Pelgrim waar’s jou rusplek,
Pelgrim waars jy tuis
en waar lê jy jou hoof saans neer
of wat noem jy jou huis?

Lewe wink in kronkelpad
van steiltes ongebaan
waar jy geen rus gegun word nie
maar immer voorwaarts gaan.
Die herberg bied beskutting,

die grot ‘n oornag nis
en somtyds moet jou moeë mens
in die veld se ooptes rus.

Maar Pelgrim, waar’s jou skuiling
en waar stoor jy jou goed?
Hoe kry jy krag om voort te beur
en waaruit put jy moed?

Die paaie bied hul draaie
om links of regs te swenk,
maar wie sal jou die regte baan
in wyse raad kan skenk?
Draai jy dalk te vroeg af
verbeur jy dalk jou oord
of dit wat jy uiteindelik
kan eien waar jy hoort.

O Pelgrim van die lewe
deur God se hand gebrei
bly koershou in jou roeping
al sou jy soms ook ly
want elke tree is suiwer
in sy hoër reg.
Bly baan dan as ‘n rigter
vir die nageslag’n weg.

© Gedigte van 'n Boer