is. Die produksie het bestendig toegeneem. Tussen 1720 en 1790 het die getal wingerdstokke meer as vier keer vermeerder, die koringoes het verdriedubbel en die gemiddelde waarde van die boere se boedels het met byna drie keer gegroei. Historici het die term "gentry" of hereboere geskep vir die rykste boere  van die Wes-Kaap om hulle te onderskei van die hardwerkende middelslag- en kleiner boere. 

As 'n mens die grootte van die groep hereboere wil vasstel, is een manier om slawebesit as aanduiding te neem. As 'n besit van minstens 16 slawe geneem word as die maatstaf vir 'n hereboer, het slegs 7% van die burgers in hierdie kategorie geval. Maar bereken volgens grondbesit, aangeplante windgerde, koring wat geoes is en die veekudde het die hereboere tussen 10% en 20% van die landelike burgerbevolking uitgemaak. 

Rykdom is dikwels van die een generasie na die volgende oorgedra. In 1731 was daar 53 families in Stellenbosch en Drakenstein wat tienduisend of meer wingerdstokke gehad het; in 1782 was daar nog 22 wat soveel wingerdstokke gehad het, en 18 in 1825. Die name van hierdie families is vandag nog bekende Afrikanername: Cloete, De Villiers, De Vos, Du Plessis, Du Preez, Du Toit, Joubert, Le Roux, Malan, Marais, Minnaar, Morkel, Myburgh, Retief, Roux, Theron, Van Brakel en Van der Byl. Dit is opvallend dat minder as die helfte Hugenotenasate is. 

Teen die tweede helfte van die agtiende eeu het die Wes-Kaapse hereboere voldoende rykdom versamel om aantreklike huise in die Kaaps-Hollandse styl te bou. 'n Besoeker het in 1783 geskryf dat hy niks anders waargeneem het nie as "signs of affluence and prosperity, to the extent that, in addition to splendors and magnificence in clothes and carriages, the houses are filled with elegant furniture and the tables decked with silverware and served by tidily clothed slaves". Anderkant die bergreekse van die Wes-Kaap was dit veeboerdery-wêreld. In die binneland was daar geen myne, nywerhede of winkels nie. Omtrent al die burgers het van boerdery 'n bestaan gemaak. Ten spyte die probleme is daar geen aanduiding dat die veeboere of hul kiners 'n ander lewenswyse verkies het nie. In 1812 het die regters van die eerste Rondgaande Hof opgemerk: "All the young people, of which many of the houses are full, have no other prospect than the breeding of cattle and to obtain places ("plase") for that purpose...All look forward to becoming graziers, and no person forms for himself any other plan of livelihood."

Baie voornemende boere het as bywoners begin. 'n Bywoner was 'n wit man wat by 'n boer op sy plaas gewoon het, soms as iemand aan wie 'n stukkie grond geleen is en soms as iemand wat met die werk op die plaas gehelp het. Partykeer het hulle na die vee op 'n boer se tweede plaas omgesien. As hulle aktief met die veeboerdery gehelp het, het hulle gewoonlik die helfte van die natuurlike aanwas van die kudde ontvang. Hulle kon ook hul inkomste aanvul met jag. So 'n bywoner het dikwels saam met die boer of in sy plek op kommando gegaan.

Aanvanklik het die bywoners nie 'n minderwaardige status gehad nie. O.F. Mentzel, wat in die 1730's aan die Kaap vetoef het, het geskryf: "hier word hulle nie beskou as knegte nie, maar as vennote." Hy het bygevoeg: "Hulle kry geen salaris nie, maar kos, en kan hul vee saam met dié van van die boer laat wei en daarop 'n profyt maak." Maar namate 'n gebied ten volle beset geraak het, was dit veel moeliker vir 'n bywonder om gou 'n selfstandige boer te word. 

Die administratiewe infrastruktuur en onderwysgeriewe dieper in die binneland was uiters gebrekkig. Die twee dorpies wat in die afgeleë binneland gestig is, Swellendam (1745) en Graaff-Reinet (1786), het tot diep in die negentiende eeu klein dorpies gebly. Tot teen die einde van die agtiende eeu was die enigste skole  en kerke ver weg in die Wes-Kaap. In die 1780's moes sommige boere  van Graaff-Reinet ses of sewe weke reis om hul kinders gedoop te kry. Die meeste boere kon slegs met moeite lees en skryf. By gebrek aan skole het die burgers hul kinders laat onderrrig deur rondreisende knegte, wat selfs soms skaars geletterd was. Dikwels is hierdie onderwysers minder betaal as die plaasknegte. Ouers wou slegs die mees basiese onderwys vir hul kinders hê. Hulle moes kon lees en skryf en die basiese Heidelbergse Kategismus ken sodat hulle as lidmate van die kerk aangeneem kon word. Geletterdheid is egter nie streng vereis nie. 

Die regering het dus min verskil aan die boere se lewe gemaak. Dit is "minder werd as 'n pyp vol twak", het 'n Swellendamse burger opgemerk. Die meeste plase was ver van die drosdy af, en boere het dikwels self hul werkers gestraf. Die veeboere se vernaamste  bekommernis was die veepryse, die buitensporige wins van die slagters wat hulle vee opgekoop het en inheemse vyande.

In die loop van die agtiende eeu het veeboerdery koring- en wynboerdery verbygesteek as die vernaamste vorm van bestaan van die kolonie se burgers. Dit was hoofsaaklik 'n bestaansboerdery, maar die boere het met die mark in aanraking gebly. Baie boere het 'n aanvullende inkomste verdien deur seep, botter, was, droëvrugte, velle, horings en saad in Kaapstad te verkoop. Almal het 'n sekere minimum van goedere nodig gehad wat net by 'n winkel gekoop kon word: 'n geweer, ammunisie, wa, byle, grawe, hamers, lanterns, klere en kruideniersware. 

Teen die laaste twee dekades van die agtiende eeu het dit al hoe moeliker geraak om nuwe grond te bekom en die meeste boere aan die grens was in die skuld. 'n Ekologiese krisis het begin byt. Wat die boere die "oud word" van die veld genoem het, was die uitputting van die weiveld weens oorbeweiding. Die grasse en die struike het verdwyn en renosterbos het opgekom, wat die vee  en die wild nie wou vreet nie. Boere het selde probeer om die veld te laat rus of hul vee te verminder. Die gemiddelde waarde van leningsplase het bestendig gedaal van twee vyfdes van die gemiddelde waarde van 'n wyn- of koringplaas tot een tiende daarvan teen die einde van die agtiende eeu.

Die vrees vir verwildering

Al was dit 'n eensame lewe was dit tog vir 'n burger die moeite werd om die binneland in te trek en hom op 'n plaas te vestig. Hulle het hul rug vir Europa gedraai en het inheems probeer raak sonder dat hulle afvallig geraak het van Europese kultuur en beskawing. Die eensaamheid op die afgeleë plase is moeilik om uit te beeld. Die reisiger Heinrich Lichtenstein, wat vroeg in die negentiende eeu 'n uitgebreide reis onderneem het, het dit amper onmoontlik gevind om te begryp hoe die boere so ver van die "plesier en voordele van vriendskap" kon leef. Hul enigste daaglikse taak was om toe te sien dat hul werkers soggens met die vee uitgaan en dit saans veilig terugbring. Die gesin het die dag deurgebring met 'beuselagtige huiswerkies" en huisgodsdiens wat "oor en oor gehou is". Met sy gesin om hom het die boer 'n eensame bestaan gevoer - "sonder om iets te weet van die dinge wat die mensdom aangryp".

Anders Sparrman het in 1770 gerapporteer dat die meeste huise slegs twee kamers het: 'n slaapkamer vir die boer en sy kinders en 'n kombuis waar die Khoi-Khoi bediendes en gaste op die vloer geslaap het: "We all lay pigging together", het hy geskryf. Hendrik Swellengrebel, 'n tipiese figuur van die Europese Verligting wat ook in hierdie tydperk gereis het, het geskryf van die lewe in 'n eenkamerhuis waar mense op 'n "Hottentotmanier" almal op die misvloer slaap, "los en gemaklik". In hul interaksie met die Khoi-Khois  en die San (Boesmans) het die boere op groot skaal van hul kultuur geleen en in die proses baie meer as hul familie op die Wes Kaapse platteland werklik deel van Afrika geraak. Soos die Khoi-Khois het hulle melk in velsakke gehou, biltong geëet, velskoene en soms diere se velle as klere gedra. Hulle het min obsessies gehad. Die uitdaging was om pragmaties in Afrika te oorleef. Besoekers uit Europa het getwyfel of die grensboere "beskaaf" sou bly. In die Europa van daardie tyd het stereotipes oor Afrika bestaan as die "Donker Kontinent" of "die land van Gam se geslag" waar die boosheid heers. Europese besoekers  aan die Kaapse binneland was geskok toe hulle die eerste keer hierdie wit mense van Afrika teëkom. Die Europeërs het hulle as wild of ontaard bestempel. Predikante het gewaarsku dat hul lewenswyse 'n bedreiging vir die Europese beskawing is. In 1776 het Swellengrebel opgemerk dat "die meeste van die grensboere nie veel beter leef as die Hottentotte nie". Daar was in die oë van hierdie waarnemers 'n werklike gevaar dat die grensboere 'n "heeltemal wilde nasie" sou word.

Die boere op die grens was bewus van dié vrese. In 1788-versoeksrif verklaar 'n groep boere van die Kamdeboo: "As gevolg van die groot afstand van [Stellenbosch] het baie van ons hier al die bevel van God afgewyk en tot ons groot skade ongehoorsaam daaraan geword. Ons was tot dusver sonder onderwysers en predikante en die gevolg is dat baie mooi jong mense soos onkundige vee grootword". Op die plase, wat meesal baie afgesonderd was en waar dikwels min gebeur het, het die boere 'n merkwaardige vasberadenheid van gees ontwikkel. Geen reisiger het ooit aangeteken dat die mense ontevrede was met hul lewens wat vir buitestanders so vervelig en vaal gelyk het nie. 

Dit was die vroue wat 'n deurslaggewende verskil gemaak het. O.F. Mentzel, 'n fyn waarnemer wat in die 1730's en vroeë 1740's  in die kolonie gewoon het, het die mans in gedagte gehad toe hy opgemerk het: "Sommige van die boere is so gewoond aan die sorglose en luilekker lewe..en hul verkeer met slawe en Hottentotte dat daar min onderskeid getref kan word tussen eersgenoemde en laasgenoemde."

Oor die vroue skryf hy heeltemal anders. Hy merk op dat 'n soldaat op 'n veldtog in sy tent minder weerloos is as 'n jong paartjie in die verre wildernis. Dink jou die situasie in van 'n jong vrou wat swanger raak en geen hulp het nie, behalwe van 'n ou Hottentotvrou wat sy nie eens kan verstaan nie. Sy oordeel oor die boervroue is gunstig: "Hulle is baie selde spraaksaam, maar hulle is nie skaam nie, nie vrypostig nie, maar ook nie vervelig nie. Hulle praat op 'n reguit en natuurlike manier met die mense wat hulle die eerste keer ontmoet en kyk almal direk in die oë sonder om skroomvallig te wees...Hulle oortref die mans in gesonde verstand, goeie gedrag en die vermoë om te verstaan en te leer...Hulle is buitengewoon hardwerkend, goeie huishoudsters en uitstekende moeders. Hulle is nie so ambisieus soos die stadsmense nie en twis nie oor wie voorrang moet kry nie, en oor wie links or regs aan die tafel moet sit nie en of hulle eerste of laaste bedien moet word nie."

'n Boer-ras en Boer-rassisme

Die historikus Cornelius de Kiewiet het opgemerk dat "in die lang stiltes" van die agtiende eeu die "Boer-ras" gevorm is. "Their life gave the tenacity of purpose, a power of silent endurance, and the keenest self respect. But isolation sank into their character, causing their imagination to lie fallow and their intellects to become inert. Their tenacity could degenerate into obstinacy, their power of endurance into resistance to innovation, and their self-respect into suspicion of the foreigner and contempt for the inferiors." 

Ons kan hierdie beskrywing aanvaar en uitbrei. Die gebrek aan innovasie was waarder van die veeboere as van die wyn- en koringboere. Party van die hereboere in die Wes-Kaap het geprobeer om nuwe tegnieke en metodes in te voer om by die mark aan te pas. Vir die meeste boere was daar egter min aansporing om hul produksie met nuwe metodes te verhoog. Die Kaapse nedersetting was sonder 'n sterk uitvoerproduk en hoewel die plaaslike mark bestendig uitgebrei het, was daar dikwels oorproduksie. In die onmiddellike omgewing van Kaapstad het die boere die markskommelinge skerp dopgehou, maar hoe verder die boere van die mark was hoe meer was hulle geneig om slegs genoeg te produseer om in hul eie behoeftes te voorsien. In hierdie bestaansboerdery het hulle eenvoudig en sober geleef. 

Behalwe die Bybel het boeke nie juis 'n rol in die burgers se lewe bespeel nie. Die lewe in die binneland, maar ook in Kaapstad self, was een van selftevredenheid, eng horisonne en selfs intellektuele starheid. Reisigers het gerapporteer dat die burgers nie kan glo dat daar 'n mooier of 'n beter land as die Kaap is nie. Hulle sou eerder luister na 'n storie wat deur hul slawe of hul Khoi-khoi bediendes vertel word as een oor die pragtige Versailles-paleis in Frankryk. Historici het lank die mening gehuldig dat Afrikaners 'n diepgewortelde geloof in hul meerwaardigheid ten opsigte van swart mense gekoester het. Hulle het dit toegeskryf aan 'n vorm van "primitiewe Calvinisme" wat aan die grens ontwikkel het weens die kultuurbotsing tussen wittes en swartes. Maar hierdie prentjie moet radikaal hersien word. Rassisme is in sy wese 'n regverdiging en selde 'n verklaring. 'n Verklaring moet verder gesoek word. Die eintlike faktor wat die samelewingstruktuur bepaal het, was nie mense se houding teenoor kleur nie, maar die regering se onderskeiding tussen verskillende groepe, elkeen met sy eie regstatus. Soos studies van Batavia getoon het, het die Kompanjie 'n manie gehad om mense te klassifiseer en registreer. Van 'n vroeë stadium was daar in Java en Ceylon 'n stelsel waardeur die koloniale bevolking deeglik geregistreer is. Groepe wat hoofsaaklik etnies gedefinieer is, is onder hul eie hoofmanne in bepaalde buurte gevestig waar hulle sekere van hul wette en gebruike en hul godsdiens kon behou. Ander wette as dié vir die Europeërs het vir hierdie groepe gegeld. 

Hierdie stelsel klink baie na twintigste-eeuse apartheid, maar daar was twee belangrike verskille: dit was baie vloeibaar, die wetlike skanse tussen groepe het mettertyd verkrummel en daar was altyd 'n aansienlike getal mestiese mense, dit wil sê "halfbloed" - Europeërs. Aan die Kaap was die vernaamste statusgroepe die Kompanjiesamptenare, burgers en slawe. Formeel was daar 'n onderskeid tussen hierdie drie groepe in die kolonie en die Khoi-Khois, wat as buite die kolonie beskou is. Teen die einde van die agtiende eeu was die Khoi-Khois vir alle praktiese doeleindes deel van die kolonie, waar hulle 'n ondergeskikte status beklee het: mense wat tegnies vry was maar verplig om te werk. 'n vyfde groep, die vryswartes, was daar van die begin af. Hulle was ook vry maar het heelwat minder status as die burgers gehad.

Koloniale amptenare en die hof het op baie terreine van die daaglikse lewe - woonplek, reg om te trou, bewegingsreg, belasting, milisiediens, grondbesit en so meer - wetlik tussen die hoofgroepe gediskrimineer. Die amptelike siening was dat iemand se regstatus eerder as sy ras, godsdiens, herkoms, kultuur of kleur sy geleenthede vir bevordering bepaal. Die heel belangrikste was dat slegs Kompanjiesdienaars, vryburgers en vryswartes voor 1795 grond kon besit of politieke mag in die amptelike hiërargie van die kolonie kon bekom. Die burger-slaaf onderskeid is verder versterk deur die Gereformeerde kerk, wat baie min mense buite die geledere van die Europeërs gedoop het.

Van besondere belang vir die latere geskiedenis was die feit dat elke statusgroep teen die einde van die sewentiede eeu met kultuur en voorkoms gekorreleer het. Die amptenare en burgers was feitlik almal Europeërs. Van die staanspoor was wit mense dus in al die leidende posisies. Daarteenoor was geen wit mens ooit 'n slaaf nie. Al die slawe het van lande buite Europa gekom en hul take en kulture het aanvanklik heelwat van dié van hul meesters verskil. Slawe het geen status gehad nie; hulle was, soos die Amerikaanse historikus Orlande Patterson dit stel, "sosiaal dood." Maar terselfdertyd het die burger se identiteit daarvan afgehang dat hy 'n slaaf het wat hom as sy meester beskou.  Hierdie aanvanklike saamval van regstatus en ras is voortdurend in die loop van die agtiende eeu versterk deur die Kompanjie, wat voorgegaan het om Europeërs vry te stel ten einde burgers te word en om slawe van Asië, Madagaskar en Afrika in te voer. 

In Kaapstad was daar 'n sekere mate van vloeibaarheid, wat aan Batavia en Colombo laat dink het. Ook hier was mense in die dominante statusgroep teen die einde van die agtiende eeu omtrent almal wit, terwyl die mense in die laagste groep swart was. Maar op die middelste sporte van die sosiale leer was daar dubbelsinnigheid. Hier is vryswartes aangetref, wat selde burgers was, maar wat in die kerk kon trou en toegelaat is om kommandodiens saam met die burgers te doen. Daar was ook knegte en opsigters wat gewoonlik arm wit mense was. In die middelrange het 'n wit vel nog nie 'n groot verskil gemaak nie.

Die burgers het mekaar as politieke gelykes beskou. Hulle het in dieselfde kerk aanbid en saam aan krygsoefeninge en kommando's deelgeneem. Dit het nie beteken dat daar geen maatskaplike verskille onder hulle was nie. In die Kaapse distrik en op die dorp Stellenbosch het rang getel. Hendrik Cloete, eienaar van Groot Constantia en die rykse man in die kolonie, was trots op sy titel oudheemraad. Tog het hy neergekyk op die hoofsaaklik middelsagboere wat aan die spits van die stryd van die Kaapse Patriotte tussen 1778 en 1786 gestaan het. Hy het hulle bestempel as "niet de vernaamste colonisten, maar lieden van minder minder soort". In die binneland is net burgers wat heelwat grond besit en belasting betaal het tot heemraad of lid van 'n kerkraad aangewys. 

Daar was egter geen eilte-groep van burgers of heerserskliek van families wat op spesiale voorregte aanspraak gemaak of met mekaar ondertrou het nie. In 1805 het W.S. van Ryneveld, wat besonder goed ingelig was, opgemerk dat daar onder die koloniste nog "geen eigenlyk ondersceid van standen" is nie. Twintig jaar later het die reisiger George Thompson geskryf: "there is no or little gradation of ranks among the white population. Every man is a burgher by rank and a farmer by occupation." Aangesien die korrelasie tussen kleur en sosiale status van vroeg aanwesig was, is die vraag nie hoekom die Kaapse samelewing kleurbehep geword het nie. Die groot uitdaging is om te verduidelik waardom dié korrelasie oor 'n tang tyd gehandhaaf is. Om dit meer spesifiek te stel: Waarom het die belangrike satusgroepe (amptenare en burgers) wit gebly en al die groepe met min of geen status swart? 

In die eerste plek het die geslagssamestelling van die Europse gemeenskap 'n belangrike rol gespeel. Gedurende die eerste 75 jaar was daar 'n groot tekort aan Europese vroue, wat 'n aansienlike mate van vloeibaarheid tot gevolg gehad het. Teen 1690 was daar 260 manlike burgers vir elke 100 vroulike burgers, maar hierdie wanbalans het bestendig afgeneem. Teen 1730 het die man / vrou verhouding op 150:100 gestaan en teen 1770 op 140:100.

Gemengde huwelike, wat aanvanklik redelik algemeen voorgekom het, het van ongeveer 1725 afgeneem. Europese vroue kon hul relatiewe posisie van mag gebruik om hul mans en seuns te verhinder om vaste verbintenisse oor die kleurgrens heen met slawe en vryswartes aan te gaan. 'n Europese man het eerder 'n oujongkêrel gebly as om te trou met 'n vrou wat nie as Europeër aanvaar is nie. 'n Studie van 1731 se sensus was dat 59% van Kaapstad se Europese mans en 51% van dié in landelike Wes-Kaap nooit getrou het nie. Dit het ook baie moeiliker geword vir kinders van gemengde huwelike, veral seuns, om in die Europese gemeenskap opgeneem te word.  'n Vergelykende perspektief werp lig hierop. Die sterk posisie van die vrou in Holland en ook aan die Kaap was waarskynlik ongeëwenaard in die Weste (as die agtiende eeuse Kaap as deel van die Weste bekou kan word). Aan die Kaap het die Romeins-Hollandse reg van die provinsie Holland gegeld. Volgens Andreas van Wyk was hierdie reg, saam met die reg in Portugal, die enigste regstelsel in Europa wat die beginsel van die gemeenskap van goedere as basis van eiendom in die huwelik erken het.

Die Romeins-Hollandse reg was in die algemeen meer liberaal as enige reg wat in ander Europese kolonies gegeld het. Skeiding van bed en tafel of 'n egskeiding kon aangevra word op grond van owerspel. By egskeiding het die vrou kragtens die Romeinse-Hollandse reg die helfde van die boedel gekry. Die vrou kon alle roerende eiendom wat die eggenoot aan 'n bywyf of minnares geskenk het, van die hand sit. By afsterwe van die man het die vrou die helfte van die boedel geërf en die seuns en dogters die ander helfte. Die vrou het volgens die Romeins-Hollandse reg die kontraktuele vermoë gehad om 'n beroep te beoefen en sake te doen sonder haar man se verlof. In die sewentiede eeu was vroue in Nederland ten nouste verbonde met hul mans se werk as dié 'n onderneming gehad het of 'n handelaar was. Die reg het egter geen perke geplaas op die man se mag om gemeenskaplike goedere van die hand te sit nie. 

Waar vroue volgens die Romeins-Hollandse reg eiendom gedeel het wat in die huwelik ingebring is, het die man in die Amerikaanse kolonies die eienaar van die vrou se roerende goed geword en sy het alle aanspraak daarop verloor, salfs al het sy hom oorleef. Edmund Morgan, 'n kenner van die vroeë Amerikaanse geskiedenis, stel dit so: Women were excluded from any share in formal public power and even in the privacy of the family a woman's very identity was subsumed in her husband's; any property she brought into the marriage was his, any debt she owed was his, almost any tort she committed was his."

Anders as die Katolileke Kerk het die Gereformeerde Kerk egskeiding toegelaat, maar egskeiding was nie maklik nie. Sowel die kerk as die staat was sterk daarteen gekant, aangesien albei die huwelik as die hoeksteen van ' geordende samelewing beskou het. Nigel Penn het vertel hoe die brouer Willem Mensinck vroeg in die agtiende eeu sy vrou getreiter het deur voortdurend met die slawe in die huishouding buite-egtelike verbintenisse hê. Sy kon nie 'n egskeiding kry nie. Dit wil voorkom of hy spesiale beskerming van mense met gesag gehad het. Effens meer as 'n eeu later was daar die geval van Abraham Carel Greyling, wie se vrou hom verlaat het nadat Clara, hul slavin, die lewe geskenk het aan 'n baba wat sy vermoed het deur Abraham verwek is. Greyling het die skuld op sy seun probeer afskuif, maar sy vrou het 'n egskeidingsbevel en 'n skikking ten opsigte van die gemeenskaplike boedel verkry.

Europese vroue aan die Kaap was in die praktyk daartoe in staat om hul seuns te verhinder om met slawe of vryswartes te trou. Terselfdertyd het getroude mans gou besef dat om hul basterkinders by slawevroue in die familie op te neem, daartoe kon lei dat hul vroue regstappe doen. Kinders wat buite die huwelik deur 'n Europese vader verwek is, was in 'n swak posisie. Hulle kon geen aanspraak op hul vaders se boedels maak nie. "De Bastaard heeft geen vader of erfenis", was die bepaling van die wet, en behalwe in die geval van 'n spesifieke bemaking  het so 'n kind niks geërf nie.

Weduwees wat eiendom geëerf het, het 'n sterk posisie beklee. Daar was in die Kaap amper 'n soort "weduwee-heerskappy". 'n Weduwee met eiendom kon die opsies vir haar volgende huwelik soos 'n skerpsinnige moderne beleggingsbestuurder oorweeg. Baie weduwees het verskeie kere getrou en party het 'n klein fortuin opgebou. In Kaapstad was daar geen skerp omlynde wit gemeenskap nie. Die arm burgers en vryswartes het deurmekaar gewoon. Die 1732-sensus dui ongeveer 'n tiende van die Europese bevolking in die Kaap as arm en hulpbehoewend aan, terwyl die proporsie op Stellenbosch selfs een vyfde was. Die amptenare het dikwels met kommer opgemerk dat van die arm burgers saam met slawe drink en dobbel. Die slawelosie in Kaapstad is gebruik as 'n bordeel nie net deur soldate en matrose nie, maar ook deur die burgers en Kompanjiesdienaars in die lae range.

Teen die 1770's was 13% van die vrye bevolking in Kaapstad vryswartes, wat betreklik hoog was vir slawebesittende gemeenskappe (op die platteland was dit veel laer). As mense wat voorheen slawe was, is hulle beskou as bevryde mense eerder as vryburgers. Party van die vryswartes is in die dominante groep opgeneem, en dit het veral gebeur as hul vaders invloedryk was of as hulle meisies met 'n ligte vel was. Die mag en status van so 'n tussengroep is bepaal deur die vermoë van die ekonomie om werk in die tussenposisies van die ekonomie te genereer - daardie poste wat lede van die dominate groepe nie wou vul nie en wat terselfdertyd  nie vir slawe geskik was nie.

Om dit te illustreer, kan ons die Kaap vergelyk met 'n streek soos Pernambuco in Brasilië, waar 'n groot aantal slawe bevry is om soldate, ambagslui, winkeliers en slaweopsigters te word. 'n Aansienlike deel van die swart mense wat vry was en nie brandarm nie, het 'n prominente deel van die samelewing geword. Hulle het 'n brug gevorm tussen die meer welgestelde wit mense en onvrye swart mense. Op hierdie wyse het 'n samelewing ontwikkel wat later meer op klasseverskille as rasseverskille berus het. Dit het nie aan die Kaap gebeur nie. Hier het slawe die meeste ambagte in die eenvoudige ekonomie beklee. Die tussen posisies wat vir vryswartes beskikbaar was, was min en niemand welgesteld gemaak nie. Boere het nie slawe bevry om as slawe opsigters te dien nie. Teen die einde van die sewentiende eeu het verskeie vryswartes in die Jonkershoekvallei buite Stellenbosch geboer. Teen 1710 het die meeste egter na Kaapstad teruggekeer. In die landelike Wes-Kaap was daar 'n skerp kloof tussen burgers en slawe en tussen mense wat wit was en diegene wat nie wit was nie. 

Die meeste mans het hulle met hul vroue in 'n nuwe gebied gevestig of kort daarna getrou. Tog was daar genoeg Europese mans wat ongetroud gebly het om 'n spesiale kategorie, genaamd "enkellopendes", te vorm. Volgens een skatting het 'n tiende van die grensboere met 'n nie-Europeër getrou of met so 'n vrou saamgeleef. In die eerste dekade van die negentiende eeu was die opvallend gemengde huwelike in die distrikte Graaff-Reinent en Tubagh slegs 3% en 1% onderskeidelik van die totaal. Sommige grensbugers het met inheemse vroue saamgeleef; die bekendste was Coenraad de Buys, 'n Hugenote-afstammeling. Maar hulle was uitsonderings, en mans wat 'n vaste verbintenis met 'n swart of bruin vrou aangegaan het, is gewoonlik nie ten volle in die burgergemeenskap opgeneem nie. 

Klein bastergemeenskappe het in die grensgebiede in die Noordweste gewoon - Namakwaland, die Sederberge, Bokkeveld, Hantam en Roggeveld - en aan die oosgrens. Hulle was gewoonlik mense wat uit die gevestidge gebiede uitgedruk is. Burgers het sonder uitsondering  die sterkste aanspraak op grond gehad en ook beter toegang tot die veldkornette, wat geskille besleg het. Die reisiger Heinrich Lichtenstein het opgemerk: "The white children of the colonists did not hesitate to make use of the right of the strongest to drive their half yellow relations out of the places where they had fixed abodes. These bastard Hottentots were then obliged to seek an asylum in more remote parts."

Basters en ander mense van gemengde oorsprong het eers na die buitewyke van die kolonie getrek en later verder weg. Onder hulle was die belangrikste groep die mense van Adam Kok, 'n vryswarte wat daarin geslaag het om burgerregte te verkry en 'n bastergemeenskap in die noordwestelike deel van die Stellenbosse distrik tot stand gebring het, voordat hy en sy nasate uitgewyk het na 'n gebied langs die Oranjerivier later bekend as Griekwaland-Wes.

Die burgers en hul godsdiens

As iemand in die sewentiende en die agtiende eeu 'n "Christen" genoem is, is veel meer as net sy geloofsoortuiging daarmee aangedui. Winthrop Jordan merk ten opsigte van Amerika op dat om Engels of wit te wees en om Christen te wees feitlik dieselfde ding was. "The concept embedded in the term Christian seems to have conveyed much of the idea and feeling of us against them: to be a Christian was to be civilized rather than barbarous, English rather than African, white rather than black."

'n Derglike houding is in hierdie tyd ook in ander Europese kolonies aangetref. Omdat die Kaap nie deur mense van 'n enkele Europese nasie gekoloniseer is nie, was die koloniste miskien selfs meer geneig om hul Christelike identiteit met hul politieke identiteit te vereenselwig. Dit was algemeen dat burgers na hulle self as Christene verwys het. Volgens 'n bron het 'n grensboer, toe hy twee ander boere in die teenwoordigheid van 'n Khoi-Khoi en 'n Engelsman opmerk, gesê: "Hier kom twee Christene, 'n Hottentot en 'n Engelsman." Die eerste amptelike gemeente is in 1665 in Kaapstad gestig met Johannes van Arckel die eerste predikant. Daarna het gemeentes in Stellenbosch (1686) en Drakenstein (1691) gevolg. Die Kompanjie het die geestelike versorging van die koloniste in die dieper binneland verwaarloos. Eers vyftig jaar later het nog twee bygekom, Roodezand (nou Tulbach) in 1743 en Swartland (nou Malmesbury) in 1745. Daarna het nog vyftig jaar verloop voordat nog twee gestig is: Graaff-Reinet (1792) en Swellendam (1798).

In die eerste eeu of wat was die burgers glad nie besonder godsdienstig nie. Volgens boedelopgawes het min Bybels besit en teen 1726 was net een vyfde van die burgeregpare in die distrik Stellenbosch albei aangeneem. In 1743 het die Hollandse amptenaar G.W. van Imhoff met "verwondering en leedwese" opgemerk dat "weinig werk van die publieke godsdiens gemaak word. Hy het verklaar: "Die onverskilligheid en onkunde van 'n groot aantal van die grensboere is so erg dat dit wil lyk of ons met 'n gemeenskap van blinde heidene te doen het eerder as 'n kolonie van Europeërs en Christene."

Die vroue het die leiding geneem in die noue betrokkenheid van die kerk wat die Afrikanergemeenskap vyftig jaar later sou kenmerk. Teen 1770 was 90% van die volwasse vroue in die Stellenbosse gemeente aangeneem teenoor slegs een derde van die mans. Die vraag is hoekom vroue lidmaatskap van die kerk so hoog op prys gestel het. Die antwoord lê waarskynlik opgesluit in die feit dat dit die enigste simboliese manier was om iemand wat nie wit was nie van die gesin uit te sluit en om 'n onderskeid te tref tussen die kernfamilie op die plaas en die slawe en ander werkers. Teen die einde van die agtiende eeu het dit 'n algemene verskynsel geword dat paartjies groot afstande afgelê het om hul kinders te laat doop en aanneem en om Nagmaal te vier. Ouers was geneig om hul toestemming vir die huwelik te weier as die paartjie nie albei aangeneem was nie. Aanneming was die drempel wat oorgesteek moes word voordat iemand ten volle in die burgergemeenskap op die platteland aanvaar is. 

'n Golf van godsdienstige oplewing het oor die koloniste begin spoel en die persentasie van die burgers wat deur die kerk aangeneem is, het bestendig gestyg. Lichtenstein, een van die bes ingeligte reisigers, het vroeg in die negentiende eeu opgemerk: "We never heard from the mouth of a colonist an unseemly word, an overstrained expression, a curse, or an imprecation of any kind...The universal religious turn of the colonists, amounting to bigotry, is perhaps, a principal cause to which this command of themselves is to be ascribed."

In die 1830's het 'n ander reisiger opgemerk: "There are centrainly no people in the world who are so truly God-fearing as die Afrikaner."

In die loop van die agtiende eeu het die Christelike kerk hoofsaaklik 'n wit kerk geword. Daar was min hulpbronne vir sendingwerk beskikbaar, maar daar was ook ander redes. Die Kompanjie het van die staanspoor 'n spesifieke stempel op godsdiens afgedruk deur in die instruksies aan predikante en onderwysers daarop klem te lê dat hulle die Gereformeerde Kerk en die Hollandse taal moet bevorder. Algaande is die burgergemeenskap en hul kerk gedefinieer deur 'n bepaalde geloof en taal. 

By die burgers het die oortuiging ontwikkel dat God 'n verbond gesluit het met hulle as 'n bepaalde gemeenskap en hul afstammelinge. Volgens hierdie verbondsteologie was daar 'n kontinuiteit tussen God se verbond met die Jode en die een wat Hy met Christene gehad het. Dit is versterk deur die doopteologie wat op die ou end in die NG Kerk aanvaar is waarvolgens kinders van Christelike ouers reeds in die moederskoot gered is. Die simbool daarvan was die kinderdoop. Ouers is slegs gevra om te beloof dat hulle die kind in die geloof sou opvoed. Wanneer die kind volwasse word, het hy of sy formeel die geloofsbelydenis afgelê om as lidmaat aangeneem te word. Slegs lidmate kon Nagmaal ontvang.

Namate die verbondsteologie wortelgeskiet het, het die burgers oortuig geraak dat lidmaatskap van die kerk en die gebruik van die kerk se sakramente hulle as 'n gemeenskap saambind. Dit het terselfdertyd hul band met die Christene en Europeërs elders in die wêreld bevestig. As die vernaamste besluitnemende organisasie van die Gereformeerde Kerk in Nederland het die Sinode van Dordrecht in 1618 die basise leerstellings en prosedures neergelê wat die kerk in die kolonies gevolg het. Die sinode het beklemtoon dat die evangelie aan almal gebring moet word, maar het die verantwoordelikheid op die hoofde van die huishoudings geplaas om hulle slawe en ander werkers te laat doop. Diegene wat gedoop is, het dieselfde reg op vryheid as ander Christene geniet. Soos die sinode dit gestel het, moes hulle nie weer deur hul Christelike meesters aan die mag van die heidene oorhandig word nie; sy dit deur verkoop of deur enige ander besitoordrag. 

Die sinode het egter nie onomwonde verklaar dat gekoopte slawe vrygestel moet word nie. Dit is verkeerd om aan te neem dat geloof aanvanklik die belangrikste skeidslyn in die Kaapse samelewing was. Die Kompanjie het sy slawe laat doop, maar nie vrygestel nie. Baie slawe in private hande wat vrygestel is, is nie vooraf gedoop nie. 

Die eienaars het die aanmaning om hul slawe te laat doop geignoreer, alhoewel dit teen die Calvinistiesee geloof ingedruis het. Baie het verkies om Dordrecht verkeerdelik so te vertolk dat hulle verplig is om hulle slawe vry te stel as hulle gedoop is. In 1801 het Johannes van der Kemp, een van die eerste sendelinge, die posisie korrek opgesom: daar is geen wet wat bepaal dat 'n slaaf vry word nadat hy gedoop is nie, maar daar is 'n verbod op die verkoop van 'n gedoopte slaaf aan iemand wat nie gedoop is nie. Die belangrikste rede waarom eienaars hul slawe ongedoop gehou het, was hul vrees dat die doop hul beheer in gevaar sou stel. Om saam met sy eie slaaf in die kerk te sit, was 'n vorm van gelykstelling wat in die oë van die meester sy posisie van gesag en meerderwaardigheid ondermyn. Min eienaars het dus hul slawe vir doop of aanneming na die kerk gestuur, en die Kaapse predikante het dit ook nie juis aangemoedig nie. 'n Vader kon sy buite-egtelike kind by 'n slaaf bring om gedoop te word, maar baie min sulke vaders het by die kerk opgedaag. Die reisiger C.P. Thunberg het die situasie goed opgesom: "If the child is a bastard and its father does not discover himself, the infant remains unapprised. If the mother is a Black or a Hottentot, but the father a Christian, who requires it to be baptized, it is baptized."

Die Kompanjie het wel sy eie slawekinders laat doop, maar in die eerste vyftig jaar van die Kompanjiesbewind is slegs 319 slawekinders wat in private hande was en 124 volwasse slawe in private hande (minder as vier per jaar) gedoop. Om aangeneem te word, was selfs 'n strawwer toets vir 'n slaaf om af te lê. Gereformeerde predikante het geen beswaar daarteen gehad om nie-Europeërs aan te neem nie, maaar as hulle vrede in hul gemeente wou hê, moes hulle sorg dat elke vereiste noukeurig nagekom word. Dit was seker dat 'n relletjie sou ontstaan as iemand wat nie gekwalifiseerd was nie, veral 'n nie-Europeër, toegelaat sou word om die Nagmaal te gebruik. Nie-Europeërs wat wel behoorlik gedoop en aangeneem is, is aanvaar as gewone lidmate van die kerk. In die gemeentes Kaapstad en Stellenbosch was daar 'n hele aantal nie-Europese lidmate. Na 1750 het swart en bruin gesigte al hoe minder geraak in gemeentes dieper in die binneland. 

Aan die Kaap het die regering die predikante besoldig en die kerk het nóg die middele nóg die begeerte gehad om sy taak tot mense buite die Europese gemeenksap uit te brei. Die Kompanjie self het geen materiële gewin daarin gesien om slawe of Khoi-Khois te bekeer nie. Dit was gewoonlik slegs 'n buitengewoon vroom werkgewer wat gesorg het dat 'n nie-Europeër in sy diens gedoop word. 

Daar was aan die Kaap lank geen onafhanklike godsdienstige genootskap wat sendingwerk gedoen het, soos byvoorbeeld die Jesuite, wat so 'n groot taak in die Katolieke Kerk verrig het nie. In 1799 het die koloniste in Kaapstad die eerste plaaslike sendinggenootskap gestig, maar dit was buitelandse sendinggenootskappe wat aan die spits sou staan van die groot sendingveldtog wat in die eerste dekades van die negentiende eeu van stapel gestuur is. 

Die uitwerking van Slawerny

In die Wes-Kaap was die basiese skeidslyn dié tussen slawe en vrye mense. Min Europeërs het handearbeid in diens van iemand anders gedoen. Baron van Imhoff het in 1743 opgemerk: "As gevolg van die feit dat mense slawe ingevoer het, word elke gewone Europeër 'n heer wat verkies om bedien te word eerder as om te dien." Selfs burgers wat te arm was om 'n slaaf te besit, het status gehad omdat hulle deel van die dominante gemeenskap was. 

Slawe-eienaars oor die hele wêreld was gretig om lede van hulle rasgroep op te vorder om slawerny en die maatskaplike orde wat daarmee saam ontwikkel het, te verdedig. Hierdie orde het selfs 'n arm Europeër se aansien verdedig. 'n Proklamasie van 1794 het byvoorbeeld die volgende bepaal: Slawe is verbied om "een Europees van hoe geringe qualiteit die ook mogten weezen, moetwillig teegen het lijf te loopen of anderzints qualyk te bejeegen." Regulasies het slawe se kleredrag bepaal sodat almal kon sien wie slawe is en kon sorg dat hulle hulle soos slawe gedra. In 'n nedersetting waar daar feitlik geen polisiebeamptes buitekant Kaapstad was nie, het die burgers die orde gehandhaaf deur die satusonderskeid sterk op te dwing. Burgers, slawe en bediendes het goed geweet  wat hulle onderskeie plekke in die samelewing is en wat geoorloof is en wat nie. Binne elke satuskategorie was daar informele onderafdelings. Daar was byvoorbeeld binne die burgergemeenskap ook wit knegte. Ook hulle was veronderstel om hulle op 'n manier te gedra wat by hul status pas. Daar was altyd burgers wat bereid was om iemand te straf of te vermaan wat nie ooreenkomstig sy status opgetree het nie. eeen van die mees opvallende kenmerke van slawerny aan die Kaap was die feit dat slawe-eienaarskap so algemeen was. In 1750 was die helfte van die manlike burgers slawe-eienaars, een van die hoogste persentasies in die wêreld. In Kaapstad het twee derdes van die burgers teen die einde van die agtiende eeu ten minste een slaaf elk gehad en in Stellenbosch en Drakenstein het 70% van die boere ten minste een slaaf besit. Kleinskaalse slawebesit was die norm. Teen die middel van die agtiende eeu het 57% van die eienaars slegs een tot vyf slawe elk gehad en 35% ses tot tien. Minder as 5% van die eienaars in die kolonie het meer as 26 slawe elk besit. Die ennigste groot konsentrasie van slawe was van die Kompanjie se slawelosie, waar teen 1795 meer as 500 aangehou is. 'n Baie groot wanbalans tussen die geslagte in die slawegemeenskap het beteken dat baie manlike slawe sonder 'n vrou op die geisoleerde plase moes bly - 'n onbenydenswaardige lot. 

Slawe was deel van bykans elke hoekie van die burgers se lewe in Kaapstad. Hulle het na hul meester se kinders gekyk, die kos op die mark aangekoop en in die huis voorberei, en hulle het dikwels hul eienaars vergesel op uitstappies. In Kaapstad was hulle hoogs sigbaar. In 1767 het omtrent 40% van die totale slawebevolking van meer as 8,000 in die stadjie gebly en 'n groot aantal was op straat te sien op pad na die plek waar hulle hul ambag beoefen het of na die mark. Vir een besoeker het dit gelyk asof daar omtrent twintig swartes vir elke Europeër op straat was. Teen 1821 was die gemiddelde grootte van 'n Kaapse huishouding 11, van wie omtrent die helfte slawe of vrygestelde slawe was. Die etniese oorsprong van die slawe was uiteenlopend. Gedurende die tweede helfte van die agtiende eeu het die meeste van Madagaskar gekom, maar ander is gebring van Angola, Dahomey (Benin), verskeie Indonesiese eilande en die ooskus van Afrika. Slawe het hul eie taal gepraat, maar hoe langer hulle gebly het, hoe meer het hulle 'n lingua franca gebesig. Aanvanklik was dit dikwels Portugees of 'n gekreoliseerde vorm daarvan, maar teen die einde van die Kompanjiesbewind was 'n geradbraakte Hollands of Afrikaans die vernaamste omgangstaal. 

Slawe het die lewe vir burgers makliker gemaak, maar ook gevaarliker. Daar was in 1760 drie keer meer slawe as manlike burgers. Dit was 'n bron van kommer, aangesien daar geen gewapende mag buite Kaapstad was nie. Omdat die burgers en die slawe oor so 'n groot gebied versprei was, het die slawe-eienaar op elke plaas die taak gehad om te sorg dat sy gesag oor die slawe stewig gevestig is. Hierdie daaglikse kontak tuseen die meester en sy slawe het 'n soort skisofrenie in die hand gewerk. Aan die een kant was daar 'n groot mate van familiariteit tussen slawe en die huisgesin; aan die ander kant wou die eienaars naarstig hul eksklusiwiteit behou, en veral voorkom dat slawe of slawekinders die gesin of die kerk binnedring. 

Familiariteit kon baie maklik daartoe lei dat slawe hulle te groot vryhede aanmatig wat tot straf kon lei. In die agtiende eeu is verskriklike vorme van straf toegedien, in Europa en in al die kolonies. Die mense wat uit Engeland se tronke na Australië gestuur is, is soms op sadistiese maniere gestraf, selfs weens klein oortredings. Op die eiland Norfolk naby die Autralise kus was 'n straf van tweehonderd houe nie ongewoon nie. En teen die begin van die negentiende eeu is 'n bepaalde gevangene so dikwels gestraf - ongeveer tweeduisend houe in drie jaar - dat sy rug gestroop was van vleis en sy sleutelbene uitgesteek het soos twee ivoorhorings. 

Aan die Kaap het burgers ook baie swaar strawwe ontvang, veral wanneer hulle 'n slaaf of 'n Khoi-Khoi bediende vermoor het. Slawe wat gevonnis is weens  ernstige oortredings is uiters wreed gestraf. Dit het gebeur nie slegs wanneer 'n slaaf sy meester aanval nie, maar ook wanneer hy sy huis aan die brand steek 'n on Europese vrou aanrand of selfs net te vrypostig met haar is. Die uiterste straf was die doodstraf voorafgegaan deur marteling. Slawe se rue is op die wiel gebreek, hul vleis is uitgetrek met vuuwarm tange, hulle is vermink of stadig doodgewurg. Die lyke van die tereggesteldes is 'n tyd lank in die openbaar laat hang. Teen 1727 was so baie slawe op straat op die gesig gebrandmerk dat die regering besluit het om slawe op die rug te brandmerk, ten einde veral swanger Europese vroue nie te ontstel nie.

Die korrekte prosedure vir 'n meester wat sy slaaf wou straf, was om hom na die owerheid te stuur. Die staatsaanklaer se assistente sou die taak onder toesig verrig. Om egter die owerheid werk te bespaar, het die Kompanjie gereël dat meesters toegelaat word om straf toe te dien wat van 'n huishoudelike aard was. Daarmee het dit bedoel dat dit nie erger mag wees as die soort straf wat 'n vader aan sy kinders sou toedien nie. Geen slawe-eienaar is toegelaat om 'n slaaf in ysters te slaan of hom te martel nie. 

Mense in gesagsposies het dit as in die gemeenskap se belang beskou om perke aan strawwe vir slawe te stel. Die grootste vrees was dat slawe wat verder as breekpunt gestraf is tot opstand sou oorgaan. In 1776 het die Stellenbosse kollege van landdros en heemrade opgemerk dat mishandeling van slawe rampspoedig kon wees. Die reg is dus gebruik nie net om slawe te bstraf nie, maar ook om hulle te beskerm. Terwyl daar geen wetlike gelykheid tussen meesters en slawe was nie, kon slawe hul meesters aankla en in die hof teen hulle getuig. Meesters kon nie op die Kompanjie se ondersteuning reken as hulle 'n slaaf vermoor of op buitensporige wyse gestraf het nie. 'n Studie merk op: "The overwhelming significance of Roman law in eighteenth century Cape Society was its apparent universality, that is, it was made applicable to all...The slave in Roman law was not only property or Res (object of rights), but also persona, by which the Roman lawyers meant human being." 

Maar die wet is nie sonder aansien des persoons toegepas nie. Wanneer 'n slaaf die meester aangekla het, was dit nie soseer die wet nie maar die slawe-eienaar se reputasie wat beslissend was. Die opvattings van die hereboere was deurslaggewend. Terwyl dit hoogs onwaarskynlik was dat die gemeenksap teen 'n hereboer met 'n goeie reputasie sou optree, kon die openbare mening baie streng  wees teenoor arm of agterlike eienaars met 'n reputasie dat hulle hul slawe mishandel. 

Ondanks aaglike strawwe wat moes afskrik, het meesters bly vrees dat hul slawe teen hulle in opstand sou kom. Hulle het op steeds groter beheer oor hul slawe aangedring. In 1779 het burgers in 'n versoekskrif die reg gevra om meer as bloot "huishoudelike" strawwe toe te dien, sonder om egter soos 'tiranne' oor hul slawe baas te speel.

Die boere was bang genoeg vir slawe wat in opstand sou kom om dit as verskoning te gebruik wanneer hulle vir diens opgeroep is. In 1782 het 78 boere van Drakenstein die regering gevra om onthef te word van 'n maand se wagstaan omdat hulle vir hulle vroue en kinders se veiligheid vrees. Anders Sparrman, wat 'n betroubare verslag nagelaat het, het geskryf dat die meesters baie onrustig oor hul persoonlike veiligheid was. Daar was die vrees dat slawe kon hand uitruk en probeeer om hul meesters te vermoor. Hy het bygevoeg: "Almal in hierdie kolonie is verplig om snags hul kamerdeur toe te grendel en 'n gelaaide vuurwapen byderhand te hê uit vrees dat hul slawe wraak sou neem." Burgers was nie soseer bang vir 'n algemene slaweopstand nie as vir hul eie slawe wat hulle kon vermoor of die huis afrbrand. Hierdie fobies het die wit gemeenskap in Suid-Afrika gekenmerk in die eeue wat sou kom. 

Die Kaapse stelsel van slawerny was in 'n belangrike opsig eienaardig. Die eienaars het naamlik baie min tasbare belonings aan slawe gebied om hulle te versoen met hul lot. Sedert die antieke tyd het slawebesittende gemeenskappe aansporings aan slawe gebied, waarvan 'n redelike verwagting dat hulle vrygestel sou word die belangrikste was. Maar aan die Kaap was daar min hiervan. Slawe is nie toegelaat om hul eie kerk te stig nie en min van hulle is skool toe gestuur. Ook het die eienaars nie range onder die slawe ingestel om diegene wat meer senior of besonder lojaal was groter status te gee nie. Eienaars het ook nie 'n spesiale poging aangewend om slawe as families te laat saamwoon nie. 

Die gemeenskap van burgers het minder as tien slawe per jaar vrygestel. Een van die redes waarom manumissie so selde voorgekom het, was die vereiste dat meesters 'n som moes deponeer wat verbeur word indien die vrygestele slaaf hulpbehoewend raak. Omdat daar so min tussenposisies in die Kaapse ekonomie was, was dit goed moontlik dat 'n vrygestelde slaaf nie 'n vaste werk sou kry nie. Die manumissiekoers aan die Kaap was ses keer laer as dié in Brasilië.

Aan die Kaap was dit paternalisme met sy besondere praktyke en ideologie wat slawe met hul lot moes versoen. Die paternalistiese ideologie het die mite verkondig dat slawe deel van die huishouding is, en informeel selfs deel van die uitgebreide familie, bestaande uit die eienaar se eie familie, sy broers of susters wat soms ook op die plaas gewoon het saam met hulle gesinne, en een of twee bywonergesinne.

Paternalisme was veronderstel om vir albei kante voordele te bring. Dit het behels dat die slaaf lojaal teenoor sy baas of nooi moet wees en hulle met respek moet behandel. Op sy beurt is van die eienaar verwag dat hy teenoor die slaaf optree soos 'n soort vader, wat gehoorsaamheid beloon en oortredings bestraf, net soos met sy eie kinders. Hy en sy vrou het die slaaf gevoed, geklee en versorg wanneer hy siek was. Die slaaf het soms ook saam met die gesin huisgodsdiens gehou. Die huisslawe het gewoonlik op hul hurke gesit of teen die muur van die voorkamer gestaan, terwyl die familie om die tafel gesit het. In die eienaar se oë was die gesamentlike huisgodsdiens 'n bewys van sy sorg vir die slawe. Dit het die burgers versterk in hul siening van hulle self as draers van die Christendom en beskawing na Afrika. 

Paternalisme het selde die slaaf om die bos gelei. Dit was meer om die heersersklas self gerus te stel dat dit regverdig optree. Nietemin het paternalisme soms 'n stabiele verhouding bewerkstellig. Die stabiele verhouding was dikwels dié  tussen die nooi en 'n vertroude slawevrou. 'n Waarnemer het oor laasgenoemde soort slaaf opgemerk: "They are entrusted with everything that is valuable - more companions than slaves, but the mistress rarely and the slave never forget their relative situations, and however familiar  in private, in the presence of another due prevails." Slawevroue het selde harde handearbeid in die landerye verrig soos in baie ander slawegemeenskappe. Hulle was soogvrou, kinderoppasser, kok, huisskoonmaker. 

Die slavin wat soogvrou was, was 'n sleutelfiguur in die burgerfamilie. In Holland is die gebruik afgekeur, maar aan die Kaap was dit algemeen. Die biologiese moeder kon gevolglik gouer weer ovuleer en met korter tussenposes kinders hê. Slawe wat soogvroue en oppassers was, het dit vir die burgergemeenskap moontlik gemaak om vinnig te vermenigvuldig. Slawevroue was letterlik die burgergemeenskap se boesem. Daarteenoor kon die slawebevolking aan die Kaap hom nie self laat aanwas nie, aangesien die gebruik die soogvrou se eie vrugbaarheid benadeel het. 

Die woorde "minnemoer" of "mina" en "aiya" of "aia" het oorgebly as nalatenskap van hierdie intieme verhouding. Daar is soms gegis dat die intieme verhouding tussen seuns en die vrou wat hulle gesoog en opgepas het, hulle meer op hul gemak met swart swart vroue laat voel het en dat hulle selfs seksuele omgang met swart vroue verkies het. Maar dit is blote spekulasie. Dit is opvallend dat wanneer die seuns volwasse geword het hulle selde hul soogmoeders bevry het. Dit was eerder die Europese vroue wat soogmoeders en vertroude oppassers en vertrouelinge vrygestel het. 

Geen slawestelsel is ooit anders as wreed nie. Ook die Kaapse slawerny was wreed en hardvogtig. Die ondraaglikste was dikwels die hegte en soms versmorende bande binne die uitgebreide familie wat die slaaf moes verduur. Slawe- en burgerkinders was speelmaats, maar wanneer hulle volwasse geraak het, het die burgerkind 'n baas geword en die slaaf het slaaf gebly. Selfs as volwassene is die slaaf aangespreek as "jong" (Seun) of "meid" (meisie) en is hy of sy op hul eerste naam genoem. Slawevroue was dikwels baie lojaal aan hul "familie" en het dié se vertroue geniet, maar hulle het permanent kinders gebly.

Soos die mans moes slawevroue hul eie familielewe opoffer vir dié van hul baas en nooi. Dikwels moes die slawevroue dit ook verduur dat die baas of sy seuns by hulle aanlê en hulle is soms verlei of verkrag. Dit was hierdie slawe at die meeste gely het, want hulle moes sowel die intieme as die wrede kant van slawerny verduur. Dit was hulle wat die gouste gevoel het dat hulle dur die paternalistiese verhouding verkul word. Toe die Britte aan die Kaap in die 1810's en 1820's maatreëls ingestel het om die slawe se lot te versag, was dit slawevroue wat die meeste klagtes by die slawebeskermer ingedien het.

Nuwe Identiteite

Die grootste deel van die agtiende eeu het die koloniste na hulle self verwys as "burgers" of "Christene" en partykeer ook as "Hollanders", maar teen die einde van die eeu het twee ander selfkonsepte na vore gekom. Dit was "Blankes" en "Afrikaners". Gedurende die eerste 150 jaar aan die Kaap was daar geen dringende rede om kleurverskille te beklemtoon of om 'n rasse-ideologie te ontwikkel nie. 'n Slaaf is met minagting behandel omdat hy 'n slaaf was.

Op die Wes-Kaapse platteland het die kloof tussen wit en swart in die loop van die agtiende eeu al hoe groter geword. Daar was min vryswartes wat hierdie kloof kon oorbrug en vryelik in die dominante gemeenskap kon beweeg. In Kaapstad was daar 'n groter vloeibaarheid. Teen die 1770's het vryswartes in Kaapstad al hoe meer 'n sigbare deel van die bevolking begin vorm.

Dit was die aansporing vir die regering om regulasies uit te vaardig om hulle te beheer en vir pogings deur die burgers om hulle sosiaal uit te skuif. Die eerste keer kry ons nou dokumente waarin rassevooroordeel uitgespreek word. Die regering en die kerk het al hoe meer afsonderlike lyste vir verskillende kategorieë van mense begin hou, byvoorbeeld vir basters of vryswartes wat gedoop is. In 1761 het die Swartlandse gemeente 'n aparte lys in sy doopregister geopen vir basters en Khoi-Khoi-werksvolk. In sommige gevalle is nie-Europeërs in aparte seremonies gedoop. Op Stellenbosch het sommige burgers in 1788 by 'n krygsoefening geweier om onder 'n bepaalde korporaal te dien op grond daarvan dat hy swart was en "van heidense oorsprong". Die Kompanjie het daarop 'n spesiale eenheid gevorm vir "Basters en mistiches" en dit die Vrye Korps genoem. Alle vryswartes was verplig om hierin te dien.

In 1793 het twee Nederlandse kommissarisse, S.C Nederburgh en S.H. Frykenhius, gewag gemaak van die "blankes" se gevoel van meerderwaardigheid, maar dit is onmoontlik dat dit hulle Europese agtergrond weerspieël. Die term kom nou wel al hoe meer in die dokumente voor. In die loop van die agtiende eeu is al hoe minder mense wat as swart beskou is in die burgerfamilies opgeneem. Cillié de Bruyn se berekening toon dat in 1807 slegs 5% uit 'n monster van 1 063 kinders wat gedoop is 'n oupa of ouma gehad het wat deur genealoë as "nie-Europeër" aangedui word. Hierdie grootouer was gewoonlik 'n slavin.

Die term "Afrikaner" het op die voorgrond begin kom. Teen die einde van die agtiende eeu het daar onder die burgers die gevoel bestaan dat eerder as om 'n Hollander of 'n Fransman of 'n Duitser te wees hulle Afrikaners is. J.S. Stavorinus was een van die eerste besoekers wat hierdie ontwikkeling geboekstaaf het. "Although the first colonists here were composed of various nations, they are, by the operation of time, now so thoroughly blended together, that they are not to be distinguished from each other; even most of such as have been born in Europe, and who have resided here for some years, changed their national character for that of this country."

Gedurende die 1790's het Cornelis de Jong, 'n Nederlandse besoeker, van die Kaapse burger gesê: "Hy is tots op die naam Africaan en hy dink die titel Kaape burger is iets besonders." Die meeste mense in die burgergemeenskap was van Hollandse en Duitse afkoms. Volgens J.A.Heese was 36% Nederlands, 35% Duits, 15% Frans en 7% Nie-Europeërs. De Bruyn, wat 'n ander metode gebruik het, bereken dat die samestelling teen 1807 soos volg was: Nederlands 34%, Duits 29%, Frans 25% en nie-Europeërs 5%. 

Hendrik Biebouw se kreet dat hy 'n Afrikaner is, is in die 1730's weer gehoor, en weer van 'n enigmatiese persoon. Hy was Estienne Barbier, gebore in Orléans, Frankryk, en gedurende die 1730's 'n soldaat in VOC-diens. Anders as Biebouw was hy geletterd en het hy inderdaad genoeg regskennis gehad om senior Kompanjiesamptenare met regstappe te dreig, wat noodlottig vir hom sou wees. Net soos Biebouw het hy die term Afrikaner binne die konteks van die politieke verset gebruik.

Barbier se opstand het teen die volgende agtergrond afgespeel. Teen die 1730's was selfs die westelike deel van die kolonie nog ver van 'n geordende samelewing. Soldate het gedros om weg te kom van die Kompanjie se ongenaakbare dissipline, wrede strawwe en karige loon; slawe het individueel of in klein groepies gevlug om vryheid te kon smaak; en "basters" het die gevestigde samelewing vaarwel toegeroep om aan diskriminasie te ontsnap. Baie van hulle was desperate mense wat soms met groot geweld 'n Khoi-Khoi kraal aangeval en mense voor die voet vermoor het. 

Maar geweld was nie net to hierdie "vabonde" en "drosters" beperk nie. Daar was bugers wat die Khoi-Khois se vee wou roof en hulle wou dwing om vir hulle te werk. Hulle sou lieg, bedrieg en ook moor. So het 'n ekspedisie teen die einde van die 1730's na die Klein en Groot Namakwas aan die Oranerivier gereis om vee te ruil. Aanvanklik het alles vreedsaam verloop en 'n burger, Willem van Wyk, het selfs "op die Hottentotmanier" met 'n Khoi-Khoi getrou (wat blykbaar ingesluit het dat daar op hom geurineer word). Kort daarna het die geweld losgebars. Die burgers het 'n kraal aangeval, verskeie inwoners, ook die kaptein, doodgeskiet en 'n groot aantal vee met hulle weggevoer. 

Die regering was onwillig om die burgers verlof te gee vir sulke veeruilekpedisies omdat dit dikwels net 'n dekmantel was vir rooftogte. Toe 'n aantal Namas in die Wes-Kaap opdaag om te kom kla oor skade wat hulle in hierdie strooptog gely het, het die Stellenbosse landdros hulle onder sy beskerming geneem en die beskuldigdes gedagvaar om hul gedrag voor die Raad van Justisie te kom verduidelik. Barbier was nie self betrokke nie. Hy was in die tronk omdat hy 'n hoë Kompanjiesamptenaar vals van wangedrag beskuldig het. In 1739 het hy ontsnap en by boere in Drakenstein gaan wegkruip, waar hy verskeie burgers teen die hoë amptenare opgerui het. In 'n manifes het hy 'n beroep gedoen op sy "Afrikanders broederen" om by hom aan te sluit teen 'n regering wat "Hottentotte" bo wit mans verkies. Hy het ook ander griewe opgehaal, soos die onwilligheid om rekognisiegeld op die leningsplase te betaal. 

Barabier en sy mense het hul opstand begin deur die regering se proklamasie teen veeruil met die Khoi-Khois van die kerkdeur in die Paarl af te ruk. Maar die opstand het nie breë daadwerklike steun uitgelok nie en die belhamels is gou gevang. Die Kompanjie het hulle nie te hardhandig behandel nie, omdat besef is dat hulle aansienlike passiewe steun geniet het. Barbier is egter in 1739 op 'n kenmerkend wrede manier tereggestel. 

Gedurende die laat 1770's en vroeë 1780's het die burgers in die Wes-Kaap daarop begin aandring dat hule regte beter omskryf en ook uitgebrei word. In een geval het hulle in 'n petisie aan die regering na hulle self verwys as "Africanders". Dit was die begin van die stryd van die sogenaamde Kaapse Patriotte. Hierna het die burgers al hoe meer die term Afrikaners gebruik en daarop aangedring dat hulle dieselfde regte en status as burgers in Nederland moet hê.

Ander waarnemers het die term "Afrikaners" of "Afrikanen" gebruik vir mense in die stad en "Boeren" vir dié op die platteland. Die Britte aan die Kaap was geneig om na slavinne wat lig van kleur was as "Africanders" te verwys, maar toenemend is die term gebruik vir Europeërs wat aan die Kaap gebore is en wat Hollands of Afrikaans gepraat het. In 1822 het die reisiger W.J. Burchell opgemerk dat almal wat in die Kaapkolonie gebore is en nie van Engelse nie maar van Franse, Duitse of Hollandse afkoms is en Hollands praat, hulle self "Africaanders" noem. 'n Paar jaar vroeër het die reisiger R.B. Fisher geskryf: "[They] all speak a very bad sort of Dutch language, and style themselves as an original nation, Africanes [sic]."

'n Besondere taal het van vroeg af aan die Kaap wortelgeskiet. Reeds in 1658 het 'n hoë amptenaar, H.A. van Reede tot Drakenstein, dit nodig geag om teen 'n korrupsie van die Hollandse taal te waarsku. Sy vrees was dat die Nederlandse koloniste sa nabootsing van die inboorlinge en slawe se geradbraakte Hollands 'n "gebroke taal" sal laat ontstaan wat nie uitgeroei sou kan word nie. Die regering se vermoë om korrekte en amptelike Hollands op te dwing, was egter baie beperk. Die skole het slegs 'n eenvoudige onderwys verskaf en is swak bygewoon. Nog minder was die regering in staat om slawe en Khoi-Khoi-bediendes korrekte Hollands te leer praat. 

Die "swak soort Hollands" waarna Fisher verwys het is genoem Kaaps-Hollands. Kaaps en Boere-Kaaps sou eers vroeg in die twintigste eeu algemeen bekend word as Afrikaans. Afrikaans was in sy kern 'n Hollandse dialek wat mettertyd 'n beperkte mate van kreolisering of afwyking van die basiese Hollandse struktuur ondergaan het. Gedurende die eerste sewentig jaar van die nedersetting het slawe en Khoi-Khoi bediendes waarskynlik die grootste rol in die ontwikkeling van die taal gespeel. In die loop van die agtiende eeu het sowel burgers as hul bediendes en slawe, in hul omgang met mekaar, hierdie herstrukturering verder gevoer. Hollands is vereenvoudig en 'n aansienlike aantal Maleis-Portugese frases wat deur die slawe gebruik is, is in die taal opgeneem. (Die uitrdukking "baie dankie" weerspieël sowel die afwyking van Hollands as die leen van die Maleise "banja".)

Die taal was dus die gesamentlike skepping van Europeërs en nie-Europeërs, wat wit en swart, van base en slawe. Die taal is sowel op die platteland as in Kaapstad ontwikkel. Die grammatikale struktuur van die omgangstaal was reeds teen 1750 soos dié van moderne Afrikaans. Die burgers het wel hul bes gedoen om suiwer Nederlands te skrywe, maar hulle was, soos J.du P.Scholtz opmerk, nie meer daartoe in staat nie. "Oral breek vorme en konstruksies uit hulle spreektaal in hul skriftelike taalgebruik deur." Die spreektaal Afrikaans en die skryftaal Hollands  is nooit hermeties van mekaar geskei nie. Daar was ook perke aan die kreolisering. Daar was geen uitgebreide plantasies waar groot groepe slawe of bediendes 'n volskaalse Kreoolse taal onder mekaar kon praat nie. Teen die agtiende eeu is die blanke Afrikaanssprekendes nog in 'n groot mate beïnvloed  deur gesproke Hollands in sowel die kerk as die staat. Die burgers het die Hollandse Statebybel gelees, in Kaapstad en ook aan die grens. Sekere kerkleiers sou tot die derde dekade van die twintigste eeu volhardend probeer om Hollands in eredienste te gebruik. Hollands het Afrikaans in die stryd teen Engels onderskraag en ook gekeer dat dit nog verder as 'n afsonderlike taal ontwikkel. 

Sonder die voortgesette gebruik van Hollands, veral in die kerk, sou Engels Afrikaans in alle waarskynlikheid verdring het. Die graad van kreolisering was in elk geval meer beperk as by die Hollandse Kreoolse taal in die Wes-Indiese Eilande. Aan die Kaap het mense van Nederland redelik maklik Afrikaans verstaan. Reisigers het dit gesien as 'n dialek en nie 'n aparte taal nie. Burchell het byvoorbeeld reisigers aangeraai om kennis van Hollands te hê, "according to the Cape dialect, and even according to the corrupt dialect of the Hottentots."

Vrye burgers van 'n kolonie van die vrygevegte Nederland

Die stryd van die Kaapse Patriotte tussen 1778 en 1787 toon dat die burgers se politieke bewussyn in die loop van die agtiende eeu baie ontwikkel het. Die stryd is geïnspireer deur die Patriotbeweging in Nederland gedurende dieselfde tyd met as vernaamste denker Joan Derk van der Capellen tot den Pol, wat hom beywer het vir die afskaffing van die pos van stadhouer en van die selfaangestelde regente. Engels denkers soos Price, Hutcheson en Locke het weer Nederlandse denkers beïnvloed. Die Amerikaanse revolusie, wat van 1775 to 1783 gewoed het, was 'n bron van inspirasie vir Europese koloniste oor die hele wêreld. Alhoewel die Kaapse Patriotte uit die geskrifte van Verligting-denkers in Europa aangehaal het, was hul gedagtes op plaaslike omstandighede toegespits. Die groot probleem was dat die amptenare, ten spyte van die verbod van 1706 op private ekonomiese bedrywighede, tog weer 'n groot deel van die sakegeleenthede ingepalm het. Teen die 1770's was hulle heelwat meer bedrewe in die kuns om hul handelsaktiwiteite te verbloem. Hulle het dikwels saam met die vernaamste burgers in handelsvennootskappe gewerk, wat volgens die Patriotte amptenare onregmatiglik bevoordeel het.

Die wese van die stryd aan die Kaap was 'n botsing oor die Kaap se stigtingsgeskiedenis en burgerregte. W.C. Boers, wat in 1774 fiskaal geword het, het dieselfde mening as Willem Adriaan van der Stel sewentig jaar vroeër gehuldigg oor die minderwaardige regte en plek van die burgers. Hulle was daar tot voordeel van die Kompanjie, nie andersom nie. Saam met die goewerneur, Joachim van Plettenberg, het Boers daarop aangedring dat die Kompanjie sy reg gebruik om weerbarstige burgers weer in sy diens op te neem en hulle weg te stuur na 'n ander pos. 

In die eerste paar jaar van Van Plettenberg se termyn is nie minder nie as 18 burgers vir diens opgeroep en weggestuur. Die direkte aansporing vir die Kaapse Patriotbeweging was sie verbanning van die agtiende burger, Carel Hendrik Buytendagh. Hy was 'n berugte skobbejak wat sowel lede van sy familie as sy werkers aangerand het, maar die burgers het dit nodig gevind om die gebruik van verbanning te beveg. 

In Mei 1778 het geheime vergaderings plaasgevind en is naamlose pamflette versprei. In 'n pamflet word gesê: "Ons het ons wette en voorregte laat verkrag en ons het vergeet dat ons vrye burgers van 'n kolonie van die vrygevegte Nederland is." Die Patriotte het die filosofie van die natuurlike regte van die mens gebruik in hul weergawe van die stigtingsgeskiedenis. Hulle het geredeneer dat die Kompanjie en die eerste setlaars wat na Afrika gestuur is 'n soort "oorspronklike kontrak" gesluit het. Hulle het Van Riebeeck se administrasie as 'n goue tydperk beskou waarin die burgers "'n gepaste vryheid" geniet het en waarná  die koloniste aan 'n "arbitrêre despotisme" blootgestel is. Na hul mening het elke persoon wat van die Kompanjie se diens vrygestel is al die regte geniet  van burgers wat nooit in die Kompanjiesdiens was nie. 

Hierdie siening van die geskiedenis en burgerregte het nie met die feite gestrook nie, maar die Patriotte was nie meer bereid om gesag onkrities te aanvaar nie. Meer as 400 mense het 'n versoekskrif onderteken waarin verlof gevra is vir 'n Patriot-afvaardiging van vier man om die saak in Nederland aan die Here Sewentien voor te lê. 

Die goewerneur het geweier, maar die afvaardiging, wat bestempel is as die "Verteenwoordigers van die Hele Burgerstaat veronagsaam die verbod en vertrek na Nederland. Hier kom hulle met die Nederlandse Patriotte in aanraking, en ook met ander teenstanders van die Prins van Oranje as stahouer. Omdat die Kompanjiedirekteure sterk Oranjemanne is, wend die Kaapse afgevaardigdes hulle ook tot die State-generaal, die Nederlandse parlement, wat teen die prins gekant was.

Die Patriotte het verskeie versoekskrifte ingedien. In die eerste deel van die belangrikste petisie het hulle die klaaglike posisie van die Kaapse vryburgers uiteengesit; in die tweede deel het hulle sekere amptenare van onbehoorlike gedrag aangekla en daarop aangedring dat Kompanjiesamptenare streng verbied word om handel te dryf; en in die derde deel het hulle versoeke gerig om vryhandel, beter produktepryse en laer pryse vir die godere wat hulle van die Kompanjie moet koop. 

Die Kaapse Patriotte se politieke eise was ambisieus. Hulle het sewe setels vir burgers in die Politieke Raad gevra wanneer sake wat die burgers raak, bespreek word, en die helfte van die setels in die Raad van Justisie. In stede daarvan dat die regering burgers in hierdie regeringskolleges koopteer, moes hulle vryelik verkies word deur die burgers wie se termyn in die kolleges verstryk het. Die Kaapse Patriotte het ook 'n duideliker omskrywing van burgerregte gevra, die kodifisering van die wette en 'n verbod op die verbanning van burgers, behalwe as die burgerrade dit goedkeur. 

Die Patriotte se dokumente belig ook sekere maatskaplike strydpunte wat akuut begin raak het. Hulle het byvoorbeeld gevra dat wit mans nie deur "kaffers" gearresteer mag word nie en dat die burgers toegelaat moet word om slawe lyfstraf toe te dien, waarmee waarskynlik bedoel is strawwer straf as wat hulle vir hul eie seuns as geskik beskou. Die amptenare het die klagte teen hulle as afguns afgemaak en fiskaal W.C Boers het onomwonde die standpunt gestel dat die amptenare die Kaap moet regeer, nie die burgers nie. In 'n eerste reaksie het die Here Sewentien die amptenare van blaam onthef, maar in 1782 het die Patriotte 'n "nadere memorie" voorgelê  waarin hulle hul klagte verder uiteengesit het. In 1784 het die Patriotte 'n liggaam wat die "volk" verteenwoordig het, georganiseer. Dit het petisies aan die State-Generaal afgestuur en vier nuwe afgevaardigdes gekies om die saak in Nederland te stel. 

Die Patriotte se leiers was redelik welgestelde mense wat in Kaapstad gewoon het of nie ver daarvandaan nie. Hulle het probeer bewys dat beperkings dit vir hulle moeilik maak om vooruit te gaan. Maar hul betoog is bemoeilik deur die opbloei van die Wes-Kaap omdat 'n Franse mag gedurende die eerste  helfte van die 1780's aan die Kaap gestasioneer was. Die amptenare het gewys op die welvaart wat die Kaap beleef. Hulle het die burgers ook beskuldig van luiheid en beweer dat hul eie handelsbedrywighede heeltemal binne perke was. 

Die Patriotbeweging is van groot belang. Vir die eerste keer het burgerleiers besin oor die oorlewing van die burgergemeenskap op 'n manier wat verder as hul direkte belange strek. Hulle het betoog dat dit vir baie burgers onmoontlik is om van koring- en wynbou te bestaan en dat hulle dus verplig is om diep die binneland in te trek. In die grensdistrikte moet "verskeie huisgesinne in een hut saamwoon, terwyl jongmense wat nie 'n bestaan kan maak nie ongetroud moet bly". Somme het selfs met die Khoi-Khois vermeng, waaruit 'n geslag gebore kan word "wat selfs meer gedug as die Boesmans Hottentotte sou wees". Hulle het gewaarsku dat as daar geen hervormings kom nie die burgers se trek die binneland in sou uitloop op 'n algehele "verbastering van die moraal en die opkoms van 'n heeltemal gedegenereerde volk".

Die Patriotte het nie veel vermag nie. Die Kompanjie het die sleuteleis, naamlik burgerverteenwoordiging in die Politieke Raad, verwerp. Dit het wel die burgers in die Raad van Justisie van drie tot ses vermeerder. Die Kompanjie het ook ingestem dat die burgers nie meer teen hul sin in die Kompanjiesdiens opgeroep en verban sou word nie. Die burgers sou nie toegelaat word om handel te dryf in hul eie skepe nie, maar handel met vreemde skepe sou toegelaat word nadat aan die Kompanjie se behoeftes voldoen is. 

Die patriotbeweging in Nederland is die nek ingeslaan toe die Prins van Oranje in 1787 die hulp van Pruisiese troepe ingeroep het. In die onderdrukking wat gevolg het, het 'n groot aantal Patriotte na ander lande gevlug, veral na die nuwe onafhanklike Verenigde State van Amerika. Die Kaapse Patriot beweging het gedisintegreer.

In die agtiende eeu was daar geen intellektuele elite aan die Kaap wat stelselmatig en voortdurend kon dink en skryf oor die kollektiewe oorlewing van die Europeërs nie. Wanneer hulle oor die politiek besin het, het hulle hulle self as of Kompanjiesdienaars of burgers beskou. Senior Kaapsgebore VOC-amptenare was geneig om die eenvoudige grensboere te minag. Willem Stephanus van Ryneveld het hulle beskryf as mense wat grootgeword het "in idleness and in the unrestrained indulgence of the wild passions in nature."

Dit was nie Kaapstad en die hoë amptenare wat die grootste invloed op die ontwikkeling van die boere in die grensgebiede gehad het nie, maar die burgergemeenskap van die Wes-Kaapse platteland. Hierdie burgers het 'n rigiede slawebesittende gemeenskap gevorm waarin baie min slawe ooit gedoop, aangeneem of vrygestel is in 'n kerk wat al hoe witter geword het. Dit was hier waar die model uitgekristalliseer het van 'n Afrikanergemeenskap wat hom maatskaplik as outonoom beskou, maar wat ten volle op bruin en swart mense se arbeid steun. 

Dit was 'n gemeenskap wat op spesiale regte en voorregte vir die burgers aangedring het sodat hulle hulle kon handhaaf. Hier het die ideologie van paternalisme wortelgeskiet, met die mite van 'n welwillende baas en nooi wat vir "hul mense", veral die huisslawe, sorg en hulle amper soos eie kinders behandel, maar wat hulle nooit kerk toe neem nie en straf as hulle te vrypostig raak. Dit was hierdie model wat die mense na die grensgebied saamgeneem en streng gevolg het wanneer hulle inboorlinge in diens neem. 

'n Genadelose oorlog teen die Boesmans

Teen die 1770's het die veeboere wat dieper in die binneland ingedring het, teenstand begin ondervind. Op die noordelike en die nooroostelike grens van die kolonie het die gedugte Boesmans gewoon. Die meeste van hulle het in klein bendetjies van jagters opgetree en soms Khoi-Khois wat hul vee verloor het in hul eie geledere opgeneem. Die trekboere op die voorpunt van die Europese uitbreiding het nie die Xhosas of Khoi-Khois probeer uitwis nie. Daarvoor was die boere te min en hul vraag na arbeid te groot. In die Khoi-Khois  en die Xhosas se ekonomieë het vee dieselfde belangrike plek as in dié van die burgers ingeneem, en daarom kon hulle maklik in diens geneem word. Die ekonomie van die Boesmanjagters het egter drasties van die burgers s'n verskil en die veeboere het inderdaad geprobeer om Boesmans op groot skaal dood te maak. 

Die stryd wat tussen 1770 en 1810 tussen Boesmans en burgers gewoed het, was fel en genadeloos, soos op elke plek waar beeboere en jagters gebots het. Boesmans het die burgers se vee doodgemaak en vermink of weggevoer, en veewagters vermoor. 'n Boer het een oggend wakker geword en agtergekom dat al sy veewagters doodgemaak is en dat 40 beeste en 200 skape (sy hele kudde) uitgewis is. In die aangesig van hierdie aanslag het boere 'n groot deel van die wyk Sneeuberg verlaat. 

Diegene wat gebly het, het besluit om te veg. In 1774 het die regering 'n "algemene" of groot kommando onder leiding van kommandant Godlieb Rudolph Opperman uitgestuur. Die opdrag was dat die kommando die krisis vreedsaam moet besleg, maar as dit misluk, moet die Boesmanstropers "verdelg" word. Die kommando het teen die einde van 1774 teruggekeer ndat dit 503 Boesmans doodgemaak en 241 gevange geneem het. 

Sekere aspekte van hierdie kommando moet beklemtoon word. Daar was 150 Khoi-Khois in die kommando, aan wie gewere en ammunisie uitgereik is. Dit bewys dat die beeld van die kommando as 'n gevegseenheid vir wit mans heeltemal verkeerd is. Boere het van hul Khoi-Khoi werkers gebruik om die kommando  aan te vul of om in hul plek te veg. Dit was inderdaad die Khoi-Khois wat dikwels die spit in gevegte moes afbyt. Hoewel hy byvooroordeeld teen die boere was, moet die getuienis van Honaratus Maynier, landdros van Graaff-Reinet, wel in ag geneem word: "Ek het altyd gevind dat die kommando nooit geslaag het nie behalwe wanneer daar 'n aansienlike aantal Hottentotte saam met die burgers was, wat dan op die voorpunt geplaas is en die meeste aan gevaar blootgestel was."

Nog 'n betekenisvolle aspek van Opperman se kommando was die vang van Boesmanvroue en -kinders. Die regering het allerlei geskenke saamgegee wat onder die Boesmans uitgedeel kon word, maar daar was ook beenysters en boeie. Dit was bedoel vir weerlose kniders en vroue wat op die gevegsterrein oorgebly het nadat die mans doodgeskiet is.  Party van die vroue is aan die Khoi-Khoi lede van die kommando gegee en die kinders is teruggebring en op die plase ingeboek. 

Die vang van vroue en kinders het gou 'n doel op sigself geword. Dirk Koetse het byvoorbeeld aan die leier van 'n kommando geskryf: "Ek het my Hottentot beveel om 'n kleintjie vir my te vang en ek vra jou dat indien hy een kry hy dit kan hou." Teen 1795 was daar ongeveer duisend gevangenes in Graaff-Reinet en party burgers het daarop aangedring dat kommandolede toegelaat word om hul gevangenes te verkoop, wat die stelsel vir alle praktiese doeleindes in slawerny sou omskep. 

Opperman se kommando het nie daarin geslaag om vrede te bewerkstellig nie. Adriaan van Jaarsveld het nou geprobeer om met 'n daad van uiterste geweld Boesmans die skrik op die lyf te jaag. Hy het twee plase in Sneeuberg besit en was energiek en ondernemend, maar ook 'n man met 'n vinnige humeur en 'n wrede streep. In 1775 het Van Jaarsveld 'n daad gepleeg wat afgryse wek. As leier van 'n kommando het hy 12 seekoeie geskiet en hulle as aas vir die Boesmans gelos. Terwyl die Boesmans besig was om die karkasse van die seekoeie te eet, het die kommando toegeslaan en 122 doodgeskiet en 21 gevang. Slegs vyf het ontsnap. Maar hierdie gruweldaad het ook nie vrede gebring nie.

Van Jaarsveld het nou ook Sneeuberg verlaat, maar die stryd hier en in die ander wyke aan die noordoosgrens het voortgeduur. Volgens amptelike syfers het die kommando's tussen 1760 en 1795 2,480 Boesmans doodgeskiet en 654 in hegtenis geneem. Die Boesmans het 19,161 beeste en 84,094 skape weggevoer en ook 276 veewagters doodgemaak. Gedurende die 1790's was Sneeuberg die toneel van 'n genadelose styrd. 

Veldkomandant J.P. van der Walt, 'n nuwe leiersfiguur, het onverwags met 'n radikaal ander benadering gekom. Hy het verskeie kommando's gelei wat in die 1770's en 1780's teen die Boesmans uitgetrek het met die doel om die rowers uit te wis. Hy het in hierdie stadium nie die veldtogte van die kommando's en die vang van Boesmankinders teengestaan nie. Vyf jaar later het hy egter sy mening verander. Hy het die landdros gevra om te weier dat nog kommando's uitgaan en kinders vang, aangesien "die burgers ook alles sou gee as hulle van hul kinders beroof word."

Onder sy leierskap het die boere vee, tabak en krale aan boesmansstamme uitgedeel en die Hantam het begin om skape en ander geskenke in te samel, wat van tyd tot tyd oorhandig kon word om die Boesmans te oorreed om op te hou steel. Alhoewel die aanvalle deur die Boesmans op party plekke tot die tweede dekade van die volgende eeu voortgeduur het, het kolonel Collins in 1809 geskryf hoe bevredigend dit is "to observe the anxiety evinced by the farmers of the north-eastern districts to preserve peace with that people rather by conciliation than by terror". Gedurende die 1820's het landdros Andries Stockenstrom en die sendeling James Clarke soortgelyke stellings gemaak. Maar aan die ander kant van die spektrum was daar in daardie stadium nog steeds burgers wat in Boesmankinders handel gedryf het. 

Die opstand van die Khoi-Khoi arbeiders

Teen die 1760's het Khoi-Khoi stamme tussen die Van Stadensrivier (wat naby die huidge Port Elizabeth uitmond), en die Visrivier gewoon. Baie Khoi-Khois is opgeneem in die Gqunukhwebe, die mees westelike stam van Xhosasprekers. Aangesien die Xhosas se gewasse somerreën nodig gehad het, het hulle nie ver oor die Visrivier beweeg waar die streek van winterreën begin het nie. 

Teen die 1770's het druk deur die nuwe indringers - wit mense van wes en Xhosas van oos - die Khoi-Khois gedwing om hul onafhanklikheid prys te gee en hul lot by die Xhosas of die burgers in te gooi. Dit was 'n moeilike besluit. Indien die Khoi-Khois by die Xhosas aangesluit het, sou hul vee deel van die stam se rykdom word, maar na 'n aanvanklike posisie van onderworpenheid sou hulle volkome in die stam geintegreer word en geen sosiale diskriminasie ondervind nie. Xhosa-kapteins het Khoi-Khoi vrouens geneem en daarmee die integrasie van die nuwelinge bevestig. Op hierdie manier het veral die Gqunukhwebe 'n groot aantal Khoi-Khois ingelyf. 

Om in die diens van 'n boer te tree, het ander moontlikhede aan die Khoi-Khois gebied. Hulle sou altyd bediendes bly en was uitgesluit van die burger se familie en sy kerk, maar kon as 'n gesin saambly, hul vee behou en as hulle op kommando gegaan het, kon hulle hul kudde met 'n deel van die buit aanvul. 

Die arbeidstelsel op die plase het nie op vrye arbeid berus nie en daar is baie selde kontantlone betaal. Dit help om dit uit 'n vergelykende oogpunt te beskou. Slawerny of gedwonge arbeid kom voor waar daar nog "vry grond" beskikbaar is (dit wil sê waar 'n bestaan gemaak kan word sonder die aanwending van veel kapitaal).  In 'n situasie waar hulpbronne so oorvloedig is dat mense nie hoef te werk nie, is inheemse mense telkens met geweld gedwing om vir koloniste te werk. Die het ook dikwels aan die Kaap gebeur. 

Kontantlone om arbeiders te lok, was iets vreemds. Daar was geen markte in die binneland waar kontant gebruik is nie. Die historikus Suzie Newton-King het bereken dat die kontantinkomste van die veeboere aan die grens te laag was om aan die Khoi-Khois behoorlike kontantlone te betaal. Baie burgers op die pioniersgrens het die Khoi-Khois gedwing om te werk. Hulle het hulle afgeransel en gedreig om hulle te skiet as hulle sou vlug. Hierdie Khoi-Khois was gewoonlik nie veel meer as lyfeienes of slawe nie. Die veeboere wou die Khoi-Khois se grond hê en partykeer ook hul vee. Hulle wou hulle gebruik as veewagters, wat hulle die teikens van Boesman-of Xhosa stropers gemaak het. Die boere het hulle selfs met gewere gewapen en op kommando saamgeneem.

Gedwonge arbeid is selde stabiel en onderlinge vertroue kan nie met geweld verkry word nie. Die feit dat gewapende Khoi-Khois op so 'n groot skaal gebruik is, laat 'n mens wonder: 'n boer wat nie 'n Khoi-Khoi vertrou het nie, sou nie aan hom 'n wapen gegee en hom sy vee laat oppas of op kommando saamneem nie. Ons moet dus aanneem dat in hul verhouding, wat historici "kliëntskap" noem, wel vertroue bestaan het. Hierin het 'n arm Khoi-Khoi die beskerming van 'n boer gesoek, wat hom sy eie veestapel help ophou en hom teen bedreigings beskerm het. Anders Sparrman, wat gedurende die 1770's  gereis het, het geskryf: "The Hottentots, who are in some husbandmen's service, are treated in the gentlest manner, and, perhaps, even without ever having a harsh word given them, live very well with regard to provisions, are well clad relatively to their condition in life, and are very comfortably lodged, in comparison of what others are in their own straw cottage."

Maar namate die grensgebied meer gevestig geraak het en die weiveld uitgeput, was die verhouding van kliëntskap geneig om te verbrokkel. Ten einde hul arbeiders te verhinder om die plaas te verlaat, het sommige boere dieselfde parktyke aangewend as waarmee slawe in die Wes-Kaap beheer is. Die distriksowerhede van Graaff-Reinet en Swellendam het pasregulasies uitgevaardig wat base die reg gegee het om passe uit te reik. As 'n arbeider 'n plaas sonder 'n pas verlaat, sou 'n kommando uitgaan en hom vang. 

Die inboekstelsel is ook van die Wes-Kaap ingevoer. Dit het hier posgevat op plase waar slawemans en Khoi-Khoi-vroue saamgeleef het. Die inboekstelsel is geregverdig met dieselfde paternalistiese ideologie as slawerny. Die uitgangspunt was dat as teenprestasie vir die huisvesting en kos wat die kinders geniet, hulle hul meesters as ingeboektes moet dien tot hulle mondig word. Die ingeboekte kinders is in die meester se taal en kultuur opgevoed en het kleiner takies verrig. Maar die stelsel het hom tot groot misbruik geleen. Op sommige plase is kinders aangehou tot lank na hulle volwassenheid bereik het. Ouers wat wou wegtrek, is verhinder omdat hul kinders nog ingeboek was. 

Die Khoi-Khois aan die oosgrens kon in werklikheid slegs tevrede gehou word as hulle van die boer genoeg grond en vee gekry het om hul veekudde uit te brei. Graaff-Reinet se opgaaf of sensus van 1798 bevat 'n lys van tussen 1,300 en 1,400 Khoi-Khois in die distrik. Hulle het 140 perde, 7,571 beeste en 30,557 skape gehad, 'n gemiddelde van vyf beeste en 23 skape vir Khoi-Khois wat deur hul base opgegee is. Namate grond skaars geword het, het die verhouding tussen burgers en Khoi-Khois verswak. Baie base het hul kliënte beveel om hul kuddes te verklein, en daardeur het al hoe meer wrywing ontstaan.

Van hierdie Khoi-Khois is nou ook deur geweld verplig om op die plaas aan te bly. Daar is aanduidings dat in die laaste twee dekades van die eeu tonele van groot wreedheid op sommige plase afgespeel het. Honoratus Maynier, sekretaris van die Graaff-Reinetse distrik van 1789 af en landdros van 1792 tot 1795, het die Khoi-Khois aangeraai om klagte in te dien teen base wat hulle mishandel. Die verslae wat van die drosdy opgestuur is, bevat prima facie getuienis van kwaai strawwe en van sommige boere se weiering om hul werkers te laat gaan. 

Toenemend is berig dat die Khoi-Khois skuiling by die Xhosas gaan soek en gewere en perde saamvat. Hulle het vee weggevoer of doodgemaak, gesaaides afgebrand en in 'n paar gevalle huise aan die brand gesteek. 

'n Komplekse verhouding met die Xhosas

Die Xhosas het die sterkste teenstand gebied teen die ooswaartse trek van die burgers, wat vroeg in die sewentigerjare van die agtiende eeu die Sondagsrivier oorgesteek en in die rigting van die Visrivier beweeg het. Na skatting het omtrent 6,000 Xhosas ini die oostelike en suidoostelike wyke van die Graaff-Reinetse distrik, wat in 1786 geproklameer is, gewoon. Daarteenoor was die burgers min. In die 1798-sensus van die distrik is slegs 4,262 "Christene" aangeteken. Daar was minder as duisend volwasse manlike burgers in die hele distrik, want ongeveer so groot was soos vandag se Portugal.

In twee gebiede was die interaksie tussen die burgers en die Xhosas hewig. Die een was die Suurveld tussen die Benede-Visrivier en die Boesmansrivier; die ander die Bosberg-Bruintjieshoogte-gebied wes van die Bo-Visrivier (naby die huidige dorp Somerset-Oos). In 1778 het goewerneur Joachim van Plettenberg geprobeer om skeiding tussen wit en swart te bewerkstellig. Hy het met kapteins van die Gwali-stam ooreengekom dat die Bo-Visrivier en die Boesmansrivier as grens sou dien en dat hulle oorkant dié grens sou bly. Twee jaar later het die Politieke Raad die Visrivier geproklameer as die grens. 

Maar hierdie grensreëling was min werd. Die Gwali-kapteins met wie Van Plettenberg 'n ooreekoms gesluit het, was slegs mindere kapteins wat nie namens al die Xhosas kon onderhandel nie. Selfs die opperhoof sou nie so 'n verdrag kon sluit nie. Die Xhosas wes van die Visrivier wou nie terugkeer nie en die opperhoof kon hulle nie dwing nie. 

Tussen die Xhosas en die burgers was daar bande wat sowel gebind as geskaaf het. In die vroeë stadia van die Suurveld het die Xhosas en burgers deurmekaar gewoon en aanvanklik was daar vrede. In later jare het 'n Xhosa opgemerk: "Toe ons vaders en die vaders van die amabulu (boere) vir die eerste keer in die Suurveld gekom het, het hulle in vrede saamgewoon. Hul vee het dieselfde heuwels bewei en hul veewagters het uit dieselfde pype gerook." Hierdie bron het die konflikte wat sedertdien uitgebreek het, toegeskryf aan boere wat vee gebuit het, maar klaarblyklik sou die spanning al hoe groter raak namate die gebied digter bewoon geraak het. 'n Tekort aan weiveld sou onvermydelike botsings meebring.

Die handel tussen die twee gemeenskappe het ook gebind én geskaaf. Die grensboere wou graag met die Xhosas handel dryf, want hulle kon vee aanvanklik goedkoop kry in ruil vir tabak, koper, yster of krale. Daar was boere wat die Xhosas bedrieg het. Kolonel Colins het in 1890 geskryf die Xhosas "gave their cattle and labour without knowing its value, but a little experience having opened their eyes on these points, altercations between them and the farmers were the necessary consequence. These contentions grew into enmities."

Baie Xhosas het op die plase begin werk vir kos, krale, knope, armbande of 'n kalf of twee. Party burgers het hulle Xhosa-werkers geslaan of verneder soos hulle vroeër met die Khoi-Khois gemaak het. Maar die Xhosa-werker kon kom tot sy kaptein wend om hom te wreek. 'n Ou gekleurde man aan die grens het eenkeer opgemerk: "The Caffres, when not regularly paid or flogged, informed their chief who came and stole cattle from the farmers by way of repaying themselves for the injuries they had sustained." Die boere het algaande bekommerd begin raak oor die baie Xhosas in hulle omgewing, veral dié wat in 'n kraal gewoon en daarvandaan in groepies uitgegaan en in die distrik rondgeswerf het. Dikwels het hulle by plaashuise presente gebedel. Daar was baie boere wat gretig was om hierdie Xhosas oor die Virsrivier te dryf. Adriaan van Jaarsveld het by een geleentheid die mening uitgespreek dat 'n kommando van 60 mans genoeg sou wees om al die Xhosas behalwe dié wat op plase gewerk het, uit die kolonie te dryf. Maar dit was 'n fatale fout. Die Xhosas se getalle en die digte Suurveldboswêreld het die militêre voordeel geneutraliseer wat die burgers se perde en gewere gebied het.

Die eerste vyandelikhede

Vroeg in die 1770's het drie Prinsloo-families op grond by Bospberg naby die huidige dorp Somerset-Oos begin boer. Onder die ander families in die gebied was daar ook die Klopperse, Nels en Labuschagnes. Hulle het gou onwettig vee by die Xhosas geruil. Hulle was omtrent almal moeilike mense wat in die volgende paar dekades dikwels met die owerhede oorhoops gelê het.

Die uitbreek van wat later bestempel is as die Eerste Grensoorlog (1779-1781) Is as volg deur O.G. de Wet, landdros van Stellenbosch, beskryf: "Onder die voorwendsel dat die swartes 'n skaap van hom gesteel het, het Willem Prinsloo een van hulle doodgeskiet. Hierna het die swartes uitgetrek en die boere aangeval. Dit het gelei tot 'n slagting van die swartes, terwyl sommige van die burgers ook geruineer is." Die dokumente meld nie hoeveel Xhosas gesneuwel het nie. Dit is wel bekend dat hulle verskeie plase aangeval en ten minste 21,000 beeste weggevoer het. Willem Prinsloo se huis is afgebrand en hy het sy hele veestapel verloor.

Die regering het 'n kommando onder bevel van Adriaan van Jaarsveld opgeroep. Die kommando het op ongeveer 5,000 stuks vee beslag gelê en het verskeie kapteins en hul mense oor die grens gedryf wat die regering geproklameer het. Van Jaarsveld was ook skuldig aan 'n menseslagting. Terwyl hy met 'n Xhosa-stam onderhandel het, het hy stukkies tabak na hulle gegooi. Terwyl hulle skarrel om die tabak op te tel, het hy sy manne bevel om hulle te skiet. Die herinnering aan hierdie slagting is baie generasies lank onder die Xhosas lewendig gehou. Hulle het aan Van Jaarsveld die bynaam "Rooi Kaptein" gegee.

Van Jaarsveld se kommando het 'n brose vrede met verskeie Xhosa-kapteins gesluit. Die burgers het in werklikheid nie die mag gehad om die Xhosas permanent uit die kolonie te verdryf nie. IN 1786 het Moritz Hermann Otto Woeke die eerste landdros van die nuwe distrik Graaff-Reinet geword. Hy het gou besef dat hy nie reg en orde kon handhaaf met slegs drie of vier man wat as boodskappers en polisie onder hom gedien het nie. In wanhoop het hy geskryf dat as hy nie deur 50 tot 60 soldate bygestaan word nie die "verotting" sou voortduur en "dat elkeen sou maak nes hy wil."

In 1792 het Woeke aan Kaaptad gerapporteer dat die toestand versleg: "Op party plase begin die Xhosas in groot roepe versamel met wapens in hul hande. Hulle stel allerhande eise oor alles wat hulle wil he. Dit is baie moeilik om hulle dit te weier. En hulle wend hulle tot geweld op plase waar die burgers nie tuis is nie. Hulle vat wat hulle wil en neem die wet in eie hande wat betref die plaas, die huis en goedere." 'n Boer in die omgewing het uitgeroep: "Dit is swaar om op ons eie plase deur heidene onderdruk te word."

Die stryd teen die grensboere en die Xhosas wat in die Suurveld gewoon het, was maar net een van die konflikte in die bree strook tussen die Boesmans- en Keirivier. 'n Ander konflik het gespruit uit 'n skeuring in die stam van die Xhosa-opperhoof kort voor die trekboere in die 1770's in die gebied opgedaag het.  Een van die faksies, die Gcaleka, het oos van die Keiskamma gebly, terwyl die Rharhabe-kaptein  en sy mense verder weswaarts gevestig het in die gebied tussen die Keiskamma- en die Visrivier. 

Hierdie konflikte het op mekaar begin inwerk en die grensgebied se stabiliteit verder versteur. Die Rharhabe-kaptein het die Suurveld-Xhosas as afvallige onderdane beskou wat teen hom gerebelleer het, maar hierdie Xhosas het lojaliteit aan die Gcaleka-kaptein gesweer. Toe Rharhabe in die vroee 80's sterf, het die regent, Ndlambe, ook geprobeer om hierdie Xhoasas oor die Visrivier te laat terugtrek, maar tevergeefs. Ndlambe en die grensboere het albei 'n belang daarby gehad om die Suurveld-Xhosas ooswaarts te verdryf.

In 1792 het Barend Lindeque, 'n veldkornet in die Suurveld, sonder die landdros se magtiging gereed gemaak om die Xhosas-stamme in die Suurveld oor die Visriver te dryf. Alleen was Lindeque en sy manne nie daartoe in staat nie, en daar is sterk aanduidings dat hy 'n bondgenootskap met Ndlambe gesluit het. Op die kritieke punt het die hulp van Ndlambe nie opgedaag nie, en het sake vir Lindeque se kommando erg skeef geloop. Daarop het die Suurveld-Xhosas saam met die Khoi-Khoi bondgenote 'n teenaanval geloods. Volgens die gewoonlik oordrewe skattings van die grensboere het die Xhosa-Khoi-Khoi-mag  meer as 50,000 beeste, 11,000 skape en 2,000 perde geroof. Hulle het al die plaashuise in die Suurveld afgebrand met die uitsondering van vier. 

Die burgers het n aller yl van hul plase in die Suurveld gevlug en baie het in laers saamgetrek. Die laer was saam met die kommando 'n noodsaaklike oorlewingstegniek. Dit was 'n millitere vesting waar vyftig of meer swaar waens in 'n kring getrek is, met doringboomtakke tussen die wawiele ingesteek. In die middel was daar vier waens in 'n vierkant waaroor planke en diervelle gegooi is as skuiling vir vroue, bejaardes en kinders. 

In 1793 het 'n kommando van Graaff-Reinet en Swellendam se burgers teruggeslaan, ongeveer 8,000 beeste gebuit en 'n aansienlike aantal Xhosas gedwing om oor die Visrivier terug te val. Maar 'n groot aantal koloniale beeste  het in Xhosa besit gebly en baie Xhosas het in die Suurveld aangebly. Baie boere in die suidoostelike wyke was nou gegrief oor die groot verliese wat hulle gely het en omdat hulle nie al hul vee teruggekry het nie. Die fokus van hul ontevredenheid was Honoratus Maynier, wat een van die bevelvoerders van die 1793-kommando was. Maynier, wat Woeke as landdros opgevolg het, het grootgeword in die kringe van die mees senior Kompanjiesdienaars. Hy kon vlot Hollands, Frans en Engels praat en was besonder goed opgevoed. Hy het egter geen militere ervaring gehad nie en van die begin af het party burgers geweier om onder hom in 'n kommando te dien. 

In die geskiedskrywing word hy dikwels uitgebeeld as 'n negrofiel en dit is inderdaad waar dat hy veel meer as ander lanndroste die Khoi-Khois aangemoedig het om klagtes in te dien teen burgers wat hulle verontreg het. Maar dit is sinvoller om Maynier te sien as 'n tipiese Kompanjiesdienaar wie se grootste prioriteit was om geld vir die Kompanjie te bespaar en wat derhalwe oorlog teen die Xhosas te wou vermy.

Hy was egter glad nie die geskikste man om nuwe grensboere te beheer soos Andries Stockenstrom later so voortreflik sou doen nie. Hy het gou oorhoops gele met sommige van die vermaamste burgers in die distrik. Terwyl die Kompanjie se gesag aan die verkrummel was, het hy ongenaakbaar daarop aangedring dat die boere op plase moet aanbly, alhoewel daar 'n wesentlike vrees vir Xhosa-aanvalle was.

In Februarie 1795 het 'n groep gewapende bugers by die drosdy van Graaff-Reinet opgedaag en Maynier opdrag gegee om die dorpie te verlaat. Hulle het beweer dat hulle namens die "volkstem" optree. Hierdie sogenaamde "volksverteenwoordigers" het  nou saam met sekere heemrade en krygsoffisiere die distrik oorgeneem. Hulle het die driekleur van die Franse rewolusie vertoon en die vorm van plaaslike regering wat hulle ingevoer het 'n "nasionale konvensie" genoem. Hulle het ook geweier om verder belasting aan die Kompanjie  te betaal of sy wette te gehoorsaam. Die rebelle was hoofsaaklik mense van die suidoostelike distrikte wat gretig was om grond en vee te herwin wat die Xhosas van hulle afgeneem het.

In Junie 1795 het 'n groep burgers ook die Swellendamse distrik oorgeneem. Hulle het hulle die "nasionales" genoem en landdros A.A.Faure, wat saam met Maynier die onsuksesvolle 1793-kommando gelei het, afgesit. Hulle het nou hulle eie "nasionale landdros" en nuwe gesagsliggaam, ook genoem die "nasionale konvensie", gestig. Hule het teen die belastings geprotesteer en gevra dat dit moontlik moet wees om Khoi-Khoi-kinders op plase in te boek. Hulle het selfs die eis gestel om Boesman gevangenes as hul eiendom aan te hou, wat beteken het dat hulle die Boesmans wou koop en verkoop soos slawe. Hierdie Swellendamse rebellie het egter gou verkummel.

Die konstitusionele idees van die rebelle was duister. Hulle het nie republieke uitgeroep soos wat dikwels aangeneem word nie, maar het eerder die begeerte uitgespreek om direk onder die nuwe republiek in Nederland te val. Maar hulle was afgesny van Nederland. Niemand kon dink aan 'n manier waarop hulle met die republikeinse regering in Den Haag in verbinding kon bly nie. Al hulle planne is in die war gestuur toe die Britte in September 1795 die Kaap beset. Die rebelle het slegs n soort skynmag gehad. Na die opstand vroeer in 1795 het die Kaapse regering die verskaffing van ammunisie aan Graaff-Reinet gestaak. Dit het hulle weerloos gelaat teen aanvalle van die Xhosas.

Die vroeere Afrikaanse historici het gesukkel om die betekenis van die opstand aan die oosgrens te ontleed. Sommige het dit beskou as die eerste uitings van republikanisme en selfs Afrikanernasionalisme. Dit kan wel beskou word as 'n uiting van individualisme en die verwerping van arbitrere gesag wat tipies is van pioniers in 'n grensgebied wat die regering nie behoorlik beheer nie. Dit kan egter ook beskou word as 'n teken van die ineenstorting van die Kompanjie se gesag en die opkoms van anargistiese neigings, wat die kolonie se beheer oor die grensgebied ernstig ondermyn het.

Die Kompanjie se val

Teen die einde van die agtiende eeu het die suksesvolste boere hul lewensomstandighede begin verbeter. Die welvarende Graaff-Reinetse burgers het die volgende begin aanskaf: spieëls, gordyne, tafeldoeke, porseleinware, koperkandelare en selfs hemelbeddens. Toenemend het 'n verdeling in rykdom in die grensdistrikte sigbaar geraak. Die lewe het die boere op die onderste spore van die leer begin druk namate grond en arbeiders al hoe skaarser geword het. 

Die Kompanjie self was besig om noemloos in duie te sort. In 1792 het kommissarisse Nederburgh en Frykenius aan die burgers verlof gegee om met hul eie skepe produkte uit te voer en aan die slawehandel deel te neem. Maar die toegewings was te min en te laat. Die Kompanjie se gesag is oral bevraagteken. Die twee kommissarisse het gepraat van die "verwarring en opstandigheid teenoor alle gesag sonder onderskeid", en J.F.Kirsten, 'n vooraanstaande Wes-Kaapse burger, het opgemerk dat "almal hier wil beveel en niemand wil gehoorsaam nie."

Die Franse revolusie wat in 1789 uitgebreek het, het groot onsekerhede ook in Nederland oor die oorlewing van die sosiopolitieke stelsel laat ontstaan. In Januarie 1795 het Franse magte die land binnegeval en die Oranjeparty verslaan. Die Nederlandse revolusionêre het die Bataafse Republiek uitgeroep. Op 31 Januarie het die "Professionele Representante van die volk van Holland" mense- en burgerregte geproklameer. Hulle het al die rade, korporasies en kolleges van die ou konstitusie omvergewerp en saam daarmee baie van die voorregte van die adel.

Die Prins van Oranje het net na die Franse inval na Engeland gevlug, waar hy die Britse regering gevra het om 'n gewapende mag na die Kaap en alle ander Hollandse besettings oorsee te stuur. Brittanje was gretig om aan die versoek te voldoen en het in Septemer 1795 die Kaap beset. Die Britse mag onder generaal James Craig het 'n diep verdeelde wit gemeenskap aangetref. Aan die een kant was daar die vernaamste Kompanjiesamptenare, wat almal Oranjemanne, antirevolusionêr en pro-Brits was. Daarteenoor was die burgers sterk pro-Frans, prorevolusie en anti-Brits. Craig het kort na die besetting geskryf: "It is certain that the great body of the peole are at the moment infected with the rankest poison of Jacobinism."

Vir die Britte, as die verteenwoordigers van die wêreld se magtigste ryk, was dit maklik om die hoe amptenare en verskeie welgestelde burgers in en om Kaapstad na hul kant oor te haal. In die aangesig van 'n sterk Britse mag en besliste bevelvoerders het Wes-Kaapse mense met revolusionêre gedagtes besluit om hul verset te laat vaar. 

Die posisie van die opstandiges aan die oosgrens het gou onhoudbaar geraak. Hulle was oorwegend afkomstig van die suidoostelike wyke, wat in stryd met die Xhosas verkeer het. Hul posisie het verswak namate die regering se ammunisieverbod begin byt het. Die burgers aan die nooroosgrens, wat in 'n hewige stryd met die Boesmans gewikkel het die opstand nie gesteun nie. Vroeg in 1797 het die rebelle die landdros aanvaar wat die regering uitgestuur het. 

Oorweldig deur sy skuld en verlam deur die kwynende mag van Nederland het die Kompanjie vinnig gesink. In 1798 het die Kompanjie finaal ondergegaan en sy besittings is aan die nuwe Bataafse Republiek se Raad vir Asiatiese Besittings oorgedra. Die wêreld van die Kompanjie, die magtigste multinasionale maatskappy van sy tyd wat die wêreldhandel oorheers het, was verby. Die Kompanjie het nooit uit die Kaap 'n wins gemaak nie en dit het iets geword wat die Kompanjie nooit beoog het nie, naamlik 'n vestigingskolonie met 'n veel meer komplekse samelewing as wat die Kompanjie ooit voor voorsien het.

En tog het die Kaap nie aan die Kompanjie se invloed ontsnap nie. Die Kompanjie het die samelewing gekompartementaliseer en mense sou nie gou uit die hokkies van statusgroepe kom nie. Alhoewel huwelike met vrygestelde slavinne in die eerste 75 jaar algemeen was, is nasate steeds aan hul slaweafkoms herinner. Tydens die Bataafse bewind  (1803-1806) het burgers teen die aanstelling van H.A. Vermaak as lid van die gemeenteraad beswaar gemaak, omdat dit dan moeilik sou wees "om het geslagt der heidenen te hebben to hunne Burgervaders, want dat die Zwart Vermaak tot Raad der Gemeente is aangesteld, wiens Moeder nog slavin was geweest". (Een van Vermaak se oumas was 'n slavin) In die 1830's is dieselfde soort beswaar teen Andries Stockenstrom ingebring. 

Die nuwe gesagvoerders het gou gemerk dat die burgers 'n obsessie het oor wat hulle gelykstelling genoem het. Waarskynlik het die behepteheid met gelykstelling sy oorsprong in die Kompanjie se Oosterse besittings gehad, waar 'n proses bestaan het waardeur iemand van nie-Europese afkoms om burgerstatus aansoek kon doen. Die nasate van die Kaapse burgers sou protesteer teen elke stap of daad wat hulle simbolies in dieselfde posisie as hul onderhoriges plaas.

Met die Britse bewindsoorname in 1795 het die burgerstatus verval, maar die koloniste van Hollandse, Duitse en Franse afkoms het voortgegaaan om hulle self as mense met spesiale pligte en voorregte te beskou. Die kern van hul opvatting van hul status was hul deelname aan kommando's, waar hulle onder hul eie offisiere geveg het. Toe die regering in die middel-1830's beplan om boere vir militêre diens op te roep, het die boere sterk geprotesteer omdat hulle, soos hulle gese het, nie as "iets anders as vryburgers" beskou word nie. Na ordonnansie 50 van 1828 was die burgers en die Khoi-Khois op gelyke voet voor die gereg, maar omdat die Khoi-Khois nou min op kommando uitgegaan het en nie baie belasting betaal het nie, het die koloniste na hulle as knapsakburgers verwys. 

In 1891 nog het die regering in amptelike dokumente van burgers gepraat wanneer hulle die Hollands- of Afrikaanssprekende wit onderdane bedoel het. 'n Kommissie van ondersoek het byvoorbeeld in hierdie jaar die regering se onderwysbeleid beskryf as een wat "die burgers Engels sou leer". Daar kan betoog word dat die aprtheidsbeleid van die twintigste eeu sy diepste wortels in die Kompanjiestyd gehad het, met 'n geprivilegieerde burgerstatus as die kern van die bestel.

Hermann Gililomee

Die Afrikaner: 'n Biografie

Tafelberg Uitgewers

ISBN 978-0-624-04181-8