# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

By die Hondetentoonstelling

Was julle al ooit op 'n hondetentoonstelling? Vir jare al wou ek na een gaan kyk, maar gewoonlik het ek nooit tyd gehad wanneer dit aan die gang was nie. Hierdie jaar het ek gegaan, en het ek nie 'n klomp honde gesien nie!

Daar was groot honde en klein hondjies; mooi honde en lelike honde; wit honde en swartes en bruines; honde met stomp neuse; honde met lang krulhare; en honde met gladde hare. Ek het nooit gedroom dat daar soveel verskillende soorte honde in die wêreld is nie.

Ek het nie lank daar deurgebring nie - nie so lank as ek graag wou nie - maar darem lank genoeg om een baie interessante ding op te merk.

Dit was naamlik dit:

Die honde is in twee groot afdelings verdeel - die groot honde was op die onderste verdieping, en die klein hondjies was op die tweede verdieping.

Wat my aandag in die eerste instansie in verband met hierdie indeling getrek het, was die verskil in die lawaai in die twee plekke.

Onder het ek gehoor hoe die groot honde met hulle diep basstemme knor en blaf; daar was bulhonde, wolfhonde, en jag honde. Daar was iets waardigs in die blaf van daardie honde. Maar op die boonste verdieping was dit 'n heetlemal ander storie - want daar was vir jou 'n lawaai. Elke klein hondjie was besig om sy sê te sê, en hy het geprobeer om 'n groter lawaai te maak as al die ander honde om hom. Jap-jap, jap-jap, jap-jap, jap-jap, jap-jap!

Dit was te vreeslik. Daar was nie een oomblik van stilte en vrede nie. Hulle het almal tegelyk te kere gegaan.

Ek het toe gewonder of seuns en dogters nie ook in twee sulke groepe geklassifiseer kan word nie.

Sommige is stil, waardig,  betroubaar, en hulle hou ook van 'n bietjie speel so nou en dan, maar sodra dit verby is, gaan hulle sommer weer dadelik aan met hulle werk. Seuns en dogters met hierdie geaardheid dink baie en praat min. Hulle sal liewer 'n goeie boek lees as om lawwe stories te vertel. Soos daardie groot honde mag hulle af en toe een maal blaf, maar hulle sal nie soos die kleintjies aaneen 'jap-jap' nie.

Die ander - wel, wie ken hulle soort nie? Hulle is in die meerderheid net soos daar ook baie meer klein hondjies as grotes is.

En, o, hoe kan hulle nie raas nie! 'n Mens hoor hulle op die trein, die bus, die tennisbaan, die voetbalveld, orals!

Is dit nie steurend nie?

Oor alles stry hulle. As hulle moet veldwerk doen, wil hulle juis kolf; wanneer hulle uitgevang is, sal hulle sê dat hulle nooit aan die bal geraak het nie. En as hulle meisies is, sal hulle hulle doodmoeg praat oor filmsterre, die jongste modes, of die nuutste haarkapsels.

Ons ken almal daardie soort.

Groot hond of klein hondjie, watter soort wil julle graag wees?

Behoort julle op die boonste verdieping of op die onderste?

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell