Genoem na die Italiaanse strykinstrumentmaker, Antonio Stradivari (c.1644-1737) wat die kuns van die maak van veral die viool, vervolmaak het. Hy was nog student by Nicolo Amati (1596-1684), meester van die pragtige en klankryke viole, toe hy in 1666 sy eie etiket op die produkte begin plaas het. Die Italiaanse lug het beslis iets ingehou, want Amati  was ook die leermeester van Andrea Guarneri (c. 1616-1698), ook 'n geniale ambagsman.

Stradivari het ook tjello's en violas gemaak. Daar is lank gegis dat sy vernis die viole akoesties perfek gemaak het - die resep daarvan is tot vandag toe nog geheim. In die moderne tyd het navorsing egter aangetoon dat ook verskeie ander faktore die skoonheid van die instrument se klank beïnvloed. Hieronder val die dikte van die hout van die bo-en onderkant, die toestand van die mikroskopiese gaatjies in die hout en eers laastens die vernis. 

Sy werkywer en deursettingsvermoë blyk daaruit enersyds dat hy na raming ongeveer 1,100 instrumente gemaak het waarvan 635 viole, 17 violas en 60 tjello's nog bestaan, en andersyds dat hy elf kinders by sy twee vroue verwek het met wie hy 70 jaar lank getroud was.