(kuise vrou)

Genoem na die Romeinse godin van die vuurherd, Vesta, wat moes sorg dat die vuur in haar tempel voortdurend brand. Dit het sy met die hulp van haar ses Vestaalse maagde gedoen - en al dié bruide moes kuis lewe.

Dié kultus het skynbaar in die 7de eeu voor Christus ontstaan, maar is soos ander nie-Christelike kultusse in 394 n.C. deur keiser Flavius Theodosisus I (347-395) verban.

Die maagde is tussen die ouderdom van 6 en 10 jaar deur die hoofpriester gekies en het 30 jaar lank die vuurdiens verrig. Hulle moes maagde bly, maar kon na hul ontslag trou. As hulle nie hulle werk na behore verrig het nie, is hulle geslaan, en as hulle hul eed van kuisheid verbreek het, is hulle lewendig begrawe (want die bloed van 'n Vestaalse maagd mag nie gestort word nie).

Dié toegewyde, benouende kuisheid het ook neerslag gevind in die naam van die sogenaamde kuisboom, 'n bladwisselende struik, wat in die volksgeloof so genoem is omdat die antieke Grieke reeds oortuig was dat vroue kuis sou bly as hulle op die blare van dié boom sit, of 'n afrtreksel van die bessies sou drink.

Die Aap in jou Koffie
Afrikaanse eponieme van A tot Z
Anton F. Prinsloo
ISBN 978-1-86919-463-5