# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die vrees vir gelykstelling

In 1797 het 'n geskil tussen die landdros en heemrade van Stellenbosch ontstaan toe 'n Khoi-Khoi vra dat sy werkgewer, wat hom na bewering geld geskuld het, gelas word om voor die hof te verskyn. Die heemrade het opgemerk dat "sulke praktyke nog nooit tevore hier in swang was nie." Hulle het dit betwyfel of 'n Khoi-Khoi die reg het om te vra dat 'n burger voor die hof verskyn, en het die vrees uitgespreek dat dit "die gedagte kan laat ontstaan dat hulle op gelyke voet met die burgers is."

Die landdros van Stellenbosch, R.J. van der Riet, het sterk verskil. Hy het geglo dat 'n Khoi-Khoi op dieselfde wyse as hy self deur die wet erken moet word en dat "dit die ware gelykheid verteenwoordig." In die dae van die Kompanjie het burgers, slawe en Khoi-Khois almal formeel die reg gehad om klagtes by die hof in te dien. Maar dit was eers in die vroeë 1790's dat Honoratus Maynier in Graaff-Reinet die beginsel van gelykheid voor die wet sonder aansien van persoon verdedig het.

Van der Riet het moontlik hierdie standpunt ingeneem omdat hy geweet het dat die nuwe Britse bewindhebbers - anders as die Kompanjie, wat wetlike statusgroepe sterk beklemtoon het - veral op die gebied van die regspraak nie onderskeid tussen verskillende groepe onderdane sou maak nie. Die een onderskeid wat hulle wel toegelaat het, was tussen vrye mense en slawe, maar slawerny het toenemend teenstand in Brittanje ondervind. 

Die nuwe heersers was geensins revolusionêr nie. Hulle het wel die burgerstatus afgeskaf, maar baie van die burgers se voorregte en verpligtinge, byvoorbeeld kommandodiens, het oorleef. Die Britte het sterker as die VOC daarop gestaan dat die Khoi-Khoi-werkers toegang tot die howe moet hê en grond kan besit. In die praktyk het hierdie regte egter nie veel beteken nie. Khoi-Khois was nie Christene en kon dus nie 'n eed in die hof aflê nie, en hul getuienis het gewoonlik minder getel. Baie min Khoi-Khois het ooit grond ontvang. Lord Charles Somerset, wat tussen 1814 en 1826 goewerneur was, kon aan die einde van sy termyn slegs klein stukkies grond noem wat aan drie "Hottentotte" en drie "Baster-Hottentotte toegeken is. Selfs in die dekades na die uitvaardiging van ordonnansie 50 van 1828, toe die Khoi-Khois sogenaamd bevry is, was daar net een suksesvolle Khoi-Khoi aansoek om 'n plaas in die oostelike distrikte.

Tog het die burgers die afskaffing van die wetlike statusgroepe beskou as 'n aantasting van hul hele lewensbeskouing soos dit onder die Kompanjie gevorm is. Hul beswaar teen gelykstelling het binne die konteks van hule burgerstatus ontwikkel. Dit was as oud-burgers dat hulle bepaalde regte en voorregte geëis is.

In die geskiedenis van Europese kolonisasie het die regverdiging vir diskriminasie  sterk verskil. In hiërargiese gemeenskappe, waarin die waardes van broederskap, gelykheid en geregtigheid nie sterk ontwikkel het nie, het mense dit gewoonlik onnodig gevind om ras of kleur as regverdiging vir voorregte voor te hou. In Latyns-Amerika het 'n adelike afkoms of rykdom meesal as rasionalisasie gedien vir diskriminasie teen die gewone lui.

Die burgergemeenskap aan die Kaap was nie 'n hiërargiese gemeenskap nie, en veral buite Kaapstad het die burgers mekaar onderling as gelykwaardig beskou. Dit was juis hierdie egalitariese houding wat hulle genoop het om te diskrimineer teen diegene wat hulle nie as burgers beskou het nie. Naas hierdie "status" het kleur ook as die basis van onderskeid en diskriminasie gedien. Burgerskap en velkleur het grootliks ooreengestem, en namate die idee van burgerstatus vervaag het, het kleur al meer die grondslag vir diskriminasie geword. 

Die vrees vir revolusie en opstand

Die burgers het gou bewus geraak van die dramatiese gebeure wat hulle tussen 1789 en 1794 in Frankryk afgespeel het. Die Franse Revolusie met sy leerstellings van vryheid, gelykheid en die onvervreembare regte van die mens was die grootste skok wat slawebesitters aan weerskante van die Atlantiese osean nog beleef het. In 1793 het die revolusionêre bewind slawerny in alle Franse kolonies afgeskaf, insluitende die eiland Saint-Dominigue (later Haiti).

Aan die Kaap het die nuus van die aardskuddende gebeure in Frankryk ook die slawe bereik. Die kolonie was skielik in die greep van wilde gerugte. In 1793 is berig dat in Stellenbosch 'n algemene vrees heers dat slawe en Khoi-Khois van plan is om "die plase van Christene aan te val en die inwoners te vermoor." In Kaapstad was daar gerugte dat die slawe vergaderings hou om die lot van hul meesters te bespreek wanneer die dag van bevryding aanbreek. 

Kort na die Britse besetting van die Kaap in September 1795 het die nuwe regering aangekondig dat dit nie eiendomsreg sou skend nie. Slawe wat hulle by die besettingsmag gevoeg het in die hoop dat hulle vrygestel sou word, moes dus na hul meesters terugkeer.

Die nuwe bewindhebbers was goed daarvan bewus dat druk vir die afskaffing van die slawehandel in die Britse ryk aan die opbou was. Hulle het dus Willem Stephanus van Ryneveld, hoofregter, gevra of die kolonie kon oorleef sonder die verdere invoer van slawe. Van Ryneveld was self 'n slawebesitter, maar ook van die mees progressiewe denkers wat onder die Kompanjie aan die Kaap gebore is en grootgeword het. 

Van Ryneveld het geantwoord dat hy besef hoe swaar salwerny is en watter nadelige gevolge dit het. Dit hou sowel die eienaar as die slaaf in die greep van 'n gebalde vuis en maak die koloniste lui, hoogmoedig en wreed. Hy sien egter nie kans om aan te beveel dat die invoer van slawe gestaak word nie. Die voortgesette invoer van slawe in onontbeerlik vir die verbouing van koring en wyn. Om slawerny te beëindig, kos nie jare nie, maar eeue.

Die Britte het kort na hul besetting van die Kaap in 1795 hul kommer uitgespreek oor sekere praktyke wat met slawerny aan die Kaap verbind was. Hulle het die Raad van Justisie gevra of die doodstraf volstrek sou kon word sonder die marteling wat dit vergesel het. Die raad het betoog dat doodstraf sonder marteling nie 'n voldoende afskrikmiddel is nie. Die Britte het verskil: hulle het die doodstraf behou, maar geregtelike marteling afgeskaf.

Afgt jaar later het die Bataafse bewind (1803-1806) dieselfde vraag oor slawerny aan Van Ryneveld gestel. Hy het weer uitdruklik die afskaffing van slawerny verwerp. Afskaffing sou lei tot "die onmiddelike vernietiging van die hele kolonie" en sou 'n ramp vir sowel die vrye man as die slaaf wees.

Tog was die eienaars bang dat die slawe teen hul ondraaglike lot in opstand sou kom. Hul vrese is aangewakker deur die skrikwekkende gebeure op die Franse eiland Haiti nadat die revolusionêre regering in Frankryk slawerny daar afgeskaf het. Kort na die vrystelling het gevegte uitgebreek en die meeste wit mense moes vlug. Die volgende tien jaar het 'n bloedige stryd gewoed wat met gruwelike wreedhede gepaard gegaan het. In 1804 het swart leiers die eiland onafhanklik en die inwoners vry verklaar. Die eerste sterk swart leier, Toussant L'Oouverture, het egter die arbeiders verdruk op 'n wyse wat min van slawerny verskil het. By slawebesitters in die Weste het dit die indruk laat ontstaan dat die alternatief vir slawerny nie vryheid en sekuriteit vir almal sou wees nie, maar die omverwerping van alle orde en die vervanging van wit deur swart tirannie.

Haiti het 'n bevolking van 30,000 wit mense, 24,000 swart vryswartes en 452,000 slawe gehad toe die opstand op die eiland uitbreek. Aan die Kaap was daar baie minder slawe as in Haiti, maar die Kaapse wit mense was ook minder as dié van die eiland. 


Bevolking aan die Kaap

                                                   1750                           1798                            1820       

Burgers                                      4,511                        20,000                         42,975

Slawe                                         5,327                        25,754                         31,779

Vryswartes                                    349                          1,700                           1,932

Khoi-Khois                            Nie getel                     Nie getel                         25,975


In 1808 het die gevreesde slaweopstand uitgebreek net nadat Brittanje die slawehandel afgeskaf het. Twee Ierse matrose wat die Kaap aangedoen het, James Hooper en Michael Kelly, en twee slawe, Abraham en Louis, het die opstand aangeblaas. Hulle plan was om al die slawe wat op plase in die Wes-Kaap gewerk het, bymekaar te maak en hulle dan na Kaapstad te laat masjeer. Hier moes hulle 'n nuwe regering uitroep, wat slawerny sou afskaf. Abraham het aan 'n slawevrou gesê: "Môre sal troepe 'n rooi vlag hys en hulle vry veg dan sal slawevroue aan hul nooiens 'jy' sê." Die regter in die daaropvolgende hofsaak het gemeen hierdie aanspreekvorm is in Hollands so oneerbiedig dat dit slegs in die raamwerk van weersand en opstand geuiter kan word. 

Omtrent 300 slawe en 'n paar Khoi-Khoi-bediendes van Koeberg en Tygerberg het by die mars aangesluit. Die opstand is vinnig onderdruk en die regering het die meeste van die slawe dadelik na hul base teruggestuur. James Hooper en die slaaf Abraham en drie ander slawe is tereggestel.

In 1808 het die Britse regering die slawehandel verbied, maar gehuiwer om verdere stappe te doen. Sir John Cradock, goewerneur van 1811 tot 1814, wou gesag van die slawebesitter beskerm. Hy het geglo dat slawe aan die Kaap beter behandel is as enige ander plek waar hy was. Sy opvolger, lord Charles Somerset (1814-1826), het opgemerk dat "no portion of the slave community is better off or happier than the domestic slave in South Africa". Maar soos onlangse studies van slawerny aantoon, is dit vergesog om te dink dat daar ooit iets soos 'n milde stelsel van slawerny was.

In die eerste dertig jaar na die Britse verowering het die kolonie selfs meer van slawerny afhanklik geraak. Onder Britse beheer het die plaaslike mark sterk uitgebrei in die bande met oorsese markte het veel sterker geraak. By boere in die weste was daar 'n toenemende vraag na slawearbeid om die produksie van koring en wyn op te stoot. Tussen 1795 en 1825 het die produksie van sowel koring as wyn verdriedubbel. Teen 1806 het ongeveer 40%  van die boere in Stellenbosch en Drakenstein slegs slawearbeid gebruik. 

Historici het 'n duidelike korrelasie gevind tussen die aantal slawe op 'n plaas en die plaas se produksie. Slawe was ook 'n belangrike vorm van belegging. Op wyn- en koringplase het hulle gemiddeld 13 tot 17% van die totale waarde verteenwoordig. In Kaapstad het slawe wat as ambagslui uitgehuur is 'n opbrengs van 18% per jaar vir hul eienaar gelewer. 

Daar is egter ook aanduidings dat boere meer slawe aangehou het as wat die pryse van produkte geregverdig het. Baie plase was oorgekapitaliseer en kapitaal was soms so skaars dat die boere nie kontant gehad het nie Slawerny was nogtans 'n merkwaardig lewenskragtige stelsel. Daar was weinig alternatiewe beleggingsmoontlikhede aan die Kaap. Solank slawerny as instelling onaantasbaar was, was slawe 'n uitstekende belegging, gemeet in suiwer stoflike terme. 

Die burgers het die voorsetting van slawerny as onontbeerlik beskou. Hulle was oortuig dat die afskaffing van slawerny ramspoedig vir die ekonomie en die koloniste se sekuriteit sou wees. Na 'n dramatiese verswakking in die mark vir slawe sou hulle van mening laat verander.

Die risiko van hervorming

Die Britte was gretig om die mishandeling van die Khoi-Khois, wat in naam vry was, te beeindig. Hulle het hulle tot W.S. van Ryneveld gewend om raad. In sy verslag het hy verklaar dat die administratiewe stelsel heeltemal onvoldoende is om die goeie orde in die binneland te bewaar en reg vir almal te laat geskied. Van Ryneveld het dit beklemtoon dat die burgers en die Khoi-Khois as op gelyke voet beskou moet word en dat hulle ewe veel aanspraak op die beskerming van die regering het. Nietemin het hy aan die Khoi-Khois 'n veel mindere plek toegeken. Hulle moes op 'n sendingstasie, 'n gelisensieerde kraal of 'n plaas woon, en hulle moes belet word om van een plek na 'n ander te gaan sonder 'n sertifikaat. Hy het voorgestel dat 'n rondgaande hof uitgaan om aanklagte aan te hoor.

In hul pogings om die maatskaplike te hervorm, moes die Britte seker maak dat hulle nie oorhaastig optree nie. Al manier om die binneland te beheer, sou 'n informele bondgenootskap tussen die regering en die meer welgestelde burgers wees. Die Brittte het dus die hervorming van die ou orde versoen met pogings om die burgers tevrede te hou en te verseker dat hulle 'n bestendige arbeidsmag op hul plase het. 

Alhoewel die Britse hervormings baie versigtig was, was dit genoeg om sommige van die vooraanstaande burgers te laat vrees dat die stappe die samelewingsorde op losse skroewe plaas. Senior amptenare wat aan die Kaap gebore is, het die meeste gedoen om die burgers te oortuig dat hervorming wel nodig is. Onder hulle was die hoofregters W.S. van Ryneveld en J.A. Truter en landdros Andries Stockenstrom junior. Almal het goed geweet watter gevare verbonde was aan die hervorming van 'n werklik onregverdige bestel. Geeneen het daaraan gedink om 'n omvattende beleid van maatskaplike gelykheid in te stel nie. 

Hierdie Kaapgebore amptenare het deeglik besef dat daar nie teen die denke van die Verligting oor die vryheid en waardigheid van mense ingegaan kon word nie. Hulle het die opvatting van sekere burgers verwerp dat die Khoi-Khois te agterlik en ontaard is om werklik dieselfde vryhede as burgers te geniet. Vir Stockenstrom het die ou stelsel waaarin die werker aan die willekeur van sy baas onderwerp was "nie 'n enkele voordeel" ingehou nie. Dit het die werkers gedemoraliseer en die boere laat dink dat hulle te laag gesonke is om enige regte te geniet. 'n Nuwe stelsel gegrond op regte, vryheid en sekerheid oor eiendom sou 'n groot verbetering wees. Truter het geskryf: "Die Hottentotte is en bly mense en in besonder vrye mense."

Van Ryneveld het daarop aangedring dat die Khoi-Khois gelyke beskerming in die strafregstelsel verkry. Truter het veel verder gegaan deur aan die staat die taak toe te vertrou om die beskawing te bevorder en die samelewing grondig te verander. Bindende wetlike kontrakte was nodig as grondslag van alle arbeidsverhoudinge. Die reg was 'n belangrike instrument in die beskawingsproses. Hier kry ons die begin van denke oor 'n regstaat waarin die willekeurige gesag van die baas vervang is deur wette wat vir regte en vryhede voorsiening maak.

Twee jaar na die slaweopstand, in 1810, het landdros Van der Riet 'n brief met 'n heeltemal ander strekking aan die regering geskryf as die een van 1797 toe hy gelykheid voor die gereg bepleit het. Hy was skepties oor die regering se pogings om die stelsel van gedwonge arbeid te hervorm. Een van die eerste teikens was die inboekstelsel waarvolgens Khoi-Khoi kinders by hul ouers se werkgewer ingeboek is totdat hulle volwassenheid bereik het.

Landdros Van der Riet het hom teen die afskaffing van die inboekstelsel uitgespreek. Na sy mening was die Khoi-Khois van nature onbetroubaar en ledig. Die inboekstelsel was al manier waarop hulle van jongs af geleer kon word om nuttige burgers te word. Hy het die verskriklike gebeure in Saint-Domingue tien jaar tevore in herinnering geroep. Hy het gevra: "Wat sal van ons en die hele land word as die inboorlinge begin voel dat hulle vry is en van hul mag begin bewus word en begin saamspan om hul natuurlike vryheid te herwin as die mense wat die oorspronklike besiiters van die land was. In feite, niks anders nie as 'n tweede Saint-Domingue."

Vir die landdros, wat nog in 1797 die heemrade 'n les oor die beginsel van gelykheid voor die gereg geleer het, was die voorbeeld van Saint-Domingue genoeg om hom 'n beleid te laat voorstaan wat die "gevaarlike en idealistiese gevoelens van vryheid teengaan en aan bande lê."

In 1809 het die Britse bewind die Hottentot-proklamasie uitgevaardig, wat geskrewe kontrakte met Khoi-Khoi-werkers verpligtend gemaak het. Terselfdertyd is alle Khoi-Khois ook verplig om passe te dra, en hulle kon 'n pas van hul baas kry slegs nadat hulle hul tyd uitgedien het. 

Die instelling van 'n rondgaande hof in 1811 was 'n meer effektiewe stap. Die tweede rondgang van die hof, wat in 1812 plaasgevind het, het bekend geword as die Swart Omgang. 

By hierdie geleentheid is baie van die klagte van Khoi-Khoi-mishandeling wat deur die sendelinge Van der Kemp en Read ingedien is, aangehoor. Vir die eerste keer het 'n aansienlike aantal burgers voor 'n hooggeregshof verskyn om hulle te verweer teen hul werkers se klagte. Die regters van die Swart Omgang het die meeste van die beskuldigdes onskuldig bevind. Daar kan min twyfel wees dat Van der Kemp en Read ook ongegronde aanklagte teen die boere of amptenare ingedien het, maar historici het te maklik aangeneem dat die burgers gelyk gegee is. Slegs misdade wat na 1806 gepleeg is, is voor die hof gebring. Selfs landdros Cuyler van Uitenhage, wat dikwels met Bethelsdorp se sendelinge gebots het, het opgemerk dat in vroeër tye barbaarse wreedhede inderdaad gepleeg is.

Die werklike betekenis van die Swart Omgang was dat die sendelinge daarin geslaag het om die openbare mening in Kaapstad en Londen wakker te maak oor die kwessies van Khoi-Khoi-mishandeling. Ten spyte van die druk wat opgebou het,het daar voor 1828 geen wesentlike verandering in die wetlike posisie van die Khoi-Khois gekom nie.

Die kerstening van die slawe en Khoisan

Na 1790 het sendelinge ook die orde wat in die Kompanjiestyd ontwikkel het, begin uitdaag. By die burgers het die probeem bly knaag hoe om die kerstening van hul slawe en bediendes, wat hulle as Christene op gelyke voet sou plaas, te versoen met hulle vasbeslotenheid om alle vorme van maatskaplike gelykstelling te voorkom. Die sendeling Johannes van der Kemp het vertel van 'n vrome Graaff-Reinetse burger wat geweier het om sy slaaf te laat doop. Dit was nie omdat hy bevrees was dat hy haar dan nie sou mag verkoop nie, maar omdat sy "onuitstaanbaar trots" sou word as gevolg van haar toelating tot die Christene se geledere.

Selfs sekere sendelinge het probleme gehad. In 1792 het die Morawiese sendelinge na Baviaanskloof teruggekeer (nou genoem Genadendal), ongeveer 160 kilometer oos van Kaapstad, om die werk voort te sit wat George Schmidt tussen 1737 en 1744 aangevoor het. Hulle was nie aktivisties nie, maar die leer wat hulle verkondig het, het soms tot tragiese misverstande gelei. 'n Verslag lui: "'n Suster Martha het dronk geword en het gespog dat sy ten minste die gelyke van die koloniste is omdat sy gedoop is. Sy is uitgesluit."

Die wêreld van die Kompanjie het baie paradokse bevat. Die gebrek aan regte vir slawe en Khoi-Khoi-werkers en die vrees vir gelykstelling het in skerp kontras gestaan met die aansienlike mate van maatskaplike integrasie in en om Kaapstad, waar wit mense van alle klasse en gedoopte nie-Europeërs dieselfde kerk bygewoon het. Kinders van alle kleure en klasse het in die paar skole gesit. In 1779 het agt onderwysers in Kaapstad klas gegee aan 696 leerlinge, van wie 80 slawe was. In Stellenbosch het 40 tot 50 kinders "van alle kleure" teen die vroeë 1790's die openbare skool bygewoon.

Pogings om die slawe te kersten, is lank beduiwel deur die onsekerheid oor wat presies die Sinode van Dordrecht in 1618 bedoel het. In 1770 het die owerheid besluit dat dit die plig van Christene is om slawe in die Christelike godsdiens te onderrig. Dit het bygevoeg dat slawe wat aangeneem is, nie verkoop mag word nie en vrygestel moet word wanneer die eienaar sterf of die Kaap verlaat. As gevolg hiervan het die reeds baie lae koerse van doop en manumissie selfs verder gedaal. 

Tot die tagtigerjare van die agtiende eeu is min formele sendingwerk gedoen. Die leiding is geneem deur die Nederlander Helperus Ritzema van Lier, wat in 1786 predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Kaapstad geword het. Teen 1788 het 60 vrywilligers in Kaapstad slawe, vryswartes en Khoi-Khois onderrig.

In 1793 het Michiel Christaan Vos, wat aan die Kaap gebore is, predikant in die gemeente Roodezand (later Tulbach) geword. Kort na sy aankoms het hy aan die gemeente gesê dat hy die evangelie aan almal sal bring en meesters aangemoedig om hul slawe na hom te stuur. Dit het 'n opskudding veroorsaak. Eienaars het gevrees dat hulle nie in staat sou wees om opgevoede slawe te beheer nie. Vos het belowe dat die slawe wat hy onderrig het gehoorsamer en lojaler sou wees. Mettertyd het eienaars se verset afgeneem.

In Brittanje was daar 'n godsdienstige oplewing aan die gang, wat 'n nuwe belangstelling in sendingwerk laat ontstaan het. Dit sou verreikende reperkussies in die Kaapkolonie hê. In 1795 is die Londense Sendingsgenootskap (LSG) gestig en twee jaar later het 40 Nederlanders, onder andere Johannes van der Kemp, die Nederlandse (of Rotterdamse) Sendinggenootskap gestig, wat gou by die LSG geaffilieer het. Johannes van der Kemp en James Read het in 1799 saam met twee ander LSG-sendelinge in Kaapstad aangekom. Van der Kemp en Vos het die leiding geneem in die stigting van 'n plaaslike sendinggenootskap, genaamd Het Zuid Africaansch Genootschap en later die Zuid-Afrikaanche Zending Genootschap (ZAZG), as 'n onafhanklike vereniging. Dit het die imposante Suid-Afrikaanse Sendinggestig in Kaapstad opgerig en in 1804 ingewy. 

Die ZAZG het teenstand ondervind, onder meer ook omdat dit vroue toegelaat het om aktief aan die bepaling van beleid deel te neem. Onder hierdie vroue was die merkwaardige Machtelt Smit, wat onderrig gegee het. Sy word beskou as die eerste Kaapsgebore vrou wat in eie reg bekend geword het. Smit se prominente posisie het sommige laat vrees dat dit die oorheersing van die manlike lede van die Gereformeerde Kerk sou ondermyn. Die ZAZG se werk was nie net op slawe toegespits nie, want hy het klasse gegee aan alle agterlike mense, sowel wit as swart. Soortgelyke genootskappe is in Roodezand, Stellenbosch en Wagenmakersvallei (Wellington) gestig. Die NG Kerk het skepties gestaan teenoor die godsdienstige entoesiasme van die sendelinge en sendinggenootskappe. Die kerk, lank gewoond aan die feitlike monopolie wat dit geniet het, het gevrees dat sendingwerk tot kerkskeuring sal lei. Maar daar was ook 'n ander rede waarom die NG Kerk so stadig met sendingwerk aan die gang gekom het. Die Britte het eers in 1824 verlof gegee dat die NG Kerk 'n koloniale sinode kon byeenroep. Sonder so 'n sinode was dit baie moeilik om oor sendingwerk te besluit.

Vir die Britse bewind was dit vreemd dat die NG Kerk so min daaroor bekommerd was dat die groot meerderheid van die slawe en Khoi-Khois nog nie tot die Christelike geloof bekeer was nie. Dit was in stryd met die Christelike opdrag om die boodskap aan almal te bring en het boonop gelyk of dit met die belange van die slawebesitters bots. Teen 1820 was slawebesitters in die Amerikaanse Suide oortuig dat slawe beter slawe is nadat hulle Christene geword het. 

Die beleid van die NG Kerk aan die Kaap was ferm: Die kerk is oop vir alle gedooptes en die Nagmaal moet bedien word aan almal wat aangeneem is, ongeag of hulle wit of swart is. Hoewel die kerk nie vyandig teen sendingwerk was nie, wou dit die sendingwerk wat deur sy eie lidmate gedoen is onder sy eie beheer bring, veral aangesien die meeste lede van die ZAZG ook NG Kerk lidmate was. Die ZAZG en sy medewerkende genootskappe wou egter nie deur die NG Kerk geabsorbeer word nie omdat dit sou beteken dat hulle hul outonomie moes prysgee en hul bande met hul Lutheraanse lede verbreek.

Maar hoewel die NG Kerk oop was vir alle rasse het dit geen groot geesdrif getoon om groot getalle nie-Europeërs in die gemeentes in te bring nie. Soms was hul louheid openlik, soms subtiel. 'n Predikant kon die deur toehou deur gewoon slawe of vryswartes wat hulle wou laat doop of aanneem, te laat druip wanneer hul kennis van die Gereformeerde geloof getoets is. Die kerkraad van Stellenbosch het opgemerk dat "terwyl daar slawe mag wees wat God in hul harte vrees, hulle te dom is om baie te memoriseer."

Nadat die Britse regering die slawehandel in 1808 afgeskaf het, het slawepryse aan die Kaap viervoudig toegeneem tot 1824. Omdat slawe so duur was, was eienaars nog onwilliger om hulle na die doopvont te bring. In 1812 het fiskaal Daniel Denyssen, 'n Kaapsgebore staatsaanklaer, gerapporteer dat min slawe aangeneem is. "Daar is wel 'n aantal slawe by wie die beginsels van Christelike geloof van hul kinderjare af ingeskerp is, maar daar is skaars een wat ver genoeg gevorder het om aangeneem te word. "Sy advies aan Goewerneur Cradock was om gedoopte en aangenome slawe sekere voorregte te gun, soos die reg om 'n wetlike huwelik te sluit en die vryheid om kerkdienste by te woon.

IN 1812 het die regering die verbod op die verkoop van Christelike slawe heroep, maar tussen 1808 en 1824 is slegs 86 slawe, gemiddeld 6 per jaar, uit 'n totaal van meer as 35,000 slawe gedoop. Die koers van manumissie het nou tot so laag as dié in die Amerikaanse Suide gedaal, die slawebesittende gemeenskap met die laagste manumissiekoers in Noord- en Suid Amerika. 

In die dieper binneland het sommige burgers die Khoi-Khois probeer indoktrineer om 'n permanente posisie van minderwaardigheid te aanvaar. Hulle het dit gebaseer op die ketterse stelling dat die Khoi-Khois nie deel is van die skepping wat die Europeërs op die aarde geplaas het nie. Couragie, 'n Khoi-Khoi-kaptein, het aan Van der Kemp gevra "of dit waar is dat God ons geskep het net soos die Christene (blankes), want u weet dat die Hollandse boere ons leer dat God ons nie geskape het nie en nooit enige notisie van ons neem nie."

Gedurende die eerste dekades van die negentiende eeu het 'n bestendige stroom sendelinge aangekom. Die eerste Wesleyaanse sendelinge het in 1816 gekom; daarna die Rynse Sending Genootskap (1829), die Paryse Sendinggenootskap (1829) en die Berlynse Sendinggenootskap (1834). Daar is in die negentiende eeu dramtiese vordering gemaak met die kerstening van die inboorlinge van die land. Dit sou die NG Kerk onder groot druk plaas om sy bedrywighede uit te brei.

Radikale sendelinge en hervormers

Buiten Andries Stockenstrom het geen prominente Kaapsgebore kolonis 'n leidende rol gespeel in die golf van radikale hervormings wat in 1823 begin en in 1834 met die vrystelling van die slawe geëindig het nie. Behalwe ordonansie 50 is al hierdie maatreëls in Londen beplan en in die kolonies ingevoer met min erkenning van plaaslike omstandighede.

Die leier in die bevryding van die Khoi-Khois van alle vorme van wetlike diskriminasie wat die sendeling John Philip, wat in 1819 in Kaapstad aangekom het om die bedrywighede van die LSG te koordineer. Philip is gebore in Kirkcaldy, Skotland, die klein dorpie waar Adam Smith sy groot boek oor die kapitalisme, The Wealth of nations, geskryf het. Philip is geinspireer deur Smith se visie dat vryhandel en vrye mense rykdom en welvaart sou laat vermenigvuldig. Die boere aan die Kaap het daarteenoor nog geleef in die wêreld van paternalistiese arbeidsverhoudinge en bestaansboerdery waarin kontantlone selde betaal is.

Philip en die burgers het gou van mekaar vervreemd geraak. Hy het sy hoofdoel geformuleer as "ending the slavery of the Aborigines within the colony of the Cape of Good Hope." Hy het die boere die stryd aangesê oor hul behandeling van hul arbeiders. Die verhouding is vererger deur sy neiging om die Afrikanerboere die skuld te gee vir al die konflikte aan die oosgrens tussen die koloniste en die Xhosa. Hoewel Britse soldate en Britse setlaars saam deelgeneem het aan die militêre optrede op die grens, was die burgers na sy mening skuldiger aan wreedheid as die ander.

Philip het goed geweet hom om die humanitêre drukgroepe in Londen te beinvloed. Hulle het nie geweet hoe om hom te oorreed of hoe om hulle kant van die storie te vertel nie. Philip self het nooit die moontlikheid oorweeg om die burgers deur middel van oorreding eerder as veroordeling te beinvloed nie. Hy het steeds Britse standaarde van "humanity and justice" voorgehou. 

Philip het 'n nuwe liberale orde verkondig. Sendingstasies moes toonbeelde wees van hierdie orde, en beskawing en hardwerkendheid vooropstel. Om hierdie proses te begin, wou hy die Khoisanmense se wetlike status verander deur hulle bande te bevry. Philip het op die regte tyd met sy veldtog begin. Die druk van die humaniste in Londen om alle vorme van slawerny en gedwonge arbeid in die kolonies te beëindig, het eers onstuitbaar geraak nadat die Britse ekonomiese beleid beslissend in die rigting van die vrye mark geskuif het. In woorde wat deur Adam Smith geskryf kon gewees het, het Philip verklaar: "[Make] the coloured population in your colony free, permit the natives to choose their own masters...allow them to bring their labour to a free market, and the farmers will no longer have an occasion to complain of a want of servants."

Sir Lowry Cole, goewerneur van die Kaapkolonie, het Philip beskryf as "meer 'n politikus as 'n sendeling." Philip het dit ontken, maar dit is waar dat hy politieke en ekonomiese argumente gepaar het met morele en godsdienstige pleidooie. Vir hom was die Khoi-Khois nie net mense met siele nie, maar ook mense met gesonde verstand, wat goed geweet het wat die waarde van hul arbeid is. Hul inlywing in die ekonomie as vrye arbeiders sou nie net regverdig wees nie, maar ook die mark vir ritse produkte uitbrei.

In 1825 het die Kaapse ekonomie dramaties verander met die beeïndiging van die imperiale voorkeur op Kaapse produkte en die herstrukturering van die Kaapse ekonomie. Dit het gevolg op die aanbevelings van 'n kommissie van ondersoek wat die Kaap tussen 1823 en 1825 besoek het. Soos Philip het die lede min simpatie vir die burgers gehad en behalwe Andries Stockenstrom het geen Afrikaner vrywillig  getuienis afgelê nie. Soos Philip het die kommissarisse die Hollandssprekende koloniste as die vernaamste struikelblok vir vooruitgang geidentifiseer. Hulle was krities oor die koloniste se "want of intelligence and...indifference to those comforts that are indispensable to Englishmen."

Hulle het voorgestel dat die Khoisanmense bevry en die slawe vrygestel word. Om arbeid vry te stel is nie slegs regverdig nie, het hulle verklaar, maar dit sal ook die leeglêery van die Hollandse koloniste uitwis en hulle begeester met "a spirit of active industry and intelligence in their life."

Die kommissarisse het min gedink van die instellings waarmee die burgers hulle vereenselwig het. Volgens hulle was die reg-en administratiewe stelsel blootgestel aan die invloed van "local partialities, of hereditary prejudices, and of family connections." 'n Kommissaris het opgemerk dat kleurvoordeel dit vir regsgeleerdes onmoontlik maak om aan die Kaap 'n behoorlike regsopleiding te geniet. Hulle moet dus gedwing word om vir hul opleiding na Engeland te gaan, waar hulle blootgestel wou word aan die "brightest excellence of the English judicial character."

Die negatiewe indruk wat deur Philip en die kommissarisse geskep is, het die imperiale regering tot die slotsom laat kom dat die bestaande instellings nie aangepas kan word nie, maar dat hulle wortel en tak uitgeroei moet word. Tussen 1825 en 1834 het die regering feitlik 'n revolusie in die ekonomiese beleid, die administrasie en die regspraak van stapel gestuur. Op die kommissarisse se aanbeveling het die regering al die ou monopolieë afgeskaf wat slagters, bakkers, wynhandelaars en vendusiemeesters in die Kompanjiestyd geniet het. Hulle het ook baie van die ou huurgelde, tiendes en spesiale belastings beëindig. In die plek hiervan het hulle 'n vrye mark en vryhandel ingestel. Die ou handelsklas van die Kompanjiestyd het vinnig veld verloor teenoor Engelssprekende handelaars, wat die vrye mark veel beter geken het en goeie handelsbetrekkinge met Engeland gehad het. Op die ou end het Britse vervaardigers, Britse rederye en Britse handelaars in die kolonies verreweg die meeste voordeel uit vryhandel getrek.

Vir die Kaap het vryhandel aanvanklik lae tariewe op sowel Kaapse wyn in Brittanje as Britse invoere na die Kaap beteken, maar na 1825 het eersgenoemde voordeel verdwyn. Brittanje self het vryhandel egter eers as beleid aanvaar nadat sy ekonomie die moelikste groeifase agter die rug gehad het. 

Die Britse bewind aan die Kaap het ook 'n nuwe regstelsel ingestel. Dit het die Raad van Justisie afgeskaf en in die plek daarvan 'n hooggeregshof ingevoer. Die regters sou almal uit die Britse balie aangestel word en alle regters moes hul graad in Engeland behaal. Die strafreg is nou op die Engelse regstelsel gebaseer. Die regering het ook aangekondig dat hy van plan is om die administrasie van die kolonies en die hofverrigtinge sou gou as moontlik te verengels.

As deel van die administratiewe hervormings het die imperiale regring die kolleges van landdroste en heemrade en die Burgersenaat, wat 'n soort stadsraad vir Kaapstad was, afgeskaf. Laasgenoemde liggaam se funksies is oorgedra aan twee Britse amptenare totdat 'n vorm van munisipale regering in 1837 ingestel is. In die plek van die kollege van landdroste en heemrade is  twee amptenare aangestel: 'n resident-magistraat om regterlike funksies te vervul en 'n siviele kommissaris vir die administrasie van die distrik. Die veldkornette is behou, maar het hul regterlike funksies verloor.

Die enigste wyse waarop die imperiale regering die outokratiese regeringsvorm van die Kaap versag het, was 'n Raad van Advies, wat die arbitrêre optrede van lord Charles Somerset as goewerneur aan bande moes lê. Die hoofregter en die vernaamste siviele amptenare sou dien in dié raad, wat proklamasies en noodmaatreëls van die goewerneur kon hersien.

Al hierdie hervormings is van buite af opgedwing aan die burgers, wat nou feitlik geen vorm van verteenwoordiging gehad het nie. Die historikus Eric Walker het geskryf dat totale geberek aan deelname  in die bestuurstelsel was.

Stockenstrom, die liberaalste Afrikaner, het hervorming sterk bepleit, maar dit was vir hom van die grootste belang dat daar breë aanvaarding daarvoor onder die burgers moes wees. Hy het dit as 'n groot flater beskou dat die kolleges van landdros en heemrade afgeskaf is, want die regering kon die burgemeenskap die heel beste beïnvloed deur hierdie liggame te gebruik. Hy het later geskryf dat van die oomblik dat hulle verdwyn het "[all] confidence between the Government and the masses ceased, and many of the evils which have retarded our andvancement and disturbed our peace may be traced to misunderstandings which the executive had not the means nor the channels of clearing up."

Hand aan hand met hierdie hervormings het die kernidee van "pogress" of vooruitgang gegaan. Die vertrekpunt was die veronderstelling dat die aanwending van rasionele denke en wetenskaplike ondersoek mense sou bevry van die kettings van bygeloof en tradisie. Dit was 'n soort sekulêre godsdiens. Elkeen wat as progressief beskou kon word, moes geesdriftig die vrye mark, vryhandel en private onderneming as deel van sy wêreldbeskouing aanhang. Dit is as vanselfsprekend beskou dat hy goed Engels moes kon praat. Progressiewe mense het neergesien op die burgers se beswaar teen gelykstelling op grond van hul burgerstatus, wat amptelik nie eens meer bestaan nie. Hulle het dit as oudmodies en agterlik beskou en 'n klasseonderskeid as die enigste geregverdigde vorm van differensiasie aanvaar. 

Vooruitgang vereis goeie inligting, waarvoor 'n vrye pers noodsaaklik was. In 1824 het twee Britse setlaars, John Fairbairn en Thomas Pringle, The South African Commercial Advertiser, die eerste Kaapse Koerant, gepubliseer. Dieselfde jaar het 'n Hollandse tydskrif, het Nederduitch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift (NZAT) onder die redaksie van Abraham Faure, predikant van die NG kerk, verskyn. Faure het saam met Fairbairn en Pringle geveg teen die poging van die goewerneur, lord Charles Somerset, om die pers aan bande te lê. Teen 1827 was die stryd gewen. Die pers kon oor die politiek debatteer en krities verslag doen oor regeringsoptrede.

Die Britse handelaars aan die Kaap se belangrikste stem was Fairbairn en sy South African Commercial Advertiser. Die meeste handelaars het slawerny verwerp en wou hê dat die Khoisanarbeiders vry moes wees om kontrakte te sluit. Die handelaars het 'n nuwe ekonomie bepleit gebou op vrye handel en 'n vinnig uitbreidende verbruikersmark in die binneland, wat ook die inheemse mense betrek. 

Fairbairn het kort na sy aankoms in die kolonie in Philip se kringe begin beweeg en met sy dogter getrou. Hy het die credo van die nuwe handelsbelange goed geformuleer: "To stimulate Industry, to encourage Civilization, and to convert the hostile Natives into friendly customers is a more profitable speculation that to exterminate or reduce them to slavery."

Die bevryding van die Khoisan

Ordonnansie 50, wat in 1828 aangeneem is, het die Khoisanmense formeel op 'n gelyke voet met die burgers geplaas. Dit was 'n merkwaardige prestasie en hoofsaaklik die werk van twee individue, Phillip, 'n Skotse sendeling, en Stockenstrom, 'n Afrikaner wat in die kolonie grootgeword het. Min ander koloniale samelewings in die wêreld het in so 'n vroeë stadium gedwonge arbeid by wyse van wetgewing afgeskaf en vrye arbeid en nierassigheid ingestel. 

Die twee manne het in die jaar voor die ordonnansie sonder kontak met mekaar gewerk met dieselfde doel voor oë. Philip was in 1828 in Londen en het al sy invloed in filantropiese kringe gebruik om druk op die imperiale regering te plaas. Stockenstrom was in die kolonie en het plaaslike kanale gebruik. Hy is in Junie 1827 aangestel as lid van die Raad van Advies nadat dié liggaam vergroot is sodat twee lede van buite die amptenarekorps kon bykom. In 1828 het generaal-majoor Richard Burke hom in die pas gestigte pos van kommissaris-generaal vir die oostelike provinsie aangestel.

Stockenstrom het drie jaar tevore, toe Philip sy gas in Graaff-Reinet was (sien p.98), opgemerk dat alle ordentelike boere saamstem dat die Khoisanmense hul grond wreed ontneem is en swaar onder wetlike vorme van diskriminasie gebuk gegaan. In 'n memorandum aan Burke het hy 'n wet gevra "ebracing all fee inhabitants  without reference to colour or name of the tribe." Die Raad van Advies het op eie houtjie op 17 Julie 1828 die maatreël wat Stockenstrom aanbeveel het, aangeneem. Die Britse parlement het dit die volgende jaar bekragtig. Philip se groot bydrae was die imperiale regering se besluit dat die ordonnansie nie sonder die Britse koning se toestemming verander kon word nie. Stockenstrom het ordonnansie 50 beskryf as 'n maatreël wat "elke vrye ingesetene in die kolonie op dieselfde vlak plaas in die oë van die wet, wat betref persoonlike vryheid en die sekuriteit van hul eiendom." Dit het alle diskriminerende maatreëls  wat die Khoi-Khois aan bande gelê het, afgeskaf. Dit het al die proklamasies van die jare 1809-1819 herroep en daarmee die dra van passe en die inboek van Khoisankinders beëindig. Dit het werkgewers verbied om lyfstraf toe te dien of om veediewe self te straf.

Strockenstrom was 'n voorstander van 'n wet teen leeglêery, omdat dit daarsonder moeilik sou wees om veediefsal te verhoed. Stockenstrom het van die Khoi-Khois gesê: "They should be made to work unless they can prove that they can live without it, and in this respect they should be closely watched, for in a country where property, particularly large flocks of sheep and cattle, are so much exposed, it is easy to live by theft." Hy het ook die uitspraak verwerp dat die boere gegrief is oor die vryhede wat aan die Khoisans toegeken is. Die burgergemeenskap wou hê die Khoisans moet vooruitgaan, maar alles sou afhang van 'n effektiewe wet teen leeglopery: "I deny that there was a general feeling against the freedom of the Hottentots....The clamour was about their depredations, which acquired in the eyes of the ignorant (and not unnaturally) the appearance of being warranted by the enactment."

Die burgers se kritiek was dus gemik op die toepassing en nie die beginsel van die ordonnansie nie. Die groot afstand wat baie base van die naaste dorp gewoon het, het dit moeilik gemaak om bediendes wat oortree of vermeende veediewe na die hof te bring. Met Philip aan die spits het die filantropiese drukgroepe daarin geslaag om die aanname van 'n wet teen leeglopery te fnuik en sodoende die Khoisans te beskerm. Maar ander mense wou ook beskerm word. Die koloniste het beskerming verlang teen diewe wat hul vee steel. In 1829 het die regters van die hooggeregshof daarop gewys dat die polisie nie in staat is om misdade deur sommige rondlopers te beveg nie. 

Philip het erken dat daar wanpraktyke uit ordonnansie 50 voortspruit en by een geleentheid het hy "meer tronke, magistrate en konstabels" gevra. Diefstalle het inderdaad in die dekade na die uitvaardiging van die ordonnansie aansienlik toegeneem.

Alhowel Stockenstrom 'n leegloperswet voorgestaan het, het hy geen geduld gehad met boere wat so 'n wet wou hê slegs met die doel om die Khoi-Khois in 'n staat van onderwerping te hou en hulle vir baie lae lone te laat werk nie.  Hy het gemeen daar is burgers wat nie hul werkers die soort werksomstandighede wil bied wat hul lojaliteit sou verseker nie. Baie boere het nog steeds baie lae lone betaal, soms net drie tot twaalf bokke en vier sjielings en ses pennies tot agtien sjielings vir 'n jaar se werk.

Stockenstrom het opgemerk: "I have never believed that civilization consisted in one man being forced to serve another who had deprived him of his country, his game, his all, under a severe lash for four shillings and sixpence per annum."

Aan N.T. van der Walt, 'n boer in Colesberg wat hy goed geken het, het hy geskryf as ordentlike lone betaal word, sou daar geen rede wees om werkers te verplig om op die plase te bly nie. Die ou orde van beperkings op die Khoisans is finaal beëindig: "Let me tell you this, my dear friend, we shall never again see the day under British rule different degrees of rights and privileges will exist for different classes of His Majesty's subjects."

Stockenstrom se idee van oorlewing vir die burgers was heeltemal anders as dié van party boere. Om die regeringsmag op eensydige en verdrukkende wyse te gebruik om die koloniste te bevoordeel is onnodig vir hul sekuriteit, het hy geoordeel. Dit is kontraproduktief want so iets sal slegs die swartes se haat uitlok en hulle sal die eerste, beste geleentheid soek om hulle op die koloniste te wreek.

"Net soveel 'n vrye burger as jy" "die uitewerking van ordonnansie 50

Die Khoisans het ordonnansie 50 as 'n bevryding beskou. In 1834 het 'n Khoi-Khoi, Platjie Jonker, op roerende wyse laat blyk wat die ordonnansie vir sy mense beteken: "Every nation has its screen; the white man has a screen, the colour of their skin is their screen, the 50th ordinance is our screen."

Ordonnansie 50 staan ook in die geskiedskrywing bekend as 'n keerpunt wat die beginsel van nierassige gelykheid gevestig het. Op voetsoolvlak was die werklikheid baie anders. Die meeste Khoi-Khois het bediendes gebly of in groot armoede in 'n krot buite dorp of op 'n sendingstasie gaan woon. 

Danksy die druk en ywer van Stockenstrom het die Katriviernedersetting van 1829 in die sogenaamde verowerde gebied aan die oosgrens tot stand gekom. Hier kon Khoi-Khois op klein skaal boer. Die beweegrede was egter nie maatskaplike transformasie nie, maar om die verdediging van die grens deur digte besettings te verbeter. 

Teen 1833 het 2,114 Khoisanmense en Basters al hier ingetrek. Hulle het elkeen vier tot vyf acres en regte op 'n gemeenskaplike weiveld ontvang. Hulle het slote vir besproeiing gegrawe en in die tweede jaar was daar 'n redelike haweroes. 'n Trotse inwoner, Andries Stoffels, het gesê: "The 50th Ordinance came out, then did we first taste freedom that other men eat so sweet and now that it is mingled with Water & Ground it is 20 times sweeter than forced labour."

Die Khoisans het nie baie voordeel getrek uit die nuwe wetlike raamwerk nie. Baie bepalings van ordonnansie 50 kon nie in werking gestel word nie omdat mense se ver van die dorpe gewoon het. Mondelinge kontrakte tussen boere en werkers was steeds aan die orde van die dag. Die Britse regters wat nou op die regbank was, het min substansie aan die beginsel van gelykheid voor die wet gegee. Dit is 'n illusie dat ordonnansie 50 aansienlike vordering vir die Khoi-Khois beteken het. Die wanindruk het by die regering posgevat dat die Khoi-Khois se probleme nou alles opgelos was. 

Daar het ook gou nuwe wetgewing gekom wat allerlei beperkings aan werkers opgelê het. Dit was daarop toegespits om die werkersklas te beheer eerder as om alternatiewe moontlikhede vir plaaswerk te skep. 'n Ordonnansie wat in 1841 uitgevaardig is, het al die verskille uitgewis wat vroeër die Khoisans vryer as die slawe gemaak het. Die Kaapse samelewing het gepolariseer geraak tussen blankes aan die een kant en aan die ander kant 'n groep mense wat arm en hoofsaaklik bruin of swart was, en wat min anders kon doen as om vir blankes te werk.

Die blankes het 'n hegter gemeenskap begin vorm. Hoewel 'n groot aantal nog steeds arm was en aan die rand van die gemeenskap as huurders of knegte geby het, was daar 'n toenemende neiging onder plattelandse blankes om hulle self as 'n gemeenskap te beskou waarin hul ras-identiteit meer getel het as die klasseverdelinge in hul geledere. Die staat het in sy verskaffing van onderwys toenemend onderskei op grond van 'n kombinasie van kleur en ras. Lord Charles somerset het vrye openbare skole ingestel om wat hy genoem het"die burgers van die kolonie" te leer lees, skryf, sommige maak en Engels praat. 'n Amptenaar van die Departement van Onderwys het verduidelik dat die term "burgers" mense van Europese afkoms beteken.

Daarteenoor het gekleurde kinders en ook arm wit kinders gesukkel om toegang tot die regeringskole te kry. Die sendingskole, wat geen kleurskeidslyn getrek het nie, het al hoe meer die arm kinders van al die gemeenskappe ingeneem. Teen die einde van die eeu was 'n derde van die wit kinders wat in die Kaapkolonie op skool was in sendingskole.

Die sendelinge het hul volgelinge geleer om hulle as "respektabele en gerekende mense" te gedra, en na die uitvaardiging van ordonnansie 50 het Khoisans wat aan dié standaarde voldoen het, verwag om met dieselfde ontsag as die blankes behandel te word. Stockenstrom het gesê: "Die Hottentotte is nou gebore burgers en geregtig om grond te besit en staan op 'n natuurlike wyse nou op dieselfde vlak as die burgers."

Die koloniste het egter nog die ou terminologie gebruik. Ene J.de Villiers het vertel dat hy aan 'n klomp mense gevra het wie sê Hottentotte hulle is. Die antwoord was kortaf: "Dit raak jou nie; ons is net soveel vrye burgers as jy."

Maar burgerstatus, hoewel slegs 'n informele status, het gepaard gegaan met die nakom van burgerpligte, veral kommandodiens en die betaal van belasting. As gevolg van 'n gebrek aan grond het baie Khoi-Khois bly rondswerf. Hulle het nie kommandodiens gedoen of belasting betaal nie. In 1834 het 'n amptenaar van Graaff-Reinet gerapporteer dat slegs een uit 500 Khoi-Khois kommandodiens gedoen. Wanneer belasting ingesamel is, het party Khoi-Khois dit ontduik deur 'n ander distrik te trek. 'n Boer naby die Katriviernedersetting het geringskattend gepraat van die sogenaamde "rondswerwende vrygekleurdes", en van die sogenaamde "geel en swart vryburgers." Mense ongeag kleur was nou koloniale onderdane, maar op die grondvlak is slegs Afrikaanse of Hollandse blankes as burgers beskou.

Ordonnansie 50 het alle statusonderskeide afgeskaf, maar informeel was sowel die regering as die wit koloniste geneig om alle gekleurde mense saam te gooi as lede van 'n afsonderlike groep en na hulle as die "gekleurde bevolking" verwys. De Zuid-Afrikaan het na ingeboekte slawe en Khoi-Khois as "gekleurden" verwys en regeringsamptenare het dieselfde gedoen. Die term kleurlinge of Kaapse kleurlinge is ook soms gebruik. Daar was 'n groeiende neiging om kleur met armoede te vereenselwig. The South African Commercial Advertiser het 'n frase gebruik soos "the poor or coloured population." Slegs 'n aansienlike groep van vrye gekleurde mense met eindom sou die korrelasie tussen ras, kleur, status en klas kon verbreek, en daarmee die toenemende polarisasie tussen wit mense en gekleurde mense. Daar was egter nie so 'n groep nie.

Die vrystelling van slawe

Selfts tot in 1825 het al die tekens nog daarop gedui dat slawerny 'n permanente instelling in die Kaapse samelewing sou bly. Met 'n lae tarief op Kaapse wyn in die Britse mark het veral die Kaapse wynboere 'n bloeityd beleef. Die groeiende mark het boere aangemoedig om baie kapitaal te belê in slawe, wat hoë pryse betaal het. 

Skielik het alles dramaties en radikaal verander. In 1825 het Brittanje die tariewe op die wyne van Europa verlaat en daardeur die Kaapse wynbedryf 'n nekslag toegedien. Die wynbedryf en die hele Kaapse ekonomie het in 'n diepe depressie beland. Die waarde van slawe het skerp gedaal en sommige eienaars wat slawe op krediet gekoop het of hulle as waarborg vir lenings gebruik het, is deur bankrotskap in die gesig gestaar. Hul enigste hoop was dat die regering spoedig tot hul redding sou kom deur slawerny af te skaf en behoorlike vergoeding aan die eienaars betaal.

Slawerny was nie slegs 'n ekonomiese aangeleentheid nie. Die skielike beeïndiging van slawerny was potensieel 'n groot bedreiging vir die openbare orde en die koloniste se veiligheid. Die onrustigheid daaroor is versterk deur die feit dat die Kaapse koloniste geen politieke verteenwoordigers gehad het wat in 'n parlement hul belange en vrese kon verwoord nie. Wat hulle verder ontstel het, was die feit dat die wetlike posisie van die slaaf met betrekking tot sy meester waarskynlik sterker as in enige ander slawebesittende kolonie was. Die getuienis van 'n slaaf teen sy of haar baas is dikwels deur die hof toegelaat.

Sommige eienaars het gevrees dat hul paternalistiese wêreld in duie stort. Die vrees was nie heeltemal ongegrond nie. 'n Slaaf se lewe was so onuithoubaar dat baie eienaars 'n verskriklike vergelding deur slawe gevrees het; ander was bang vir algemene anargie. Omdat slawe so verspreid van mekaar was, was 'n grootskaalse opstand onwaarskynlik, maar eienaars was oor hul persoonlike veiligheid bekommerd. Kaapstad het 'n polisie-mag van 'n skrale twintig man gehad en 'n bevolking van oor die 20,000. Dit het neergekom op een polisiebeampte per duisend mense in 'n stad wat nie eens straatligte gehad het nie.

In hierdie omstandighede het 'n slaweopstand in 1825 skokgolwe deur die hele kolonie gestuur. Dit het gebeur teen die agtergrond van 'n regulasie van 1823 wat die aantal houe wat aan 'n slaaf toegedien kon word tot 25 beperk het en die werksdag tot tien uur. Op die plaas Houd-den-Bek in die afgeleë Koue Bokkeveld het 'n slaaf genaamd Galant ander slawe op die plaas oorgehaal om saam met hom in opstand te kom. Hy het gesê dat hy gehoor het dat die slawe tussen Kersfees en Nuwejaar vrygestel sou word. As dit nie gebeur nie, moes die base vermoor word. Onder leiding van Galant het die slawe die baas en verskeie van sy familielede vermoor. 'n Kommando het die opstand  die nek ingeslaan. In die hofsaak daarna het die regters bevind dat "filantrope en kwaadgesinde mense" die slawe onder die indruk gebring het dat die regering aan hulle kant is. 

In die hofsaak het die staatsaanklaer, D. Deneyssen, die skok van slawebesitters verwoord. Hy het dit met die Saint-Domingue-opstand vergelyk en gesê opstand spruit voort uit 'n begeerte "om die wette en gesag van die regering omver te werp, en uit 'n sug na bloedvergieting, oorlog, verwarring en rampsoedige anargie." Hy het nie die moontlikheid oorweeg dat die rebellie ten minste deels 'n sug na vryheid veroorsaak is nie.

In 1826 het 'n aantal Stellenbosche burgers 'n memorandum onderteken wat die koloniste se vrese verwoord het: "The flame of devastation will not alone destroy our habitations, but will also cause your houses to fall in ruin! Not only our wives and daughters, but also yours will in libidinous manner be prosecuted by our slaves with rape and defloration, and when, after all this out of the pit of our murdered fellow-citizens a Saint Domingo has arisen, then may God grant that we be no more amongst the living, but then you yourselves will be compelled by the slaves who fought themselves free to carry the bones of your wife and your child to make a monument of their freedom obtained by fire and murder."

Die regering het geprobeer om slawerny deur middel van regulasies effens draagliker te maak. 'n Slawebeskermer is aangestel om toesig oor hul behandeling te hou en lyfstraf vir slawe is beperk. In 1831 het die slawebeskermer die reg gekry om slawekwartiere te besoek en burgers is verplig om twee keer per jaar 'n strafboek in te lewer. 

Die regulasies het amper 'n opstandjie in Stellenbosch ontlok. De Zuid-Afrikaan het openlik van verset gepraat en gewag gemaak van "die regte van Hollandse burgers en die lengte van boere se gewere." In 1830 het die slawebeskermer gerapporteer dat die verhouding tussen slawe en hul base versleg het: "The tie which had existed between the Master and the Slave seems...completed (sic) severed. The Master does little for his Slave from real regard, and the Slave does nothing for his Master from affection."

Daar was darem ook slawebesitters wat nie net gekla en doemprofeet probeer speel het nie. In die besef dat afskaffing 'n voldonge feit was, het hulle geprobeer om die inisiatief te neem om slawerny te beëindig. In 1826 het 'n vergadering  van Kaapstadse slawebesitters voorgestel dat alle slawedogters na 'n sekere datum vry moet wees. In dieselfde jaar is 'n soortgelyke voorstel ontvang van die landdros en heemrade van Graaff-Reinet. Stockenstrom het hiervandaan gerapporteer dat die distrik se houding teenoor die slawekwessie baie "liberaal" is. 

Stockenstrom het besluit dat die enigste oplossing was om slawerny af te skaf. Hy het geskryf dat slegs die algehele uitwissing van slawerny 'n ramp sou verhoed. Sonder afskaffing sou die mense en regering (in Brittanje) nooit ophou om die meesters te pla nie en die slawe sou hul meesters so in die harnas jaag dat een teregstelling na die ander sou volg. 

Teen 1832 was die belangrikste kwessie vir slawebesitters of hulle billike kompensasie sou kry. Hoofartikels in De Zuid-Afrikaan het nou selfs begin praat van die algemene begeerte van eienaars dat slawerny afgeskaf word. Goewerneur Cole het verwys na die benarde finansiële toestand van die eienaars weens die ineenstorting van die slawe- en wynpryse. Die ryker boere het groot getalle duur slawe besit vir wie hulle nie werk gehad het nie.

Toe breek 'n politieke twis skielik tussen die twee wit gemeenskappe uit. Die Afrikaners het met slawe grootgeword en die oorgrote meerderheid van die slawe was in Afrikanerhande. Min was in Britse hande, omdat die regering die Britse setlaars van 1820 verbied het om slawe te besit. Vir Christoffel Brand, leier van die Afrikaanse slawebesitters, was die prioriteit om verteenwoordigende regering vir die Kaap te kry. Hy wou geen versekering gee dat eienaars afskaffing sou steun na die instelling van so 'n stelsel nie, en het net 'n vae verwysing daarna gemaak.

John Fairbairn het aanvanklik ook verteenwoordigende regering voortgestaan, maar hy het begin twyfel of die Afrikaner-slawebesitters en De Zuid-Afrikaan, hul mondstuk, die werklik ernstig bedoel met afskaffing. In hierdie tyd het sy skoonpa, John Philip, se Researchers of South Africa verskyn, met niks goeds oor die Hollandse koloniste nie. Fairbairn het nou openlik die verbintenis van De Zuid-Afrikaan tot die afskaffing van slawerny in twyfel getrek. 

De Zuid-Afrikaan was woedend. Na die koerant se mening was Fairbairn hooghartig en voorbarig. Hy het voorgegee dat hy persoonlik die vryheid van die pers bewerkstellig het en dat sy Commercial Advertiser die enigste ware onafhanklike koerant is. Vir De Zuid-Afrikaan was dit alles onsin. Die blad het verklaar dat dit voortaan die klem sou lê op vier belangrike vorme van onsin: Vrye Pers onsin, Onafhanklike koerant onsin, sendeling onsin en die ergste vorm van onsin, Philip onsin. Op 'n vergadering van slawe eienaars het Brand diegene aangeval wat "die Afrikaners daarvan beskuldig dat hulle venynige lummels is."

Fairbairn het geantwoord dat 'n wetgewende vergadering wat deur Afrikaner-slawebesitters beheer word 'n belediging vir die gesonde verstand van die mensdom sou wees. Hy keur outokratiese regering aan die Kaap af, maar die despotisme van vyftig Koebergse boere sou vyftigduisend keer erger wees. Hy het gewaarsku: "John bull has awakened from his dream of confidence in the Afrikander." Dit beteken die einde van "all danger of Dutch Domination". Die imperiale regering het die geskil in so 'n ernstige lig beskou dat hy die toekenning van selfregering langer as twee dekades uitgestel het. Die regering het nooit die burgers se voorstelle om slawerny geleidelik uit te faseer ernstig opgeneem nie. Dit het ook geweet dat die veldtog teen slawerny in Londen niks behalwe onmiddeilkke afskaffing sou duld nie.

Vroeg in die 1820's het die imperiale regering besluit om slawerny af te skaf en kompensasie aan die eienaars te betaal. Fairbairn se Commercial Advertiser het eufories uitgeroep dat die besluit die Wes-Kaapse wynboere uit hul finansiële verknorsing red: "What no man can have hoped for, time has brought about out of its own accord. The vineyards can attract...no more capital and the money sunk in the labour is about to be recovered by the colonist...through the justice and generosity of the mother country."

Die Afrikaners het geen erkennning ontvang vir hul voorstelle wat tot afskaffing om geleidelik van slawerny af te stap nie. Die proses wat tot afskaffing gely het, het hulle nie baie gehelp om oor die kolonie se konstitusionele ontwikkeling te besin nie. Daar was geen wetgewende vergadering waarin hulle oor aangeleenthede soos vryheid en individuele regte kon debatteer nie. Londen het die hele proses alleen beheer en die eienaars moes in die onvermydelike berus.

Die bedrag van die kompensasie het groot onsteltenis veroorsaak. Die regering het £34 per slaaf betaal, dus veel minder as die £73 wat voorgestel is deur die komitee wat die slawe se waarde  moes bepaal. Die feit dat die vergoeding slegs in Londen betaal sou word en dat die eienaars verplig was om aansienlike kommissie aan agente te betaal, het ook die gemoedere gaande gemaak. 

Meesters en slawe het die dag van bevryding met heeltemal verskillende verwagtinge tegemoet gegaan. Die slawe het lank om hierdie dag gebid, maar het geen benul gehad wat hul lot in die nuwe bedeling sou wees nie. Die meesters het gevrees dat die maatskaplike orde in duie sou stort.

Vryheidsdag, 1 Desember 1838, het almal verbaas. In plaas daarvan dat die hemel ingestort het, is die hemel se sluise geopen: drie dae lank het swaar reën uitgesak; riviere het hul walle oorstroom en sneeu het die bergtoppe versier. Alle gelowiges het gegis oor wat die hemelse boodskap is. Vir party slawe was die reën simbolies van die trane van slawe wat gesterf het voordat hulle vryheid kon smaak. (Op Stellenbosch verwys boere vandag nog na reën wat in die middel van die somer uitsak as 'n "slawereëntjie".) Slawe-eienaars het besluit dat God met die reën 'n ramp gekeer het. Tulbagh se korrespondent van De Zuid-Afrikaan het geskryf dat die vrygestelde slawe "stil en vreedsaam is en hulle behoorlik gedra." Die berig lui verder: "Ons het na die weer gekyk as 'n bestiering. Dit het verhoed dat groot getalle leegleêrs bymekaarkom met al die gevolge wat daaruit sou spruit. Dit het ook gekeer dat daar onbehoorlike feesvierdery en dronkenskap is waaruit baie euwels sou voortspruit." Op Stellenbosch was die kerkie van die Rynse Sendinggenootskap vol by die drie dienste wat op die dag gehou is. 

Baie slawe het dit moeilik gevind om die bande van paternalisme onmiddellik te verbreek. Katie Jacobs het later onthou hoe sake verloop het met bevryding net om die draai: "My miesies het gehuil wanneer sy daaraan dink dat ek haar gaan verlaat. 'Nee, jy moet bly', het sy uitgeroep. 'Dink aan my seun wat jy gesoog en opgepas het en wat nou vir jou baie lief geraak het.'". Hoewel haar man wou hê dat sy die plaas dadelik verlaat, het Katie nog drie of vier jaar aangebly. 

Die koloniste het 'n massiewe arbeidstekort gevrees, maar soos 'n nugter waarnemer, H. Calderwood, in Desember 1838 opgemerk het, moes die vrygestelde slawe werk of honger ly. Baie het by hul meesters gebly, maar ewe veel het weggegaan. Dit wil voorkom of een- of tweeduisend gewese slawe hulle in krotte op staatsgrond aan die buitewyke van dorpe in Kaapstad gevestig het. Nog duisend het op sendingstasies gaan woon. Die ander het vir korter tydperke hul dienste uitgehuur. Aangesien die regering geen grond beskikbaar gestel het vir voormalige slawe om op klein skaal te boer nie, was die groot meerderheid verplig om plaaswerkers te bly.

Vryheid het wel subtiele veranderings meegebring. Die dae van volkome onderwerping was verby. A.J. Louw, 'n welvarende boer van die Koeberg, het gekla: "Hulle kom na die landerye nadat die son reeds op is en as ons suur daaroor is, gaan hulle weg sonder dat daar enige werk gedoen is." Werkers het dit probeer vermy om langertermynkontrakte aan te gaan. 'n Korrespondent het aan De Zuid-Afrikaan verduidelik: "Hulle is so dikwels in die verlede wreed behandel en die mense het soveel onder slegte base gely dat hulle onwillig is om hulle self te verhuur voordat hulle vasgestel het watter soort baas hulle het".

DIe korrespondent het bygevoeg dat die meesters te geneig was om hulle toevlug te neem tot die sweep, die kats en die sambok. Boere was dus verplig om arbeiders per dag te huur, iets waarvan hulle nie gehou het nie. Die kontantlone het baie laag gebly en die werkers is meestal betaal in kos, wyn (wat die dopstelsel voortgesit het), klere, en vee. Reeds onder slawerny het party slawe klein stukkies grond gekry om 'n tuin te maak en hul vee te laat wei. Na emansipasie het dit op sommige plase ontwikkel in 'n vorm van huurpag. Die meesters het aangehou om 'n rondloperswet te eis wat aan hulle goedkoop arbeiders sou besorg, maar die regering het geweier. Die vrees dat die landbousektor in duie sou stort, is nie bewaarheid nie. Tussen 1834 en 1842 het die koring-en hawerproduksie met omtrent 'n derde gedaal, maar daarna het dit weer tot die vorige vlakke gestyg. Die wynproduksie is nie baie geraak nie. Teen die middel 1840's was die wyn- en koringplase terug op die vlakke van voor Vryheisdag. Die vrees dat die kolonie nie sonder slawerny kon oorleef nie, was ongegrond.

Verteenwoordiging vir die "eenvoudigste boer en Hottentot

Die afskaffing van slawerny het die grootste struikelblok in die weg van verteenwoordigende regering verwyder. Die burgers het nou alle aandag op die veldtog vir selfregering gevestig. Hulle het geweet dat die imperiale regering slegs 'n nierassige grondwet sou goedkeur, maar vir die burgers was dit nie onoorkomlik nie. In die Kompanjiestyd het die maatskaplike orde op nierassige statusverskille berus. Slawerny is nooit op rassegronde verdedig nie. In die kerk het die buitedistrikte skeidingsmaatreëls getref, maar dit was eers in 1825 dat die kerk in Stellenbosch onderskeid tussen wit en swart gemaak het. In 1828 het ordonnansie 50 die beginsel van nierassige regte ingevolge die wet in sowel die staat as die kerk stewig gevestig. 

Selfregering, nie wit selfregering nie, was die enigste lewensvatbare grondwetlike opsie. Nierassige selfregering was geen bedreiging nie. Hollandsprekende koloniste het meer as driekwart van die wit bevolking verteenwoordig en selfs met lae stemkwalifikasies sou die meeste gekleurdes en swart mense nie kon stem nie. In die landelike gebiede was daar baie min swartes of gekleurde mense buite die sendingstasies wat nie arbeiders was nie. 

Selfs in Kaapstad was daar maar net 'n beperkte nierassigheid. Die NG Kerk in Kaapstad het nooit op grond van kleur onderskeid getref nie, maar die meeste mense wat nie wit was nie, het in die gemeentes van die verskillende sendinggenootskappe aanbid. Daar het 'n klassesamelewing ontstaan wat nie veel van die Kompanjie se status hiërargie verskil het nie; blankes was bo en swartes onder. Swart mense het 'n veel groter gevaar geloop om van misdade beskuldig te word as wit mense. Die howe was ook geneig om hulle swaarder te straf. Huwelike oor die kleurlyn heen het ook afgeneem. 

Van die begin van die jare dertig het die Afrikaanse koloniste begin druk uitoefen om selfregering te verkry. Hulle het nou nie meer as oudburgers op politieke regte aangedring nie, maar dit opgeëis as die gemeenskaplike reg van alle britse onderdane. 

Die imperiale regering se minister van kolonies, Lord Stanley, het selfregering vir die Kaap verwerp. Hy wou nie die mag in die hande laat kom van die Hollandsprekende koloniste nie, wat hy "in alle opsigte behalwe getalsterkte" as ondergeskik aan die Engelsprekendes beskou het. 

Die liberale stem aan die Kaap was aanvanklik betreklik stil oor die kwessie van selfregering. Met slawerny uit die weg en die Khoi-Khois "bevry" het liberalisme begin taan. Die Commercial Advertiser het baie van sy hervormingsywer en besorgdheid oor die onderste klasse verloor. John Fairbairn het deel van die "Anglo-Hollandse" bourgeoisie in Kaapstad geword. Die meeste buitelandse sendelinge was gekant teen radikale inmenging om maatskaplike gelykheid te bereik. Aan die oosgrens was James Read, wat met 'n Khoi-Khoivrou getroud was, by sy kollegas in onguns. Hy het gedink dat hulle te bekommerd is oor die gevaar van gelykheid vir die Khoi-Khois. Hy het ook gesê: "I am not made to act with these white men, I am too much of a Hottentot."

Alhoewel die Kaap wat betref sy rassesamestelling heeltemal uniek was, het die kolonie se grondwetlike ontwikkeling dieselfde paadjie geloop as dié van ander Britse kolonies. Die Raad van Advies wat in 1825 ingestel is, is in 1834 vervang deur 'n Uitvoerende Raad van vyf tot sewe benoem deur die goewerneur. Dit het ook as 'n Wetgewende Raad gedien. Maar die werklike mag het nog steeds by die goewerneur en koloniale sekretaris gelê. In 1837 het die regering voorsiening gemaak vir die verkiesing van munisipale rade deur onderdane van alle kleure, met 'n lawe stemregkwalifikasie. Dit is beskou as 'n eerste stap in die rigting van demokratiese regering. 

Met die instelling van plaaslike regering het van die voorste burgers tot die politiek toegetree. Onder hulle was F.W. Reitz, 'n welvarende boer wat in Europa gestudeer en gereis het voordat hy hom die Swellendamse distrik gevestig het. Daar was ook Christoffel Brand, en die sakemanne J.H. en J.A.H. Wicht. Toe Kaapstad se eerste stadsraad in 1840 gekies is, het die Wichts 'n belangrike rol gespeel. In toenemede mate het hierdie raad begin om as 'n teenwig vir die Wetgewende Raad te dien. Engelse en Afrikaner-sakelui in Kaapstad het in so 'n mate gedeelde belange gehad dat Brand in 1841 opgemerk het dat die "partygevoel" verdwyn het. 

In die loop van die veertigerjare het die Kaapse sake- en professionele gemeenskap al hoe ontevredener geraak met die gebrek aan beheer oor die goewerneur en die topamtenare. Hulle was ontevrede omdat daar so min aan die ontwikkeling van die kolonie se infrastruktuur, byvoorbeeld die hawe, bestee is. Die imperiale regering was egter nie bereid om die nodige finansiële waarborge te verskaf nie. Plaaslike sakelui het al hoe meer besef dat die kolonie se belange slegs onder 'n vorm van verteenwoordigende regering behoorlike aandag sou geniet. 

Ontevredenheid het skerp toegeneem onder die outokratiese en baasspelerige goewerneur Harry Smith (1847-1852) en die konserwatiewe koloniale sekretaris in Kaapstad, John Montagu. Met al groter selfvertroue het die Kaapstadse middestand die regeringsvorm bestempel as onverteenwoordigend en onverantwoordelik. Die stadsraad van Kaapstad en die regering het skerp oor nuwe belastings getwis. De Zuid-Afrikaan het gewaarsku dat die regering nie moet probeer om ongewilde belastings aan die mense op te dwing nie. Die opstande van 1848 in Europa het die misnoeë met die klein aristokratiese heerserskliek laat oplaai. F.S. Watermeyer, 'n jong Afrikaner wat ondanks sy Engelse opvoeding darem nog "Hollands" genoeg was om tot Het Volksblad by te dra, het 'n waarskuwing gerig: "Be it known that the revolutionary genius of the age has reached even unto the Cape...The people do not choose longer to have others rule them. They will not that the heel of power shall londer be upon their necks."

Toe die Kaap eindelik op die punt kom dat 'n parlement 'n werklikheid begin word, het die gemeenskap in twee groot kampe verdeeld geraak. Daar was ten eerste die "konserwatiewe party" van die kolonie se oostelike distrikte. Hier was daar 'n luidrugtige minderheidsgroep van Britse setlaars, wat universele stemreg met lae eiendomskwalifikasies verwerp het. Hulle het op hoër stemkwalifikasies en 'n tweede, benoemde kamer aangedring. Hul leier, Robert Godlonton, het verklaar dat die mense nie ryp is vir die voorgestelde liberale instellings en ook geen geduld het met stemreg vir die "onopgevoede inboorlinge" van die Katriviernedersetting nie. Richard Southey, die goewerneur se sekretaris, het aan Godlonton geskryf dat die Engelse onder 'n demokrasie deur die "Hollanders en kleurlinge" oorweldig sou word. Godlonton en Southey was so gekant teen die vooruitsig van 'n meerderheid wat "onprogressief" sou wees dat hulle verkies het dat die Kaap onder direkte imperiale heerskappy bly. 

Ten tweede was daar die "populêre party", wat teen die konserwatiewe party stelling ingeneem het. In die weste het dit bestaan uit 'n losse bondgenootskap van Afrikaner- en Engelse sakelui en professionele mense, tesame met Afrikanerboere. In die ooste het Andries Stockenstrom na vore getree as leier van hierdie "populêre party". Hier het sowel Afrikanerboere as die "kleurlinge" van die Katriviernedersetting hom ondersteun. Toe 'n grensoorlog teen die Xhosas in 1846  uitbreek, het die Afrikanerboere aan die grens geweier om onder 'n Britse bevelvoerder op kommando te gaan. Hulle het eers ingestem nadat die leiding aan Stockenstrom toevertrou is. Die Britse Setlaars aan die grens was nog sterk teen hom gekant. 

In Maart 1849 het die laaste stadium van die veldtog ten gunste van 'n parlement aangebreek toe dit bekend word dat Britse gevangenes  as immigrante na die Kaap gestuur sou word. Die populêre party het dit met alle krag teengestaan en in 1849 het Fairbairn, Stockenstrom en Brand saamgekom om druk op die regering te plaas om hierdie plan te laat vaar. 

Ten einde raad maar steeds onwillig om aan die populêre party toe te gee, het die regering die gediskrediteerde Wetgewende Raad byeengeroep om 'n nuwe grondwet vir die kolonie te oorweeg. As toegewing aan die openbare mening het die regering die gekose munispale en distrikrade byeengeroep om mense te benoem wat die Wetgewende Raad kon bystaan. Vyf lede van die populêre party, Stockenstrom, Fairbairn, die twee Wichts en F.W. Reitz, was boaan die lys. Hierdie uitslag het gewys hoe geisoleerd die konserwatiewe party geword het.

Om aan die oostelike provinsie verteenwoordiging te gee, het die goewerneur J.H. Wicht vervang deur Robert Godlonton, wat elfde op die lys was. 'n Konsepgrondwet, wat deur William Porter, die Kaapse prokureur-generaal, opgestel en deur die populêre party ondersteun is, het die raamwerk van die debat oor die nuwe grondwet geword. 'n Lae eiendomskwalifikasie van £25 is aanvaar vir die twee kamers van die parlement, wat albei verkies sou word. Dit was 'n teenwig teen die invloed van die welgestelde klasse, wat geneig was om stoere imperialiste te wees, en die werkersklas.

'n Grensoorlog (1850-1851) het die politieke proses tydelik onderbreek. Nou was daar ook 'n rebellie deur die Katrivierinwoners. In vorige grensoorloë het die Katriviermense aan die koloniale kant geveg, maar baie was nou vervreem. Die Grahamstown Journal van Godlonton was aan die spits van 'n veldtog om die Khoi-Khoisendingstasies- en nedersettings op te breek, en dit is sterk deur grondspekulante aangemoedig. Vir die konserwatiewe was 'n lae stemregskwalifikasie 'n gevaar,omdat dit te veel mag aan "onkundige gekleurdes" sou gee. Maar hulle het ook ander vrese gehad. Een van hul beroepe op die regering weerspieël die kratige mengsel van vrese op rasse-, etniese en taalgronde: "The diversity of race, the extensive influence of the Dutch colonists and the exercise of a common language by the Dutch, Malay and Hottentot communties was a further fact, the consideration of which, with the evil of the low franchise, placed at once this large majority in the ascendancy, to the imminent peril and jeopardy of the rights and privileges of the English colonists".

Die mense by Katrivier het al hoe agterdogtiger geraak. Hulle is verder vervreem deur 'n poging van die goewerneur om wetgewing teen rondlopery in te stel. Andries Stockenstrom, een van die vernaamste beskermhere van Kartivier, het gewaarsku dat die swartsmeerdery van die Katriviermense in die pers ernstige gevolge sou hê. 'n Sendeling van die Londense Sendinggenootskap in die Oos-Kaap, Nicholas Smit, het die aanklag verwerp dat die sendelinge die mense van Katrivier en ander sendingstasies aangehits het. Hy het verklaar dat "baie van die gekleurdes openbare vergaderings van die 'Engelse' bygewoon het waar hulle genoeg gehoor het om hul eie gevolgtrekking te maak oor hoe dié mense oor die gekleurde rasse voel".

In die oorlog van 1850-1851 het sommige Katrivierinwoners hulle saam met ander gekleurdes by die Xhosa-invallers geskaar. Hulle het hulle self gesien as verteenwoordigers van 'n "gekleurde nasie" wie se stryd nie teen die boere was nie, maar teen die Britte. Die ontevredenheid van die gekleurde bevolking het uitgebrei na die gekleurde troepe wat in die grensoorlog geveg het. Daar was allerlei gerugte dat die troepe gesê  dat die "Hottentotte en Kaffers vir grond veg wat voorheen aan hulle behoort het en dat hulle die reg het om dit te doen."

Goewerneur Harry Smith het geglo dat die rebelle in opstand gekom het om Stockenstrom se politieke standpunte te bevorder. Na die grensinval was Stockenstrom se huis die enigste in die grensgebied wat nie afgebrand is nie, 'n Paar Britse setlaars het dit toe aan die brand gesteek.

Maande lank het onrus in die kolonie geheers. Selfs op die Wes-Kaapse platteland was boere op hol oor gerugte dat hul werkers reg staan om te rebelleer. 'n Kommissie het agterna bevind dat hierdie gerugte versprei is deur mense wat teenstand wou aanwakker teen die nierassige stemreg met lae eiendomskwalifikasies.

Die populêre party het by sy standpunt gebly dat die kolonie 'n nierassige stem gegrond op 'n lae stemkwalifikasie moet kry. Brand het byvoorbeeld  in 1851 gevra: "Waarom moet gekleurde mense nie die stem hê nie?"...Sal ons van hulle daardie vryhede weerhou wat ons self geniet?

F.W. Reitz het aan 'n gekleurde gehoor gesê dat hy die standpunt ten volle onderskryf dat "die eenvoudigste boer en die eenvoudigste Hottentot in staat is om te besluit wie hulle die beste kan verteenwoordig." 'n Afvaardiging van Clanwilliam het die goewerneur meegedeel dat hulle sidder as hulle dink dat daar onderskeid in politieke regte getref moes word "tussen rykes en die armes, tussen wittes en gekleurdes." Vir hulle was die gekleurde man ewe geregtig op burgerregte as die wit man. 

Stockenstrom, wat so lank feitlik allen in die openbare debat as 'n liberale Afrikaner gestaan het, het aan die afvaardiging geskryf dat hy "as 'n landsgenoot en 'n boer soos julle trots is op hul "edel grootmoedigheid" om die belange van die swakker gekleurde rasse te beskerm "ten spyte van die manipulasies en intriges van daardie mense wat altyd op hul meerderwaardige onderwys, liberaalheid en filantropie roem." Dit was 'n klaarblyklike verwysing na sy konserwatiewe Engelssprekende teenstanders.

'n Merkwaardige verandering het binne die bestek van minder as twee dekades plaasgevind. In die 1820's  moes vooraanstaande Kaapse Afrikaners soos Christoffel Brand omtrent almal slawebesitters, hulle aanpas by Engelssprekendes soos John Fairbairn, wat die toon aangegee het by die hervorming en afskaffing van slawerny en die verkondiging  van die liberale gedagte  van vooruitgang. Nou, in die vroeë jare vyftig, was dit die Afrikaners wat die nierassige stem bepleit het wat dit vir gewese slawe moontlik sou maak om te stem, en was Engelssprekendes die vernaamste remskoene. Sir George Cathcart het in 1853 opgemerk  dat baie Engelssprekendes "sided with the Dutch on what are commonly styled liberal principles. 

Dit is nie korrek om te dink dat die Afrikaners se liberalisme na die instelling van 'n liberale grondwet in 1853 begin kwyn het nie. Daar was min besware van Afrikanerkant teen die instelling van sekulêre onderwys in 1863, hoewel verskeie predikante nie daarvan gehou het nie. Dit was 'n Afrikaner, J. H. de Villiers, wat, nadat hy in 1864 hoofregter geword het, die leiding geneem het in die vestiging van die beginsel dat menseregte nie van velkleur afhang nie. Hy het ook streng gewaak oor burgerlike vryhede en het teen die regering beslis toe dit swart en bruin politieke leiers sonder 'n hofsaak tronk toe wou stuur. 

Hoewel die Afrikaners die nuwe liberale grondwet aanvaar het, was die ou vooroordele steeds springlewendig. De Zuid-Afrikaan het op 'n keer geprotesteer teen skole waar die kinders van boere, wat "koloniale aristokrasie" gevorm het, saam met die kinders van slawe op skoolbanke moes sit. Maar gewoonlik het die Afrikaners as rasionalisasie vir voorregte eerder klas as ras gebruik en soms "nasionaliteit", wat in die negentiende eeu 'n kultuurkonnotasie gehad het. In werklikheid was daar natuurlik nie veel verskil tussen ras en klas nie.

Soms is daar skerp kritiek op die politieke stelsel uitgespreek. In 1854 het De Zuid-Afrikaan krities na verkiesings verwys as "'n demoraliserende siekte", wat die "mense" teen die "gespuis" opgestel het, en in 1866 het dit gepraat van "Maleiers, Hottentotte en Kaffers wat maklik deur ryk en ambisieuse politieke aspirante omgekoop word en sodoende van verkiesings 'n klug maak en van verteenwoordigende regering 'n blote slagspreuk."

Hierdie proteste kan beskou word as 'n onderliggende verset teen die nierassige orde, maar dit was eweseer gemik teen die mag van geld in die wen van stemme. Afrikaner politici het steeds gekleurdes se stemme probeer wen en sou in die konstitusionele debatte van 1908 en 1909 oor 'n grondwet vir Suid-Afrika die gekleurde stem sterk verdedig. 

Gekleurde mense het nie die nierassige stemreg so sterk ondersteun as ordonnansie 50 nie. Hulle sou verkies het dat die kolonie direk onder die kroon en die Britse parlement bly. Hul agterdog oor die nuwe demokratiese orde het korrek geblyk. In 1856 het die nuwe Kaapse parlement die Wet op Meesters en Diensbodes aangeneem, wat swaar strawwe ingestel het vir werkers wat gedros het, afwesig was of die dissplinêre kode verbreek het. Mondelinge kontrakte is weer as wettig beskou, soos voor 1809. Die regering was weer stewig aan die base se kant. 

Die Sinode stel skeiding in

Die NG Kerk was die kerk van die groot meerderheid van die Afrikanerkoloniste. Terwyl Engelstalige kerke min slawebesitters as lidmate gehad het, was die NG Kerk 'n kerk van slawebesitters. Standverskille, waaronder die onderskeid tussen vryburger en slaaf en hul nasate die heel grootste was, sou dus in die NG Kerk as instelling veel meer gemoedere gaande maak as in die Engelse kerke. Al die Christelike kerke het egter gesukkel om die gemeenskap van alle heiliges, ongeag kleur, in die praktyk uit te leef. 

Die NG Kerk in Kaapstad het slawe in private besit en vryswartes gedoop. Vryswartes wat gedoop is, kon in die kerk self trou. Dit wil voorkom of baie min van die gedoopte vryswartes later aangenome NG lidmate geword het. Baie slawe is nooit binne die raamwerk van die georganiseerde godsdiens gebring nie en in hierdie omstandighede het talle hulle tot die Islam gewend. In 1825, die eerste jaar waarin die Moslems getel is, was daar 846 manlike en 422 vroulike Moslems. Sommige waarnemers het geglo dat teen die middel van die 1830's die meeste Kaapse slawe Moslems was. Die groei van die Islam was so sterk dat die owerheid bekommerd geword het.

Dit was die Islam wat die eerste van die taal Afrikaans in 'n geskrewe vorm gebruik gemaak het. In Moslemskole is slawe in skryf en lees onderrig in Afrikaans wat in Arabiese skrif gedruk is. Gedurende die 1840's het 'n waarnemer gesê: "Alle Maleiers in Kaapstad praat Hollands, Maar die beste klas praat Hollands en skryf Arabies en Maleisies." In die middel van die jare vyftig het Moslems die eerste Afrikaanse boek in Arabiese skrif laat druk. In die volgende dekades is ten minste 11 Arabies-Afrikaanse werke gepubliseer. Toe Arnoldus Pannevis dit in die vroeë 1870's oorweeg om die Bybel in Afrikaans te vertaal, was Afrikaans in die Kaapse Moslemgemeenskap reeds 'n gevestigde medium van godsdiensonderrig. 

Die groeiende bedrywighede van die inheemse en buitelandse sendinggenootskappe het die NG Kerk voor 'n groot probleem te staan laat kom: hoe moes hierdie mense by die kerk ingeskakel word? Moes hulle by bestaande gemeentes ingelyf of in 'n afsonderlike verband opgeneem word? 

Die Zuid-Afrikaansche Zending-Gesticht, as die vernaamste inheemse sendingsgenootskap, het groot getalle slawe onderrig, maar dit lyk of baie min as lidmate in die NG of Lutherse gemeentes opgeneem is. Oor die hele kolonie heen het sendinggenootskappe hul volgelinge in aparte gemeentes opgeneem. In 1819 het dr. John Philip, superintendent van die Londense Sendinggenootskapstasies, die ZAZG aangeraai om sy bekeerlinge in Kaapstad in 'n aparte gemeente te organiseer, soos wat die LSG self besluit het om te doen. Philip het aangebied om die genootskap in elke opsig te help as hulle so 'n beleid sou aanvaar, en die direkteure het besluit om hierdie aanbod te aanvaar. Baie jare later, in 1851, het twee ZAZG-direkteure 'n dokument ingedien waarin hulle meld dat  hulle die 1819-besluit steun, maar met sterk voorbehoude. Die beleid van aparte gemeenskappe is onverstandig, het hulle verklaar. Dit sou beter wees om alle ongeletterdes en heidene voor te berei om lede van gevestigde kerke en gemeentes te word. 

In 1824, toe die NG Kerk sy eerste sinode byeengeroep het, het dit ook regulasie vir sendingwerk uitgereik en in 1826 L. Marquard as sy eerste sendeling georder. Hy het streng instruksies ontvang om die sakramente slegs te bedien "aan heidene" wat hy in 'n aparte gemeente byeengebring het.

Teen die middel van die twintigerjare het die afskaffing van slawerny al meer na 'n besliste moontlikheid begin lyk. Dit het senior amptenare genoop om die NG Kerk en ZAZG aan te moedig om die pad voor te berei vir 'n toekomstige bestel waarin die voormalige slaaf sy meester sou dien omdat hy sy plig liefhet en waarin die meester die voormalige slaaf behandel as iemand wat dieselfde natuur het as hy. 

Onder baie burgers het die geloof begin posvat dat dit, soos landdros Stockenstrom en die Graaff-Reinetse heemrade dit gestel het, in die belang van die slawebesitters as werkgewers is dat hul werkers erns met die beginsels van die Christelike godsdiens maak: "Hoe meer hulle (die slawe) die godsdienstige beginsels aanvaar, hoe beter sal hullle wees as werkers en hoe groter die voordeel vir hul eienaars."

Die NG Kerk het die sendingveld steeds grotendeels aan die ZAZG en ander sendinggenootskappe en die Engelse kerke oorgelaat. Tot die dag van die slawevrystelling is min slawe of gewese slawe as lidmate van die NG Kerk aangeneem. Terselfdertyd was dit steeds die NG Kerk se beleid dat ras of kleur nie mag tel in die besluit om mense te doop of aan te neem nie. Swart lidmate het in die gemeentes in Kaapstad geen protes uitgelok nie, maar in die eerste dekades van die negentiende eeu het blankes in die binneland verskeie gevalle teen die aanwesigheid van gekleurde mense in die kerk beswaar gemaak. Verskillende vorme van skeiding en onderskeid gegrond op afkoms het voorgekom.

In 1829 het die NG Kerk se tweede sinode besluit dat geen vorm van kleurskeiding in die kerk toegelaat sou word nie. By hierdie sinode was P.J Truter aanwesig. Hy was 'n vooraanstaande kolonis en ook die regering se verteenwoordiger in 'n tyd toe die NG Kerk nog 'n semistaatkerk was. By die sinode het hy die kerk daaraan herinner dat ordonnansie 50 van 1828 'n nuwe nierassige orde ingewy het, wat ook vir die kerk geld. Sommige burgers in die oostelike distrikte het beswaar aangeteken teen die kerk se nie-rassige beleid. J.N. Boshoff, 'n Graaff-Reinetse amptenaar, het gelykstelling in die kerk genoem as een van die oorsake van wat later die Groot Trek genoem sou word. Volgens hom is swartes toegelaat om hulle as "op gelyke voet met blankes te beskou in godsdiensoefeninge in die kerk, hoewel eersgenoemde heidene is en nie lede van so 'n gemeente nie." Die NG Kerk het egter vas bly staan. In 1847 het die kerk sy beleid bevestig: "Alle klasse, wit of swart, moet toegelaat word om deel te neem."
Sowel die Anglikaanse Kerk as die Rooms-Katolieke Kerk, die twee vernaamste Engelstalige kerke,het geweier om aparte kerke binne die koloniale grense vir verskillende rassegemeenskappe to kondoneer, maar mense van verskillende kleure in in die algemeen in aparte gemeentes aanbid. In Kaapstad het die ZAZG 'n gemeente bedien  wat omtrent uitsluitlik gekleurd was. In die NG Kerk was die situasie nog vloeibaar. Op party dorpe het individuele lede 'n geboutjie opgerig, gewoonlik 'n gestig genoem, waar gekleurde Christene kon aanbid. 

Sendingwerk onder die vaandel van die NG Kerk het nie baie vooruitgang gemaak nie. Op sy Sinode van 1847 het die kerk 'n spesiale komitee benoem om sendingwerk te bevorder, maar by die 1852-sinode is gerapporteer dat 'n gebrek aan geld sendingwerk kniehalter. In die vroeë jare vyftig het die kerk vyf sendelinge in sy diens gehad. In hierdie stadium het dit al hoe duideliker begin word dat die NG Kerk ver agter raak op die gebied van sendingwerk. Aartsdeken N.J. Merriman van die Anglikaanse kerk het in 'n boek wat in 1854 verskyn het verwys na die "onverklaarbare verwaarlosing" van die gekleurde mense deur die NG Kerk, wat hul taal en hul gewoontes die beste ken. Ds. Abraham Faure, 'n vooraanstaande NG Predikant, was so ontsteld oor die aanklag dat die NG Kerk sy sendingplig versuim dat hy sy hele toespraak by die tweede eeufees in 1852 daaraan gewy het om die aanklag te weerlê. Sy argumente was egter nie baie oortuigend nie.

Op hierdie tydstip het een van die briljantste jong predikante van die NG Kerk, Nicolaas Hofmeyr, seun van 'n welgestelde en invloedryke Kaapse familie, in die Kaap gekom na sy teologiese studie in Utrecht. Saam met hom was Andrew Murray en John Murray, seuns van Andrew Murray, wat baie begeesterd was deur die Hollandse 'Revéil' beweging, wat die liberale teologie verwerp en die waarde van geestelike ervaring beklemtoon het.

Die drie jong predikante het die NG Kerk se louheid teenoor sendingwerk as 'n groot verleentheid ervaar. Veral Hofmeyr het sterk daaroor gevoel dat die kerk nie langer sy verpligting tot sendingwerk kan ontduik nie. Hy het in 1851 predikant in die gemeente Calvinia geword en is geskok deur die intense teenstand teen sendingwerk. Hier het hy die eerste keer gehoor dat die Bybelse storie van die vloek van Gam gebruik word om die uitsluiting an gekleurdes uit kerkdienste te regverdig. Toe gekleurde mense begin om sy kerkdienste by te woon, het hy wit verset probeer paai deur aan hulle die agterste banke toe te wys. Daar was nietemin groot onsteltenis toe hy die huweliksgebooie van 'n baster in die kerk gelees het. Hofmeyr het die blankes aangemaan om hulle bediendes by huisgodsdiens te betrek. "Dit is in hul eie belang", het hy gesê, aangesien "dit hul bediendes fermer aan hulle sal bind as enige iets anders."Die idealistiese Hofmeyr het vuriglik begeer dat die NG Kerk die vernaamste sendingkerk in die kolonie word. Maar hy het besef dat dit hoogs onwaarskynlik sou wees as groter ywer met sendingwerk tot 'n sterk toename van bruin en swart lidmate sou lei. In 1854 het Hofmeyr die saak van sendingwerk aangeraak in 'n reeks artikels in die kerk se tydskrif, de Gereformeerde Kerkbode. Hy het vanuit die diepte van sy sendingsoortuigings geskryf. Hy wou nie verskille in rang of status versteur nie, soos die sosiale hiërargie genoem is. Sy prioriteit was om die evangelie aan siele te bring wat andersins verlore sou wees. 

Hofmeyr het drie moontlike opsies vir 'n sendingbeleid onderskei. Ten eerste was daar "afskeiding", naamlik heeltemal aparte sendingstasies of gemeentes vir kleurlinge. Hy het dit afgekeur omdat dit die band tussen wit en gekleurd sou verbreek en die invloed van die kerk in die samelewing wou laat taan. Ten tweede het hy ook die samesmelting van wit en gekleurde gelowiges en 'n identiese benadering teenoor die twee verwerp. Gekleurde mense was in sy woorde "op 'n laer vlak van ontwikkeling"; dus moes die evangelie aan hulle in 'n eenvoudiger en konkreter idioom gebring word. Dit is ook belangrik, het hy geoordeel, dat gekleurdes hul plek in die status hiërargie ken en nie hul eie stand vergeet nie.

Hofmeyr het hom ten gunste van die derde opsie, sy sogenaamde middeweg om die vrese vir gelykstelling te oorkom. Hievolgens sou elke gemeente 'n sendeling en 'n predikant hê, en 'n gestig en 'n kerk. Die sendeling sou die gestig gebruik vir godsdiensonderwys om die evangelie te bring op 'n wyse wat by die behoeftes van gekleurdes pas. Die predikant sou die diens in die kerk waarneem, en dit moes vir die gekleurde lede altyd vrystaan om die diens by te woon. Die predikant sou ook die doop en die aanneming in die gestig waarneem en die Nagmaal bedien. As praktiese man wou Hofmeyr 'n werkbare beleid hê.

Hierdie debat is 'n paar jaar later op die spits gedryf deur twee gebeurtenisse. Die een geval was 'n versoek deur 45 wit lede van die gemeente Stockenstrom in die Katriviervallei, 120 km noordoos van Grahamstad. Dit was hoofsaaklik 'n gekleurde gemeente  met 'n gekleurde kerkraad waarby hierdie blankes aangesluit het. Hulle het 'n paar jaar later verlof van die kerkraad gevra dat die nagmaal apart aan hulle bedien word voor of na die diens (maar nie op 'n ander dag nie). Die kerkraad het hierdie versoek geweier. Die ander brandpunt was 'n geskil in die NG gemeente Ceres in die Wes-Kaap. Mense wat moontlik beinvloed is deur Hofmeyr se artikels in die Kerkbode het gevra dat die kerkraad 'n gestig oprig wat gekleurdes onderrig kon word en "al die voorregte van hul godsdiens" kon geniet. Die kerkraad het die versoek goedgekeur en 'n bedrag daarvoor afgestaan, maar ds. R. Shand het beswaar aangeteken. Na sy mening sou so 'n besluit bots met die sinode se vorige beslissings om geen onderskeid tussen lede te maak nie. Hierdie saak is na die sinode van 1857 verwys.

Die sinode van 1857 het teen die agtergrond van dringende vertoë oor die uitbreiding van die sendingwerk binne die NG Kerk plaasvind. By die sinode is die ou orde verteenwoordig deur 'n spesiale kommissie wat gerapporteer het dat die tyd nog nie ryp is vir 'n gekoordineerde poging om die sendingwerk uit te brei nie. Die sinode het daarop 'n nuwe komitee aangestel waarin Hofmeyr, die broers Murray en P.K. Albertyn ook gedien het. Dié komitee het gerapporteer dat met die nodige ywer vooruitgang inderdaad gemaak kan word.

In die sinode van 1857 was daar slegs 'n kort verwysing na die geval Stockenstrom, die geval Ceres het die verrigtinge oorheers. In die debat oor hierdie saak het verskeie deelnemers sterk standpunt ingeneem teen die rassevooroordeel wat veral in party gemeentes in die grensgebied geheers het. Hulle het gevra dat die kerk sy beleid van nie-diskriminasie bevestig. Hofmeyr, wat een van die laaste twee sprekers was, het betoog dat daar 'n belangriker saak is, naamlik om die doeltreffendste manier te vind waarop die kerk sendingwerk kon bevorder.

Aan die einde is 'n kompromis voorgestel deur Andrew Murray senior van Graaff-Reinet, wat ook 'n prominente voorstander van sendingwerk was: "Die Sinode beskou dit wenslik en skriftuurlik dat ons lede uit die heidene in ons gemeente opneem en inlyf orals waar dit kan gebeur. Waar egter hierdie maatreël ten gevolge van die swakheid van sommige die bevordering van die saak van Christus belemmer, al die heidene wat op hierdie manier bymekaargebring is hul Christelike voorregte in 'n afsonderlike gebou of gestig geniet."

Dié voorstel is aanvaar. Hofmeyr se middeweg het slegs afsonderlike aanbidding gesanksioneer, nie afsonderlike gemeentes nie. Dit het nie gebots met wat ander Protestantse kerke op daardie tydstip gedoen het nie. Maar die besluit is swak geformuleer en die frase “ die swakheid van sommige” was n fatale flater – dit het die deur geopen vir bevooroordeelde wit mense om gekleurdes uit te sluit sonder om oor hulle  “swakheid” skuldig te voel.

Min predikante het besef watter noodlottige weg die kerk ingeslaan het. Een van hulle was ds. PHuet,’n onlangse immigrant uit Nederland en ‘n taamlik eksentrieke mens. Hy was in Natal gevestig, waar hy onder die Voortrekkers en hul kinders gewerk het - en waar die traumatise en bloedige botsings tussen wit en swart nog vars in die geheue was. Hy het bevind dat dit amper onmoontlik was om 'n swart persoon aangeneem en deur die gemeente aanvaar te kry.

Huet het die besware teen die aanwesigheid van swartes in die kerk ontleed. Een was die dwaalleer dat die Bybel die uitsluiting van basters regverdig. Nog ‘n regverdiging was biologiese rassisme, wat neergekom het op die argument dat wit en swart apart gehou moet word omdat hulle verskillende menslike spesies verteenwoordig wat deur hulle kleur en hare onderskei word. Daar is ook gesê dat swart Christene op ‘n veel laer vlak van beskawing staan en slegs die eenvoudigste preke kan begryp. En dan was daar die argument dat swartes ‘n aparte “nasie” vorm en dus hul eie kerk moet he. { Hierdie argument het in die twintigste eeu weer na vore getree in die ideologie van apartheid.}

Huet self het nie beswaar gehad teen aparte gestigte nie, mits dit in die spesiale behoeftes van bruin of swart Christene voorsien, maar hy het geglo dat die sinode gefouteer het. Dit het gefokus op wit vooroordeel en het “swakheid van sommige” amper laat klink na ‘n geldige oorweging. Daarmee het dit omtrent ‘n blanko tjek gegee vir die “magtiges en trotses” om die swakkes en die kwesbares uit te sluit – juis daardie mense waaroor die kerk die meeste bekommerd moet wees. Soos hy dit gestel het, is die verwerping van gelykstelling, “daardie verskriklike, geheime word wat deur soveel as die grootste van alle euwels beskou word”, nou as ‘n riglyn in die kerklike organisasie ingevoer.

Huet het geoordeel dat die kerk ‘n veel sterker standpunt teen rassevooroordeel moet inneem as dit nie daardeur oorweldig wil word nie. Hofmeyr was in baie opsigte  naief in sy idealisme. Die wyse waarop die kompromis geformuleer is, het die weg vir rassistiese praktyke geopen. Soos David Botha dit ‘n eeu later gestel het:”die vrome bedoelinge van eerlike idealiste” kon nie die mas opkom teen die “gevoelloosheid van die sondiges nie”.

In 1859 het Hofmeyr en John Murray die eerste professore van die NG Kerk se kweekskool op Stellenbosch geword. Sendingwerk het nou vinnig uitgebrei. Baie van die godsdiensywer en ook die groot godsdienstige herlewing van die vroeë jare sestig is nou in sendingwerk gekanaliseer. As professor het  het Hofmeyr dikwels sy studente aan die kerk se roeping tot sendingwerk herinner: Christene moet persoonlik verantwoordelikheid aanvaar vir die miljoene heidene wat in Suid-Afrika leef en sterf sonder om gered te word. Hofmeyr het die kerk se sendingbeleid vir die volgende dekades bepaal. Ook die NG Kerk van die Oranje-Vrystaat is in ‘n belangrike mate deur hom beinvloed  { sien p.406 }. Hofmeyr se geskrifte toon geen teken dat hy gevoel het dat die kerk 'n verkeerde pad ingeslaan het nie. In werklikheid was die kerk se rigting nog nie finaal bepaal nie.

Gedurende die 1870's het die sinode ernstige oorweging geskenk aan die opname van gemeentes van gekleurde mense wat deur die Rynse Sendingenootskap gestig is. Dit was nie besware oor ras nie, maar geldelike oorwegings wat dit verhinder het. Die NG Kerk wou veral nie gemeentes opneem wat geen vooruitsig gehad het om finansieël self op die been te kom nie.

Die patroon wat ontwikkel het, was nie konsekwent nie. By sommige gemeentes het gekleurdes in ' gesig aanbid wat direk onder die beheer van 'n NG gemeente gestaan het. Ander gestigte het onder daardie gesag van die sinode se komitee vir binnelandse sending gestaan. Veral in Kaapstad het die gekleurdes in 'n wit gemeente aanbid. Die sinode van 1857 het St. Sthepens, 'n gekleurde gemeente in Kaapstad, aanvaar as 'n gemeente van die NG Kerk.

Tussen die jare 1878 en 1881 was daar 'n belangrike ontwikkeling. Soos in die geval van die sinodebesluit van 1857 was die dryfkrag agter die besluit nie 'n doelbewuste strewe om kleurskeiding te bevorder nie. Dit was eerder die produk van 'n proses wat in 1878 begin het toe Wellington se kerkraad reëlings getref het om die kerk se gekleurde gemeente, wat deur die Paryse Sendinggenootskap gestig is, in sy geledere op te neem. Die kerkraad het voorgestel dat 'n raad van wit direkteure aangestel word om toesig oor die sendinggemeente te hou. Op tipies paternalistiese wyse het die kerkraad aanvaar dat die bruin gemeente geneë sou wees met beheer deur hul blanke base se kerkraad. Die base sou in elke geval 'n groot deel van die toekomstige fondse verskaf.

Die predikant van die gekleurde gemeente het onmiddellik beswaar aangeteken. Hy was ds. Jacobus Cornelis Pauw, 'n Nederlandse sendeling, wat die voorafgaande vyftien jaar uitstekende werk gedoen het. Pauw het sy kerkwet geken. Geen gemeente en predikant kon aan 'n ander gemeente en predikant ondergeskik wees nie. Die enigste beheer wat hy sal aanvaar, is die sinode se komitee vir die binnelandse sending, wat 'n hoër gesag in die kerkstruktuur as die wellingtonse kerkrad vertenwoordig. As daar dan skeiding moet wees, moet dit berus op gelykheid tussen gemeentes binne die liggaam van die kerk was Pauw se betoog. 

In 1881 het Pauw die leiding geneem toe vier sendinggemeentes besluit het om die NG sendingkerk te stig. Pauw en sy kollegas wou slegs 'n organisatoriese probleem oplos, wat daaruit  gespruit het dat geen band die verskillende gekleurde gemeentes en gestigte in die NG Kerk aan mekaar verbind het nie. Die dryfkrag vir hierdie stap het nie uit die NG leierskap self gekom nie, hoewel sy sinode van 1880 die wetlike grondslag verskaf het vir die stigting van 'n sendingkerk. Geen alternatief vir die stigting van 'n sendingkerk is oorweeg nie De Christen, wat daardie tyd die lyfblad van die NG Kerk was, het die mening uitgespreek dat die kerk nog nie ryp is om kleurlinggemeentes as gewone NG gemeentes op te neem nie, maar dit was slegs die mening van die redakteur. Twee feite het die skeidingsproses die bevorder. Vir eens was daar die begeerte van sommige kerkrade om van hul gekleurde lidmate ontslae te raak. Party kerkrade het hul gekleurde lidmate opdrag gegee om die sakramente in die gestig te ontvang. Die polarisasie het na die Anglo-Boerreoorlog versnel, toe die Afrikaners en die gekleurdes in baie distrikte aan verskillende kante was. 

Die ander dryfkrag was die wens van gekleurde mense om weg te kom van die diskriminasie wat hulle in die wit gemeente ervaar het. Sommige gekleurde mense in gevestigde kerke het 'n behoefte aan 'n aparte gemeente gehad waar hulle verkies kon word tot diaken en ouderling predikant kon word. Een van die vier stigters van die Sendingkerk in 1881 was ds. Ruytenbeek, 'n Hollandse predikant van die gemengde gemeente Wynberg. Hy het implisiet erken dat baie kleurlinglidmate na die kantlyn geskuif is deur op te merk dat hy in die nuwe sendinggemeente baie lidmate vir die eerste keer in agtien jaar leer ken het en dat hy verheug is oor die kwaliteit van die mense wat tot die kerkraad verkies is. 

Daar was geen teenstand of openbare protes teen die stigting van die Sendingkerk nie. Dit sou in elke gval baie jare duur voor die groot meerderheid van die kleurlinggemeentes daarby sou aansluit. Die ZAZG het dit eers in 1937 gedoen. As 'n belangrike finansiële skenker het die NG Kerk tot 1975 'n vetomag oor veranderings in die Sendingkerk se grondwet behou.

Die NG Kerk het reeds in die derde kwart van die negentiende eeu 'n rigting ingeslaan wat verskil het van die in die vernaamste Engelstalige kerke in die Kaapkolonie. In die kerke was daar ook afsonderlike gemeentes vir wit en swart, maar skeiding is nooit onbuigsaam opgedwing nie en die kerkeenheid het bewaar gebly. anders as in die NG Kerk, was daar geen groot getalle slawe-eienaars en hul nasate onder die lidmate nie, mense wat sterk op die eerbiediging van statusverskille sou aandring. (Die Britse setlaars an 1820 is verbied om slawe te besit).

In die suidelke state van die Verenigde State van Amerika was die kerklike toestand soortgelyk aan dié in die NG Kerk. Hier het die swart mense na die vrystelling van die slawe in 1864 in groot getalle die oorheersend wit kerke verlaat en hul eie kerke gestig. Die wit geestelikes het min gedoen om dit te verhinder en baie het dit aangemoedig. Selfs die Rooms-Katolieke biskoppe het in 1866 besluit dat aparte kerke waar moontlik vir swart Katolieke gebou moet word. In Brasilië, in die grootste Katolieke Kerk in die Europese kolonies, is rasseskeiding nooit toegepas nie en het die kerk verenig gebly. Die Katolieke Kerk se hele organisasie was so sterk hiërargies dat daar geen behoefte aan segregasie was nie. Die boonste lae van die hiërargie het egter wit gebly.

Gelykheid en gelykstelling

Die burgers het goed aangepas by twee belangrike veranderings in die maatskaplike orde tussen 1806 en 1853. Dit was die bevryding van die Khoisanmense en die vrystelling van die slawe.

Met slawerny uit die weg het die Afrikaner-elite in die middelste derde van die negentiende eeu toenemend die idee van vooruitgang aanvaar. Hier het die klem geval op die nierassige stemreg, verteenwoordigende demokrasie, skeiding tussen kerk en staat, sekulêre onderwys en die waarde van wetenskaplike ondersoek. In die kleurkwessie het die burgers bly soek na 'n wyse waarop hulle hul paternalisme kon versoen met 'n nierassige liberalisme. Hulle het die beginsel van gelykheid voor die gereg en universele stemreg met lae kwalifikasies aanvaar, maar het gelykstelling van die hand gewys. Hierdie teenstand het gewortel in die ou statushiërargie van die Kompanjiestyd. 

In die godsdienstige lewe het die burgers gedurende die 1860's die Christelike plig van sendingwerk met entoesiasme aanvaar. Dit was egter net moontlik omdat 'n kompromis aangegaan is tussen die kardinale beginsel van die eenheid van die kerk en die paternalistiese aandrang van gewese slawe-eienaars dat daar geen gelykheid in aanbidding mag wees nie. Die gemeente is geskei as toegewing aan die "swakheid van sommige."

Die vernaamste politieke verteenwoordiger van hierdie nuwe kompromis tussen paternalisme en liberalisme was J.H. ("Onze Jan") Hofmeyr, 'n broerskind van J.J. Hofmeyr. Hy sou leier word van die Afrikanerbond, die eerste politieke party. Sy biografie onthul die teenstrydighede  van die kompromis. Jan Hofmeyr het op 'n keer 'n swart man se hoed opgetel wat deur die wind afgewaai is. Aan 'n vriend wat hom daaroor betig het dat hy hom voor so 'n "vuil neger" verneder, het hy geantwoord: "Maar hy sou dieselfde vir my gedoen het." Hy het nietemin die Xhosasprekende swart mense as kinders beskou wat op vriendelike en hoflike paternalistiese wyse opgevoed moet word.

Gekleurde mense wat gekwalifiseer het vir die stem moes egter behandel word soos volwassenes en aan hulle moes menseregte toegeken word. Maar daar was perke. Eendag het 'n afvaardiging van gekleurde kiesers navraag gedoen of hulle lede van die Afrikanerbond kon word. In plaas daarvan om te antwoord het Hofmeyr die lede na sy huis uitgenooi. Volgens sy biograaf, Jan Hofmeyr, 'n broerskind wat een van die vooraanstaande liberale politici van die 1930's en 1940's sou word, het die lede van die afvaardiging die boodskap onmiddelik gesnap. Nes dit vir hulle onmoontlik was om op die uitnodiging vir ete te aanvaar, het hulle besef dat hulle nie in alle opsigte as gelyk behandel sou word nie. 

Hofmeyr het geen beswaar daarteen gehad om gelykheid voor die gereg te aanvaar nie en sy organisasie het om die kleurlingstem gewedywer. Dit was gelykheid en dit was aanvaarbaar. In teenstelling hiermee was dit heeltemal onaanvaarbaar om saam met gekleurdes in sy huis vir middagete aan te sit of hulle as lede van sy politieke party te aanvaar. Dit was gelykstelling.

Hermann Gililomee

Die Afrikaner: 'n Biografie

Tafelberg Uitgewers

ISBN 978-0-624-04181-8