Onthou jy ons geheime plek
in die bloekombos -
ure se swem in die plaasdam
en myle op ou Poon se rug?

ons kon skree van die lag
en ons soveel dinge verbeel -
soos ek
het ook jy
die seer weggespeel

elke namiddag
tussen roesrooi koringlande en jou hart
wou jy die Vrystaatse vlaktes oprol
en oor jou skouer gooi
want die son

het soos ʼn uurglas uitgeloop -
laaste lig bankrot verklaar
en uitverkoop

en wat bly oor
het jou oë dan gevra -
net seerkry?

nee, my lam,
tussen die dorings
groei ʼn soet turksvy.

© C. Potgieter