Quisling (veraairer, meeloper met die vyand)

Genoem na die Noorweegse leëroffisier  en politikus, Vidkun Abraham Lauritz Jonsson Quisling (1887 - 1945), die grootste verraaier in die Noorweegse geskiedenis.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was hy minister-president van die Noorweegse regering wat met die Nazi's geheul het. Hy het in 'n enorme villa op 'n eiland naby Oslo gewoon en het met 'n goue eetstel geëet. Dit was nie sonder sorge nie, want hy was so bang dat iemand hom gif sal ingee dat sy smorgasbord eers vooraf deur 'n bediende geproe moes word. Direk na die oorlog is hy gearresteer en skuldig bevind aan hoogverraad en die dood van 'n duisend Jode. Hy het op 24 Oktober 1945 voor 'n vuurpeleton in Oslo gesterf.

Quisling het aanleg vir wiskunde getoon en in sy vroeë tienderjare foute in 'n nasionale wiskundehandboek na die uitgewers gestuur wat die veranderings aangebring het. Na die oorlog het die uitgawes van die boek die regstellings behou, maar alle verwysings na sy naam is vervang  met en gutt ('n seun).

In 1929 het die Verenigde Koninkryk hom met die CBE (kortweg 'Commander of the Order of the British Empire') vereer, maar ook dié eerbeton is in 1940 deur koning George VI (1895 - 1952) herroep.