Sanger(es) (se voornaam in Alfabetiese volgorde)
Daar is kwalik enige ander musiekstyl wat so 'n kragtige assosiasie met 'n spesifieke volksgroep en taal het soos Boeremusiek. Boermusiek is 'n unieke vorm van instrumentele volksmusiek wat in Suid-Afrika hoofsaaklik deur Afrikaanssprekendes beoefen word. Dit datuur uit die era toe doe persone wat dit beoefen het internasionaal bekend gestaan het as "Die Boere" van Suid-Afrika. Dit is informele musiek wat op 'n kenmerkende manier gespeel word en is hoofsaaklik bedoel as begeleiding vir sosiale danse. Daarom word die oorsprong van boeremusiek nie normaalweg bevraagteken nie: Uit wit Afrikaners en vir wit Afrikaners, word dié musiek min bestudeer; en die robuustheid van die genre steun op die streng beheer oor die geskiedenis daarvan deur wit Afrikaanse musikante en organisasies. Die mees algemene instrument wat in Boeremusiek gebruik word is die konsertina, kitaar, trekklavier, banjo en baskitaar. Soms word 'n klavier, kontrabas, traporrel, elektroniese klawerbord, tjello, mondfluitjie of viool ook gebruik. Enkele Boereorkeste gebruik ook 'n saag, klarinet en 'n teekis-bas. Dansritmes wat tipies is aan Boeremusiek is die settees, polka, wals, mazurka, asook die kwadriel en die vastrap. Daar is tans twee organisasies wat hul beywer vir Boeremusiek, naamlik die Tradisionele Boeremusiekklub en die Boeremusiekgilde. Min Boeremusieknommers is in musieknotasie beskikbaar en die musiek word maar op gehoor gespeel. Elke orkes het ook 'n unieke klank en 'n eie manier van speel. Ofskoon boeremusiek van talle Europese dansritmes gebruik maak, is die vastrap een van die maklik identifiseerbare standaardritmes van dié genre. Die webwerf van die Tradisionele Boeremusiekklub is vaag oor die oorsprong van die vastrap. Die verband met die riel word wel vermeld, maar daarvolgens het die vastrap eers later in die geskiedenis van boeremusiek sy opwagting gemaak en word aan die hand gedoen dat die musiek self sy oorsprong by die polka en Amerikaanse boeredanse het. Die Tradisionele Boeremusiekklub gee ook nie erkenning aan 'n ander musiekvorm wat 'n blywende uitwerking op boeremusiek gehad het nie. Minstreelsangers met 'n swartgeverde gesig (blackface minstrels) was bykans 80 jaar lank die grootste vorm van vermaak in die koloniale Suid-Afrika. Die minstreel-treffer "Jump Jim Crow" - die gewildste liedjie in Amerika voor die Burgeroorlog - is in die 1840's in die Kaap bekend gestel, en daarna is minstreel-vertonings landwyd gehou. Van die 1860's af het 'n klomp Amerikaanse minstreel-kunstenaars die land vol getoer, en hul Burgeroorlog-liedjies het Afrikaanse volksmusiek regstreeks beïnvloed. (Sommige daarvan is noot vir noot verwerk, met nuwe Afrikaanse lirieke, waaronder "Sarie Marais"). Van deurslaggewende belang is dat hierdie kunstenaars twee staatsmakers van boeremusiek, die konsertina en die banjo, na die land gebring het. Volgens Froneman het hierdie musiekvorm in die 19de eeu in letterlik elke dorpie in Suid-Afrika 'n groot deel van wit vermaak uitgemaak. Tydens die 1930's het Boeremusiek 'n groot opleweing gehad. Orkeste soos die Vyf Vastrappers, Vier Transvalers, die Ses Hartbrekers het Boeremusiek op 78-spoed plaat vrygestel, wat die musiekvorm se gewildheid vinnig laat toeneem het. Gemoderniseerde Boeremusiek vermeng verskeie musiekvorme deur Rock, Hip-hop en Disko-ritmes en effekte saam met konsertinaklanke en Boeremusiekwysies te kombineer. Dit is insiggewend dat die term "boeremusiek" eers met die nabootsking van die Groot Trek tydens die eufeesviering daarvan in 1938 ontstaan het. Volgens Froneman het beskrywings van die musiek voorheen verband gehou met gekleurde mense, nie met Boer enie: óf "vastrapmusiek" óf Hotnotsmusiek." Die oorsprong hiervan is nie moeilik om te begryp nie. As 'n wit boer in die 18de of die 19de eeu in die Kaapkolonie 'n partytjie gehou het, spreek dit byna vanself dat 'n orkes bestaande uit slawe of bediendes met 'n donkerder velkleur as syne sy gaste sou vermaak. Daar sou walse en kadriele wees waaroor wit mense regoor Europa gaande was, maar dit sou gegeur wees met die musiektradisies en -estetika van die Khoi-San-, Indonesiese, Indiese, Malgassiese en moontlik Xhosa-slawe wat dit uitgevoer het. Een van die nuwighede wat deur sulke musikante hierdie milieu binnegedring is, was 'n "boem-pa-da-boem-pa"-ritme bekend as die vastrap. Die vastrap is 'n eenvoudige transmusiek uit 'n Khoi-San-ritueel wat die hop-dans genoem is. Presies wanneer die eerste Boeremusiekklanke die atmosfeer binnegedring het, kon nog nie bepaal word nie. Deels omdat kommunikasie en rekords 300 jaar gelede omtrent nie bestaan het nie. Navrosing dui daarop dat Boeremusiek waarskynlik tydens hierdie periode die eerste keer deur slawe gespeel kon gewees het. Wat wel duidelik was, is dat die musiek as dansmusiek ontstaan het. Die wals, polka, kwasdriel en mazurka is dansmate wat reeds lank voor Van Riebeeck se koms na die Kaap in Europa was. Die eerste inwoners het dus musiek vanaf Europa en die Verenigde Koninkryk na die die suidpunt van Afrika saamgebring. Nou wat verskil Boeremusiek van bogenoemde musiek? Totaal! Alhoewel die tydmate ooreen-stem, verskil die voordrag van die musiek geheel en al. Boeremusiek het sy eie unieke klank Kan ons 'n definisie vir boeremusiek saamstel? Nie so eenvoudig nie as gevolg van die aard van boeremusiek. Boeremusiek is by uitstek dansmusiek wat in die meeste gevalle by Afrikaner byeenkomste of by hulle huise gespeel is. So, stel jou nou voor: die mense wil dans en daar is nie 'n konsertina nie. Dan word die instrumente gebruik wat beskikbaar is. Solank die produk boeremusiek is, is dit boeremusiek. Soos Ollie Viljoen by die KKNK gesê het: "Jy HOOR onmiddellik as dit Boeremusiek is!" Met ander woorde Boeremusiek word geken aan 'n kenmerkende styl op die instrumente wat beskikbaar is wanneer die musiek gespeel word! Die ander probleem en die groot rede vir die swak inligting wat oor Boeremusiek bestaan, is die swak beeld wat Boeremusiek nog deur die verloop van baie jare beleef. Die rede vir die swak persepsie van Boeremusiek kan deels voor die deur van die Calvinistiese Afrikaanse kerke gelê word aangesien die kerk vroeër sterk gekant was teen dans en omdat Boeremusiek in wese dansmusiek is. Dit is weliswaar so dat 'n dansparty gepaard kan gaan met onsedelike gedrag, maar dit is onredelik om die probleem aan die hals van Boeremusiek te hang. Dieselfde beginsel geld vir drankmisbruik. Drankmisbruik is 'n individuele siektetoestand wat geensins te make het met Boeremusiek nie. Met ander woorde 'n persoon wat drank wil en sal misbruik het nie 'n Boermusiekbyeenkoms nodig vir sy of haar verslawing nie. Gelukkig is hierdie persepsie van Boeremusiek 'n nekslag toegedien en het Leon Ferreira reeds in die vorige boek melding gemaak van 'n NG Kerk Sinodebesluit dat "Nie alle vorme van dans sonde is nie". Hierdie meer gebalanseerde uitkyk op dans en Boeremusiek het verder uitgebrei en vandag word die klanke van konsertinas selfs in kerke gehoor en speel vele van ons Boeremusikante in orkeste by eredienste. Boeremusiek het ook 'n groot vyand onder sy eie mense – die Afrikaner. Dit was vir die vroeëre Vryburger meer van belang om met die elite van die Kaap en sy uitheemse musiek te assosieer as met sy eie mense met hulle eie musiek. Daar is vandag nog Afrikaners wat glo dat dit waardiger is om na klassieke musiek te luister as na Boeremusiek. So is Boeremusiek afgedruk en het hy 'n stryd van die vroegste jare vir erkenning — let wel — erkenning as 'n besondere musiekstyl wat spontaan onder die Afrikaner ontstaan het, en nie as 'n teenvoeter vir ander musiek genré nie! Dit is al wat Boeremusiek vra: 'n plek onder die son. Gelukkig is daar tans 'n oplewing en waardering vir enige vorm van Afrikaanse musiek en sodoende word Boeremusiek weer herontdek en reeds 'n ereplek toegeken deur verskeie Afrikaanse musikante en sekere kunstenaars wat ligte Afrikaanse musiek beoefen. Die feit dat meer en meer jongmense Boeremusiek begin beoefen en dat die populêre Afrikaanse sanger, Dozi ingewillig het om as beskermheer van die Boeremusiekgilde op te tree is 'n klinkklare bewys dat Boeremusiek tog besig is om tot sy reg te kom. Vroeg in die sestiende eeu het dans 'n oplewing gehad en 'n groot invloed op musiek gehad. Allerhande nuwe passies het die lig gesien en pare het begin om teen mekaar te dans. Aan die Kaap is danse soos die kwadriel, die minuet en die gewilde kontradans ingevoer wat baie populêr was. Dat daar baie musiek gemaak is in die Kaap van 1652 tot 1800 is verseker. Tot op hierdie stadium word Boeremusiek nêrens vermeld nie maar, soos reeds genoem, was kommunikasie soos ons dit vandag ken, nie beskikbaar nie. Na die bewindsoorname van die Kaap deur Brittanje vroeg in die 19de eeu het baie Britse orkeste die Kaap besoek. Musiekinstrumente het toe ook makliker bekombaar geraak. Die ingewikkelde danse moes nou plek maak vir die nuwer danse soos die wals, polka, mazurka en die settees. Namate die Kaapse inwoners die binneland begin verken het en meer immigrante hulle hier gevestig het, het ontwikkeling vinnig gevorder. Graaf Reinett en Grahamstad was nou al gevestig, maar belangriker nog, die Afrikaner het as boere gevestig geraak en sodoende ook die grondslag vir die ontwikkeling van Boeremusiek gelê. Alhoewel die grootste agting die eerste musikante wat plate gemaak het toekom, kan ons nie goedsmoeds die komposisies van die nommers wat hulle gespeel het aan hulle toedig nie. Die rede hiervoor is dat baie van die nommers wat hulle gespeel het reeds in die negentiende eeu deur andere gespeel was. Kalie de Jager bevestig hierdie beskouing en meld dat hy 'n konsertinaspeler geken het wat vroeg in die 20ste eeu leer konsertina speel het en negentig persent van die nommers wat die betrokke persoon gespeel het, het hy by sy pa gehoor wat mondfluitjie gespeel het! Dié het dit weer by sy pa geleer wat konsertina gespeel het! Nou is ons al terug by 1860! Inligting wat verder terug strek as hierdie kon ongelukkig nie bekom word nie. Wat wel in die navorsing van Kalie de Jager duidelik was, is die feit dat die Soutpansberg Settees en Soutpansbergpolka voor die Vryheidsoorlog op 'n 2ry Wheatstone, oftewelEngelse konsertina, gespeel is! Kom ons kyk weer na die aard van Boeremusiekbyeenkomste in die 19de eeu. Boeremusiek is in die sitkamer of waenhuis gespeel met die instrumente wat beskikbaar was. Veral die viool en serfyntjie was baie populêr. In elk geval was die Boere reeds vroeg in die 19de eeu aan die trek. Verbeel jou om al jou besittings en kos vir 'n onbekende aantal maande, alles op die ossewa te laai! Weens hulle grootte was die viool en later die konsertina, so gewild want dit het bitter min plek gevat. Verder is Boeremusiek by sosiale geleenthede gespeel soos verjaardae en troues en kon dié instrumente maklik saamgeneem word na sulke byeenkomste. Omdat die Boere so ver uitmekaar gewoon het, is daar groot ophef van dié byeenkomste gemaak en het die vrolikheid dikwels sommer vir 'n week aangehou! Hoewel die eerste vrolike klanke van Boeremusiek soos ons dit later leer ken het, reeds in hierdie tydperk aan die orde van die dag was, was die jare tussen 1800 en 1840 vol onrus en probleme — veral vir die Boere in die Ooskaap. Soveel so dat dit uiteindelik gelei het tot die Groot Trek. Tydens hierdie trek het die Boere natuurlik ook hulle musiekinstrumente saamge-neem en is Boeremusiek sodoende saam die binneland in. Noodwendig ontstaan die vraag nou waaroor die groot geskarrel om die oorsprong van Boeremusiek na te vors? Dit gaan oor erkenning en tantieme. In die eerste plek word daarna gestreef om erkenning te verleen aan die musikant wat sy talente ingespan het om die nommer te komponeer. Tweedens is tantieme ter sprake om die musikant verder te vergoed vir sy bydrae. In hierdie opsig het die musikant ook 'n spesifieke verantwoordelikheid, naamlik om sy komposisie by die Suid-Afrikaanse Musiekregte Organi-sasie (SAMRO) te registreer. Die organisasie is oorspronklik in Engeland gestig om musikante te beskerm. Oorlede Nic Potgieter het by hulle aangesluit voordat hulle Suid-Afrika toe gekom het en was ook 'n pensioentrekker by hulle. Registrasie van nommers het 'n tweeledige doel: die musikant ontvang in die eerste plek vergoeding wanneer sy nommer in die openbaar gespeel word en tweedens word verdere vergoeding betaal wanneer die nommer — hetsy op 'n album of by 'n openbare byeenkoms — gebruik word. Die Eileen Alannah wals van Faan Harris kan as voorbeeld gebruik word om hierdie beginsel te verduidelik. Hierdie wals is die eerste keer in Amerika opgeneem op 'n Edison silinder — die eerste plate was in silinder vorm — en kan nie nou aan Faan toegedig word nie. So is daar baie ander, nie noodwendig van Faan Harris nie. Thomas A. Edison het die fonograaf — die voorloper van die grammofoon — reeds in 1872 uitgevind en in 1880 begin plate (silinders) maak maar Boeremusiekplate is eers in 1930 vir die eerste keer gemaak! Met ander woorde 50 jaar later! Dit sou 'n geweldige hupstoot aan Boeremusiek gegee het as daar in die negentiende eeu reeds plate gemaak was want dit kon baie van die raaiwerk uitgeskakel het. Sodra 'n plaat gemaak word kry dit 'n matrysnommer. Sodra iemand anders dieselfde nommer op plaat wil sit moet dieselfde matrysnommer gebruik word met 'n /1 of /A agtervoegsel. Op die manier word die belange van die oorspronklike komponis beskerm. Die gewoonte is om die nommers wat nie aan 'n komponis toegeken kan word nie,tradisioneel te noem. Hierdie gebruik is egter ook nie sonder haakplekke nie en lei tot velerlei misdrywe wat nie regverdig teenoor die komponis is nie. Kom ons keer terug na die 19de eeu en Boeremusiek! Sir Charles Wheatstone het 'n baie belangrike patent in 1829 geregistreer. Sy eerste free reed instrument, wat hy die Symphonian noem — die voorloper van die Wheatstone konsertina — sien die lig. Vir doeleindes van hierdie boek geniet die Wheatstone konsertina voorrang omdat dit die konsertina is wat baie populêr onder die Boeremusikante was en nog steeds is — veral die Anglo–chromatiese model. Sommige ander lede van die free reed familie is die akkordeon, mondfluitjie en orrel. Die eerste free reed instrument is uit China afkomstig en bekend as die Naw en is 5000 jaar oud! Flip Delport, bestuurslid van die Noordwestak, is tans besig met omvattende navorsing oor die konsertina asook ander ou musiekinstrumente en het goedgunstiglik fotos van hierdie besondere ou instrumente beskikbaar gestel aan die redaksie. Flip verduidelik: By hierdie instrument word wind deur die longe verskaf. Dit word deur die mond geblaas en fingers word as kleppe gebruik om gaatjies in die bamboespypies, wat resonerende klankkamers is, af te sluit en oop te maak. Die klank word geproduseer deur 'n metaaltongetjie waarvan die punt vry in beweging vibreer.
|

Klipwerf Keurspel.mp3