(Voorloper van Hipnotisme). Genoem na die Oostenrykse geneesheer en astroloog, Friedrich (Franz) Anton Mesmer (1734-1815), wat dierlike magnetisme ontdek het. Dit sou saam met ander geestelike magte later as mesmerisme bekendstaan. Die ontwikkeling van sy idees het ook in 1842 gelei tot die ontwikkeling van HIPNOSE deur die Skotse Chirurg, James Braid (1795-1860).
Mesmer se proefskrif van 1766 het oor die invloed van die planete op die menslike liggaam gehandel, maar is later beskou as plagiaat. 
Talle staaltjies oor hom is oorgelewer, byvoorbeeld dat hy in 1768 'n uitvoering van Mozart se Bastien und Bastienne (K.50) in sy tuin gereël het omdat die K.51, La Finta Semplice, as gevolg van hofintriges nie opgevoer kon word nie. 
Die twaalfjarige Wolfgang Amadeus het na bewering 500 bladsye musiek daarvoor gekomponeer. 

Sy aanspraak dat hy siekes met mesmerisme kon gesond maak, het skouspelagtig in duie gestort toe hy sonder sukses probeer het om 'n 18-jarige musikus van blindheid te genees. Tog het hy talle pasiënte met 'n verskeidenheid klagtes se pyn verminder tot die argwaan van die mediese dokters van die tyd. Agterdog het ook gespruit uit die feit dat hy 'n klomp aanvallige jong dames "genees" het, terwyl sy eie vrou siek gebly het. 'n Mediese dokter het hom met 'n slenterslag gevang deur voor te gee dat hy aan 'n siekte ly en deur Mesmer genees is, en toe die gebeure gepubliseer wat die mesmeris se goeie naam aansienlik geskaad het.