'n Persoon wat ly aan snorksiekte moet geensins swaar verterende kossoorte met sy / haar aandete geniet nie. Voedsel bevattende (a) stysel, byvoorbeeld aartappels - nie te veel nie, (b) proteïn - nie te veel vleis nie, want dit verteer swaar. Dus kan ons sien dat as daar te veel las op die spysverteringskanaal geplaas word, dan snork 'n mens. Te veel alkohol in die bloedstroom is die grootste sondebok en veroorsaak snorksiekte. Daarom moet 'n persoon nie te veel die elmboog lig voor slapenstyd nie.

Terloops, 'n uithaler-raat is ook om nie van 'n hoë kussing gebruik te maak nie. 'n Lae plat kussing sal dus net die ware Jakob wees. Ook kan kamerpantoffels mooi onder die kussing geplaas word en, jou waarlik, die snork is gekortwiek. 'n Toutjie kan ook aan die regtervoet se groottoon gebind word en dan aan die katel vasgebind word (nie te styf of te slap nie). Droom 'n persoon, dan beweeg die voet en stop die gesnork onmiddellik.

Boererate
saamgestel deur Danie Smuts
ISBN 978-0-14-35921-6