Ek stap deur newelboorde
in my pelgrimstog na sin,
in ‘n soek na ‘n verklarende lyn

waar die mens se maat begin

Ek vind die put van rykdom
wat nimmereindigend gee
maar ook siele swart met donkernag
se gryse weëmoed smee.

Ek pluk die vrug van kennis
die verheldering van oë
maar ontmoet die wyse kluisenaar
in allene droef getoë

Ek deel my beker met vriende
in die oorvloed van my jeug
maar eet alleen in teëspoed
met stoele oral leeg.

Berustend vind ek Stilfontein
waar vrede my omvou
in die vreug van ‘n kleine veldblom
vind ek saligheid en trou.

© Gedigte van 'n Boer