Genoem na die antieke Romeinse godin, Juno Moneta. Sy het oor die geldsake van die Romeinse Ryk gewaak en haar tempel was op Arx, een van die Kapitolynse heuwels om Rome, waar geld gemunt is. 

Haar bynaam Moneta is in die Oudheid as "die een wat waarsku" geïnterpreteer en dateer van die Galliese aanval op die stad onder aanvoering van die hoofman Brennus in 387 v.C. Die Romeine het hulle in die stad teruggetrek en gaan slaap. Die heilige ganse van Juno het hulle met hulle geraas gewaarsku dat die Galle aan die kom was. Hoewel hierdie herkoms soms betwyfel word, is dit die verhaal wat die klassieke Romeinse digter, Vergilius (70-19 v.C.) in ongeveer 29 v.C. in sy heldedig Aeneïde opgeneem het. 

Die vroegste Romeinse geldstuk was die brons as wat ongeveer 300 v.C geslaan is. Bekender is die sestersius en die denarius wat onderskeidelik 4 en 16 keer meer werd as die as was. Die eerste persoon wat 'n afbeelding van sy kop op 'n munt gehad het, was Julius Ceasar. Omdat skelms dadelik agtergekom het dat 'n mens stukkies van die goue en silwer munte kon afbreek, is kartelrandjies aangebring wat sodanige skending duidelik laat blyk het. 

Die Aap in jou Koffie
Anton F. Prinsloo
ISBN 978-7-86919-463-5