Ná twee maande van swerf in Europa het Jean-Jacques vermoed dat hy eensaam is, en sy spieël het dit bevestig, want verwaarlosing is 'n neerslag van eensaamheid. Sy oë het gedra na 'n rustelose nag, en daar was 'n geel puisie tussen sy baardstoppels. Jean-Jacques het hom teruggetrek, bang om deur sy eie beeld besoedel te word, maar gou teruggekeer, met die perversiteit van 'n misdadiger, en dié keer so naby aan die glas gekom dat daar 'n waas tussen hom en sy mooi asketiese gesig was. 

Jean-Jacques was nie nét ydel nie: herhaling (soos elke ouer weet) is 'n gerustelling; en veral op 'n alleenreis. Hy het die puisie verwyder, so versigtig en onbetrokke moontlik; maar 'n uur of wat later kon hy nog karbol ruik, want selfs sy potentste náskeermiddel kon dit nie verdryf nie. Ter wille van sy gemoedsrus is hy na 'n kapper, waar hy sy hare laat was, sny en stileer het; en elke ligte, presiese aanraking het hom gevlei en getroos. Hy het Kurt of Vienna 'n ruim fooitjie gegee en sonder glimlag versoek: "'n Taxi asseblief?"

"Waarheen?" het die taxibestuurder gevra; en met verbasing het Jean-Jacques aan homself herhaal: "Waarheen?" Tot dié inval gekom het: Sloan Square. Want dis waar hy eenmaal twintig was. En op pad het hy hom enkele luukses toegelaat: name en gesigte van toe; veral één gesig: foutloos, edel, ontoeganklik. 

Jean-Jacques het ou kroeë gesoek en nuwes gevind; deur klapdeure geloop, en omgedraai. 'n Vertroude boekwinkel was nog daar, maar onder nuwe bestuur. King's Road was 'n antiklimaks, en Jean-Jacques het sy toegewing aan nostalgie betreur; wou net hotel toe gaan toe 'n winkelpop 'n beroep op sy menslikheid doen. Want dié pop lyk net soos Annebelle, veral in haar winterse kaalheid: dieselfde rooi hare, dik en sterk, byna nylonagtig; dieselfde wimpers en oogopslag.

Dan verskyn daar 'n winkelmeisie langs haar; 'n vensterversierder met lappe om haar voete wat haar soos 'n oorlogsvlugteling laat lyk. Wanneer Jean-Jacques opkyk na haar gesig, skrik hy. Sielvolle Victoriaanse oë; van 'n ouderwetse pop ook die preuts mondjie, die hoë, rooibruin wange, die kroesdroë krulle om 'n bleek gesig. En om haar hals, soos 'n bloedstreep, 'n pruimpers bandjie van fluweel. Sy beantwoord Jean-Jacquesse blik, en raak gevange. Nou dwing sy om aandag: haar hand kruip smagtend op teen haar dy, sy glimlag sonder voorbehoud. Elke tand in haar mond is met silwer beslaan; 'n blink lag, 'n metaallag. En Jean-Jacques ril en stap haastig weg. So vinnig vlug hy dat hy by die galery verbyloop waar hy David Hockney ontdek en gekoop het: sy etsreeks A Rake's Progress. Jean-Jacques sak met 'n stel trap af na 'n kelderverdieping, nog altyd ontstem oor die meisie met die tande, en besluit om nie na Annebelle te verlang nie. 

Die uistalling is streng gekeur: vier beelde, enkele potlood- en inktekeninge teen die muur. Drie uit die vier beelde sou óók as voorstudies kon geld: die hele tentoonstelling is gemonteer om één beeld wat sentraal staan, 'n skag lig op hom; en dis nie of die lig uit die lae plafon val nie, maar van baie ver en baie hoog kom, soos op 'n Rembrandt-skildery.

Die beeld - 'n torso - is van Amerikaanse marmer, wat nóg sinneliker is as Carrara: 'n wit gloeiing onder die oppervlak. 'n Danser staan soos 'n vlam op sy voetstuk; 'n vlam wat wil opstring en lug raak en weg. Die bors is twee plate wat mekaar in gevaarlike ewewig hou; laer, middelpunt van dié skaal, 'n jong geslag wat traag ontwaak; agter sluit die hoë blaaie om die nek; die boude is ferm: knooppunt, energiebron; en van die kant gesien, word die lyn van heup en maag 'n finale stelling omtrent...ja, omtrent wat?

Dis 'n pynlike oomblik vir Jean-Jacques: hy wens hy kon skoonheid anders ervaar. Alles wat hy weet of vermoed omtrent God, liefde, seks en dood trek saam in dié oomblik, en lewer hom uit aan sy eie ontoereikendheid. Hy druk sy wang teen die marmer; klamp sy hande om die boude. Die eienaar van die salon kug hoflik: "Is u veronderstel om..."

"Ek weet", sê Jean-Jacques onboetvaardig, "maar dis ál manier om 'n beeld te ervaar. Veral as jy dit wil koop". "Ja" verset die eienaar hom, "maar..." Hy swyg voor Jean se uitdrukking; hervat eers na 'n rukkie: "Iemand anders is ook geïnteresseerd."

"Verkoopsgrepe," glimlag Jean-Jacques, "laat my koud."

Die eienaar van die salon is gekrenk: "U misgis u; ek wil u bloot beskerm..." Jean-Jacques maak 'n gebaar wat vertolk kan word as "vergeet daarvan" of "loop weg"; tree dan 'n paar tree terug; kyk lank, en byna verwoed, na die torso: loop stadig óm die beeld. "Dit kos £1 500," kom 'n stem vanuit die skemer buite die ligbalk, "maar ons kan terme reël." "Ek stel nie belang in terme nie", antwoord Jean-Jacques gesteurd, "maar wel in die beeld. ek sal u môre bel."

Hy stap 'n kroeg binne, dié keer vasberade. Die rooi bekleedsels lyk geskaaf; op een plek peul kapok by 'n skeur uit. Maar as hy deur 'n gemmerwyntjie kyk, lyk die banke beter, selfs beleë. Hy bestel 'n derde gemmerwyn, van die ligte amber soort, en dink" "Moet ek my aan 'n beeld verwarm?" en, terwyl hy 'n bootjie uit 'n servet vou: "Hoe lank nog gaan ek my bekostig?"

'n Blok laer af is daar 'n elegante boetiek, en hierop stuur hy nou af. In die venster hang 'n pelsjas, met leerbande wat die polse en kraag nou kan laat sluit. Dit kos £1 600. Die jong assistent skrik merkbaar wanneer hy hom sien; Jean-Jacques wag tot dié reaksie afgeloop is. Dié keer gebeur dit nie, veral wanneer Jean-Jacques vra of hy die jas in die venster mag aanpas. 

"Ek het dit geweet" sê die jong man. "U bou vra daarom, en u houding. Toe u by die deur inkom..."

Die pelsjas is van geskeerde bewer. "Om ligter te wees, " verduidelik die assistent. "Ons klant het dit só bestel." Die bestuurder staan senuweeagtig nader, bang dat sy assistent 'n belangrike transaksie mag verbrou. "Ja", neem hy die verhaal van die assistent op, "'n tragiese geskiedenis. Ons klant het twee keer van Parys af gekom om aan te pas, en toe is hy in 'n motorongeluk dood, kort voor Kersfees. Ys op die teerpad, weet u; swart-ys, soos dit soms genoem word." Die jas self is skimmel, of 'n ligte sneeutjie daarop neergesif het. Die assistent probeer sensasie as mistiek aandien: "Toe die eerste mense by die wrak kom, toe speel die radio nog. In daardie yslug - Bach."

"Händel," verbeter die besuuurder geniepsig, want die assistent het hom voorgespring met dié nuusbrokkie. "Definitief Händel." Jean-Jacques will alles van sy voorganger weet, maar vra nie uit nie; stryk aanhoudend oor die pels; lees met een vinger die watermerke op die voering. Die bestuurder sluit aan by dié beweging: "Net die beste vir ons klant - hy't self die voering gekies. 'n Edel grys, nie waar nie? Hy was 'n individualis, ons klant, maar nie eksentriek nie. Want hy had smaak." "Môre," sê hy gejaag, "môre sal ek u laat weet."

Die jong man skryf iets op 'n kaartjie. "Vra vir Peter as u bel," sê hy, en kyk pleitend na Jean-Jacques. Dis baie laat voor Jean-Jacques daardie aand aan die slaap raak, en dit eers na hy pille gedrink het. Wanneer die foon om drie-uur lui, kan hy nie tot verhaal kom nie; hy tas in die donker tot hy die rooi liggie op die skakelskyf sien pols. 'n Oomblik vrees hy: die man wat op die ys gegly het? Dis Annebelle, dringend bewus van alles wat hulle skei: 'n kontinent, 'n oseaan, 'n lewenswyse. "Jean," huil sy, "kom huis toe: ek het jou lief..."

"Weet jy hoe laat dit is?" Jean-Jacques se stem is dik van die slaap; wil na verwyt klink maar kan nie. "Jean-Jacques, ons kan nie wegkruipertjie speel tot aan die einde van ons fleur nie". "Wanneer," spot Jean-Jacques, "is fleur verby? Volgens my pas na ontmaagding."

"Hou op!" skree Annebelle. Jean-Jacques kan hom voorstel hoe sy lyk: ontsier, verwring, verwelk. "Luister," sê hy gebiedend, "ons gaan nie dieselfde ou gesprek voer nie. Wat jy as liefde beskou, Annebelle, is niks anders as onbereikbaarheid nie. Koop 'n beeld, en jy het nie meer behoefte aan hom nie. En nou gaan ek afsluit; ek het slaappille gedrink en kán net nie langer nie..."

Hy plaas die gehoorbuis versigtig op sy mik; lê vyf, tien minute grensloos verlig teen die kussings. en sypel dan terug na sy ondergrond. Die volgende dag het Jean-Jacques die jas gaan koop, en geborge in bewerpsels, sy winterreis hervat. 


Hennie Aucamp                                                                                                                                       1978