('n twissieke, neulende, sanikende vrou)

Genoem na Xantippe, die eggenote van die Griekse Wysgeer, Sokrates (469-399 v.C). 'n 19de eeuse Nederlandse woordeboek beskryf haar as "'n kwade wyf, huisdraak, helleveeg, huiskruis, 'n broekdraagster" - lieftallige bondeltjie dus.

Ongelukkig is hierdie tekening totaal ongegrond. Sokrates het met haar getrou toe hy so 50 of 55 jaar oud was. uit die huwelik is drie seuns gebore - wat 'n mens dadelik laat dink dat hulle dalk soms nader aan mekaar was as wat die historici ons wil laat glo.

Die wysgeer self was onaansienlik. Hy het oor 'n groot wipneus, uitpeuloë en 'n lekker pens beskik. Maar hy was so onverstoorbaar, flegmaties en kalm, dat hy sy polse sou sny sonder om opgewonde te raak (soos sy dood bewys). Hierdie wonderlike eienskap het daarvoor gesorg dat 'n woeste teenhanger vir hom gevind moes word om as agtergrond vir sy openbare beeld te dien. Die naaste persoon was sy vrou - en dié arme bruid is toe deur die eeue as haar beroemde man se slegte vrou aangeteken.

So sou sy eendag 'n koek wat een van sy leerlinge aan hom gestuur het, op die grond gegooi en vertrap het. Sokrates sou net gelag het. "Nou sal jy nie daarvan kan eet nie," was sy geduldige antwoord.

Nog 'n onware oorlewering is dat sy op 'n keer na 'n vurige rusie 'n kom vuil waswater oor sy kop uitgegooi het. "Nouja", sou hy gesê het, "ek het altyd geweet dat na 'n donderslag die reën sal val." In die laat 20ste eeu is pogings sangewend om haar naam in ere te herstel. Sy is geteken as goedhartig, liefdevol, geduldig en besonder toegewyd aan 'n besonder moeilike man.

Die Aap in jou Koffie
Afrikaanse Eponieme van A tot Z
Anton F. Prinsloo
ISBN 978-1-86919-463-5