..en waar daar eers vlees was, is nou net woord...

Daar was die huis van my ou vader aan die bo-ent van die dorp teen die eerste skotigheid, tussen rietbosse wat kletterend die voëls probeer afrskrik. En ander bome met donkergroen lower en net so groen die spatsels en gleuwe skaduwee. Teen die effe-geel mure van die regop huis, baie hoë stoep voor al met die huis se lengte, bank agter blikplante op die stoep, my ou vader kroes op die bank in die lawwe herfsson. Voëls oral, 'n swermerasie van voëls, 'n getjikker en tjêk-tjêk en snawelkloppies en getuite tone; voëls in die takke, in die stofbaddens van die erf se grond, op die nok en skoorsteen, op stoep en vensterbanke - 'n gedurige op en af en gewapper van vlerkies asof ou blou bedbedekkings in vuisgroot repe geskeur word. Soms loop my ou vader langsaam die heuwelweg uit huis toe met weerskante van hom 'n begeleier in uniform en dan ontplof sy hoof van al die lig. Net een keer in die jaar word die huis oorgeneem deur 'n hond van oud-oorlogmisdadigers, hou hulle met hul annuele saamtrek daar. Loer deur die valdeur af in die kelder: daar sit hulle om 'n tafel vol kalkbleek beendere, die benerigheid van hul skedels  in die doflig, die knoppe oor die oogbanke en aan die keelvelle, die pers holtes onder die oë en streel met maer voëlgeraamtehande oor die muwwe dybene en ribbetakke.

Maar wanneer dit somer is met wolke in optog soos siertuie wat blink water laat val en ander dae heeltemal blou, is ons op C- se plaas tussen die laaste rante hier en lagunes vol biesie en palmiet daar vlak langs die see. Ry ons in C- se jeep met die flappe teen die reën oor weiveld en braakland altyd terug na die werf. C- se kop is grys en krom van medelye met alles wat lewe. Sy vrou se naam is Elefteria. Elefteria dra groot swart plaasskoene en sy het rimpels al om die mondhoeke. Sy voer eende en die makoue, die kalkoene en die poue en die ganse en kapokkies. Sy voer ook die mossies en die spreeus en die katlagters en janfiskale en sommer die starlings ook.  Wanneer jy baie soet is en baie mooi vra, word jy, eksepsioneel in die voorhuis toegelaat. 

Loop baie saggies, moenie abrupte bewegings maak nie, staan eers doodstil. Daar hang skilderye agter glas teen die mure. Die een prent is van voëls. Kom nou op jou tone nader. Kyk fyn, luister mooi: daardie skildery is 'n venster waardeur jy kan staar op 'n vertrek vol duiwe. en dan begin die duiwekoor sing, dat jou bors tot aan die knop in jou keel toe vol mag word van die soet, donker weeige sang - 'n meesleurende ou Franse vryheidslied. Dis Elefteria wat die duiwe so afgerig het. Wat 'n eenheid! Elke duif is slegs tot 'n enkele foneem of sis-akkoord in staat, maar die geheel is georkestreer tot 'n golwende kantate. En deur trane verblind loop jy na die kombuis. Meisie, die oudste dogter, kom van buite af binne met 'n drag hout en gaan sit op haar hurke teen die muur. Sy is vaal, sy is 'n alkoholis, maar wanneer jy haar beter beskou, sal jy sien hoe aantreklik sy nog is en hoe mooi glad haar dye vir iemand wat daglank in die veld vuurmaakhout loop optel. Minnaar, dis C- en Elefteria se seun, is 'n ketter iewers op 'n ander plek, en 'n tweede dogter hou skool op Robertson, maar Meisie het nog nooit die plaas verlaat nie. Sy lag beskeie en half dronkerig. Sy dra nie 'n broek nie. En nou trek die duiwe in vlug 'n sprankelende sluier oor die solder, en wég! C- staan op die witgekalkte treetjies, sy grys kop rook in die son. Daar was vanmelewe altyd aangenome kinders in sy huis. Nou is net die ene oor (tye het verander) - 'n melaatse seuntjie. Hy kom uit en lag en klap sy dowwe hande met die rooi lepromata, klap sy hande van plesier want noudat dit nie reën nie sal hy 'n entjie mag gaan ry op een van die vele blink fietse wat teen die muur aangeleun staan. 

André P. Brink                                                                                                                                        

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7