Nêrens om te skuil

Ons word gejag, ons is kroonwild,
nie meer met assegaai en skild,
maar outomatiese geweer
trek hul ons mense oral neer-
soos wit renosters ‘s ons gewild.

Hul impies kom, bekruip ons stil,
met harte wreed en koud en kil,
berekend pleeg hul dan geweld
en jaag ons snags deur dorp en veld-
om daar ons lewens af te skil.

Ons hardloop hard, ons asem jaag 
kruip weg en hou ons kop omlaag,
moet somtyds selfs ook luiperdkruip
as ons hoor hoe hul nadersluip-
kom stel vir ons 'n hinderlaag.

Soos troppe leeus lê hul en wag
vir sagte teikens om te jag,
kom om ons lewens te verskeur
as draers van dié groot terreur-
met hul hiëna’s-hoongelag.

Hul kom ons so beroof, besteel,
ons harte klop nou in ons keel,
hul lê ons by ons huise voor
waar elk sy lewe kan verloor
dit kan hul egter glad nie skeel.

Want lewe ‘t goedkoop hier geword
moord is ons nasionale sport,
en elke skurk soek sy trofee
ons moet ons bloed en lewens gee
word in ellende ingestort.

Op plase word ons ook oorval
met daagliks nog ’n sterfgeval
of ’n verkragting, moord en roof
ons bly net staande in geloof-
ons woon nou in die dood se dal.

Daar’s nêrens om na heen te vlug
voor elke swart onheilsgerug,
daar is geen plek om te kan skuil
as vrou en kind hartroerend huil-
by God alleen is ons toevlug.

Dié Volksmoord word verbloem, verhuld
ons wag stilswyend met geduld,
die wêreld kyk steeds anderpad
as ons dié grond met bloed benat-
gee slagoffers liefs self die skuld.

(Ons vrees bewaarheid en vervuld.)

© Pieter F. Bruwer