Val-val strompel sy voort
Bloed van gister
Sypel skaamteloos
En bevlek haar hede
Sodat haar môre
Onmoontlik ver dryf

Sy klop aan hartsdeure
Wat met slot en grendel
Dig en sekuur, toe is
‘n sleutel nie vir haar beskore
En met wingerdvingers
Vroetel sy lastig aan ons wese

Sy fluister in dowe ore
Sy vertel van haar as en haar lot
Haar woorde word gretig weggedra
Deur lastige koorsblaar agies
En haar kraakstemmetjie
Word met ons handgebare gestil

Ek dink aan Lukas
En sy leringe oor barmhartigheid
Ek dink aan die Samaritaan
Wat Jesus se kruis gedra het
En ek dink aan my hande
Wat skoongewas is van ander se lot

Ek soek haar nou in vreemdelinge
En nooi hulle in
Ek berei ‘n bad voor
En versorg hul wonde van gister
En luister na hul drome oor môre
Want deur hulle het sy my genees

© Adriaan Williams