Soon Pieterse het ses gehad, en van hulle het vyf met oop bekke geloop. Die enigste een wat gebore in staat is en hou haar bekkie toe, was die tweede jongste mooietjie. Sy't ook later standerd ses gemaak.

Die ander vyf was so dom soos klippe en almal met dié oop bekke. Seker edenoids, sê Veldsman my, en die goed moet seker soos hamme aan die bloedjies se verhemelte sit. Maar gekyk het ek nooit, al het dit gelyk of hulle nie kon asem kry nie. Hulle was kort op mekaar, want Soon het nie gespeel nie; en oor hulle so swaar leer, het hulle in die standerds gebondel. Op 'n tyd kon jy sommer 'n stringetjies van hulle vra waar trek hulle nou in die skool, en dan teem die een na die ander: "standerd een".

Lyk my dis so ver as wat hulle koppe kon kom met die lug wat hulle kon inkry.  Die standerd een-juffrou is in trane hier weg, want sy sê sy sit na'and met 'n klas vol Pieterses, en dis meer was wat vlees en bloed kan verdra. Genis het altyd gesê wat hom onderkry van die troppie, is dat 'n mens wat lyk of hy net deur sy mond kan lugskep soos 'n vis, so deur sy neus kan praat. Want die Piersetjies het deur hulle neusies geteem dat jy kon sweer dis 'n klomp hondjies om hulle ma.

Die sesde outjie was die derde seuntjie, en Soon het hom laat doop Soon Gerhardus. Toe ons maar weer sien, loop hy saam met die troppie. Stout was hulle nie. Dis net die juffrou wat gekla het oor hulle so swaar van verstand is, en die Sondagskool oor hulle g'n bybelversie in hulle koppe kon hou tot ná die diens nie. Ek wil nie lieg nie, maar ek dink Soontjie was so ses of sewe. Ons staan die oggend ná die kerk agter by die konsistorie deur en wag dat die kerkraad moet uitkom, sodat ons met die Sondagskool kan begin. Die kinders staan ook maar daar rond, en die bondeltjie Pietersies ook, want Soon het hulle gereeld gestuur.

Die Kerkraad kom uit die konsistorie uit, en net daar dam Soontjie vir Bertus Dreyer by. Bertus het nog met Veldsman loop en praat, en Veldsman sê die kind druk toe sommer in. Bertus wou hom eers vererg, sê Veldsman, my later, want skielik begin die Soontjie aan sy manelpant te rem, en jy weet hulle handjies is maar altyd taai, soos 'n kind nou maar is. Maar Bertus kyk na'and af en vra: "Wat wil jy hê , boet?"

Ek self het die spulletjie gesien, en ek hoor Soontjie sê vir Bertus so op sy oopbek-teemmanier: "Njee-oom, njet-groet. Bertus lag 'n bietjie, en hy sê: "Dag, boet, kom groet jy nou spesiaal vir my?" Soontjie sê toe ewe: "Nja-oom," en hy gaan staan weer tussen die kinders. Bertus spot nog en hy sê hy gaan staan nou in die volgende verkiesing, want nou groet álmal hom. Hy groet en begin kar toe loop, en net toe hy die deur oopmaak, slaan hy neer soos 'n os. Morsdood. Hart.

Van Sondagskool hou is daar niks oor nie. Ons laaf sy vrou en dra die lyk kerksaal toe en reël en doen. So is dood mos nou, en hy krap alles om hom om. Eers die volgende dag staan ek, Genis en Veldsman voor die koöperasie en praat oor die skielike dood, en oor wat so 'n mooi weduwee nou gaan maak, toe kom die oudste Pietersetjie weer daar aan, en met dié onthou Genis die groetery en hy sê nog dis eienaardig. Maar 'n mens steur jou mos nie aan 'n dom mens nie en ons praat so oor wat alles in só kop moet aangaan. 

Pla, pla dit ons nie. 

Nou is die dorp vol ou mense, want al wat kind is, foeter mos stad toe, en met dié het ons heelwat sterftes - ook van die boere wat in die dorp kom doodgaan. Ons sit die aand op die stoep van die Van Wyks se huisie en praat so oor die kortstondigheid, want die ou tante was al ernstig. Dit was ek en Veldsman en Genis en dan Fanie van Wyk.

Dit was al sterk skemer toe kom daar so 'n wit gedaantetjie in die pad af, en deur die hekkie en hy's sommer die huis in. Dis toe Soontjie in sy nagkabaai. En Ans was binne besig by die ou tante, en sy sê Soontjie het in die kamer ingekom en sommer na die bed toe geloop en die ou tante se hand gevat. Hy sê iets soos "toe maar, toe maar" met sy teemstemmetjie, en hy soen haar hand en hy loop weer uit. Hy's weer daar by ons op die stoep verby, sonder 'n woord. En so 'n halfuur daarna, is tante van Wyk oorlede. Veldsman sê die groetery van Bertus was nie om dowe neute nie. Die storie gaan deur die dorp van hoe Soontjie sweerlik die dood kan sien, en jy sal jou verbaas hoe mense is. Ek self het nooit draaie om hom geloop nie. Maar elkeen met 'n mankement of 'n ipekonder het, as Soontjie bo in die straat afkom, aan die deuskant skaars geraak.

Toe Soontjie vir ou Davids ook loop groet net voor sy dood, sê Genis, nee, so kan dit nie aangaan nie. Ek het opgemerk as die troppie Pieterses winkel toe kom, dan sorg Genis dat hy agter by die hoenders is. Nee, sê Genis, hy gaan nie in 'n dorp bly met 'n doodsengel wat met 'n oop bek loop en groet nie. Dis te aardig, sê Genis, en hy gaan met Soon praat dat hulle die kind wegstuur of iets. So praat hy ons warm, en ons is een aand oor na Pieterse toe om te gaan praat. Ons is in die voorhuis, en Genis vat die ding van so ver af oor hoe 'n mens nie met wiggelary en towerkuns en voorspellery moet speel nie, en hoe 'n mens moet ligloop en nie die magte van die die duister moet uittart nie, want dan leef die hele dorp na'and in vrees.

Maar Soon is swaar van begrip en toe Genis nou met die storie kom dat hy die kind moet wegstuur oor hy al die hele dorp bang het, word Soon kwaad, en dis sy kind, en dis een woord oor die ander en vir wat word sy kinders altyd so in die skool gemoor, en so gaan hy aan.

Toe sê Genis dan moet hy wat Soon is, uit die dorp uit, want hy's sleg vir besigheid en 'n klomp ander goed. Maar heftig en hard. En Soontjie staan en luister in die deur. In sy nagkabaai. Almal raak stil, en die kind sê: "Hulle wil my nie hê nie, Pa." Baie verstandig vir 'n dom mens, sê Veldsman my later. Ons staan nog so, toe word ons yskoud, want Soontjie begin by Veldsman groet, en toe vir my, en toe vir Genis, en toe soen hy sy pa, en hy is daar uit. Genis is vooraan uit die huis uit,en ons wonder watter pes ons gaan tref, en Genis het daardie nag sy hele testament oorgeskryf. 

Hoe die kind in die watertenk gekom het, weet 'n mens nie. Maar die volgende oggend dryf hy daar. Veldsman sê dalk is dommigheid maar net 'n ander manier van kyk. Maar ek sou nie kan sê nie. 


P.G DU PLESSIS