Hy stap stadig, nie moeg nie, na sy tent toe. Dit moes kort tevore gereën het, want die stoom slaan uit die wit sand op en hy loop dit en geniet. Die makalanipalm langs die tent se blare blink hoog op aan die stele, swaels duik uit die droë blare  teen die stam uit, swiep laag oor die grond en gaan sit teen die snaarstywe tenttoue om hul vere te kam. By die tent haak hy die flap los, vou dit om en staan terug.

DIe outomatiese geweer wat rustig oor sy linkerskouer gehang het, vat hy in albei hande vas, bring dit na sy mond en blaas die wit stof daarop af. Hy laat sak dit weer, kyk na die stof op sy stewels en in die voue van sy bruin broek, en vee die modder onderaan sy stewels teen 'n klip langs die deur af. Die palm se blare staan stil op hul stele. Hy kyk op daarna. Daar gaan 'n storm kom. Dan stap hy in. Voor die groen staalkas gaan hy staan, skuif die linkerdeur oop, vou sy outomatiese geweer se kolf uit, sit dit links agter in die kas neer en haal 'n draadhanger uit. Hy gaan sit op die rand van die bed met die glad gestrykte swart wolkombers, buk af en ryg die veters van sy stewels los, trek hulle uit en sit hulle voor die toe gedeelte van die kas langs mekaar neer. Die bruin wolsokkies word uitgetrek, uitgeskud en elkeen word oor 'n stewel gehang. Toe hy opstaan om sy hemp uit te trek, woel hy sy tone in die koel sand in. Hy hang die hemp oor die hanger, kyk daarna en sien dat dit nog netjies gestryk is. Hy trek sy broek uit. Toe hy dit uitskud, vlieg daar 'n mot van die tentdak af. Hy jaag dit met sy broek by die deur uit en gooi die broek op die groen kas. Hy haak weer die tentflap vas. In die skemer gaan lê hy op sy bed. Die growwe kombers is skurf onder sy rug. Hy lê met sy bene effens opgetrek, sy kop op die wit kussing, en sy hande gevou onder sy kop. Sy gesig en skouers is vol, jonk gerond oor die vlak been. Die arms is soepel, atleties hard. Die bors- en maagspiere is fiks, die geslag netjies gevul in 'n rooi nylon scant. Hy draai op sy sy en slaap sooos 'n seun terwyl die lug liggies roer oor die haartjies op sy lyf. 

Toe die reën op die tentdak begin val, word hy wakker, draai op sy rug en strek hom op die bed uit. Hy lê en luister rustig na die reën, met sy hande onder sy kop gevou. Dan kyk hy op sy horlosie, staan op en gaan vou die tentdeur oop, haak dit in. Die water drup van die tentdank af. Die laaste lig van die dag val in, word ligter soos die wolke vir oulaas wegtrek. Hy gaan staan voor die kas, haal sy geweer uit en ook die skoonmaakstel. Dan sit hy rustig die geweer uitmekaar en haal; stuk vir stuk pak hy op die bed uit en vee dit met 'n olielap af. 

Met die geweer weer aanmekaargesit, begin hy die res van sy uitrusting op die bed uitpak. Netjies in rye. Die kompas met die spikkels fosfor op, die gevulde magasynspakkies, die ekstra magasyne, die noodhulpsak, die black-is-beautiful, 'n appel, 'n vol waterbottel, 'n sakkie isoteniese koeldrank en 'n boshoed. Hy klim in 'n swart kortbroek, vat sy handdoek en stap na die storte. 

Onder die stort probeer hy sy lyf met water alleen skoon kry. Sy olierige hande skuur hy met 'n handvol sand af. Met 'n liggaam wat nog na olie ruik, stap hy terug en haal skoon klere uit die regterkant van die kas uit. Hy trek stadig aan, maak sy stewels versigtig vas en begin om sy uitrusting in sy gevegsdrag se sakke te pak, behalwe die black-is-beautiful. Met sy blikspieëltjie in sy linkerhand begin hy om swart strepe dwars oor sy gesig te smeer, sy nek en hande. Dat sit hy en wag. 

Sy seksie begin die een na die ander voor die tent by die makalanipalm bymekaar kom. Hulle is stil, almal streperig gekamoefleer, behalwe een. Toe hy by sy tent uitkom en oor die seksie kyk, sien hy hom. sy kyk vra hoekom. Die jong troep kom staan voor hom op aandag, volg hom dan die tent in. Hy gaan sit op die bed en wag vir die troep om te praat. "Luitenant, ek is gatvol van nagpatrollies, ek is gatvol vir stap, ek is gatvol om sonder seep te was. Luitenant, ek is moeg."

"Kom sit hier op die bed", sê hy toe hy opstaan en die black-is-beautiful uit die kas haal. Hy begin die troep kamoefleer. Sy vinger gly plek-plek in die nattigheid oor die troep se gesig. Hy sê niks nie, want hy is die seksieleier, want hy moet hulle terugbring. Tog sê hy dat hy verstaan, hy is self net agtien. 

Gawie Kellerman                                                                                                                                      1988

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7