Daar is geen land so ver of woes geleë,
geen strand, o Heer, of wilde waterweë,
geen hemelsfeer in die oneindigheid –
of orals blink u Naam en majesteit.

U het, o Heer, wat troon oor alle dinge,
uit kindertaal en stem van suigelinge
u mag gegrond, sodat die mens moet swyg
wat, hoog van hart, uit wraakbegeerte dreig.

As ek, o Heer, u nagtelike hemel
daarbo aanskou, die tint- en glansgewemel;
hoe, deur U toeberei, die skugter maan
met stille gang oor sterrevelde gaan –

wat is die mens dan dat U hom gedenk het,
die mensekind wat U so ryk beskenk het!
Met eer en heerlikheid is hy gekroon,
skaars minder as die eng’le om u troon.

U laat hom heers. Tot aan die verste strande
gebied hy oor die werke van u hande.
U het, o Heer, dit onder hom gestel,
dit hoor sy stem en beef voor sy bevel.

Die os en skaap en wat in wildheid lewe,
die voëls wat deur hoë lugte swewe,
al wat deurkruis die paaie van die see –
tesaam het U dit in sy mag gegee.

Ja, daar’s geen land so ver of woes geleë,
geen strand, o Heer, of wilde waterweë,
geen hemelsfeer in die oneindigheid –
of orals blink u Naam en majesteit.

© Totius