Het  u al ooit gewonder hoekom daar 'n klokkie en die syfer 4711 op 'n botteltjie oliekolonie is? Daar was deur die jare al soveel gerugte dat dit tyd is dat die feite van die flaters geskei word. Die naam oliekolonie is eerstens 'n verbrouing van die Franse naam: Eau de Cologne, dit wil sê "water van Keulen", of Keulse water - soos dit dikwels genoem word. Die Franse leer het Keulen in 1794 beset. Hulle was verstom dat daar so 'n duisternis klein straatjies was - die plek was 'n doolhof. Om nie te verdwaal nie, het hulle elke huis in die stad 'n nommer gegee. In huis nommer 4711 het die gesin van Ferdinand Mulhens gebly wat 'n ligte reukwater op klein skaal gemaak het.

Hulle het die resep skynbaar gekry van 'n dankbare Kartuisiese monnik wat deur die gesin versteek is sodat die soldate hom nie kon kry nie. Hul produk se naam was aqua mirabilis - "wonder water". Die Franse soldate het gereeld tussen Keulen en Parys beweeg, en het die reukwater as geskenk na hul geliefdes aangedra. So het die reukwater ver buite die stad bekend geraak. Die familie het die nuwe adres geregistreer soos die Franse owerheid dit wou hê, naamlik huis 4711, en dit op hul etiket aangebring waar dit vandag nog pryk.

En die klokkie? Dit is ook bygesit omdat die Mulhens se ou adres Kloklaan 13 was. 'n Mens kan vandag nog bokant die syfers op die etiket 'n klokkie sien - die herinnering aan die ou adres. Van die flaters wat oorgelewer is, is dat die parfuum gemaak is deur monnike wat oor Europa geswerf het.