# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Bruilofsnag


Toe die bruid se hooftooisel half verlep hangs haar een oor afgesak het, toe die laaste houtstompe besig was om in vlamme op te gaan, toe die vodkabottels almal halfleeg in vensterbanke rondgestaan of omgeval op die tafels bly lê het, toe die oorblywende gaste almal in een hoek saamgetrek het en dronk en driftig aan die stry gegaan het, het die Poolse bruidegom opgestaan. Die bluilofsnag was al amper verby, maar hy en sy bruid sou saam met hul gaste feesvier. Tot die laaste een toe.

Dit was halfvyf in die oggend.

Buite het dit weer liggies begin sneeu. Die vlokke het neergedwarrel, in 'n nog dikker laag op die vensterbank vasgepak.

Hy het opgestaan, sy bruid aan die hand geneem, "kom, Marzanna", en haar vir die soveelste keer dié aand oor die dansvloer gestuur. Die klein bende musikante wat vroeër die aand wilde dansmusiek op fluite en viole gespeel het, was almal weg. Hul musiekinstrumente was nog daar - teen die muur in die hoek staangemaak of argeloos op die tafel neergesit. Die viool het veilig in staatsie gelê, die deksel van die kas oopgeslaan. 'n Kassetspeler het nou ingestaan vir die musikante. 'n Bekende volkslied uit die platteland, met woorde oor 'n verlore liefde. Die sanger se stem het intiem en droewig om hulle gevou.

Hulle was die enigste paartjie op die klein dansvloer tussen die tafels wat vroeër die aand gelaai was met bruilofskos. Broscht en bigosh en gerookte salm.

Ek was moeg. Tot sterwens toe eensaam.

Die verlatenheid het my ingehaal. Om my het die bruilofsgangers al hoe heftiger gepraat en gelag. Beduie. En verder gedrink. En kon nie meer 'n woord van hul gesprek volg nie, die paar sinne Pools wat ek tydens my reis baasgeraak het, was onvoldoende. Maar ek het nie omgegee nie. Die hartseer van 'n verlore bruilofsnag, die melancholie van die vallende sneeu en die moegheid het my beetgepak. Ek het my skouerknop onder my wang ingedruk om my kop te steun.

My lief. Ek het jou verloor.

Wanneer sou ek kon teruggaan na my kamer in die klein pension in die dorp? Links van my was Andreij besig om met nadruklike woorde iets aan diekring luisteraars om hom te vertel. Hierdie mense is vriende, reeds van hul kinderdae. Ek was die vreemdeling in hul midde - wat gul genooi is om vanaand te deel in hul vreugdevure. Hulle het aandagtig na Andreij se lewendige oë gekyk terwyl hy gepraat het. Die vrou met die lae hals het vorentoe gebuk gesit, elmboë op haar knieë, haar kop naby hom. Die ander het hom laggend in die rede geval en op die skouer geklop. Waarvan wou hy hulle oortuig? Andreij wat my twee dae tevore, net na my aankoms in hierdie dorverlate, sneeubedekte grensdorpie, op een van my wandelinge voorgekeer het en my namens die familie van die bruid na die huwelik uitgenooi.

Hoekom, hoekom, het ek gewonder, het ek hom nie geïgnoreer toe hy met my begin praat het nie? Was dit omdat sy oë helderblou en sonder bedrog was? Ek was nie lus vir die gemeensaamheid van vriende by 'n vreugdefees nie. Ek wou die vreemdeling in die dorpie bly, uitgesluit. Ek wou treur oor my eie verlatenheid. Ek wou alleen wees.

"'n Vreemdeling in die poorte word uitgenooi, dis tradisie by ons," het hy in gebroke Engels vir my gesê. "Dit beteken geluk en voorspoed vir die bruidspaar. Ek sal jou kom haal."

Ek het geweet van dié gebruik. Die dorpsgek en die vreemdeling bring geluk. In my eie dorp was ek die gek, hier was ek die vreemdeling. 'n Dubbele geluk aan die onbekende bruidspaar.

Ek wou nie die bruilof bywoon nie.

Maar ek was tog gereed toe hy my kom haal. Ons het na die klein houtkerkie tussen die bome gestap waar die gaste op die stoep vir die bruilof  gewag het. Toe sy kom, 'n dik pelsjas bo-oor haar dun, somerse trourok, het sy en die bruidegom eerste die kerk ingestap, ons almal agterna.

Die musiek het opgehou. Andreij het opgehou praat en na die buidspaar gekyk. Toe het hy opgestaan en na die bruid gestap wat nog steeds in die kring van haar bruidegom se arms bly staan het.

"Andreij?" het sy gevra.

Hy het sy hand na haar uitgehou. Almal het skielik stilgebly. Na hulle gekyk. Ek het my kop van my skouer af gelig. Andreij, wat die hele aand vrypostig al die vroue uit hul stoele getrek het om met hom te dans, wat my eers die passies van die baldadige volksdanse geleer het en toe aangegee het na die arms van die ander mans, die priester, die herbergier, die kleinboere, het nog nie een keer met die bruid gedans nie, het ek skielik besef.

Die kasset het weer begin speel. Krapperige musiek van 'n slegte opname. Die bruidegom het sy bruid laat gaan en alleen by die tafel gaan sit. 'n Sluk uit sy glas geneem en hulle dopgehou. Marzanna het haar na Andreij gedraai, haar een hand op sy skouer gesit.

Almal het geweet.

Selfs ek. Ek wat vroeër die nag in die houtkerkie onder die priester se dreunsang gedink het, kyk hoe gelukkig is sy langs die man van haar keuse - en daarvan gepyn het, selfs ék het geweet. En ek wou dit nie sien nie. Andreij, die dorpsgek. Jy ook. Hulle het in 'n snaakse stilte beweeg, selfbewus met die oë op hulle. Hulle het bly staan toe die musiek eindig. Die bruidgom het opgestaan, sy bruid by Andreij kom haal.

Die vuur was uitgebrand. Die aand was verby. die gaste het half verleë opgestaan, skielik bewus van hul gebrek aan bedagsaam heid. Die motor met sy speisale sneeubande wat ons almal met die smal pad na die herberg aangery het, moes ons weer terugneem na die dorpie. Iemand het die herberg se buitedeur oopgemaak en uitgegaan sonder om dit weer toe te maak. 'n Sneewind het ingewaai, die koue van buite ingebondel.

Die man het weer teruggekom, 'n paar woorde gesê.

Die motor is weg, dit het te laat geword vir die bestuurder, hy was lankal huis toe, moes ons hoor. Hulle het senuweeagtig begin lag. Ek het bly staan, gewonder wat my nou te doen staan. Hoe ver strek hul hoflikheid teenoor 'n vreemdeling?

Almal het begin om halfleë vodkabottels bymekaar te maak en in hul sakke te druk. Andreij het na my gekom. "Ons loop terug," het hy gesê.

"Wat?"

"Ons kan nie hier oornag nie, die herberg is vol bruilofsgaste, ons moet loop, dis nie so ver nie." Hy het gelag en geknipoog. "Toe maar, ons het vodka!"

Ek het my jas gaan haal. Ek was ook dronk genoeg om kans te sien vir die sneeupad terug. Die bruilofsgaste het almal op die stoep bymekaar gekom. Die vrou met die laehals-rok, nou bedek onder haar jas, haar ouer, stemmiger suster, die drie mans. Ek het nog gekyk waar die bruilofspaar is sodat ek hulle kan groet, maar ek kon hulle nêrens sien nie. Andreij het by my ingehaak, my by die besneeude treetjies afgehelp. Ons het in die tweespoorpad begin loop, die ander agter ons aan. Buite was dit skitterblink koud en oop. My voete moes soek na vastrapplek op die vars sneeu. Andreij het die bottel vodka na my uitgehou. Ek het gesluk, gevoel hoet my keel brand, my oë toetrek. Ek het opgekyk na die stuk hemel tussen die boomtakke. Dit was verskriklik mooi, verskriklik oop. Na 'n paar honderd meter was dit nie meer koud nie. Ons was 'n klomp dronk mense in die sneeu. Val-val het ons deur die sneeu geloop, aan die uitroepe agter my kon ek hoor as iemand gly. Andreij was warm teen my, sy jas teen my wang. Sou dalk die res van die nag by my bly?

Hulle het begin sing. Wat, kon ek nie uitmaak nie, maar die satire in die afgemete tone was duidelik Hy moes my vraende kyk op hom gevoel het.

"Die Volkslied", het hy vinnig tussen twee spottende note vir my gesê en teatraal voortgesing.

Hoekom weet ek nie, maar die man reg agter my het skielik opgehou met sing. Hy het met dungrekte geluide begin huil. Andreij het omgekyk.

"Achtung bitte?" het hy skielik langs my geskreeu en gaan staan. Ek het geskrik. Hy het my arm gelos en hom omgedraai. Die ander het strompelend teen ons vasgeloop en toe in 'n bondel gaan staan. Hulle was tjoepstil, die tjankbalie ook.

"Passport, Polischer Schwein!" het hy in gebiedende toon geeïs.

Die huilende man het histeries begin lag, weer begin huil. Hy was stormdronk. "achtung! Auschwitz toe met julle! Vorwarts!! Enkelkaartjie na Auschwitz, Dachau!" het hy in Duits beveel.

Hulle het senuweeagtig begin lag.

"Poolse honde, ruggraatlose lafaards!" het hy voortgeskel en sy gebalde buis reguit voor hom uitgesteek.

"Ja, ons gaan, Herr Hitler!" het hulle koggelend begin saamspeel, "ons gaan!" Ons het weer begin stap. Hy het my hand gevat en driftig in 'n gansmars begin masjeer. Ek het my losgewoel uit sy greep, ons kon nie in dié ritme saamloop nie. Ek het toe geweet ons sou nie dié nag saam deurbring nie.

Wnat met elke dronk huweliksnag sat dit weer Duitsland tee Pole wees. En Pole teen die Russiese invallers. Weer en weer. En weer.

En ek teen jou, my lief. 

Riana Scheepers                                                                                                                    

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7