(toekenning vir prestasie in die Amerikaanse joernalistiek, letterkunde of musiek)

Genoem na die Hongaars gebore Amerikaanse koeranteienaar en -redakteur, Joseph Pulitzer (1847 - 1911), wat die fonds nagelaat het vir die prys wat reeds sedert 1917 toegeken word. Sy publikasie, die New York World, het stywe teenstand van William Randolph Hearst (1863 - 1951)  se New York Morning Journal gekry. 

Die daaropvolgende blatante sensasiebeluste berigte in albei koerante, veral oor die Spaans-Amerikaanse Oorlog van 1898, was daarop gemik om die meeste lesers se aandag te trek. Pulitzer het die eerste strokiesprent bekend gestel, The Yellow Kid, en dié het so gewild geword dat dit tot die term yellow press ('geel pers')  vir dié soort berigte aanleiding gegee het. 

Hearst  se kleindogter, Patty Hearst, het later opspraak verwek toe sy deur die Simbionese Vryheidsleër ontvoer is, by hulle aangesluit en 'n bank beroof het. Sy was na bewering ook die slagoffer van die sogenaamde STOCKHOLMSINDROOM.