Tans woon daar nagenoeg 2,042,699 blankes in Suid-Afrika wat  na 1976 gebore is en wat gaan deelneem aan Vryheidsdag vieringe op 27 April 2012. Dit verteenwoordig 44,74% van alle blankes wat tans in Suid-Afrika woonagtig is. Vryheidsdag vier die eerste Nasionale verkiesing wat op hierdie dag in 1994 gehou is – waarby alle Suid-Afrikaners hul kon stem kon uitoefen.

Hierdie groep het ook vir die eerste keer hul demokratiese reg om te stem – geniet. Mens kan dus sê dat hierdie landsburgers – as gevolg van hul ouderdom – geen impak gehad het op Apartheid en die Apartheidsera nie. Hulle het die reg om saam met al die ander rassegroepe Vryheidsdag te vier!

Of het hulle? Volgens News24.com het President Jacob Zuma, in sy toespraak aan direkteurs-generaal en adunk direkteurs-generaal van Nasionale- sowel as Provinsiale Regering  op 23 April 2010 gesê: “Failure to deliver to the people of South Africa could no longer be blamed on apartheid after two decades of democracy”.

Teen 2014, wanneer ons volgende Nasionale verkiesing plaasvind, sal meer as 50% van alle blankes in hierdie land “post-apartheid” stemgeregtigdes wees.

Wat beteken burgerskap vir hierdie groep Suid-Afrikaners? Burgerskap omskryf tog die verhouding tussen ‘n persoon en haar of sy land. Burgers beskik gewoonlik oor sekere regte, soos politieke deelname, maar het ook verpligtinge om landswette te gehoorsaam en belasting te betaal. Maar geskiedenis is tog so lief om homself te herhaal. Kan ons as Afrikaner leer uit hierdie les?

Neem byvoorbeeld die situasie in Suid-Afrika tussen 1902 – 1932, nadat die Boere en Engelse in Mei 1902 die vredesverdrag te Vereeniging geteken het. Blanke Afrikaners het hulself vir die eerste keer in die buitebaan bevind – veral op ekonomiese gebied.  Volgens Hermann Giliomee in sy boek Die Afrikaners was daar ook ’n “baby boom” na die oorlog en het jong, blanke Afrikaners wat die werksmark betree het, tussen 1920 en 1926 met nagenoeg 50% toegeneem. Die ekonomie het stagneer en het die Bruto Binnelandse Produk van Suid-Afrika tussen 1920 en 1932 ‘n afname getoon. Daar was ‘n skerp toename in werkloosheid onder jong Afrikaners.

Met ‘n positiewe werksetiek en ’n bereidwilligheid om onder te begin, het die Afrikaner sy soeke na ’n moderne Afrikaneridentiteit begin. Die Spoorweë en Staat het poste verminder en die meeste Afrikaners het op die myne gaan werk.

Toe die eerste uitgawe van Die Brandwag – ’n mooi geillustreerde blad met die ondertitel ‘’n Nasionaal Suid-Afrikaanse blad vir die Huisgesin” - op 31 Mei 1910 verskyn het, het JBM Hertzog die verwelkom as ‘n teken dat die “Afrikaanse volk ontwaak tot ‘n gevoel van eie krag, eiewaarde en selfrespek”.

Ds. Tobie Muller het in 1914 ‘n toespraak gelewer genaamd “Die Geloofsbelydenis van ‘n Nasionalis”. Hierin het hy onverskilligheid oor Afrikaner nasionalisme as”pligsversuim” gesien. Vir hom was die keuse om nasionalis te wees ‘n morele keuse van die diepste betekenis. Daardeur is ’n individu se karakter binne ’n volk gevorm. Die individu moes sy lewensroeping binne die volk vervul en nie op sy eie nie.

Die Afrikaner se sukses en bron van krag was hul vereenselwiging met Suid-Afrika as hul enigste vaderland. Mag hierdie hunkering vandag nog dieselfde waarde hê vir die Afrikaner as 100 jaar gelede.

Cicero,die Romeinse filosoof het reeds in 43 B.C aangehaal: “Niks pas so goed by ’n man as dit wat sy eie is nie.”