Lykshuisland

Ons land is nou 'n groot lykshuis
waar almeer voormalige mense
oraloor in plasse bloed rondlê
met hul dooie monde steeds oop,
asof hul elkeen nog tevergeefs
'n laaste woord probeer te sê.

Maar die laaste woord’s gespreek
op familieplase en kleinhoewes,
langs hoofpaaie en in hospitale
word hul deur die dood gekaap,
slim soos die houtjie van die galg
dra hul menings nou g'n waarde.

Hul word soos baggasie afgevoer
en net soos karkasse in 'n slagpale
word elke kadawer dan ge-etiketteer
en kaal uitgelê op vlekvryestaaltafels
waar hul nie meer skaam hoef te voel
dat hul skaamdele uitgestal word nie.

Buite op die veld sypel hul bloed
steeds stadig die Afrika-grond binne
of word dit met tuinslange afgespuit
totdat dit die watertafel binnedring,
hul oorskotte ses voet onder begrawe
as ons land se laaste veilige hawe.

En steeds krys die pikswart kraaie
roep hulle aldag net 'vrede, vrede'
maar hier is die heel enigste vrede
nou die ewige vrede van die dood,
dis dus nog net die vlieë bly baljaar
want hulle oes is mos goed vanjaar.

© Pieter F. Bruwer