www.myvolk.co.za

Vandag in die Geskiedenis: 14 Mei 1965

Kootjie van den Heever oorlede

Abraham Jacobus van den Heever, jonger broer van CM van den Heever, is op 16 November 1906 op Poortjie, Trompsburg, gebore. Hy matrikuleer op Reddersburg, en nadat hy ’n paar jaar onderwys gegee het, studeer hy aan die GUK, waarna hy as joernalis by Die Volksblad en Die Suiderstem werk. 

Hy is ’n tyd lank lektor by die Witwatersrandse Universiteit en voordat ’n sonderlinge siekte hom plattrek, redakteur van die Boerdery-Jaarblad. In 1936 verskyn Vlugtige skaduwees, sy eerste bundel verhale. Sy verdienstelikste werke is die Kleurlingverhaal Wraak en Danie se droom (1940). Laasgenoemde vergestalt die emosionele lewe van ’n plaasseun. Skagte (1942) gee ’n beeld van die mynwerkerslewe in Johannesburg. 

Hy het baie geskryf; enkele van sy ander werke is: Merke van die dae (1940), Vreemde vertes (1941), Gebroke lig (1942), Wie ’n ander jaag (1942), Brakgrond (1943), Geslote lewens (1945) en Die waters wat roep (1948).

Posted 1 day ago

Vandag in die Geskiedenis: 13 Mei 1947

Prof. NJ Brümmer oorlede

Toe Nicolaas Johannes Brümmer, wat op 27 Julie 1866 op Prospect, Dordrecht, gebore is, in sy 81ste lewensjaar te sterwe kom, was hy ’n bekende hoogleraar, skrywer, kultuurleier en leraar van die NG Kerk. Gedurende sy gemeentebediening (1899 tot 1911) was hy een van die eerstes wat erns met die armblankevraagstuk maak. 

Hy onderskei hom as kultuurleier, wat ook die pen met ’n vaardige hand hanteer. As student redigeer hy in 1893 die eerste uitgawe van die latere studenteblad van Stellenbosch. Sy bekende lesing voor die studente alhier, Die Afrikanernasie, verskyn aanvanklik in die kultuurblad Goede Hoop – waarvan hy redakteur word (1914 tot 1930). Hy het deel aan die stigting van die Afrikaanse Taalvereniging (1906) en word later voorsitter daarvan; die oprigting van die tydskrif Ons Taal (1907 tot 1909); die opstel van die spelreëls (deur die ATV in 1909) en die totstandkoming van die Zuid-Afrikaanse Akademie van Taal, Letteren en Kunst. 

Een en dertig jaar lank (vanaf 1911) is hy professor in Wysbegeerte, eers aan die Victoria-kollege en toe aan die Universiteit van Stellenbosch – wat hy help om tot stand te bring. Onberekenbaar is sy invloed op die honderde leraars van die NG Kerk wat in hulle voorstudie aan sy voete is.

Posted 1 day ago

Vandag in die Geskiedenis: 12 Mei 1652

Eerste Nagmaalsviering in die gemeente van Kaapstad

Op hierdie dag is die eerste Nagmaal aan die Kaap gevier. Jan van Riebeeck se dagregister vertel soos volg oor hierdie geleentheid: “… is alhier in’t noch onvolmaeckte fortjen staende, door Domine Backerius, predikant per den Walvis hier gecomen, d’eerst5e predicatie gedaen, ende het avondmael des Heeren gecelebreert.” Hierdie geleentheid wys reeds daarop dat die Nagmaal vir die wordende volk altyd van groot belang sou wees. 

Die Afrikaner het altyd alles in sy vermoë gedoen om geen Nagmaalsviering mis te loop nie. Dit was, benewens ’n kerklike viering, ook ’n belangrike sosiale geleentheid, veral later in die afgesonderde binneland. Jan van Riebeeck versuim ook nie om die eerste geleentheid waar ’n predikant die jong gemeente besoek, te benut vir die bediening van die Nagmaal nie. 

Reeds hiervandaan spruit die strenge godsdienssin van die Afrikaner wat later in die binneland vir hom as rigsnoer sou dien.

Posted 1 day ago

Vandag in die Geskiedenis: 11 Mei 1897

Prof. IW van der Merwe gebore

Izak Wilhelmus van der Merwe, gebore op Boplaas, Ceres, was bestem om aan die Afrikaanse taal ’n nuwe dimensie te besorg. Hy het die klankrykheid van sy taal ontgin soos geen Afrikaanse skrywer/digter voor hom nie. Boerneef was hartstogtelik verknog aan sy kontrei: Die Kro, die Kamdebo, Koorsteenberg en Katbakkies; Sikketaarskloof, Soebatsfontein, Speserykloof. En oor hierdie wêreld en sy mense skryf hy in die taal van die Koue Bokkeveld en die Kamdebo:

“net hierdie kaliewe woorde is pastersteek
en aksenawel goed
om oor en van en met hierdie turfsitkontrei
te PRAAT sosit HOORT”

Later word hy stedeling en nog later hoogleraar in Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad. Hy is op 2 Julie 1967 op 70-jarige ouderdom oorlede, en die Hertzog-prys vir poësie in 1968 word postuum aan hom toegeken: ’n paslike erkenning vir hierdie beskeie digter wat ons letterkunde verryk het met sy sprankelende, plooibare, eenvoudig treffende Afrikaans:

“My spel is alte nietig vir die ewigheid
klink skaars ’n rukkie hoorbaar voor die sterf …”

Posted 1 day ago

Vandag in die Geskiedenis: 9 Mei 1828

Dr. Andrew Murray gebore

Hy was een van die vroomste en invloedrykste predikante wat die NG Kerk nog opgelewer het. Hy is as tienjarige na Aberdeen, Skotland gestuur vir skool- en universiteitsopleiding. Hier behaal hy die MA-graad. In 1845 gaan hy en sy broer John na die Universiteit van Utrecht met die oog op die teologiese studie vir toelating tot die bediening. 

Hy was innig gelowig en sterk Puriteins georiënteer. Dus het die liberale rigting in die Teologie in Holland hom baie geskok. Met die stryd teen die liberalisme gedurende die Sinode in 1862, was hy moderator en het in die brandpunt van die bestryding daarvan gestaan. In 1849 word hy bevestig as leraar van Bloemfontein, en hy was prakties gesproke, totdat ds. Van der Hoff in 1852 gekom het, die enigste geordende predikant onder die Boere noord van die Oranjerivier. 

Hy het vier besoeke in die Transvaal afgelê, Nagmaal bedien, troues waargeneem en kinders gedoop. In sy veelsydigheid, benewens as kerkleier (hy was vyf keer moderator van die Kaapse Sinode), het hy op twee vlakke uitgemunt. Ten eerste het hy in die onderwys belang gestel. Met behulp van ’n ruim skenking van sir George Grey, stig hy die Grey-Kollege in Bloemfontein. Daaruit het later die UOVS ontwikkel. In Kaapstad stig hy die Kaapse Onderwyskollege en in Wellington die Hugenote-Seminarium en die Sending-Instituut. Laasgenoemde het later doodgeloop toe die opleiding van sendelinge na die Kweekskool op Stellenbosch oorgeplaas is. Al hierdie inrigtings was Christelik georiënteer, en van hulle af het ’n geweldige invloed oor die hele Suid-Afrika uitgegaan. 

Ten tweede was hy die skrywer van ongeveer 250 stigtelike boeke in Hollands en Engels. Van hieruit het nie net groot invloed uitgegaan in Suid-Afrika nie, maar oor die hele wêreld. Sekere van hierdie boeke word vandag nog oor die hele wêreld gelees. Dit getuig van ’n oortuigde Calvinistiese lewensopvatting, getemper deur ’n innige geloofsbelewenis. 

Hy is op 18 Januarie 1917 in Wellington oorlede.

Posted 1 day ago

Vandag in die Geskiedenis: 8 Mei 1945

Einde van die Tweede Wêreldoorlog

Op 7 Mei 1945 is ’n dokument deur lt.genl. Bedell Smith en genl. AG Jodl onderteken waarvolgens Duitsland onvoorwaardelik oorgegee het. Alle vyandelikhede sou om middernag op 8 Mei 1945 gestaak word. Hierdie ooreenkoms is op 9 Mei 1945 in Berlyn deur die Duitse Opperbevel bekragtig.

Dit het die einde van die Tweede Wêreldoorlog in Europa beteken. Dit het Suid-Afrika ook direk geraak, want op 6 September 1939 het die Suid-Afrikaanse Parlement met 80 teen 67 stemme besluit om aan die Geallieerde kant teen die Spilmoondhede oorlog te verklaar. Suid-Afrika se toetrede tot die oorlog het ’n hewige politieke stryd laat losbars waarin organisasies soos die Ossewa-Brandwag en die meer ekstremistiese Stormjaers ’n belangrike rol gespeel het.

Die oorlog het die volk dus in twee kampe gejaag, maar daar was ook ’n positiewe kant, want die oorlog het ekonomiese voorspoed aan Suid-Afrika besorg, deurdat die goudprys gestyg, uitvoer toegeneem en ’n geweldige industriële ontwikkeling plaasgevind het. Daardeur het die lewenstandaard veral van die armblanke aansienlik gestyg. 

Daar was tekens dat die Nasionale opposisie gekonsolideerd geraak het en besig was om van krag tot krag te gaan, nieteenstaande die feit dat die regerende Verenigde Party uitwendig sterk voorgekom het. Tog was dit ’n verrassing toe die Nasionale Party op 26 Mei 1948 aan die bewind gekom het en Suid-Afrika daardeur op die weg na ’n republikeinse staatsvorm geplaas is, wat op 31 Mei 1961 verwesenlik sou word. 

As gevolg van die rassediskriminasie in die Duitsland van Hitler was daar dwarsdeur die wêreld ’n poging om skeidslyne tussen verskillende rasse af te breek. ’n Periode van dekolonisasie het in Afrika begin, dit wil sê, die abdikasie van die blanke en die opkoms van die swarte. In hierdie proses het die Nasionale Party se beleid van segregasie en Suid-Afrika se mandaat oor Suidwes-Afrika wêreldstrydpunte geword.

Posted 1 day ago

Vandag in die Geskiedenis: 7 Mei 1880

Die Tweetoringkerk, Bloemfontein, ingewy

Toe ds. Andrew Murray ongeveer ’n jaar na die proklamering van die Oranjerivier-Soewereiniteit, nl. in 1849, tot predikant van Bloemfontein georden is, moes die ou skoolgeboutjie en later eerste raadsaal van die Vrystaatse Republiek ook as kerksaal dien. 

Drie jaar later is die eerste gebou ingewy wat die gemeente in sy eenvoud en nederigheid ’n kwarteeu sou dien. Teen die sewentigerjare kon die kerkgebou nie langer die groeiende gemeente van die Vrystaatse hoofstad huisves nie en is dit in 1887 gesloop om vir ’n sierlike nuwe kerkgebou plek te maak. Die beroemde baken en godshuis met twee torings het nou verrys. Op 7 Mei 1880 is dit luisterryk ingewy. 

In hierdie kerkgebou sou nie net hoog aangeskrewe predikante soos di. PJJ Boshoff, JD Kestell en CR Kotze die gemeente voorgaan nie, maar hier is ook drie Vrystaatse Staatspresidente, JH Brand, FW Reitz en MT Steyn, plegtig ingehuldig, terwyl die beroemde Vrystaatse driemanskap, Steyn die staatsman, De Wet, die krygsman, en Kestell, die godsman, al drie uit hierdie kerkgebou begrawe is.

Posted 4 days ago

Vandag in die Geskiedenis: 6 Mei 1889

Kruger lê hoeksteen van die “Staatsgebouw” aan die Kerkplein, Pretoria

Die Volksraadsitting in 1889 het die oggend van 6 Mei in die Presidentsteater ’n aanvang geneem. ’n Belangrike gebeurtenis uit die oogpunt van die ontwikkeling van die argitektuur van staats- en sakegeboue aan die Pretoriase Kerkplein, wat om 4 nm. op 6 Mei 1889 op die terrein van die voormalige Eerste Ou Goewermentsgebou plaasgevind het, was die hoeksteenlegging van die indrukwekkende “Staatsgebouw” van die ZAR.

Posted 4 days ago

Vandag in die Geskiedenis: 5 Mei 1652

5 Mei 1652 – Vier VOC-beamptes stap oor Kloofnek, Kaapstad, en vind later teen Houtbaai se hange ’n ontginbare inheemse bos vir broodnodige timmer-, skeeps- en brandhout.

Vanaf die begin van die Kaapse verversingspos was daar ’n groot behoefte aan allerlei alledaagse noodsaaklikhede, waarvan timmer- en brandhout die belangrikstes was. In ’n poging om geskikte timmerhout te vind, het vier amptenare op hierdie dag oor Kloofnek gestap en aan die berghange bokant Houtbaai vir die eerste keer ’n inheemse houtbos teengekom. 

Dit was die begin van die ontginning van Suid-Afrika se inheemse houtbronne. Geen moeite is ontsien om voldoende voorrade van die kosbare hout te bekom nie. Vervoer- en arbeidsprobleme was egter deurgaans ’n groot struikelblok. 

Mettertyd is die gebied vanaf die huidige Constantianek tot by Nuweland verken en ontgin. Die haas onbegaanbare pad oor die Hottentots-Hollandberge, het tot diep in die agtiende eeu verhinder dat die welige bosse van die suidkusstreek doeltreffend benut kon word. Reeds gedurende 1710 is in die Politieke Raad verslae oor hierdie Overbergse bosse ter tafel gelê. Tog is daar eers in die tweede helfte van die agtiende eeu begin om houtkappersposte in die omgewing van die huidige Riviersonderend, Swellendam en Heidelberg op te rig. Dit is deur Kompanjiesarbeiders self bewerk. 

Daarvandaan is maandeliks enkele wavragte timmerhout na die Kaap gestuur. Gedurende 1777 is ’n dergelike onderneming in Outeniekwaland langs die Swartrivier begin. Dit was veral die hoë vervoerkoste wat die Kaapse owerheid gedwing het om uiteindelik in Desember 1786 die eerste werklike ekonomiese groeipunt aan die suidkus te begin met die aanlê van die houtkapperspos in Plettenbergbaai. Johan Fredrik Meding is as opsigter aangestel, terwyl Jan Jacob Jerling ’n skuur vir die opberging van die hout naby die strand gebou het. Reeds in Augustus 1788 is die eerste vrag hout met die skip Meermin na die Kaap vervoer.

Posted 4 days ago

Vandag in die Geskiedenis: 3 Mei 1894

Prof. FEJ Malherbe gebore

Francois Ernst Johannes Malherbe is in die distrik Paarl gebore. Hy het grootgeword in die omgewing van waar die Genootskap van Regte Afrikaners – waarvan die stigterslede van vaders sowel as van moederskant naverwant was – die grootste gedeelte van hulle werksaamhede van stapel laat loop het. 

Hy het sy opleiding aan die Hoër Jongenskool in die Paarl en aan die Universiteit van Stellenbosch ontvang. Na ’n vyfjarige studie in Amsterdam, Nederland, in die Germaanse Filologie, Nederlandse Taal- en Letterkunde en Kunsgeskiedenis, het hy in 1924 aan die Stedelike Universiteit in Amsterdam die doktorsgraad behaal. Van 1924 tot 1929 was hy dosent en van 1930 tot sy emeritaat in 1959 professor in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. As inspirerende dosent, geesdriftige essayis en gesaghebbende literêre kritikus, het hy ’n diepgaande invloed op sy studente en op jong skrywers, veral in die dertigerjare, gehad. Hy is op 5 Julie 1979 oorlede.

#fejMalherbe #myvolk #trotsafrikaans 

Posted 4 days ago

Nepotisme

Posted by Paul Joubert on Thursday, June 4, 2015 Under: Woord van die Week
Nepotisme - die onregverdige begunstiging van familie of vriende. Oorspronklik was dit net 'n witbroodjie van die pous wat begunstig is. Om die waarheid te sê, die Latyn nepotem het "kleinseun, nefie" (in die sin van broers- of susterskind) beteken en die pous se "nefie" was nie noodwendig familie nie. Dit was soms 'n buite-egtelike kind wat voorregte ontvang het om die moeder te laat stilbly. 

Verwant hieraan is simonie: Die koop of verkoop van iets suiwer geesteliks vir geld. Die gebruik was veral gedurende die Middeleeue in volle gang: die koop van ampte in die kerk van die tyd. Die woord verwys na die voorstel van Simon die toorkunstenaar (Handelinge 8:18) dat hy soos die apostels die mag wou hê om mense te seën en bereid was om daarvoor te betaal. 

'n Dief aan die Kers (skelm woorde deur die eeue)
Anton F. Prinsloo
ISBN 878-1-86890-176-0


In : Woord van die Week 


Tags: nepotisme  witbroodjie  nepotem  simonie  handelinge 8:18  'n dief aan die kers  anton. f prinsloo 
www.myvolk.co.za Logo