# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die vuurproef aan die oosgrens

'n Rampspoedige grensopstand

"Mijn heer, ik vrees dat dit een roering onder de menschen zal geeven." Dit was die woorde van Adriaan van Jaarsveld, weerbarstige Graaff-Reinetse burgerleier en genadelose krygsman, toe hy op 17 January 1799 op aanklag van geldbedrog in hegtenis geneem word. Die toestand in die grensgebied was hoogs plofbaar. Van Jaarsveld was een van die mense at in 1795 die opstand teen landdros Honoratus Maynier aangeblaas het. Hy het meer steun geniet in Sneeuberg en die ander noordelike wyke van die distrik, waar die stryd teen die Boesmans was, as in die suidoostelike en oostelike wyke, waar die boere en die Xhosas in 'n stryd gewikkel was.

Met hul hande vol om hul plase te verdedig, het die Sneeubergers afsydig gestaan van 'n moontlike nuwe opstand. Daar was net 'n buitekans dat hulle deur Van Jaarsveld tot optrede aangespoor sou word. Die kerngroep van rebelle het uit Bruintjieshoogte en die Suurveld gekom en het onder leiding van Marthinus Prinsloo gestaan. Hulle het hulle in Januarie 1797 aan die Britse gesag onderwerp, maar hul griewe was groter as ooit. Die toestand in die Suurveld was so onseker dat teen 1799 twee derdes van die 148 families wat in die vroeë jare negentig plase hier gehad het, nog nie teruggekeer het nie. Op plase waar daar wel boerefamilies was, het Xhosa-mans dikwels opgedaag op wat hulle "besoeke" genoem het en presente gevra. Heinrich Lichtenstein, 'n Duitse reisiger, het geskryf dat "hierdie barbare" uiters lastige bure is, want "in peace they expect as a sort of tribute what in war they seize by force."

Vir Prinsloo en sy volgelinge was die tyd ryp vir 'n opstand as die eerste fase van 'n plan om die Xhosas uit die distrik te verdryf en terselfdertyd Xhosa-vee te buit of vee wat aan die burgers behoort het, terug te vat. Hulle het geweet dat Van Jaarsveld gevaar loop om tronk toe te gaan. Hulle het gehoop op steun uit Swellendam, waar die varbanning van Petrus Delport, 'n leier in die opstand van 1795, mense ontstel het. In hul oë was hul troefkaart die Burger Coenraad de Buys, wat die moeder van Ngqika, die jong Xhosa-opperhoof, tot vrou gevat het en met Ngqika 'n spesiale verstandhouding gehad het. Die rebelle het geglo dat burgers wat traag was om aan die opstand deel te neem die skrik op die lyf gejaag sou word deur hul dreigement dat Buys aan die hoof van 'n bende Xhosas hulle wreed sou straf.

Ngqika het, soos die grensboere, in vyandskap verkeer met die Xhoas wes van die Visrivier, wat sy bevel verontagsaam het om ooswaarts oor die Visrivier terug te trek. Veral omdat hy van 'n vroeë stadium onder sy onderdane ongewild was weens sy gierigheid en hardvogtigheid, het Ngqika meer as ander Xhosa-kapteins steun onder die grensboere probeer kry. Om bondgenote te werf, sou hy bereid wees om grond tussen die Vis- en die Koonaprivier uit te gee. Prinsloo en sy volgelinge het lank reeds die oog hierop gehad. Daar was boere wat bereid was om onder die gesag van 'n swart opperhoof te woon as hulle daardeur goeie grond in die hande kon kry.

Toe die nuus Kaapstad teen die middel van Februarie 1799 bereik dat Prinsloo en 40 man Van Jaarsveld bevry het terwyl hy onder bewaking na Kaapstad onderweg was, het die Britse bewind besluit om finaal die wetteloosheid en opstandigheid die nek in te slaan. Hiervoor het die regering spesiaal Khoi-Khoi-soldate ingesluit in die militêre mag wat hy onder genl. T.P. Vandeleur na die grens gestuur het met die bevel om die opstand te onderdruk en die Xhosas oor die Visrivier te verdryf. 

Die mag het geen teenstand ondervind in die uitvoering van die eerste deel van sy opdrag nie. Vroeg in April het Prinsloo en ongeveer 150 manskappe by Bruintjieshoogte hul wapens neergelê. Die vernaamste rebelle het later in Kaapstad tereggestaan, waar die Raad van Justisie die doodsvonnis oor Van Jaarsveld en Prinsloo uitgespreek het. Die vonnis is nie voltrek nie, maar Van Jaarsveld het in die tronk gesterf.

Aan die oosgrens het die Britse mag se verskyning saam met die inhegtenisname van belangrike burgers die indruk by sommige Khoi-Khois gewek dat die bordjies verhang is. Hulle het daarin geslaag om hulle as 'n mag te organiseer, en het van plaas tot plaas gegaan en gewere en klere geëis vir lone wat na bewering nie aan werkers betaal is nie. Daarna het hule by die troepemag aangesluit. Die leier, Klaas Stuurman, het aan Vandeleur vertel hoe erg Khoi-Khois onder die boere gely het en hom gevra om hulle onafhanklikheid te herstel.

Vandeleur het misluk in sy poging om die Xhosas in die Suurveld oor die Visrivier te verdryf. Hy was nie van plan om iets vir die Khoi-Khois by hom te doen nie. Toe hulle dit besef, het 'n groot aantal Xhosas in die Suurveld aangesluit. Baie was goed gewapen en het perde gehad. Saam met Xhosa-vegters te voet het hulle 'n gedugte kombinasie gevorm. Die "roering" waarteen Van Jaarsveld met sy inhegtenisname gewaarsku het, was besig om 'n totaal ander vorm aan te neem as wat hy bedoel het. 

Teen die einde van April 1799 het die Xhosa-Khoi-Khoi-mag met aanvalle op die plase begin. Baie burgers was sonder ammunisie en het geen ander opsie gehad as om voor die voet te vlug nie. Die invallers het plase geplunder en vee weggevoer. Boere in feitlik die hele suidoostelike deel van die kolonie het hul plase ontruim. Generaal Francis Dundas, waarnemende goeweneur, het inderhaas saam met oudlanddros Maynier na die grens gegaan en gewaarsku dat burgers wat nie na hulle plase terugkeer nie alles sou verloor. Maynier is aangestel as resident-kommissaris in Graaff-Reinet met 'n klein troepemag van 22 Britse soldate, 19 Khoi-Khoi troepe en 80 ander gewapende Khoi-Khois; die mag het ook vier kanonne tot sy beskikking gehad. Dit was onverstandig om Maynier aan te stel, want die toestand was hoogs plofbaar en baie boere het hom nie vertrou nie.

Die troepemag was nie voldoende om voornemende rebelle af te skrik nie, maar genoeg om aanleiding te gee tot gerugte dat Maynier bose planne teen hulle beraam. 

Hierdie mag het agterdog by die burgers gewek, maar 'n tyd lank het die vrede gehou. Maynier het dit reggekry om die meeste Khoi-Khois wat saam met die Xhosas geveg het, oor te haal om na die plase terug te keer. Hy het beloof dat hy sou toesien dat werkskontrakte gesluit word wat hulle beter teen slegte base sou beskerm. Hy het onmiddelik opgetree wanneer hy gehoor het dat 'n werker mishandel is. Om die boere se vrese te besweer, het hy patrollies van jong burgers, later aangevul deur gewapende Khoi-Khois, uitgestuur om die spoor van gesteelde vee te volg. Hy het egter geweier om 'n groot kommando uit te roep om die Xhosas oor die Visrivier te druk en gesteelde vee terug te vat. 

Die verbreking van die brose vrede het gevolg op die aankoms op Graaff-Reinet vroeg in 1801 van eerwaarde Johannes van der Kemp, 'n Hollandse sendeling wat deur die Londense Sendinggenootskap (LSG) uitgestuur is. Van der Kemp was 'n charismatiese mens, belese en vol ywer. Sy vader was 'n predikant en sy broer 'n professor in die teologie. Hy het self 'n doktorsgraad behaal en het onder meer in filosofie, teologie, medisyne en militêre strategie gestudeer. Die groot katarsis in sy lewe was 'n persoonlike tragedie: sy vrou en enigste kind het tydens 'n gesinsuitstappie voor sy oë verdrink. 

Van der Kemp was 'n onverskrokke afskaffer - hy wou slawerny summier afskaf (Maynier het hom daarop gewys dat dit onprakties sou wees) en alle diskriminasie teen die inboorlinge beëindig. Hy het min geduld gehad met die gedagte dat hy met oorreding vooroordele moes afbreek en die boere vir die saak van die sending moes wen. Ds. M.C. Vos, 'n Kaapsgebore predikant, het die aanvanklike teenstand van die wit lidmate in die gemeente Roodezand (Tulbach) teen die kerstening van slawe so oorkom.

Toe ds. Vos Graaff-Reinet  in 1801 in opdrag van die gowerneur besoek, het hy 'n totaal ander prentjie as dié van Van der Kemp geskilder. Hy skryf van mense wat deur "moordsugtige heidene" van hul plase verdryf is, van hul vee en goed beroof is, van vroue en kinders wat nou in die veld moet woon terwyl hul mans op kommando is en van mense wat byna van "armoede en ongemak" vergaan. Hy skryf dat hy met "die grote Van der Kemp in sommige opsigte" nie eens kan word nie.

Op Graaff-Reinet het Van der Kemp by James Read, 'n ander LSG-sendeling, aangesluit. Ongeveer duisend Khoi-Khois het nou na die dorpie Graaff-Reinet gestroom en daar by die twee sendelinge skuiling gesoek teen base wat wou wraak neem. Van der Kemp het onmiddellik 'n geesgenoot gevind in Maynier, wat hy in 'n Engelse brief as "this gentle man" beskryf het. Maynier het aan Van der Kemp en Read verlof gegee om die koloniste se kerk te gebruik vir godsdiensoefeninge vir hul volgelinge. Die Khoi-Khois het ook die dienste op Sondae begin bywoon in die kerk wat die boere help bou het. 

Die burgers aan die grens was woedend. Sommige was ontstoke dat mense wat van diefstal en moord verdink word in die kerk aanbid. Ander was ontsteld oor die daad van gelykstelling op 'n tydstip toe daar geen predikant of onderwyser vir die burgers op Graaff-Reinet was nie. Van der Kemp het geskryf dat die burgers gegrief is omdat die Khoi-Khois "deur ons onderrig word in lees, skryf en in die godsdiens en sodoende op 'n gelyke voet met die Christene geplaas word." Van der Kemp het nooit verwys na die chaos in die distrik wat gevolg het op die Van Jaarsveld-opstand en die ingryping van Vandeleur se troepemag nie. Die burgers het daarop aangedring dat die Khoi-Khois toegang tot die kerk geweier word en dat "die sitplekke gewas, die paadjie opgebreek en die preekstoel met swart kleed bedek moet word as 'n roubetuiging." Maar Van der Kemp het hom nie van stryk laat bring nie. Sy standpunt was dat die Khoi-Khois "volkome vry moet wees, op 'n gelyke voet in elke opsig met die koloniste en onder geen dwang moet wees om by hulle in diens te tree nie, en dat die regering aan hulle 'n eie stuk grond moet gee."

Soms het Van der Kemp wel besef dat die verhouding so gepolariseer is dat politieke wysheid aan die dag gelê moet word. Hy het dit gedoen toe Klaas Stuurman, die vernaamste Khoi-Khoi-kaptein wat aan die rooftogte deelgeneem het, hom gevra het om onder sy mense te kom werk waar hulle in die bosse skuil. Van der Kemp het na hom as die "terror" van die land verwys en iemand wat meer moorde as enigiemand anders op aarde gepleeg het. Hy het dus die versoek geweier. Terselfdertyd het hy egter gemeld dat die Khoi-Khois onder soveel ontbering en onreg gebuk gaan dat dit nie verbasend is dat hulle tot sulke uiterste dade gedryf word nie; die nood van die Khoi-Khois is dringender as die burgers se vrese.

Die grensboere was wel nie juis geletterd nie, maar hulle was nie mense wat jy sonder handskoen aanpak nie. F.R. Bresler, wat Maynier in 1795 as landdros opgevolg het en ook verjaag is, het na hulle verwys as "proud and overbearing men." 'n Groot aantal boere in die suidoostelike wyke het die gerug gelo dat Maynier beplan om sy vyande met 'n koalisie van Xhosa- en Khoi-Khoi vegters aan te val. Hulle het van hulle plase in die suidoostelike deel gevlug en in die noordoostelike deel van die distrik in laers saamgetrek. In Junie 1801 het 'n afvaardiging op Graaff-Reinet  opgedaag en geëis dat toestemming gegee word om die Xhosas aan te val, dat arbeidsgeskille deur die veldkornette besleg word en dat die Khoi-Khois uit die kerk gehou moet word. Maynier het net op die laasgenoemde punt toegegee. Die rebelle het later geëis dat die Khoi-Khois aan hulle oorgelewer word, maar Maynier was vasbeslote om hulle tot sy laaste druppel bloed te verdedig, aldus Van der Kemp. In een stadium het die rebelle en die mense op die dorp op mekaar geskiet, maar die geveg was onbeslis en daarna het die rebelle die dorpie beleër. 

Laat in 1801 het Britse troepe uit Kaapstad opgedaag en die beleg beëindig. Kort daarna het die regering aan Van der Kemp en Read opdrag gegee om Graaff-Reinet te verlaat en 'n sendingstasie by Bethelsdorp naby Algoabaai te vestig. Hier het die twee sendelinge openlik die noodsaak verkondig om die Khoi-Khois op alle vlakke op gelyke voet met die koloniste te plaas. Albei het met Khoi-Khoi-vroue getrou.

Te midde van groot onbestendigheid het die burgers ontsaglike verliese gely. Klein groepies Khoi-Khois en Xhosas het rondgeswerf, vee wat daar nog op die verlate plase was, weggevoer en opstalle afgebrand. Verskeie boerekommando's het in 1802 uitgetrek, maar hulle het weens die gebrek aan dissipline en mannekrag nie veel uitgerig nie. Toe Tjaart van der Walt, die enigste effektiewe leier, sneuwel, het Khoi-Khois van die heuwels af geroep: "Kyk, daar lê julle mag. Op wie sal julle nou vertou? Vlug maar met die vee. Ons sal dit gou weer afvat." Die burgers het onder mekaar begin stry - "every one wishing to direct but no one to obey", soos 'n Britse offisier dit raak uitgedruk het. Verskeie boere is op hul plaas deur stropers om die lewe gebring. Selfs in die Swartberg, die mees westelike wyk van Graaff-Reinet, het groepies Xhosas rondgeswerf en vee gebuit. Die vrou van veldkornet S.de Beer, wat op kommando weg was, het van die huis aan hom geskryf: "Ek rus geen enkele uur in die nag nie. Die vyand is op ons hakke." Teen 1802, aan die einde van die eerste Britse bewind, was 470 plase geplunder en verlaat - omtrent die helfte van al die plase wat in die distrikte Graaff-Reinet en Swellendam geregistreer was. Volgens een bron het die syfers, nadat twee derdes van die Graaff-Reinetse burgers hul verkliese verklaar het, op die volgende te staan gekom: 858 perde, 4,475 osse, 35,474 beeste, 34,023 skape en 2,480 bokke. Dit was die mees traumatiese terugslag wat die burgers in amper 150 jaar beleef het. 

Om die vyand met skrik te vervul

Die Bataafse Republiek (van Nederland), wat tussen 1803 en 1806 die kolonie bestuur het, het ook misnoeë uitgespreek oor die wyse waarop sommige grensburgers hul bediendes behandel. Maar die plase het arbeiders nodig gehad en net soos die Britte het die Bataafse bewind geen alternatief daarvoor gesien dat die Khoi-Khois na die plase terugkeer nie. Hulle het aan 'n paar kapteins grond gegee en dit het die Khoi-Khoi-verset laat disintegreer. Die regering het ook twee nuwe distrikte, Tulbagh in die Weste en Uitenhage in die ooste, gestig, en 'n militêre pos, genaamd Fort Frederick, in Algoabaai opgerig.

In 1806 het die Britte weer van die Kaap besit geneem.  'n Verslag van 1809 deur kolonel Richard Collins het min twyfel gelaat dat die toestand van die Khoi-Khoi-plaaswerkers onbenydenswaardig was: "A Hottentot can now seldom get away at the expiration of his term. If he should happen to be in debt to his master...he is not allowed to take children, or he is detained under some frivolous pretense, such as that of cattle having died through his neglect, and he is not permitted to satisfy any demands of this nature otherwise than by personal service."

Van 1809 het die sekuriteit aan die grens vinnig versleg. Die burgers was gedisorganiseer en vreesbevange en die Xhosas het met al hoe meer selfvertroue weswaarts beweeg, hier en daar vee gesteel en presente geëis. 'n Britse offisier aan die grens het gewaarsku dat as daar nie versterkings gestuur word nie "the black nation" tot 'n kort afstand van Kaapstad sou vorder. Die regering, wat tot elke prys 'n herhaling van die katastrofe van 1799 - 1902 wou vermy, het die burgers verbied om tot enige vyandelike handeling teenoor die Xhosas oor te gaan. 

Andries, Stockenstrom, 'n Sweed wat by die Kompanjie aangesluit het en nou as landdros van Graaff-Reinet gedien het, het die gebeure met stygende kommer gadegeslaan. Hy het gewaarsku: "We must hold out no threats if we do not intend to execute them, for I consider this the great cause of their boldness, as they fancy us afraid or unable to punish them according to their just deserts."

Hy het al hoe meer begin twyfel dat vreedsme saambestaan van wit en swart in dieselfde grondgebied hoegenaamd moontlik is. "In the Zuurveld...neither peace nor friendship can subsist  between the inhabitants and the Kaffirs while both inhabit the same country...The causes of this are interwoven in the character of the Kaffir, in that of the Colonist and in the nature of the country." Die boere, het hy vervolg, is liggelowig en vreesbevange na hul ontsettende ervarings van die voorafgaande dekade. Die swart mans het baie tyd om rond te loop en te steel of presente te vra. Sommige van die koloniste is hierdeur tot die rand van bankrotskap gedryf. Hulle het die Xhosas probeer dreig, maar dit het min gehelp. "The Kaffirs, long accustomed to this kind of reception, and remarking that these kinds of threats are never carried into execution, treat the farmers with contempt and often exhibit actual violence."

Sir John Cradock, wat in 1811 as goewerneur oorgeneem het, was anders as sy voorganger 'n militêre man. Sonder huiwering het hy besluit om tot kragdadige militêre optrede oor te gaan. In Desember 1811 het 'n mag bestaande uit 440 Britse troepe, 431 Khoi-Khoi-soldate, en 450 burgers onder bevel van kolonel John Graham uitgetrek. 

Gedurende die voorafgaande veertig jaar het die burgers die Xhosas op verskillende maniere bejeën. Oor die algemeen het hulle groot getalle Xhosas wat op hul eie gewoon het as 'n bedreiging beskou. Die voortdurende "kuiery" het 'n groot steen des aanstoots geword. 

Terselfdertyd het etlike duisende Xhosas op plase gewerk. Die boere het ook met die Xhosas handel gedryf en soms met 'n faksie saamgespan om teen ander Xhosas te veg. Vir kol. Graham was die Xhosas egter slegs "horrid savages". Hy het beveel dat Xhosa-stropers agtervolg moet word tot in hul krale, waar elke swart man, selfs kapteins, doodgemaak moet word. Daar moet by die Xhosas "a proper degree of terror and respect" ingeboesem word sodat hulle nie weer oor die Visrivier kom nie. 

In die laaste maande van 1812 het die koloniale mag ongeveer 8,000 Xhosas uit die Suurveld oor die Visrivier verdryf en ook alles wat hulle gesaai het, verwoes. Vir die Xhosas was die verdrywing 'n traumatiese ervaring. Dit was totale oorlog. Vir hulle was dit ondenkbaar dat hulle soveel man kon verloor, dat 'n kaptein, Chungwa, in sy bed deur soldate doodgemaak kon word en dat die stamme so verpletterend verslaan kon word. Die kolonie kon op militêre en ander hulpbronne staatmaak wat veel gedugter was as wat hulle ooit kon dink. 

Die historikus Jeffrey Peires merk op dat die Xhosas in die Suurveld nie alleen uit die kolonie verban is nie, maar ook verwerp is asof hulle nie geskik is om mee saam te leef nie. Vir die eerste keer na veertig jaar se konflik is 'n baie duidelike streep getrek tussen mense van Afrika en mense van Europa. 

Die regering het probeer om die grensgebied te stabiliseer deur 'n linie van forte langs die grens te bou en troepe, veral Khoi-Khoi-soldate, daar te stasioneer. Twee nuwe grensdorpies, Grahamstad en Cradock, is beplan.

In 1813 het die regering die leningsplaasstelsel, wat 'n eeu oud was, afgeskaf. Die nuwe stelsel van ewigdurende erfpag het, anders as met leningsplase, eiendomsreg sentraal gestel. Plase moes behoorlik opgemeet word. Die boere moes die koste hiervan betaal voordat hulle oordrag kon kry. Die bedoeling was dat sekerheid van besit die pryse sou laat styg. Dit sou onbekwame boere uitdruk en hulle verplig om arbeiders te word. In die praktyk het hierdie hervorming misluk. Dit het geneig om plase se oppervlakte kleiner te maak en die huur was nou duurder. Die regering se onvermoë om die grondaktes spoedig beskikbaar te stel, het die onsekerheid van die grensboere verhoog. 

Die opkoms van Andries Stockenstrom

Landdros Anders Strockenstrom was een van die slagoffers van die veldtog van 1811-1812. Hy het gesneuwel terwyl hy ongewapend besig was om 'n groepie Xhosas te oorreed om die gebied te verlaat voordat die oorlog uitbreek. Net op daardie oomblik het 'n boodskap gekom dat vyandelikhede reeds uitgebreek het. Hy en sewe van sy manne is afgemaai.

In 1813 is sy 21-jarige seun, Andries, aangestel as adjunklanddros van Cradock. Anders as omtrent al die goed opgevoede Kaapse amptenare het Andries Stockenstrom homself 'n "Afrikaner" en "Boer" genoem. Hy was 'n eerlike man met 'n vurige, onafhanklike gees wat skynheiligheid nie kon verdra nie. Sy verbintenis tot reg en geregtigheid vir almal, ongeag kleur, was ferm. Terselfdertyd het hy geglo dat die Afrikaners vir die saak van hervorming gewen moes word eerder as dat dit opgedwing moet word.

Hy het geglo dat die meeste grensboere nie teen die beginsel van gelyke geregtigheid vir swart en wit gekant is nie. Die kernprobleem was die gebrekkige regstelsel. Ten spyte van die vestiging van verskeie nuwe distrikte was die meeste plase nog ver van die naaste dorp waar klagtes voor die magistraat kon dien. 

Stockenstrom se eerste vuurproef was wat later genoem is die Slagtersnekrebellie, wat in 1815 uitgebreek het. Die rebelle was oor die algemeen ruwe mense met 'n agtergrond van wetteloosheid. Hulle het op swak grond geboer en min vee besit. Baie van hulle het gekom uit families wat deur die Xhosa-invalle van 1793 en 1799-1802 geruïneer is. Vroeg in die nuwe eeu het sommige oor die Visrivier gevlug om naby Ngqika te gaan woon. 'n Sestienjarige seun wat aan die rebellie deelgeneem het, het gesê: "Ek weet nie wat 'n regering is nie, want ek was nog nooit naby een nie."

Maar die regering het wel al hoe meer sy teenwoordigheid in die verre buitedistrikte laat geld. In 1811 het die eerste Rondgaande Hof sittings in die binnelandse distrikte gehou. Die volgende jaar was daar wat later genoem is die Swart Omgang. Dit het onder meer klagtes aangehoor van mishandeling van Khoi-Khoi-werkers, wat deur Van der Kemp en Read ingedien is.

Vir die opstandiges was die Swart Omgang 'n duidelike bewys daarvan dat die regering die gelykstelling van die Khoi-Khois beoog. Net so onaanvaarbaar was die stasionering van Khoi-Khoi-soldate op die grens. Stockenstrom het later opgemerk dat die mense gesê het dat die "swart nasie voorgetrek is en nie die Christene nie." Nog 'n bron van ontevredenheid was die tekort aan grond. Teen 1815 het net 'n kwart van die manlike burgers in die Graaff-Reinetse distrik grond besit.

Onder die rebelle was daar ook mense uit gevestigde families van die Baviaansrivier en die Tarka-wyk, 'n gebied wat nog wild en onherbergsaam was. Die Prinsloos en die Klopperse het 'n agtergrond van weerbarstigheid en opstandigheid gehad wat al uit die jare sewentig van die agtiende eeu gekom het. Hulle was gegrief oor die erfpagstelsel en die Swart Omgang. 'n Rebellieleier het die Britse bewindhebbers as "God-vergete tiranne en skurke" bestempel.

Die Slagtersnekrebellie het vroeg in 1813 begin toe Freek Bezuidenhout Stockenstrom se dagvaarding om voor die hof te verskyn, ignoreer. Die klag was dat hy 'n werker aangerand en sy lone teruggehou het. Op Stockenstrom se versoek het twee Britse offisiere en 12 Khoi-Khoi-soldate uitgegaan om Bezuidenhout te arresteer. Hy het hom verset en is doodgeskiet. Sy broer Johannes (Hans) Bezuidenhout het wraak gesweer en saam met Hendrik Prinsloo manne vir 'n opstand gewerf. Hulle wou 'n ooreenkoms met Ngqika sluit om die Khoi-Khoi-troepe te verjaag en het gehoop om van hom grond in die vrugbare Katriviervallei anderkant die grens te kry. Stockenstrom het die rebellie beskou as 'n kritieke keuse tussen orde en anargie. Hy het alleen en ongewapen by 'n groep voornemende rebelle opgedaag en hulle oorreed om van hulle plan af te sien. Danksy sy optrede het die welgestelde boere besluit om by die regering te staan. Die rebellie is die nek ingeslaan sonder dat daar geskiet is. In die hofsaak wat gevolg het, is die doodstraf opgelê en vyf van die leiers is opgehang. Slagtersnek was 'n keerpunt in die vestiging van die beheer oor die grens. Die burgers het nooit die Britse heersers ten volle vertou nie, maar hulle het nou aanvaar dat gehoorsaamheid aan die regering in hul beste belang. is.

'n Onstabiele vrede

Dit was 'n brose vrede wat geheers het na die verdrywing van die Xhosas uit die Suurveld in 1811-1812. Die militêre mag wat langs die Visrivier geplaas na die oorlog was heeltemal te klein om te verhinder dat die Xhosas strooptogte oor die grens uitvoer. Die goewerneur van die kolonie, lord Charles Somerset (1814 - 1826), en sy opvolgers het gesukkel om 'n vaste grensbeleid neer te lê. Die imperiale regering se inmenging het hierdie inkonsekwentheid vererger. Stockenstrom het die beleid as weifelend en wisselvallig bestempel. 

Tydens 'n besoek aan die grens in 1817 het Somerset bevind dat drie vyfdes van die Suurveldplase ontruim is, en die oorblywende boere gereed om te vlug. Hy het na samesprekings met Ngqika en ander senior kapteins bepaal dat die Xhosa-stam kollektiewe verantwoordelikheid vir diefstalle moet aanvaar. Uiteindelik was dit Ngqika se verantwoordelikheid om die diefstalle te staak. Vir die goewerneur was Ngqika die Xhosa-opperhoof met onbetwiste gesag. Vir Ngqika was dit 'n onmoontlike taak. Hy was van die meeste van sy volgelinge vervreem. Hy het geen mag oor ander kapteins gehad nie en as hy te straf teen diefstalle teen sy eie volgelinge optree, sou hulle by ander kapteins aansluit. Sy vernaamste teenstander, Ndlambe, het heelwat meer krygers gehad. 

Om diefstalle te bekamp, het Somerset 'n spoor- of terugvatstelsel ingestel. Boere wie se vee gesteel is,moes die diefstal by 'n militêre pos rapporteer. Die bevelvoerder moes dan 'n patrollie uitstuur, wat die spoor van die vee na die eerste kraal moes volg. Hierdie kraal moes die gesteelde vee oorhandig of skadevergoeding betaal. Die veronderstelling was dat as die kraal onskuldig was dit verliese kon vergoed deur die vee van die skuldige kraal te verhaal. Daar is gesê dat die Xhosas so 'n stelsel onder hulle self gebruik.

Ngqika was ontsteld oor die ontsaglike verantwoordelikheid wat aan hom opgedra is, maar tersefdertyd gretig om die kolonie as bondgenoot teen Ndlambe te gebruik. In 1818 het hy met die hulp van soldate, burgers en Khoi-Khois Ndlambe 'n nederlaag toegedien. Die koalisie het 23,000 stuks vee gebuit, wat 'n groot deel van die veestapel van Ndlambe en sy volgelinge was. Maar die slag het slegs die grens verder gedestabiliseer. 

In die laaste dae van Desember 1818 en in Januarie 1819 het Ndlambe se volgelinge die kolonie ingeval en feitlik die hele Suurveld binnegedring. 'n Burger het geskryf: "God alleen weet wat van ons sal word. Dit lyk of die hele Kafferland hier is. Om Godsnaam kom help ons asseblief." Die toordokter Nxele (of Makanda), het Grahamstad met 6,000 man aangeval en ernstig bedreig. Troepe en burgerkommando's het egter betyds opgedaag en die Xhosas oor die Keirivier gedwing. 

Somerset het besluit dat daar 'n omvattender plan moet kom om die grens te bestendig. Hy het die Vis- en die Baviaansrivier as grens behou, maar die grens van wat die regering as Xhosaland beskou het ooswaarts geskuif an die Keiskamma- en die Tyhumierivier. Hy het die gebied tussen die Vis- en die Keiskammarivier tot 'n neutrale gebied verklaar. Alle kapteins, ook Ngqika, moes uit dié gebied trek. Die "neutrale" gebied het gou die "verowerde" gebied geword en is effektief in die kolonie ingelyf. Swart en wit mense het mettertyd hier deurmekaar gewoon. Hiermee is ongeveer 7,800 vierkante kilometer toegevoeg  aan 'n kolonie wat reeds baie moeilik was om te verdedig. 

Die inlywing van die neutrale gebied het die situasie aan die grens vererger. Vir die Xhosas het die gebrek aan grond akuut geword. Om sake nog verder te kompliseer, het twee golwe van immigrante in die vroeë jare twintig opgedaag. Die eerste was Britse setlaars, ongeveer 4,000 sterk, wat hoofsaaklik gevestig is op Suurveldplase wat die burgers ontruim het. Om die administrasie van die grensgebied te verbeter, het die regering 'n nuwe distrik met Grahamstad as die setel geproklameer. Vyf jaar later in 1825 is die Somersetdristrik geproklameer.

Die tweede golf was die vlugtelinge van die bloedige stryd in Natal en die Hoëveld onder swart mense, genaamd die Mfecane in Nguni en Difaqane in Sotho. Aanvanklik is hierdie "volksverhuisings" amper uitsluitlik toegeskryf aan die aanvalle van die Zoeloe-kaptein Shaka se leër op naburige Natalsa stamme tussen 1818 en 1828. Daar is gemeen dat dit 'n kettingreaksie tot gevolg gehad het. Onlangse navorsing toon dat die oorsake van die volksverhuisings meer kompleks was: droogte, bevolkingssurplus, verskerpte mededinging om grond en konflikte oor ivoorhandel. Nog 'n faktor was Griekwas gewapen met gewere, wat klein vlugtende stammetjies aangeval en sodoende nog groter chaos gesaai het. 

Mense het na die noorde, weste en suide gevlug. Anderkant die Kaapse oosgrens het die Mfecane groot ontwrigting en lewensverlies onder die Xhosa-sprekende Thembus, Mpondo's en Bhacas veroorsaak. Die ontploffing van geweld het uiteindelik gelei tot die stigting van die Swazi- die Ndebele- en die Sotho-staat. 

Van die vroeë 1820's het die oosgrens die uitwerking van die geweld in die binneland begin voel. Vlugtelinge van die Thembu-stam het hulle naby huidige Queenstown net binne die koloniale grens gevestig. Boere het hulle gevoed, maar hulle het hou 'n las geword. 

"Ek word nie vertrou nie": Piet Retief se grief

Vyf-en-twintig jaar lank, tussen 1813 en 1837, was daar twee Afrikaners op die politieke toneel met skerp verskillende standpunte oor oorlewing in die onsekere oosgrensgebied. Die een was Piet Retief, gebore in 1780 as die seun van 'n welgestelde wynboer in die boland, en die ander Andries Stockenstrom, die seun van 'n landdros. Hy het in 1815 landdros van Graaff-Reinet geword. In 1828 is hy na Grahamstad verskuif, waar hy as kommissaris-generaal van die oostelike provinsie gedien het. 

In die Boland het Retief gou al sy eiendom in spekulasie verloor en was bankrot toe hy in 1812 aan die oosgrens opdaag as deel van die Stellenbosse reserwemag in die Vierde Grensoorlog. Kort daarna het hy met 'n ryk weduwee getrou wie se man saam met Stockenstrom se vader vermoor is. Hy het besluit om hom aan die oosgrens te vestig. 

Tussen 1817 en 1832 het Retief op die plaas Mooimeisiesfontein, veertig kilometer noordwes van Grahamstad, geboer, maar hy was amper meer bedrywig as sakeman op Grahamstad en Uitenhage. Op verskillende tye was hy algemene handelaar, bakker, meulenaar, slagter, drankhandelaar en afslaer. Sy geldsake het beroerd gebly. Teen 1824 was hy feitlik bankrot as gevolg van 'n onvoordelige kontrak wat hy met die regering gesluit het om 'n kaserne en drosdy op Grahamstad te bou. 

Ten spyte van sy mislukkings was Retief baie gewild onder sowel die boere in die dirstrik Grahamstad as die Britse  handelaars en offisiere op die dorp. Hy het klaarblyklik leierseienskappe gehad en is in 1822 as veldkommandant aangestel. Geen burger of lid van die berede mag is toegelaat om die grens oor te steek en die Xhosas se gebied binne te gaan nie. Van 'n vroeë stadium het Retief kritiek uitgespreek op die feit dat alle militêre optrede, ook kommando's, onder streng reëls moes plaasvind. 

In Maart 1822 het Piet Retief self 400 skape in 'n Xhosa-strooptog verloor en in September het hy bevel gekry om 'n kommando uit te roep om Xhosas wat hulle in die neutrale gebied probeer vestig het, te verdryf. Sy kommando het die spore van die gesteelde vee tot by die grens gevolg en anderkant die grens het Retief duisende stuks vee gesien. Dit was uiters frustrerend. Soos Retief dit gestel het: "Ek is nie toegelaat om die grens oor te steek met my troepe nie, aangesien ek nie vertrou is nie...So lank as wat nóg die landdros nóg die kommandant op die grens gemagtig word om (die instruksies) te verander, sal geen kommando uitgevoer kan word met enige sukses nie."

Dit was dus vir Retief onaanvaarbaar van die latere verskille tussen Stockenstrom en Retief. Vir Stockenstrom was orde en vrede slegs moontlik as alle burgeroffisiere en amptenare die bestaande bevele en voorgeskrewe prosedures streng gehoorsaam. En dit was juis wat  Retief nie wou doen nie. 

Maar die saak was kompleks. Die regering aan die Kaap, wat self nie in staat was om die veiligheid aan die grens te waarborg nie, het voortdurend ingemeng. Dit het heeltemal tereg nie die grensboere toegelaat om eie reg te gebruik soos in die ou dae nie. Maar dit het versuim om 'n behoorlike troepe- of polisiemag aan die grens te plaas en het voortdurend nuwe beperkings aan die burgers opgelê. In 1825 het dit die reg van koloniste om te vuur op mense wat daarvan verdink word dat hulle dorsters, leeglêers of ontsnapte gevangenis is, streng omskryf. Die prokureur-generaal het geskryf: "In geen geval mag dodelike wapens gebruik word voordat alle ander middele eers misluk het nie. Geduld en verdraagsaamheid moet altyd beoefen word waar die lewe van 'n medemens op die spel is." Terwyl die grensgebied al hoe onveiliger geraak het, was dit vir die boere al hoe onduideliker wat toelaatbaar is om lewe en eiendom te verdedig en wat nie. 

"Streng en gelyke geregtigheid": Stockenstrom se beginsel

Teenoor die standpunte wat Retief verkondig het, het die opvattings van Andries Stockenstrom gestaan. Stockenstrom het aan die hoof van kommando's aktief deelgeneem aan die militêre operasies, maar oor die toestand aan die grens groot kommer gehad. Vir hom was een van die groot oorsake van die konflik die soort diskresie wat Retief wou hê om die grens oor te steek en by 'n Xhosa-kraal die beeste terug te eis. Hy het ook sterk getwyfel of die militêre ekspedisies deur troepe en burgers oorkant die grens enigsins die vrede bevorder. Hy was oortuig dat die inval van Ndlambe se krygers in 1819 daaraan toe te skryf was dat hulle honger gely het en desperaat was. 

Stockenstrom het terselfdertyd 'n ferm beleid teenoor die Xhosas voorgestaan. Hy het aan die goewerneur geskryf dat dit absoluut noodsaaklik is dat Xhosa-veediewe gedwing word om hul gedrag te verander; daar moet nie met hulle gespeel word nie. 'n Bende "rowers en moordenaars" moet uitgewis word sodra hulle gewaar word ten einde te voorkom dat die kwaad wat hulle aanrig, versprei en honderde lewens eis. Militêre mag moet egter slegs gebruik word wanneer dit absoluut noodsaaklik is. Kommando's kan gesteelde vee in die kolonie terugvat, maar moet nie toegelaat word om die grens oor te steek nie. 

Die sogenaamde terugvatstelsel is hoofsaaklik uitgevoer deur klein patrollies wat die spoor van gesteelde vee moes volg en die vee terugkry. Hierdie patrollies het gewoonlik bestaan uit Britse soldate en burgers onder die bevel van 'n Britse offisier. Hierdie stelsel het misluk. Die plase was nie omhein nie en daar was altyd te min mense wat die gevaarlike werk van veewagter wou doen. Veediefstal was aan die orde van die dag. Boere wat vee vermis het, kon eenvoudig na die naaste militêre pos gaan en aandring op 'n patrollie sonder dat hulle enige poging aangewend het om eers vas te stel of hulle vee in werklikheid gesteel is. Die patrollies het krale dikswels nie eens die geleentheid gegee om hul onskuld te bewys nie. 

Daar was ander probleme. Baie van die diefstalle is gepleeg deur bendes wat nie onder die beheer van 'n kaptein gestaan het nie. Sommige kapteins het die stelsel misbruik om wraak op hulle vyande te neem. 'n Patrollie gelei deur kolonel Henry Somerset, seun van die goeweneur, het twee keer die verkeerde kraal afgebrand met lewensverlies. Stockenstrom het later verklaar dat hy weet van vyftig gevalle waar patrollies die grens oorgesteek en onskuldige krale geplunder het. Dit het tot teenaanvalle gelei. Die Xhosas het dikwels teenoor Stockenstrom opgemerk: "Ons gee nie om hoeveel Xhosas julle skiet as hulle in jul land kom en julle hulle vang terwyl hulle steel nie, maar met elke bees wat julle uit ons land vat, skep julle 'n dief."

Dit was die agtergrond van 'n debat wat in 1825 in die privaatheid van die drosdy op Graaff-Reinet gevoer is oor die vraag of die burgers aan die grens kon oorleef sonder dat alle morele waardes in die slag bly. Stockenstrom was die gasheer en sy gaste was twee sendelinge, dr. John Philip en dr. William Wright van die Londense Sendinggenootskap, en 'n Britse setlaar, Thomas Pringle, bekend vir sy liberale oortuigings.

Philip was vinnig besig om bekend te raak as die Afrikanergrensboere se felste kritikus. Hy het Stockenstrom beskou as 'n gawe kêrel, maar in sy oë was selfs Stockenstrom verdag as iemand van Afrikaanse afkoms wat "natuurlik" ten gunste sou wees van die ou stelsel van verdrukking. Philip was aan die werk aan sy Researches in South Africa, waarin hy die boere se wrede onderwerping van die Khoi-Khois beskryf. Na sy mening was dieselfde met die Xhosas aan die gebeur. Vir hom was die Xhosas vredeliewend, betroubaar, eerlik en geloofwaardig; die koloniste daarenteen was vervul met "insatiable avarice rapacity." Hy het die boere daarvan beskuldig dat hulle die Xhosas in die harnas jaag deur hul vee te steel, onwettig handel te dryf en hul grond af te vat. Die Xhosas het toenemend beheer oor hul gornd verloor en het geen alternatief gehad nie bhalwe om te steel en te plunder. Vir Philip het sendingwerk nie net oor die verkondiging van die Christelike boodskap gegaan nie. Deur sendingwerk wou hy ook Britse markte en Britse waardes  bevorder. 

In die debat op Graaff-Reinet was die sendelinge, soos Stockenstrom dit gestel het, hewig ontsteld oor die onreg en verdrukking waarvan hulle gehoor of wat hulle self gesien het. Stockenstrom het gemeen dat Philip die Xhosas en Khoi-Khois se verantwoordelikheid vir veediefstal heeltemal oor die hoof sien en ook onregverdig is deur die burgers uit te sonder as skuldiges in die patrollies wat gruweldade gepleeg het, terwyl hy die wandade van Britse soldate of Britse setlaars aan die grens ignoreer. 

Stockenstrom het geen illusie gekoester dat die burgers altyd reg optree nie. Hy het ruiterlik erken dat die boere in die verlede wreedhede teen die inboorlinge gepleeg het. Hy het verder opgemerk dat elke verantwoordelike burger hierdie feite erken en dit betreur. Die wreedhede het egter tot die verlede behoort. Stockenstrom het beklemtoon dat die burgers regte het, veral die reg op sekuriteit van hul lewe en eiendom, en op billike behandeling deur die regering. Stockenstrom se eerste vraag was dus nie wie in die stryd aan die grens moreel reg was nie, maar hoe die burgers hulle self kon handhaaf op die grens sonder dat dit ten koste van die swartes is. 

In die gesprek het Stockenstrom drie opsies onderskei wat vir die grensboere bestaan: "Ons moet óf weghardloop, óf stilsit en ons kele laat afsny, óf ons moet verdedig wat ons het." Vir hom was weghardloop nie 'n aanvaarbare opsie nie en tien jaar later sou hy die uittog wat gekend geraak het as die Groot Trek veroordeel. Hy het die opvatting verwerp dat die burgers nie die reg het om hulle self te verdedig nie. Die beste opsie was om "te verdedig wat ons het en om die beginsels te bepaal waarop daardie verdediging moet berus."

Wat was daardie beginsels? In sy loopbaan as grensadministrateur het Stockenstrom altyd waarheid en geregtigheid beklemtoon. Vir hom moes hierdie twee kernwaardes die grondslag van die stelsel vorm wat hy aan die grens wou vestig. Om soos Philip die feite te ontken, was oneerlik. 

Saam met die soeke na onpartydige waarheid het Stockenstrom ook geregtigheid nagestreef. Vir hom was dit onaanvaarbaar dat burgers en soldate, nadat 'n klag oor veediefstal by 'n grenspos ingekom het, self 'n oordeel vel en wraak neem, soos die terugvatstelsel hulle toegelaat het om te doen. Elke militêre operasie, ook klein patrollies of kommando's, moet slegs binne 'n raamwerk van ondubbelsinnige bevele en onder betroubare bevelvoerders plaasvind. Hy het teenoor sy gaste opgemerk dat hy sy bes doen om die wit man te laat hang wat 'n swarte vermoor, maar ook alles in die werk stel om rower- en moordenaars uit te roei met wie daar nie op 'n ander manier afgereken kan word nie. 

Oor die belangrikheid van die waardes van waarheid en geregtigheid was daar dus nie werklike meningsverskil tussen Stockenstrom en sy gaste nie. Hulle kon ook saamstem oor wat in die verlede gebeur het. Oor die beleid vir die hede en veral oor streng optrede teen bendes kon hulle mekaar egter nie vind nie. Stockenstrom het geskryf dat hulle sy geduld tot die uiterste beproef het met die venyn waarmee hulle die huidige geslag van koloniste veroordeel het en geweier het om die werklike toestand en die noodsaak van selfverdediging enigsins in ag te neem. 

'n Skaakmat het in hul argument ontstaaan en die gaste het Stockenstrom tot stilswye probeer dwing deur op te merk dat die koloniste geen reg het om in die grensgebied te wees nie. Hierop het Stockenstrom geantwoord dat die Britte hierdie beginsel meer as elke ander nasie in die wêreld verontagsaam het. 

Tussen die middel van die twintigerjare en die einde van die dertigerjare het Stockenstrom volhardend geprobeer om 'n beleid van strenge en gelyke geregtigheid te volg. "Injustice to whites, English or Dutch, or the blacks, Kaffir, Hottentot or Bushman, I will still consider injustice and deal with accordingly," het hy verklaar. "But I am not called to please any party. I have the cause of truth to serve. I am to call 'murder murder' and 'plunder plunder', whatever the colour of the perpetrator's skin."

In die debat van 1825 het Philip en die ander gaste op die ou end besluit dat Stockenstrom se argument redelik is. Hulle het egter skepties gestaan teenoor die moontlikheid van 'n beleid wat geregtigheid en gemagtigheid vooropstel. 

Kort daarna het Stockenstrom vinnig opgang begin maak. Hy is in die goewerneur se Raad van Advies aangestel en in 1828 het hy die kommissaris-generaal van die oostelike provinsie geword. Op Grahamstad, waar hy gestasioneer was, het hy gou indringende ontledings van die situasie aan die grens begin skryf. Hy het baie aspekte van die radikale herstrukturering van die kolonie se bestuurstelsel ten volle gesteun, maar hy het gemeen dat die afskaffing van die kolleges van landdros en heemrade in 1828 'n groot flater was. Vir die burgers was daar nou groot onsekerheid. Daar was behalwe Stockenstrom geen Hollands- of Afrikaanssprekende senior amptenaar wat die beleid kon beïnvloed of dit aan die burgers vertolk nie. 

Stockenstrom was ook daaroor bekommerd dat die regeringsbeleid te ver geswaai het van groot hardhandigheid tot waar die burgers so aan bande gelê word dat dit die pogings om hul lewe en eiendom te verdedig, verlam. In 1830 het hy opgemerk "Dat periodieke strenge optrede onontbeerlik is om die grens leefbaar te maak." Hy het begryp waarom die grensboere so bitter was teenoor amptenare ver weg in Kaapstad wat presies kon voorskryf hoe daar op die ontstuimige oosgrens te werk gegaan moes word om die regte en die veiligheid van mense met mekaar te versoen. 

"Die luidrugtigste teen die Xhosa-nasie": Britse handelaars en spekulante

Ná sy aankoms op Graaff-Reinet in 1828 het Stockenstrom gou in aanraking gekom met die Britse militêre offisiere en die Britse handelaars wat daar gebaseer was. Die vernaamste figuur onder die Britse militêre offisiere aan die oosgrens was kolonel Henry Somerset, die goewerneur se seun, met wie Stockenstrom reeds in 'n vroeë stadium gebots het. In 1823 is Somerset tot die pos van kommandant van die grens bevorder en hy is ook in bevel dan die Kaapse regiment bestaande uit Khoi-Khoi-soldate geplaas. Die kolonel was 'n offisier met 'n bedenklike tekortkoming: swak oordeel gepaard met 'n vurige geaardheid. In die raamwerk van 'n onsekere grensbeleid was dit 'n resep vir 'n ramp. Stockenstrom was omtrent dadelik met die offisiere en handelaars oorhoops en die gespanne vrhouding het weldra in vyandskap oorgegaan. Die offisiere en handelaars se mondstuk, The Grahamstown Journal, het propaganda daarvoor gemaak dat die kolonie nog 'n deel van die Xhosa-gebied moet annekseer en dat die Xhosas met 'n groot miltêre mag tot onderwerping gedwing moet word. Soos ander voorstanders van gebiedsuitbreiding het die koerant dit probeer regverdig deur te wys op die aggressiewe aard van die Xhosas en hulle aandadigheid aan die onrus op die grens. In 1837 het goewerneur Napier na die Grahamstown Journal  en die drukgroep van die handelaars in die dorp verwys as die mense wat die "luidrugtigste teen die Xhosa-nasie" is. Hul eiebelang was kwalik verskuild. Grootskaalse militêre optrede en die anneksasie van nuwe grondgebied het groot winste beteken vir handelaars wat die proviand moes verskaf. Dit het oorvloedige kanse geskep vir die smokkel van wapens en die spekulasie met grond. 

In 1828 het Retief nog op Mooimeisiesfontein in die suidoostelike grensgebied gewoon, maar vier jaar later het hy na 'n plaas in die Winterbergwyk in die sentrale grensgebied getrek. Hy was redelik goed bevriend met kolonel Somerset en die redaksie van die Grahamstown Journal. Retief se manifes wat in 1838 uitgereik is om sy vertrek uit die kolonie te verduidelik en die rubriek van Robert Godlonton, die Grahamstown Journal se redakteur, is grotendeels in dieselfde trant geskryf.

Een van die grootste oorsake van die gebrek aan sekuriteit aan die grens was die onsekerheid oor wat die bedoeling van die regering was met die sogenaamde neutrale gebied wat dit ná die oorlog van 1819 geproklameer het. Was die regering se bedoeling om 'n neutrale gebied te skep waar niemand kon woon nie of was dit maar net 'n slenter om die deur vir kolonisasie van die gebied oop te maak? Die goewerneur self het geen geheim daarvan gemaak nie dat hy dit as 'n uitstekende geleentheid vir "systematic colonisation" beskou. 

In 1821, terwyl die regering in die Kaap aan die weifel was oor die grensbeleid, het Ngqika se seuns Maqoma en Tyhali weer in die gebied ingetrek wat so lank deur hulle en hul vader bewoon is. Maqoma het hom op sy aanloklike ou tuiste in die vrugbare Katviviervallei gevestig. Ander kapteins het hulle gevolg en plase is ook aan die blankes uitgegee. In 1828, toe Stockenstrom as kommissaris-generaal aangestel is, was Maqoma al sewe jaar in die gebied. Hy was so gerus dat hy 'n naburige stam in die gebied aangeval en amper duisend stuks vee geroof het. 

In 1828 het sir Lowry Cole goewerneur geword en dadelik besluit dat Maqoma uit die gebied verban moet word. Daar is ook aan die ander kapteins in die gebied laat weet dat hulle slegs daar kan bly solank hulle hulle goed gedra. Cole is geadviseer deur Stockentrom wat die noodsaak beklemtoon het dat die regering sy beleid ferm toepas. 

Kort ná sy aankoms in Grahamstad het Stockenstrom in samewerking met Somerset Magoma uit die neutrale gebied verdryf. Vir sowel Maqoma as sy broer Tyhali was dit 'n bitter pil dat hulle 'n gebied moes prysgee waarop hulle 'n sterk aanspraak gehad het en wat van die weinige dele was waar daar genoeg water was. Die grond van Maqoma het nou die Katriviernedersetting vir die Khoi-Khois geword. 

Stockenstrom was die vader van hierdie idee. Sy hoofdoel was om deur middel van 'n digte nedersetting 'n defensiewe barrikade teen invallers te skep. Terselfdertyd sou die nedersetting die geleentheid vir die Khoi-Khois bied om op klein skaal te boer. Sowat 5,000 Khoi-Khois het hulle gou in die Katriviernedersetting gevestig.

Intussen het die grensgebied toenemend die gevolge ondervind van die Mfecane, die draaikolk van dood en verwoesting wat kleiner stamme yslings laat vlug het, ook oor die kolonie se grens. Die regering wou hierdie stamme terugdruk en indien moontlik die Zoeloes verslaan, wat as die hoofbron van al die konflik beskou is. 

In 1828 het twee militêre ekspedisies onder Britse offisiere stamme ver anderkant die oosgrens aangeval. 'n Mag onder die Britse landdros William Dundas het die sogenaamde 'Fetcani' aangeval omdat daar verkeerdelik gemeen is dat hulle Zoeloes is. Dit het 25,000 beeste teruggebring en ongeveer 100 mense, wat later ingeboek is. 'n Aantal maande later het kolonel Somerset met 'n gemengde leër van meer as duisend burgers, setlaars en Khoi-khoi-huurtroepe, ondersteun deur duisende swart hulptroepe, die Ngwane-stam aangeval, wat van die Hoëveld gevlug het. Die slag het naby die huidige stad Umtata plaasgevind. Somerset het ligte en swaar kanonne gebruik. Hy het gerapporteer dat sy swart hulptroepe duisende swartes doodgemaak en al hul vee buitgemaak het. Die mag het teruggekeer met ongeveer 100 vroue en kinders, wat hulle op die plase in die kolonie ingeboek het. 

Die regering het Dundas en Somerset nie voor stok gekry nie. Daar was ook geen aanduiding dat die Britse sendelinge of joernaliste die optrede gekritiseer het nie. Dit staan in skerp teenstelling met die groot ontsteltenis wat ontstaan het as soortgelyke wreedhede deur burgerkommando's gepleeg is. 'n Burger het met verwysing na die aanval op die 'Fetcani' teenoor Thomas Pringle, 'n Skotse setlaar, opgemerk: "We were living in a state of bitter feud and constant warfare with the natives, and both parties were intent on mutual extermination. But what had your Ficandi done when they were destroyed by wholesale slaughter by your British commanders?...Here we had a massacre in all its horrors...But all this, I hear, your English missionaries defend or wink at, because it was done by Englishmen in authority and does not tell against us unfortunate Boors [sic]."

Die grensburgers was ontsteld oor hierdie meet met twee mate, en Piet Retief sou later daarna verwys in sy manifes wat die oorsake van die emigrasie uit die kolonie uiteengesit het. 

"n Reeks van bloedige oorloë": Stockenstrom se vrees

Die vernaamste botsings wat to die grootskaalse emigrasie van grensboere sou lei, het afgespeel in drie prominente grensgebiede. Ten ereste was daar die suidoostelike gebied, wat die Suurveld en die stad Grahamstad ingesluit het. Ten tweede was daar die sentrale gebied tussen die Bo-Visrivier en die Koonaprivier, wat 'n deel van die neutrale gebied ingesluit het. Laastens was daar die noordoostelike gebied, wat hoofsaaklik bestaan het uit die groot Tarkawyk, wat deel van die distrik Somerset gevorm het. 

Daar was veral in die sentrale grensgebied 'n hele bredie van burgergriewe: onsekerheid oor grondbesit, 'n gebrek aan beskerming teen veediefstal, 'n verbod op slawebesit en die teenwoordigheid van Maqoma, Tyhali en verskeie ander Xhosa-kapteins. D.F.J. Muller se deeglike studie van die oorsake van die Groot Trek besluit dat hierdie emigrasie veral toe te skryf is aan die inisiatief en organisatoriese vermoë van 'n klein groepie Afrikanerboere in die sentrale sektor van die oosgrens, wat nuwe weivelde in die binneland verkies het. In die sentrale grensgebied het die Afrikanerboere die onsekerste gevoel. Plase is aanvanklik aan burgers en Britse setlaars uitgegee op die enkele voorwaarde dat hulle geen slawe aanhou nie. In 1826 het die imperiale regering egter besluit om die oordrag van grond te vertraag todat dit finaal oor die toekoms van hierdie gebied besluit het. Die minister van kolonies in Londen wou slegs Engelssprekende koloniste hier vestig. Die regering het die burgers beveel om die neutrale gebied te verlaat, maar die meeste het besluit om aan te bly. Die instroming van Mfecane-vlugtelinge het die konflik oor grond, weiveld en beeste verskerp. 

Met die vestiging van die Katriviernedersetting was Khoi-Khois nou in beheer van een van die voorkeurplekke in die neutrale gebied. Vir burgers wat onseker was oor hul eie reg op die grond ht dit gelyk of hulle een die korste ent trek. Party het gekla: "Die Engelsman is baie geleerd en ons is baie dom. Hulle en die Hottentotte sal ons met verdrag uitdruk".

Stockenstrom het geprobeer om die ergste vergrype van die terguvatstelsel uit te skakel. Hy het beveel dat boere hul vee goed moet oppas en het probeer sorg dat die patrollies net vee wat werklik gesteel is, opspoor. Maar hy het al hoe meer bedenkinge begin koester oor die patrollies, wat die Xhosas aan die grens in 'n toestand van voortdurende onrus gehou het. Krale is gewoonlik net voor sonsopkoms aangeval en daar is wild geskiet. Die patrollies het hutte vrebrand, vee gegryp en die ingesetenes verdryf. Die mense het ylings gevlug, al was hulle onskuldig. Tyhali het eenmaal gevra: "Sal ek dan nooit vrede in my eie land hê nie? Moet ek dag ná dag op hierdie manier behandel word?" Kolonel Somerset en Stockenstrom kon mekaar nie veel nie. Somerset het Stockenstrom beskou as 'n kolonis wat hom nie op sy plek hou nie en Stockenstrom was oortuig dat die kolonel roekeloos stryd aanblaas. Om die Xhosas uit die neutrale gebied te verdryf, het Somerset amper elke week patrollies uitgestuur om gesteelde vee op te spoor en terug te vat. Van die krale wat verontreg gevoel het, het weer ekspedisies uitgestuur om vee op die plase te buit. Die grensgebied het 'n kookpot van ontevredenheid geword.

Stockenstrom het begin vermoed dat dit deel van 'n sinistere agenda was om die Xhosas so desperaat te maak dat hulle die kolonie inval. Hy het geskryf van mense wat "'n reeks bloedige oorloë" begeer. Ten spyte van sy besware het Somerset voortgegaan met agressiewe patrollies. In 1833 was Stockenstrom moedeloos. Hy het na Londen gereis om meer mag te vra om sy pligte uit te voer en het bedank toe dit geweier word. Hy het nou besluit om die Kaap permanent te verlaat en hom in Swede, die geboorteland van sy vader, te vestig.

Toe hy in 1833 die kolonie verlaat, was Stockenstrom siek en sat daarvan. Hy het daarna verwys as "die geliefde, die verdoemde kolonie". Hy was veral bitter oor Philip, wat hom onregverdig beskuldig het dat hy Boesmans laat doodmaak het ten einde hul kinders as ingeboektes te kan uitdeel. Hy het met 'n gevoel van gelatenheid geskryf: "Dank God, ek het niks meer te doen met hierdie Kaapse en Kaffer-sake nie."

Met sy vertrek het die regering se grensbeleid die laaste bietjie geloofwaardigheid verloor wat dit in die oë van sowel die burgers as die Xhosas gehad het. Die beleid het weifelend gebly. Dit het 'n paar Xhosa-kapteins toegelaat om weer na die neutrale gebied terug te keer en selfs Maqoma kon ook terugkom, maar hy is in 1833 weer 'n keer uitgesit. Hy moes nou bly op 'n stuk grond wat hy beskryf het as "sonder 'n stukkie gras, so kaal soos 'n paradeterrein."

Terselfdertyd het die regering die boere se vermoë om hulle self te verdedig, gekniehalter. In 'n poging om die toenemende smokkelhandel in gewere en ammunisie aan bande te lê, het die regering die verskaffing van ammunisie beperk. Waar veldkornette en veldkommandante daaraan gewoond was om voorrade aan te koop vir al die burgers in hul wyke, was dit volgens die nuwe beleid nou slegs by regeringskantore beskikbaar. Die boere het vermoed dat dit gedoen is omdat hulle nie genoeg vertrou word nie. 

Die situasie het by die dag versleg. Diefstalle van die koloniste se vee het voortgeduur en dan het die patrollies weer uitgetrek. Hulle het selfs kapteins lastig geval wat hul bes gedoen het om die vrede te bewaar. In 1834 het 'n landmeter aan die grens opgemerk: "The year 1834 may be described as one of unremitting plunder. The patrols were making seizures of cattle belonging to the Caffres, and every month - almost every week - they were injuring and provoking that miserable people. It seems to be that it was the express object of some persons in the colony about this time to provoke the Caffres to a war."

Maqoma het ook tot die gevolgtrekking gekom dat die kwessie van vee slegs 'n voorwendsel is in 'n sameswering om meer Xhosa-grond te verower. Bhotomane, een van die senior kapteins, het woedend uitgeroep: "Ons mense het jul vee gesteel, maar julle het met die manier waarop julle jul verliese wou goedmaak onskuldiges gestraf. Nadat julle ons land geneem het sonder dat daar 'n sprankie geregtigheid was, het julle ons hier op 'n klein stukkie grond laat honger ly. Julle dreig om ons te vernietig omdat ons gesteel het. Maar ons het geen ander keuse gehad nie as om te steel of om van honger te sterf." 

Die Blankes was oor die algemeen onbewus van 'n lont wat al hoe korter brand. Hulle het nie besef nie dat deur die Xhosas in die grensgebied voortdurend te ontwrig hulle 'n gemeenskaplike wil om weerstand te bied onder die Xhosas veroorsaak het. Ook die versigtige opperhoof Hintsa, wat anderkant die Keirivier gewoon het, het hom met die Xhosas in die neutrale gebied vereenselwig. 

Teen die middel van 1830's was daar slegs 750 soldate aan die grens gestasioneer. Grahamstad se ammunisievoorraad was op die laagste vlak. So het sake gestaan die die mees verwoestende grensoorlog van almal uitbreek. 

Die Sesde Grensoorlog

In die laaste dae van 1834 het Maqoma en Tyhali met 'n mag van 12,000 tot 15,000 Xhosas oor die grens gestroom. Ná vyf grensoorloë het die Xhosas uiteindelik geleer hoe om doeltreffend teen die kolonie te veg. In stede daarvan om in groot groepe op te trek het hulle in klein groepies aangeval. 'n Burger het 'n aanval op sy plaas as volg beskryf: "Omtrent 8-uur in die aand begin die honde te blaf. Meteens storm die kaffers tussen die skape deur, maar ons skiet hulle met lopers terug...Die kaffers fluit en skree aan alle kante, skiet en gooi met assegaaie en klippe op die huis amper soos reën. Die skape blêr, die beeste bulk, die honde blaf, die vyand storm toe om die beeste van die toue af te sny; ander wil die huis instorm. Een kaffer word in die deur doodgeskiet met 'n afgebreekte assegaai in sy hand. Die rumoer is vreeslik."

Die invallers het groot getalle vee weggevoer en reuseskade in 'n breë strook van Algoabaai tot die dorp Somerset gerig. Daar is gerapporteer dat 7,000 koloniste 'binne 'n week in die grootste nood gedompel is." Van sy stasie in die katriviernedersetting het James Read berig dat die boere geruïneer is. Aan die kolonie se kant het 20 blankes en omtrent 80 Khoi-Khois gesterf; 455 plaashuise is afgebrand en duisende perde, beeste en skape is weggevoer.  Die koloniale verliese is op ongeveer 300 000 pond gestel.  Die Xhosas het vlugtig weer die Suurveld beheer.

Na n geruime tyd het militêre versterkings en ook die goewerneur, sir Benjamin D'Urban, aan die grens aangekom.  D'Urban het besluit dat Philip en ander kritici 'n wanvoorstelling van die boere gemaak het en dat die Xhosas die vernaamste skuld dra.  Hulle is "savage and irreclaimable", woorde waaroor sy kritici hom sou gesel.  Hy het die beleid aanvaar wat deur sekere Britse setlaars voorgestel is. Die kolonie se grense moes uitgeskuif word om 'n groot deel van die Xhosas se gebied in te sluit en dit moes vir grondspekulasie en wit nedersetting oopgestel word.

Intussen het die militêre operasies voortgeduur. Die koloniale mag van Britse soldate, Khoi-Khoi-troepe, Britse setlaars en burgerkommando's het die Xhosa-gebied tot anderkant die Keirivier binnegedring en die opperhoof, Hintsa, in hegtenis geneem. Toe hy probeer ontsnap, het 'n Engelse offisier hom doodgeskiet en sy lyk is later geskend. Die troepe het nou geprobeer om die Xhosas se bestaansbasis te vernietig deur oeste te verbrand en op vee beslag te lê.

Die Xhosas was nogtans nie verpletter nie.  Baie is oor die Keirivier gedryf, maar talle het in die neutrale gebied oorgebly. Die oorlog het nie vrede gebring nie. Die Xhosas wou geen nuwe grens aanvaar wat die blankes bepaal nie. Tyhali het nog steeds geëis dat al die grond oos van die Visrivier aan die Xhosas teruggegee word.  Die verhoudinge tussen wit en swart het verder verbitter.

In 1835 het goewerneur D'Urban die oosgrens geskuif na die Keirivier en die oorsprong van die Wit-Kei. Die gebied waarop beslag gelê is, is die Provinsie van Koningin Adelaide genoem. By baie burgers het die hoop opgevlam dat hulle plase in die nuwe gebied sou kry. In Londen het die gety egter teen D'Urban se beleid gekeer. 'n Gekose parlementêre komitee met onder andere van Philip en ander sendelinge getuienis aangehoor oor die behandeling van die inheemse volke.  Philip se getuienis, wat geredelik aanvaar is, het die grond onder D'Urban weggekalwe.

Naas Philip was Stockenstrom, wat van Swede gereis het, n sleutelgetuie. Vir hom was die grootste oorsaak van die oorlog die terugvatstelsel en die skade wat die Xhosas daardeur gely het. In plaas van die ou militêre "oplossings" het hy 'n verdrastelsel bepleit om konflikte te besleg.

Op 26 Desember 1835 het die minister van kolonies, lord Glenelg, D'Urban se besluite herroep.  Terwyl die koloniste nog onder die indruk was dat die Xhosas gedwing wou word om die skade van hul inval te vergoed, het Glenelg verklaar dat die Xhosas tot die daad gedryf is deur 'n "long series of acts of injustice and spoliation" en dat hulle "ample justification" vir die inval gehad het. Die grond van die Provinsie van Koningin Adelaide sou teruggegee word en die koloniale grens sou teruggeskuif word van die Kei na die Keiskamma-, die Tyhume- en die Gagarivier. Die kolonie sou beheer behou oor die ou neutrale gebied tussen die Vis- en die Keiskammarivier. Die kapteins moes alle aansprake op hierdie grondgebied prysgee. Die regering was eger bereid om grond in hierdie gebied aan kapteins te "leen" op voorwaarde van goeie gedrag.

Glenelg het Stockenstrom verras deur hom te vra om na die Kaap terug te keer as luistenant-goeweneur om hierdie beleid uit te voer. Hier was die kans om uitvoering te gee aan die verdragstelsel wat hy lank gepropageer het en wat sekerlik in sy gedagtes was toe hy in 1825 met Philip en sy ander gaste op Graaff-Reinet geargumenteer het. Hy het besluit om die uitdaging te aanvaar.

Oorlewing aan die grens: Stockenstrom teen Retief

Die eerste Voortrekkers het laat in 1835 en vroeg in 1836 die kolonie verlaat. In september 1836 het 'n groot geselskap onder Gert Maritz uit Graaff-Reinet weggetrek. Selfs in Oktober 1836 was Piet Retief nog steeds besig om mense te oorreed om nie te trek nie, maar kort daarna het daar 'n meningsverskil tussen hom en Stockenstrom ontstaan wat baie lig werp op die toestand op die vooraand van die trek en die botsende standpunte van twee hooffigure oor oorlewing in die grensgebied.

Die twee persoonlikhede het skerp verskil Stockenstrom was ondiplomaties, liggerraak en by tye koud en afsydig dat hy hooghartig en onverdraagsaam voorgekom het. Op enige aantasting van sy persoon het hy met groot verontwaardiging gereageer en hy was geneig om gou gekrenk te wees. Hy kon baie bladsye bestee aan verduidelikings en regverdigings van sy optrede. Maar dit alles is in die skadu gestel deur sy sterk punte. As amptenaar was hy pligsgetrou, beginselvas en volkome toegewyd aan sy taak. Hy het hom baie sterk vereenselwig met burgers wat die wet gehoorsaam en hy was gereed om hulle teen onregverdige beskuldigings te verdedig.

Teenoor hom het Retief gestaan: 'n warm mens, oop, toeganklik en charismaties. Ten spyte van sy groot skulde en herhaalde mislukkings as sakeman was hy buitengewoon gewild onder sowel  Afrikaners as mense van Britse afkoms. In die Sesde Grensoorlog het Retief met groot heldemoed die verdediging van die Winterbergwyk gelei. Op sy instruksies het 'n groot groep mense, wat meer as tweehonderd vroue en kinders ingesluit het, in 'n laer saamgetrek. Dit was feitlik die enigste plek waar mense sterk weerstand teen die invallers gebied het. Die tekort aan ammunisie het hulle byna hul  lewens gekos. Indien die aanvalle veel langer geduur het, sou die invallers die laer oorstroom het.

Retief is tydens die inval as voorlopige veldkommandant aangestel. Die goewerneur het dit bevestig en verwys na Retief se uitstekende optrede en sy doelgerigtheid en oordeelkundigheid. Maar hy het ernstige finansiële probleme gehad. In die jaar voor die oorlog het hy in 'n kort tydjie in die skuldenaarstronk gesit  en is ook bankrot verklaar. In die oorlog het hy en sy familie ernstige verliese gely. Sy huis is afgebrand en die Xhosas het 48 beeste, 4 perde en 300 skape weggevoer. Hy het gesê dat hy "alles verloor het". Hy sou sy laaste dae in die kolonie briewe van sy krediteure kry, onder meer van die eienaar van die Vrymesselaars se taverne vir drank, onthaalkoste en verblyf.

In Augustus 1836, toe Stockenstrom na Grahamstad onderweg was om sy amp as luitenant-goeweneur te aanvaar, het Cradock se burgers hom hartlik ontvang en hulle griewe sober in 'n dokument uiteengesit. Stockenstrom het vroeg in September 1836 op Grahamstad aangekom. Hy het gevind dat baie burgers of reeds getrek het of voorbereidsels daarvoor tref. 'n Massa-emigrasie van grensboere was aan die gang.

Vir Stockstrom was dit 'n groot terugslag vir sy planne om orde en sekerheid te bewerkstellig. By sy kantoor het 'n brief gewag van die baie gerespekteerde veldkommandant S.J. van Wyk, wat hom gevra het om die emigrasie van die grensboere te stuit, en ook 'n brief van 'n Britse setlaar wat hom meegedeel het dat hy die mense sou kon laat afsien van trek as hy hul griewe uit die weg ruim. Daar was ook 'n boodskap dat Retief 'n onderhoud aangevra het.

Die meeste ingesetenes van Grahamstad was vyandig teenoor Stockenstrom. Diegene onder die Britse setlaars wat die kolonie se grense wou uitbrei, het hom al lank as die grootste vyand beskou. Hulle wou hom 'n adres aanbied wat op oneerbiedige wyse na sy getuineis in Londen verwys, maar hy het geweier om dit te ontvang.

Stockenstrom se prioriteit was om mense aan albei kante van die grens 'n gevoel van sekuriteit en stabiliteit te gee. Om in vrede gelaat te word deur die Xhosa-stamme moes die koloniste die grenslyn respekteer en hulle nie lastig val nie. As die patrollies en kommando's nie beëindig  word nie, kan daar geen vrede en 'beskawing' wees nie.

Maar Stockenstrom het beklemtoon dat die grensboere ook regte het. Aan Glenelg het hy geskryf dat hulle toegelaat moet word om hul eiendom en lewens te beskerm teen plunderaars en stropers, en desnoods die invallers te skiet. Hy het bygevoeg dat een van die grootste oorsake van die rampe wat die kolonie getref het die weifelende en teenstrydige beleid was wat gevolg is, 'n beleid wat van een uiterste tot die ander gewissel het.

In briewe aan goeweneur D'Urban het Stockenstrom verder verduidelik: "Militêre poste moet opgerig word waar 'n sterk mag geplaas moet word, al kos dit baie. 'n Burgermag wat volgens streng reëls optree, moet vir verdediging aangewend word. 'n Digte bevolking moet in die grensgebied gevestig word. Die burgers het na sy mening werklike en geregverdigde griewe.

Om die gebrekkige administrasie te verbeter, het hy aanbeveel dat resident-magistrate in Cradock, Colesberg en op nog 'n plek verder oos aangestel moet word. Hulle moet duidelike opdragte kry oor wanneer hulle plunderaars kan skiet om lewens en eiendom te beskerm. Daar is bendes wat oor die hele grens swerf en plunder en ferm optrede is dus nodig. (In 1834 het die regters van die hooggeregshof dieselfde mening uitgespreek.) Stockenstrom het gevra dat die regering die geld wat dit aan burgers skuld vir die voorrade wat hulle in die onlangse grensoorlog verskaf het dadelik betaal en ook die lank vertraagde grondbriewe uitreik.

Daar was geen dwingende rede waarom Retief en Stockenstrom nie kon saamwerk nie. Stockenstrom het van Retief gesê: "Ek het hom altyd as 'n nugter en tegemoetkomende mens beskou." Maar Stockenstrom het geglo - en hier was hy omtrent sekerlik reg - dat Retief kop in een mus is met sy grootste vyande, die ekspansionistiese militêre offisiere, handelaars, spekulante en joernaliste. Hy het ook geglo dat hulle gerugte oor dreigende gevare versprei om die emigrasie van grensboere aan te help en sodoende hul plase spotgoedkoop in die hande te kry. Vir hierdie mense het Stockenstrom net minagting gehad.

Stockenstrom het hom vererg toe Retief hom 'n adres van sy Winterbergwyk wou aanbied waarin bewerings gemaak is oor die getuienis wat Stockenstrom voor die "Aborigines Committee" in Londen afgelê het. Hierin verskyn die volgende sin: "Ons wil jou nie lastig val met 'n verslag van die rampe wat oor ons gekom het nie, maar ons wil jou graag versoek om ons die redes te gee vir iets wat ons nie kan verstaan nie: Waarom is ons by die Britse regering uitgebeeld as wrede en barbaarse monsters?"

Die implikasie was dat Stockenstrom hierdie stelling gemaak het. Dit was 'n verregaande beskuldiging. In sy getuienis in Londen het Stockenstrom in die sterkste taal die terugvatstelsel veroordeel en verduidelik hoe dit daartoe gelei het dat onder hierdie dekmantel wreedhede en onreg gepleeg is. Hy het in werklikheid geprotesteer teen die wyse waarop die Afrikanerboere uitgesonder is vir blaam. By ander geleenthede het hy ook sterk geprotesteer teen die neiging om die koloniste voor te stel as moordenaars wat gekant is teen elke poging om op goeie voet met die inboorlingstamme saam te leef.

Stockenstrom het hom nie verwerdig om Retief se bewering te belê nie. Het het slegs aan Retief gesê dat hy mislei is om so 'n belaglike dokument soos die Winterberg adres te onderteken. Op 20 September 1836 het Retief en Stockenstrom by die Katriviernedersetting byeengekom. As veldkommandant het Retief gerapporteer dat die grensgebied deur plunderende swart bendes oorval word en dat die burgers geen beskerming het nie. Stockenstrom het geantwoord dat hy dieselfde streng regverdigheid aan alle partye en gelyke regte vir alle mense van alle klasse en kleure aanbied. 'n Maand later het Retief geskryf dat baie mense besig is om die kolonie te verlaat, maar ander wag nog om steeds te sien of daar maatreëls getref word wat hulle veiligheid verbeter.

Vir Retief was die grootste steen des aanstoots ordonnansie 49 van 1828. Dit het regeringsagente gemagtig om passe vir kort tydperke uit te reik; swartes wat langer wou bly om op die plase te werk, kon 'n kontrak sluit. Dit was 'n poging om die swart rondswerwery aan die grens te beëindig. Maar dit was gou duidelik dat die regering nie daarin sou slaag om die bewegings van swart mense te beheer nie.

Soos in die vroeë jare twintig, toe Retief beswaar gehad het teen die regulasies wat hom verbied het om die grens oor te steek om vee terug te kry, wou hy nou Xhosas arresteer wat in die kolonie gekom het, al het hulle passe van regeringsagente gehad. Die burgers het sommige van die agente gewantrou en Retief kon geen rede sien waarom die Xhosas toegelaat word om weer in die kolonie in te kom en die bietjie goed wat nog oor was weg te voer nie.

Stockenstrom was in 'n moeilike posisie. Hy het nie middele gehad om behoorlike beskerming in die onsekere tye te bied nie. Hy was egter oor een ding baie seker: dit sou die situasie vererger as Retief as burgeroffisier eie reg gebruik en die regulasies ignoreer. Anargie sou slegter as wanorde wees. Die grootste rampe wat die grens getref het, was die gevolg daarvan dat mense eie reg gebruik. In die Slagtersnekrebellie van 1815 het dit daartoe gelei dat mense aan die galg sterf. Hy het dit alles al voorheen gesien.

Hy het aan Retief geskryf as hy iemand met 'n wettige pas arresteer, sal hy die gevolge van die daad moes dra. Totdat die wet gewysig word, moet Retief dit gehoorsaam. Hy het gedreig om Retief as veldkommandant te ontslaan as hy die regulasie verontagsaam. Teen die einde van 1836 het Retief besluit om ook uit die kolonie te trek.

Die grensburgers se wantroue was op die sendelinge van LSG toegespits. Hulle het Philip van allerhande onheilighede verdink. Hy het net voor die uitbreek van die oorlog samesprekings met sommige van die vernaamste Xhosa-kapteins in die neutrale gebied gehad. Hy en sy skoonseun, John Fairbairn, die liberale redakteur van die Commercial Advertiser, was lank baie krities teenooor die grensburgers en veral die kommando's. Die burgers was oortuig dis Philip en ander kwaadwillige LSG-sendelinge wat hulle oral beswadder.

Die oorsake van die Groot Trek

Twee strome emigrante het die kolonie in die tweede kwart van die negentiende eeu verlaat. Die eerste was 'n emigrasie van boere wat trekboere genoem is, wat al in die jare twintig op betekenisvolle skaal begin het. Die ander was van mense wat later Voortrekkers genoem is.  Terwyl die Voortrekkers politieke kwessies beklemtoon het, het dit vir die trekboere in die eerste plek gegaan oor 'n tekort aan weiveld.  Die trekboere het as individue of enkele families getrek en aanvanklik net tydelik anderkant die grens vertoef; die Voortrekkers het in trekpartye beweeg wat dikwels uit groepe families bestaan het.

Wat bekend geword het as die Groot Trek was in feite 'n doelgerigte en daadkragtige reaksie op die oorlewingskrisis wat in die oostelike en noordoostelike distrikte van die kolonie geheers het.  Dit was nie 'n geval van weghardloop nie - een van die drie opsies wat Stockenstrom in die debat van 1825 uitgelig het - maar 'n goed beplande massa-opstand teen 'n ondraaglike gebrek aan sekuriteit.  Die trek het verskeie oorsake gehad, maar hulle kan opgesom word as 'n gebrek aan grond, arbeid en veiligheid.  Hiermee het gepaardgegaan 'n vydverspreide gevoel onder die deelnemers dat hulle polities gemarginaliseer word.

'n Tekort aan grond was lank reeds akuut en die toestand het tussen 1812 en die middel van die dertigerjare steeds versleg.  Die burgers het gevoel dat hulle vasgedruk is.  Teen die begin van die eeu was daar reeds 'n akute gebrek aan grond aan die grens en alhoewel die burgerbevolking vinnig gegroei het, was daar geen verdere uitbreiding van die koloniale grondgebied nie.

Die grondkwessies is gekompliseer deur die oorskakeling van die leningsplaasstelsel na 'n erfpagstelsel in 1813.  Die uitreik van die oordragaktes het lank gesloer.  Baie boere het tien of twintig jaar nadat hulle die opmeetgelde betaal het nog gewag vir hul akte.  'n Ondersoek wat ingestel is, het vasgestel dat daar na alle waarskynlikheid bedrog plaasgevind het.

Teen die middel van die jare twintig het die boere se  hoop dat nuwe grond beskikbaar sou kom, begin taan.  Daar was geen kroongrond meer beskikbaar nie en van 1832 af het die regering alle aansoeke om grond teruggestuur.  Die prys van gevestigde plase het skerp gestyg.

Vir Stockenstrom was hierdie situasie nie 'n ramp nie.  Hy was oortuig daarvan dat solank die boere kon hoop dat die kolonie verder sou uitbrei hulle steeds die inheemse mense se grond sou begeer.  Hy wou alle hoop dat daar verdere uitbreiding sou plaasvind die nek inslaan.  Die doeltreffende boere sou dan meer intensief begin boer deur byvoorbeeld hul kuddes te verminder, kunsweiding te kweek en grond van uitputting te bewaar.  Ondoeltreffende boere en hul seuns sou verplig wees om by ander boere te gaan werk of om na die stede end dorpe te trek.

Maar die boere was traag om hul metodes te verander.  Kapitaal vir beleggings was skaars en die markte klein.  Windpompe en draadheinings sou eers in die tweede helfte van die negentiende eeu beskikbaar raak.  Die regering het ook geen voorligtingsbeamptes aangestel om die boere te help om te moderniseer nie.  Die boere was traag om risiko's te loop en eers na die opkoms van wol as uitvoerproduk was hulle bereid om nuwe rigtings met hul veeboerdery in te slaan.

Die trekboere en Voortrekkers wou grond op groot skaal bekom vir bestaansboerdery, waaraan hulle en die vorige geslagte gewoond was, en dit het gelyk of die dieper binneland daarvoor ooplê.  Reeds van die middel van die twintigerjare het trekboere in die noorde en noordooste elke seisoen 'n tyd lank anderkant die grens gaan woon.  Teen 1830 het baie trekboere hulle plase verkoop en permanent anderkant die noordgrens gebly.  Die beleid om die boere binne die kolonie te hou, het in duie gestort.  Die voornemende Voortrekkers het ongetwyfeld hiervan kennis geneem.  Die teruggrawe van die Provinsie van Koningin Adelaide was vir baie die druppel wat die emmer laat oorloop.

Saam met die gebrek aan grond was daar 'n akute tekort aan arbeid.  Die plase was groot en die plaashuise was ses tot sewe kilometer weg van mekaar, met geen grensdrade om die vee te beskerm nie.  Dit was dus noodsaaklik om betroubare veewagters te hê, maar baie boere het nie hulle werkers goed betaal nie.  John Philip het geglo dat die boere arbeid sou kon trek as hulle bereid sou wees om goeie kontantlone te betaal.  Die Afrikanerkoloniste was egter veel minder as die Britse setlaars aan 'n markekonomie en kontantlone gewoond.

In 1828 het die arbeidsituasie dramaties verswak.  Na ordonnansie 50, wat alle beperkings op die Khoi-Khois afgeskaf het, het Khoi-Khoi-werkers in groot getalle van die plase weggetrek.  Henry Cloete, 'n Kaapstadse Afrikaner, het geskryf van plase wat heeltemal verlaat is deur die paar Khoi-Khois wat nog as plaasarbeiders oorgebly het.  Hulle het kennis gegee en hulle op sendingstasies gevestig.  Hulle het die kuddes en troppe wat hulle by hul werkgewer verdien het, met hulle saamgeneem en elke aanbod of poging om hulle om te koop om langer in die diens te bly, verwerp.

Baie van hulle het gaan woon in plakkershutte wat hulle opgerig het buite dorpe of op kroongrond.  Teen die middel-1830's was daar talle klagtes oor die probleme om veewagters te kry.  In 1842 het 'n Britse offisier verklaar dat dit onmoontlik is om veewagters te kry.  Maar Xhosas was besig om die leemte te vul.

Veral in die geval van trekleiers het die arbeidskwessie en die versteurde verhouding tussen meester en slaaf of meester en Khoi-Khoi-werker 'n beslissende rol gespeel in die besluit om te trek.  Louis Tregardt was n suksesvolle boer en die eienaar van 'n hele aantal slawe.  Hy het verbitterd geraak omdat die regering geweier het dat hy 'n plaas in die neutrale gebied opneem so lank hy 'n slawe-eienaar is.  Gert Maritz, 'n ander leier, het 'n verlies van amper (1000 pond) gely toe sy slawe vrygestel is.

Die grootste slawebesitters sou egter nie volgelinge  kon kry slegs op grond daarvan dat hulle verliese in die vrystelling gely het nie. Tregardt het tien slawe besit, maar die ander 29 families in sy trek het tesame slegs vyf slawe besit. En teen die middel van die jare dertig was slegs een vyfde van die kolonie se slawe in die distrikte werksaam waarvandaan die grootste aanval Voortrekkers gekom het.

'n Verwante kwessie was die verlies van beheer oor slawe en bediendes. Na 1825 het daar heelwat meer klagtes teen meesters ingekom en die gebrekkige administratiewe struktuur het nou 'n groot probleem geword. Baie mense moes twee of drie dae na die drosdy reis om daar 'n klag te gaan indien of om voor 'n hof te verskyn om getuienis af te lê of om op 'n aanklag te antwoord. Gevolglik het baie grensburgers verkies om nie klagtes in te dien nie, maar om hulle eerder te onderwerp aan dinge wat hulle diep gegrief het.

Ordonnansie 50 van 1828 het meesters verbied om Khoisan-bediendes te straf. Van die middel van die jare twintig het al hoe meer slawe klagtes teen hul base ingedien oor mishandeling. In 1834 is die reg afgeskaf om slawe, wat nou ingeboektes genoem is, te straf. Die verlies van patriargale gesag oor slawe  en bediendes was een van die sterkste beweegredes van die trek. Verskeie Voortrekkerleiers het met die gereg gebots omdat hulle hul slawe of bediendes gestraf het. In 1825 is Piet Retief beskuldig van die mishandeling van twee van sy slawe, maar onskuldig bevind in die hof. Net voordat Hendrik Potgieter die kolonie verlaat het, moes hy in die hof verskyn op aanklag van een van sy ingeboekte slawe dat sy baas hom snags laat werk. Potgieter se verweer was dat die slaaf nie sy werk kon doen nie omdat hy heelnag "viool gespeel en danspartye gehou het." Die hof het die slaaf se klagte verwerp.

Nog 'n leier, Piet Uys, is waarskynlik genoop om die kolonie te verlaat nadat sy vrou op aanklag van 'n ingeboekte slaaf in hegtenis geneem is. Hy het die klag as kwaadwillig beskou. Toe hy oor die oorsake van die trek gevra is, het hy geantwoord dat die mense eers 'n rondloperwet gevra het en daarna huijs reg. Daarmee het hy waarskynlik bedoel die reg om iemand in die huishouding te straf, maar hierdie versoek is ook verwerp. Deur uit die kolonie te trek, kon die trekkers die ou paternalistiese orde weer vestig. Verskeie Voortrekkers en trekboere het bediendes en oudslawe oorreed om saam te gaan.

Saam met die tekort aan grond en arbeid was die gebrek aan veiligheid aan die grens 'n deurslaggewende rede. In Tarka en in ader dele van die noordoosgrens was Boesmanbendes nog in die jare dertig bedrywig. In die sentrale en die suidoostelike sektor van die grensgebied het klein groepies swerwers van plaas tot plaas getrek en op klein skaal vee gesteel of by die huise kos gebedel. Dit was dikwels uit groot nood dat die Mfecane-vlugtelinge gebedel het.

Aan die ander kant was die Xhosa-diefstalle in die neutrale gebied 'n ingewikkelder verskynsel. Die Xhosas het beheer oor die Suurveld en later ook oor die neutrale gebied verloor, maar die regering het toegelaat dat party stamme in laasgenoemde gebied aanbly. Dit het gou oorbevolk geraak. 'n Akute tekort aan weiveld het sowel Xhosas as veeboere getref. Party Xhosas het vee gesteel omdat hulle verbitterd was oor die verlies van hulle grondgebied. Ander as kwaad oor die terugvatstelsel en party het gesteel bloot omdat dit maklik was.

Die grensburgers het al hoe minder geweet hoe om teen rondlopers en veediewe op te tree. Baie het swaar verliese weens veediefstal gely en toenemend het die grensburgers ook vir hul lewens begin vrees. 'n Mens kan die vrees illustreer deur na die lotgevalle van 'n paar leiers  se families te kyk. In die Derde Grensoorlog (1799 - 1802) is al die vee wat aan Gert Maritz se pa behoort het gesteel. In die Sesde Grensoorlog (1834 - 1835) het Martiz se broer amper aan steekwonde gesterf. Piet Retief het in hierdie oorlog al sy vee verloor en sy plaas is in puin gelê.

In sekere dele was daar feitlik geen regeringsgesag nie. Die ergste was in die wyk Tarka, wat ongeveer 17,000 vierkante myl (44,200 vierkante kilometer) beslaan het in die Somersetdistrik aan die noordoostelike grens. Ongeveer een derde van die Voortrekkers het hiervandaan gekom. Die naaste amptenaar was 'n vrederegter gestasioneer op Cradock en hy is deur 'n enkele konstabel bygestaan. 'n Burger het gesê: "Dit is slegs in naam dat ons deur die wet beskerm word." Goewerneur D'Urban het opgemerk dat die administrasie van die distrik Somerset nie veel meer as 'n dooie letter is nie.

Stockenstrom het die boere by geleentheid daarvan beskuldig dat hulle trek omdat hulle anderkant die grense wetteloos wil lewe. Hierop het voornemende Voortrekkers in die noordoostelike wyke geantwoord: "Die teendeel is waar: ons verlaat die kolonie omdat ons nie weet van 'n regering of van 'n wet nie - van die regering weet ons niks nie behalwe wanneer ons geld moet betaal, en die wet bereik ons nooit nie behalwe om ons te beboet of op 'n ander manier te straf. Dikwels is dit oor dade wat ons nie geweet het verkeerd is nie. Ons veldkornette kan ons geen hulp verleen nie en hulle bly net so in die duister as ons. Ons is soos verlore skape."

Die Sesde Grensoorlog (1834 - 1835) was vir die grensboere 'n geweldige skok. Hulle kon nie glo dat 'n Xhosa-inval op so 'n uitgebreide skaal moontlik is nie. Hul hoop was dat die kolonie se teenaaval die Xhosas so totaal sou verslaan dat daar uiteindelik stabiliteit sou kom, maar dié hoop is gou beskaam. 'n Paar maande na die einde van die oorlog het bendes stropers weer deur die grensgebied begin rondswerf. 'n Engelssprekende grenskolonis het in April 1836 gerapporteer dat die Afrikanerboere min hoop vir die toekoms het. Hy het bygevoeg: "One said that in his father's life time and his own they had been five times clean swept out by the Kaffirs...that for protection the future would be like the past; indeed he thought that they were worse off than fifty years ago; in those old days when they were robbed they redressed themselves, but now their hands were tied while the Kaffirs were loose." In September 1836 het 'n welopgevoede Engelse boer van Fort Beaufort gerapporteer: "The principal grievance of the farmers in my neighbourhood is...their having to support such incredible numbers of Hottentots, Bechuanas, and Fingoes that daily vagabondize the country and I do myself declare that in no period within the past fifteen years have I ever seen them in such numbers as they are at present...ten or fifteen idle vagabonds in a day."

Die hele grensgebied was in 'n toestand van onrus. G. Jarvis, 'n Britse offisier, het "an extraordianry feeling of panic" gerapporteer. Mense was vreesbevange en reg om dadelik weg te trek. Na die brief van lord Glenelg, wat die skuld vir al die oorloë hoofsaaklik op die grensboere gepak het, het mense besluit dat die imperiale regering nie 'n vinger sou lig as die wit mense heeltemal "verwoes en vernietig" word nie. 'n Waarnemer het verklaar dat die vernaamste rede waarom veral die vroue wil trek die regering se onvermoë is om die boere te beskerm.

"''n Onderdanige en minderwaardige ras": vervreemding en verbittering

Die gebrek aan grond, arbeid en sekuriteit was ernstige oorsake van die boere se gegriefdheid, maar hierdie faktore saam of afsonderlik kan nie verduidelik waarom nie slegs mense met min of geen grond die kolonie verlaat het nie, maar ook redelik welgestelde boere, wat omtrent almal hulle plase goedkoop van die hand gesit het. Baie het getrek selfs voordat hulle kompensasie ontvang het vir hulle bevryde slawe of vir die voorrade wat hulle aan die militêre magte verskaf het of vir die verliese wat hulle in hierdie oorlog gely het.

'n Gevoel van vervreemding het ontwikkel binne die verband van 'n regering wat tussen 1824 en 1834 'n sosiale revolusie van stapel gestuur het op dieselfde tyd toe dit al die plaaslike regeringsinstellings waarmee die burgers hulle vereenselwig het, afgeskaf het. Daar was nie langer enige burgers wat as heemrade gedien het om die landdros van advies te bedien nie, en die funksies van die burgers wat as veldkornette gedien het, is skerp verminder.

Terwyl die burgers uitgeskuif gevoel het, het swart mense vir die eerste keer regte gehad. Die burgers se grootste grief het ontstaan wanneer hulle gedwing is om in die hof te verskyn nadat hulle opgetree het teen mense wat rondgeswerf of vee gesteel het. "daar is geen regte vir burgers meer nie maar slegs vir swartes", het 'n omgekrapte veldkornet uitgeroep. Hy is voor die hof gedaag nadat hy opgetree het teen "astrante" Khoi-Khois wat geweier het om sy plaas te verlaat.

Die burgers het begin voel soos vreemdelinge in hul eie land. Stockenstrom het hul gevoelens so saamgevat: Nou het ons 'n siviele kommissaris om ons geld te ontvang vir die regering en landmeters, 'n magistraat om ons te straf, 'n klerk om ons te vervolg en in die tronk te sit, maar geen heemraad wat aan ons kan sê wat reg of verkeerd is nie.

'n Essay van Olive Schreiner, 'n vroeë feministiese skrywer en iemand met sterk liberale oortuigings, het ook die grenskoloniste se gevoel van vervreemding beskryf. As 'n goewernante in die grensdistrikte Colesberg en Cradock tussen 1874 en 1891 het sy die mense goed leer ken en ook die stories wat hulle vertel het. Sy het kommentaar gelewer oor die feit dat die mense so swak gekompenseer is vir hul slawe en toe bygevoeg: "But that which most embitterd the hearts of the colonists was the cold indifference with which they were treated, and the consciousness that they were regarded as a subject and inferior race..[The] feeling of bitterness became so intense that about the year 1836 large numbers of individuals determined to leave for  ever the colony and the homes they created."

Ten tye van die Sesde Grensoorlog was dit al meer as dertig jaar dat Britte uiters negatief oor die grensboere geskryf het. Dit het begin met die reisverhaal van John Barrow. Reeds in die eerste jare van die nengentiende eeu skryf ds. M.C. Vos die Afrikaners se tradisionele gasvryheid teenoor vreemdelinge word swaar beproef deur die 'lasteringen' van die meeste reisbeskrywers wat goed deur hulle ontvang is. Dié soort berig het met die werk van Philip 'n hoogtepunt bereik.

Die grensboere het min hoop gehad dat hulle ooit as enigiets anders as die wit uitvaagsels van die Britse ryk beskou gaan word. Die tydskrif The Spectator skryf op 17 Maart 1834, nege maande voordat die oorlog uitgebreek het: "The maltreatment of the aborigines in one of the darkest and bloodiest stains in the pages of history and scarcely any is equal in atrocity to the conduct of the Dutch Boers."

Ten grondslag aan die grensboere se vervreemding het gelê die aanslag wat 'n nuwe politieke stelsel op hul selfbeeld gemaak het. Die feit dat hulle aan Briste gesag onderworpe was en die krenkende wyse aarop van hulle gepraat is, was nie die hele probleem nie.

Hul hele selfbeeld, soos dié van hul ouers, is deur die status-onderskeidinge van die ou Kompanjiesbewind gevorm. In stryd met die moderne onderskeide en die Britse klem op "non-racial citizenship" en "rule of law" het hulle voortgegaan om die gelykstelling te verwerp van mense van die verskillende statusgroepe - meester en bediende; "gebore Christene" en "gedoopte" Christene (mense wie se ouers nie Christene was nie, maar wat deur sendelinge bekeer is); burgers wat geboer en die land beskerm het en mense wat nie burgers was nie, nie kommandodiens gedoen het nie en ook nie geboer het nie. Hierdie onderskeidinge het nie in 'n rasse-of kleuronderskeid ontstaan nie, maar die korrelasie tussen die onderskeidinge n kleur was van die begin af daar  en het steeds sterker geword. Ten tye van die trek het Karel Tregardt die konflik spesifiek in kleurterme uitgedruk:"'n Hoofbeswaar teen die aanstaande nuwe gang van sake was die gelykstelling van kleurlinge met blankes." En in 1837 het veldkornet Carel Buchner van die Suurveld uitgeroep: "[Die] tomelose gedrag van swartes alhier is strydig met die murg van die Afrikaners en dit alleen en niks anders nie is die bewegende oorsaak van die verhuising."

Maar in die algemeen was kleur slegs een dimensie van die selfkonsepsie van die burgers aan die oosgrens: hulle was ook burgers en Christene - identifikasies met veel dieper wortels. Anna Steenkamp, wie se oom Piet Retief was, gee iets weer van die meer komplekse gevoelens oor gelykstelling wat die trekkers ervaar het. Sy verwys eers na die onophoudelike stropery en diefstalle" en dan na die onregverdige wyse waarop die slawe vrygestel is, en voeg dan by: "Nogtans het hierdie vryheid ons nie soseer verdryf nie as hul gelykstelling met die Christene, strydig met God se wette en onuitstaanbaar vir elke fatsoenlike Christen." Dit het vir haar waarskynlik gegaan oor die toelating van bruin of swart mense as lidmate van die kerk, hoewel sommige se morele gedrag nie aanvaarbaar was nie. Van die einde van die agtiende eeu af het verskeie gemeentes reëlings getref dat nie-wit lidmate afsonderlik gedoop en met Nagmaal bedien word, maar die sinode van 1829 het dit op aandrang van die regering se verteenwoordiger verbied. J.N. Boshoff, 'n amptenaar op Graaff-Reinet wat later getrek het, het verwys na die onsteltenis wat gespruit het uit die feit dat swartes aangemoedig is om hulle as gelykes in die kerk te beskou, hoewel hulle "heidene" was en ook nie lidmate van so 'n kerk of gemeente nie.

Ewe belangrik was die konsepsie van mense wat as burgers militêr en administratief 'n sleutelrol gespeel het. Burgers het as veldkornette gedien, waarsonder plaaslike regering in duie sou gestort het, en het in kommando's geveg, wat onontbeerlik vir die kolonie se verdediging was. Hulle was inderdaad voortreflike vegters en Stockenstrom het verklaar dat kommando's onder hul eie veldkommandante en verdkornette hulle uitstekend van hul taak gekwyt het. D'Urban het die burgers beskryf as die beste vegslui van hul soort wat hy nog gesien het.

Ten spyte van hul sleutelrol het sommige Britse amptenare en offisiere hulle as blote ondergeskiktes behandel. Die burgers se gevoel van gekweste waardigheid is in die Sesde Grensoorlog op die spits gedryf toe kommando's in die koloniale mag onder aanvoering van kolonel Harry Smith geveg het. Die regering het hulle nie betaal nie en hulle het ook nie 'n deel van die buit gekry soos vroeër nie. Na hul ontslag het die Britse bevelvoerders hul perde opgekommandeer en hulle moes ver huis toe stap. Dit was 'n vernederende ervaring wat hulle sin van burgerlike deugsaamheid gekwes het.

Na die oorlog het die regering planne bekend gemaak om burgers in 'n milisie te gebruik. Dit het sake vergerger. Die boere het gevrees dat hulle dieselfde vernederings as gedurende die oorlog ou smaak. Vrese wat aan die Kompanjiestyd herinner het, dat hulle in die regering se diens gedwing sou word as soldate of matrose, het weer lewendig geword. 'n Voortrekker het aan 'n waarnemer vertel van die vrees dat hul kinders as soldate opgeroep en na vreemde lande gestuur sou word. Tot in 1848 nog het amptenare die burgers se verset teen planne om hulle vir 'n milisie op te roep, toegeskryf aan hul weiering om as enigiets anders as vrye burgers beskou te word.

Van die trekkers sou sekerlik gebly het indien daar bevredigende kanale was waardeur hulle hul griewe aan die regering kon voorlê. Maar daar was nie. Die burgers het aan Stockenstrom gesê dat hulle nie langer tuis voel in hul eie land nie. Die gedrag van Hendrik Potgieter van die Tarkawyk onderstreep die faktor van vervreemding. Saam met Piet Retief, Andries Pretorius en Gert Maritz was Potgieter die belangrikste Voortrekkerleier. Hy was 'n welvarende boer en slawebesitter met goeie ekonomiese vooruitsigte. Sy arbeider het 'n klag teen hom ingedien en hy het nog steeds gewag op 'n oordragakte vir sy plaas. Hy het sy grond laat opmeet kort na die nuwe wetgewing van 1813, maar 22 jaar lank is daar geen titelakte aan hom gestuur nie. Toe hy die kolonie aan die einde van 1835 verlaat, is hy nog nie die kompensasie betaal vir sy slawe nie. Die regering het ook nie betaal vir die voorrade wat hy en sy broer vir die burgerkommando in die grensoorlog van 1834-35 gelewer het nie.

Potgieter, een van die invloedrykste grensboere, het geen volledige verduidelikging vir sy emigrasie gelaat nie, maar dit is duidelik dat hy dit onmoontlik gevind het om langer te leef onder wat hy beskou het as 'n vreemde, ploeterende regering. In Desember 1838, drie jaar nadat hy die kolonie verlaat het, het hy aan die goewerneur in Kaapstad geskryf dat die "uitgewekens" om hul "familie se behoud" getrek het "nie alleen om sy Eksellensie se wette nie, maar veral omrede die onbestaanbaarheid, omdat ons ons vrou en ons kinders nie kon munteneeren (onderhou). Hy het bygevoeg: ""[Ons] het geen kwade voornemens om iets onwettigs te doen nie, en ons beskou ons self as vrye burgers om te gaan waar ons verkies sonder om iemand te benadeel, aangesien alle nasies vry is en kan gaan waar hulle wil."

In 'n brief in Julie 1837, toe hy reeds op die trek was, het Retief die Britse regering verseker dat die trekkers nie teenoor die "Britse nasie" vyandig wil wees nie. Hulle het die kolonie verlaat hoewel dit enorme en onberekenbare verliese meegebring het. Maar daar is ook 'n nuwe toon in sy brief. "Ons wil beskou word as 'n vry en onafhanklike volk" Andries Pretorius het 'n soortegelyke sentiment verwoord in 1838 net nadat hy die leier van die trekkers in Natal geword het. In 'n brief aan ds. G.W.A van der Lingen van die Paarl, wat hy "'n ware Afrikaner" noem, het hy geskryf dat die trekkers op die oomblik rondswerf, maar eendag 'n volk sal word en tot Sy eer sal leef. Hier kry ons dus 'n manifestasie van die soort politieke bewustheid wat in die dekade voor die trek en selfs aan die vooraand van die trek nog afwesig was.

Dit is egter foutief om die trek te beskou as iets wat veroorsaak is deur die begeerte om as 'n volk of nasie 'n nuwe tuiste te gaan soek. Dit is eers nadat die trekkers aan die beweeg gekom het dat hierdie gedagte by die leiers begin posvat het.

Voorbereidings en 'n manifes

Die Groot Trek was nie 'n impulsiewe daad nie. Dit is voorafgegaan deur 'n noukeurige ondersoek na die bestaansvooruitsigte in die dieper binneland. Gedurende die 1830's  het drie verkenningsekspidisies, genaamd kommissietrekke, uitgegaan om die moontlikhede te ondersoek. Een so 'n trek het deur Damaraland in die huidige Namibië gereis; die ander na die huidige Mafikeng en Gaborone, en die derde na Natal. Laasgenoemde het geesdriftig oor die land met die oorvloedige weiveld gerapporteer. Weens die Mfecane was baie gebiede yl bevolk. Na hul terugkoms het die lede van die kommissietrekke die idee van emigrasie gepropageer. Die Mfecane het die Voortrekkersvestiging baie makliker gemaak omdat groot gebiede tydelik ontruim was. Begeerlike grond het gelyk of dit wag om beset te word.

Piet Retief het reeds teen die einde van 1836 besluit om te trek. Op 22 Januarie 1837 het hy sy manifes in die Grahamstown Journal gepubliseer. In die laaste week van Januarie was Reitef in Grahamstad tuis by die joernalis Louis H. Meurant, wat 22 jaar later die eerste Afrikaanse politieke boek, Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twiffelaar, oor die afskeiding van die oostelike van die westelike provinsie gepubliseer het. Dit is moontlik dat hy 'n belangrike rol in die opstel van die manifes gespeel het.

Die manifes was nie 'n welluidende verklaring van onafhanklikheid nie, maar 'n dokument wat veral die vermoede wou beveg dat die trekkers aan die beperkings van die wette wou ontsnap. Die hele strekking is dat wetsgehoorsame burgers net onder uiterste provokasie besluit het om te trek en geen opstandgedagtes het nie. Retief se grootste prikkel was sy frustrasie dat hy as burgeroffisier magteloos was om op te tree teen rondlopers wat hy seker was sou steel. Sy hande was egter afgekap omdat hulle passe gehad het wat deur agente uitgereik is. Die eerste punt van sy manifes, soos vertaal deur sy biograaf J.L.M. Franken, begin dan ook met die punt: "Ons wanhoop daaraan om die Kolonie te red van daardie euwels wat dit bedreig vanweë die onruswekkend een roekelose gedrag van landlopers wat toegelaat word om die land in al sy dele te verontrus." Dit kla verder oor die "aanhoudende plunderings [sic] van die swart en gekleurde rasse", veral in die laaste grensoorlog. Ook teken dit beswaar aan oor verliese wat gely is deur die vrystelling van slawe en wette wat aangaande die verhouding tussen heer en slaaf uitgevaardig is. En dan is daar 'n verwysing na die getuienis wat Philip in Engeland oor die konflik aan die oosgrens afgelê het: "Ons kla oor die onregverdigbare blaam wat op ons gewerp is deur belanghebbende en trouelose persone wie se getuienis in Engeland geglo word met uitsluiting van alle getuienis ten gunste van ons..."

Die manifes beklemtoon dat die emigrante niemand wil verslaaf nie, maar die ou paternalistiese verhouding tussen meesters en bediendes wil herstel. Hulle sal niemand se eiendom neem nie, maar hulle sal hulle self beskerm teen aanvalle op hulle lewe en eiendom. Hulle sal wette maak om hulle self te regeer en hulle sal kopieë daarvan aan die kolonie ter inligting stuur. Hulle plan is om in vrede te leef met die swart stamme in wie se omgewing hulle gaan woon.

Die manifes sluit af met 'n geloofsbelydenis: "Ons verlaat nou ons vrugbare geboorteland waarin ons enorme verliese gely, en voortdurend onlydelikheid [six] ondervind het; en ons gaan 'n woeste en gevaarlike gebied binne; maar ons gaan met 'n vaste vertroue op die Alsiende, Regverdige en Genadige Opperwese en dit sal immer ons strewe wees om Hom te vrees en nederig te gehoorsaam."

Retief het moontlik op 1 Februarie 1837 persoonlik van Stockenstrom afskeid geneem, maar teen hierdie tyd was die verhouding heeltemal versteur, soos blyk uit die finale briefwisseling. Stockenstrom het Retief die skuld gegee omdat die trekkers die beskerming  van die Britse regering versaak vir dié van twee "Kafferhoofde" (Dingane en Mzilikazi).

Retief het geantwoord dat die trekkers op God alleen vertrou om behoed te word teen "ongelukkige lotgevalle." Op 2 Februarie 1837 het Retief uit Grahamstad op sy noodlottige tog vertrek. Retief het sy dagboek aan Meurant gegee. Daarin is die boere se griewe sedert die Slagtersnekrebellie opgeteken. Van Meurant het Retief as geskenk 'n groot werk in kwartoformaat oor die Romeins-Hollandse reg ontvang.

Stockenstrom se oplossing: 'n verdragstelsel

Stockenstrom het in die laaste maande van 1836 sy gedagtes oor 'n verdragstelsel waarmee hy al sedert die jare twintig besig was, in die praktyk probeer verwesenlik. In November 1836 het hy geskryf dat die kolonie of die Xhosas moet uitwis, waarmee hy bedoel het verdryf uit die grensgebied, of versoening en geregtigheid nastreef. Elke beleid tussenin sou rampsoedig wees. Ten einde kwessies soos veediefstal op te los, moet verdrae tussen die kolonie en die kapteins in die neutrale gebied gesluit word. Verdrae was niks nuuts in die grenspolitiek nie, maar vir Stockenstrom was dit allermins ooreenkomste tussen 'n meerwaardige en 'n minderwaardige gesag. Vir hom as die verdrae tussen die kapteins en die koloniale regering op 'n vlak van verdrae tussen onafhanklike state.

Stockenstrom het gweet hoe sterk die verset teen sy plan was. Hy het opgemerk dat mense dink dit is absurd om die reëls van die verkeer tussen beskaafde nasies toe te pas op die kolonie te optrede teenoor 'barbare'. Maar hy het by sy standpunt gebly. Hy het geglo dat die beginsels van waarheid en geregtigheid universeel en ewis is tussen nasies en ook tussen individue. "Ek glo dat die magtigste moontheid sowel as die mees onbenullige gemeenskap deur beginsels gebind word." Hy was daarvan oortuig dat die kononiste hulle misgis as hulle dink dat die Xhosas slegs ''n Bende diewe' was. Hy het verklaar: "Ons is sowel in die veld as in die kabinet verslaan deur 'n bende diewe." Dit was 'n verwysing na die herroeping van D'Urban se beleid.

Stockenstrom het min geloof gehad in John Philip se visie van imperialistiese uitbreiding met die doel om die swart mense onder Britse gesag te bring en kultureel te assimileer. Na sy mening was dit onverstandig om in te meng in die wyse waarop inheemse mense hulle lewens en konflikte reël. Hy het nie geglo dat die invloed van Engelse wette hoegenaamd prakties sou wees nie. Die vooroordele van 'n nasie lyk miskien belaglik, maar hulle kan nie maklik uit die weg geruim of geignoreer word nie.

Stockenstrom wou eerder sy stelsel rondom die kapteins se gesag bou. Hy het geglo dat sonder die kapteins geen vrede moontlik sou wees nie. Volgens sy stelsel is aan die kapteins spesifieke gebiede in die neutrale gebied toegewys. Hulle moes raadslid aanstel om toesig te hou oor hul betrokke gebiede. As vee gesteel is, kon boere dit slegs met die hulp van hierdie raadslede anderkant die grens gaan soek. Geen patrollie kon net by 'n kraal opdaag en kompensasie eis soos volgens die ou terugvatselsel nie.

Verder wou hy by die wortel van die diefstalprobleem uitkom, naamlik op die plase. Die boere moet hul vee ordentelik oppas en hul werksmense behoorlik betaal. Die boere, het hy geskryf, moet onthou dat hulle goeie grond goedkoop gekry het en moet dus nie kla as hul kuddes nie berhoorlik beskerm word nie. Die koloniste moet toegelaat word om hul eiendom en lewens teen die rowers te beskerm, indien nodig met wapens. As vee gesteel is, moet die diewe gevang en gestraf word, maar alles moet volgens die wet geskied. Daar kan nie die risiko van 'n bloedige oorlog geloop word vir elke koei wat wegraak nie.

Onder sowel tydgenote as historici is daar geen konsesus oor hoe goed die verdagstelsel daarin geslaag het om stabiliteit te bewaar nie. Een ingeligte grensboer het later verklaar dat die beleid 'n ramp was en dat moord en plunder aan die orde van die dag was. Maar hierdie oordeel is gevel lank na die gebeure. Sommige van die agente aan wie die taak toevertrou is om die beleid uit te voer, het 'n sukses daarvan gemaak. Een van hulle was C.L. Stretch, wat gerapporteer het dat hy al sy sake vreedsaam met die hulp van die Xhosa-kapteins kon oplos.

Maar daar was ook ernstige probleme rondom die uitvoering van die beleid. Die regering was nie bereid om groot onkoste aan te gaan vir militêre poste of om 'n sterk staande militêre mag aan die grens te hou nie. Dit was kortsigtig, want dié uitgawes was veel minder as dié wat later aangegaan sou moes word om oorlog te voer. Nog 'n probleem was dat daar nie genoeg betroubare veewagters gevind kon word om die boere se vee op te pas nie.

Die vernaamste struikelblok was die invloedryke drukgroep van Britse offisiere, spekulante en setlaars wat Stockenstrom op elke punt probeer ondergrawe het en wat sy naam beswadder het. Daar was die bewering, wat ook deur Retief gemaak is, dat hy die koloniste se reputasie in Londen beswadder het. 'n Selfs meer bedenklike gerug is versprei dat hy in 1830 'n Xhosa koelbloedig doodgeskiet het om sy vader se dood te wreek. Dit het sy gesag so ondermyn dat hy Duncan Campbell, die siviele kommissaris van Albanie, hieroor weens laster gedagvaar het.

'n Wrede lot het nou gewag op hierdie man was sy hele loopbaan gerig het volgens die beginsels van reg en geregtigheid. Die hooggeregshof, met sommige van sy vyande as regters op die bank, het bevind dat daar nie genoeg getuiens teen Campbell is nie. Hoewel 'n daaropvolgende hofbesllissing Stockenstrom volkome gelyk gegee het, het hy hom nou in 'n onmoontlike situasie bevind. Sy ongewildheid het die nuwe goewerneur, sir George Napier, daartoe beweeg om sy ontstag aan te beveel. 'n Nuwe minister van kolonies het Stockenstrom in Augustus 1839 uit sy pos ontslaan.

Hierdie ontwikkeling was 'n terugslag vir die Xhosa-kapteins wat Stockenstrom vertrou het en wat hul bes gedoen het om die stelsel te laat werk. Selfs Maqoma het vyf jaar na Stockenstrom se ontslag opgemerk; "Ek sal vashou aan Stockenstrom se woorde tot ek sterf...As ons verplig word om die verdrae prys te gee, sal niks oorlog verhoed nie." Sonder Stockenstrom en miskien selfs met hom het die stelsel nie 'n kans gehad om te werk nie.

Veediefstal deur die Xhosas het nooit heeltemal opgehou nie. Selfs goewerneur Napier, wat hom self beskou het as 'n kampvegter vir swart regte, het moedeloos geraak. Hy het aan Londen geskryf dat hy eenvoudig moet ag slaan op die klagtes van die grensboere oor die voortudrende roof van hul kuddes en die moorde op hulle veewagters. J. Hare, 'n luitenant-goewerneur van die oostelike provinsie, was ten einde raad. In 1842 het hy aan die goewerneur geskryf dat hy moeg is van al die gepraat met die kapteins, wat by elke geleentheid mooi beloftes maak, maar hulle nooit daarby hou nie. Die regering het nou weer die boere toegelaat om die grens oor te steek en na hulle vee te soek op 'n manier wat aan die ou terugvatstelsel herinner het. Dit het verdrae eensydig verander en mettertyd heeltemal geskrap.

Sou Stockenstrom se verdragstelsel, indien dit behoorlik toegepas is, stabiliteit teweeggebring het? Stockenstrom het sy swakhede gehad, maar hy was was nie naief nie. Die Xhosas, het hy gesê, is nie 'mild, gentle shepherds" nie. Dit is soms nodig om hardhandig teen hulle op tree. "Vigour is as necessary as justice in your dealings with them, and if you allow them to become masters you must give up the colony." Hy het besef dat die verdrae nie nie op hulle eie kon staan nie. Die koloniale regering sou hulle moet opdwing op 'n manier wat dit duidelik maak dat hy nie teenstand sou duld nie. Maar diê regering het hierdie visie nie gehad nie en ook nie die wil om so op te tree nie.

'n Duur les

Met die opbloei van wolboerdery en die sterk styging in grondpryse in die 1830's en 1840's het die geleenthede vir spekulasie met grond sterk toegeneem. Die gevolg was dat daar steeds groter druk op die regering was om van die Xhosa-gebied in die kolonie te inkorporeer. Geeneen van die stemme uit die geledere van die setlaars was luider as dié van John Mitford Bowker nie. Hy het geskryf net soos die duisende springbokke op die vlaktes moet die Xhosas ook weggevee word om plek te maak vir miljoene beskaafde mense.

'n Nuwe goewerneur, sir Peregrine Maitland (1844 - 1847), het weer die ou wet ingestel waarvolgens 'n patrollie die spoor van gesteelde vee tot by 'n kraal kon volg. Dit was hierdie wet wat Stockenstrom met soveel weersin vervul het toe dit dertig jaar tevore ingestel is. In 1846 het die sogenaamde Sewende Grensoorlog uitgebreek, wat later bekend sou word as die Oorlog van die Byl. Selfs John Philip het opgemerk dat die grensboere die Xhosas geen rede gegee het om oorlog te maak nie. Stockenstrom, reeds afgetree, is oorreed om in die oorlog te veg as die enigste persoon wat die burgers  as die bevelvoerder van hul kommando sou aanvaar. Die burgers was nog steeds verbitterd oor hulle swak behandeling in die vorige oorlog deur Britse offisiere.

Toe die Xhosas uiteindelik hul stryd laat vaar en om vrede smeek, het sir Harry Smith, die nuwe goewerneur, besluit om D'Urban se beleid van twaalf jaar vroeër te aanvaar. Hy het die gebied tussen die Keiskamma- en die Keirivier geannekseer en direkte beheer uitgeoefen oor die Xhosas wat daar gewoon het. Die kapteins wou nie veel meer as blote amptenare nie en baie Xhosas is uit hul weivelde verdryf. Die regering het dele van die Xhosas se grond aan Engelse spekulante verkoop om sy oorlogskoste te bestry.

Die Xhosas het die kolonie in Desember 1850 weer ingeval. Vir hulle was die gebrek aan grond akuter as tevore. Sommige Khoi-Khois in die Katriviernedersetting, waar grond ook aan Engelse spekulante verkoop is, het by die Xhosa-invallers aangesluit. Daar was selfs 'n aantal plaaswerkers in die invalsmag. 'n Koloniale mag is weer opgeroep om die invallers te verdryf. Die grensburgers wou nie betrokke raak nie en sir Harry Smith het aan die minister van kolonies geskryf dat die Afrikanermboere aan die grens geen bealngstelling toon nie. 'n Britse setlaar was verbaas oor hoe 'anti-Engels" hierdie grensboere geword het.

Die Agste Grensoorlog (1850 -  1852) was volgens die historikus Jeffrey Peires "the longest, hardest and ugliest war" aan die oosgrens. Die Briste mag het geprobeer om die bestaansbasis van die Xhosas te vernietig: hutte is afgebrand, oeste is vernietig en daar is op vee beslag gelê. Ongeveer 16,000 Xhosas is doodgemaak. Selfs Xhosa-vroue en -kinders se lewens is nie gespaar nie. Dit het die Xhosa-gemeenskap so getraumatiseer dat die mense 'n paar jaar later ontvanglik was vir die boodskap van die jong meisie Nongqawuse dat hulle hul vee en oeste moet vernietig om bevryding te bewerkstellig.

Stockenstrom het dit in sy getuienis in Londen duidelik gemaak dat die gewone koloniste nie verantwoordelik was vir die oorlog nie. Hy het die skuld op die skouers van die aggressiewe goewerneur en geldgierige spekulante gelê. Slegs 'n verteenwoordigende regering, het hy gesê, kan met die nodige wysheid optree om nog grensoorloë te voorkom. Hy het die enkele vraag gevra: "What single benefit that the Colonists derived from any Kaffir war? Speculators benefited, but what good did it do to the Colonists?"

In 1853 is 'n grondwet vir 'n vorm van verteenwoordigende regering aanvaar. Teen hierdie tyd was die meeste Afrikanerleiers in die westelike deel van die kolonie ook sterk gekant teen verdere pogoings om op grond anderkant die grens belsag te lê.

Tussen die 1770's en die 1850's het die Afrikanerboere aan die oosgrens 'n paar duur lesse geleer. In die 1770's het hulle geprobeer om die Xhosas oor die grens te druk. Al het dit baie probleme veroorsaak, het sommige grensboere bly glo dat hulle die Xhosas oor die grens kon jaag en tot onderdanigheid dwing. Selfs in 1803, net na die heel donkerste jare aan die grens, het kommandante Botha, Linden en Van Rooyen aan die Nederlandse goewerneur geskryf dat hul kommando kans sien om "met die punt van die swaard" al hul gesteelde vee terug te kry en vrede en sekuriteit te bewrkstellig wat baie jare sou duur. Dit klink na 'n oorskatting van die burgers se mag.

Stockenstrom het gou agtergekom dat ferm optrede teen die Xhosas nodig is, maar dat hulle nie onnodig laster geval moet word nie, en dat geen werklike vrede op onreg gebou kan word nie. Bowendien was die kolonie se magsmiddele te beperk om eensydige oplossings op te dwing. In 1857 het 'n Afrikanerleier, J. H. Wicht, in die parlement verklaar dat indien die koloniste die grond van die swart mense beset, hulle nie moet verwag "om op 'bed van rose te slaap nie. As jy naby die barbare gaan, is dit soos om na aan 'n perdebynes te gaan." Dit was 'n waarheid wat die Voortrekkers en hulle nasate ook op 'n pynlike wyse sou ontdek toe hul nuwe gebiede beset het.

Hermann Gililomee

Die Afrikaner: 'n Biografie

Tafelberg Uitgewers

ISBN 978-0-624-04181-8