Lotos – land.
Opgedra met erkentlikheid aan Percival Gibbon.
“Let us swear an oath and keep it with an equal mind
In the hollow Lotus Land to live and lie reclined.” Tennyson
(1. Exodus)
Die osse stap aan deur die stowwe:
-Nie die osse van Jan F. Celliers,
Maar rooi Afrikaners en Mowwe
Van die voorste voortrekker, Naudé.

Die waens van Celliers was dit ook nie,
Want oom Neelsie se wa bly weer staan;
Praat nooit van sukkel en spook nie,
En daar voor kom die kaffers al aan.

Had Moses dit swaar met Gods ou Volk,
O laat staan nie vir Pieter Naudé;
Mismoedige Neelsies en Rouvolk
Het vir homo ook grys hare gegee.

Maar wanneer wis Pieter nie raad nie?
En vir watter gevaar sou hy stuit?
Hy word nie vervaard, ook nie kwaad nie!
Maar al bars dit hy beur tog bo uit!

So trek hul al verder en verder
En gesels as die kampvure brand;
Piet luister en skrik, - want o Herder!!
Almal droom van ‘n Luilekkerland!

(2. Kanaän, O Kanaän) 
En werklik na vele gevare
Land hule aan in ‘n skone vallei;
Geen roofdiere daar of barbare;
“Span maar uit, want die trek is verby!”

Ja hier is die Land der Belofte
En die spruitjie is hulle Jordaan;
Elkeen sweer ‘n dure gelofte,
Nooit weer t’rug na Egipte te gaan.

Die bergstrome glinster en klater
En kom skuimend bergaf na die grond,
Wat vrugte is groei langs die water,
Ryp en soet dat dit smelt in die mond.

Die koedoes kom skuur teen die waens,
Die swartwitpens drink melk uit ‘n bak,
Die blou-wildebeeste kom saens
Na die laer op hul dooie gemak.
Die bruinvolk rook deur-‘n-bank dagga
In ‘n salige niksdoen en droom;
Oom Bart se klein Bart ry ‘n kwagga
Sommer bloots sonde halter of toom.

Die rooibokke wei by die tente,
Net so mak soos die bok van ‘n wa;
‘n Landstreek van Leipoldt se lente
Waar geen lewenslas hinder of pla.

Die grond hoef hul maar net te kielie
Vir Malherbe se lande vol graan;
Of Jona se eersteprys mielie
Trou bewaak deur ‘n mak bobbejaan.

(3. Adipositas Praecox – oorgewig)
Die trekkers word al dikker en vetter
In die Luilekkerland in die kloof,
Tot skraal Piet Verster word gesetter
‘, profeet van die lekker geloof!

Geen naat wat nog hou aan ‘n baadjie,
Verantwoordelike knope spring af,
Ou maer Jan de Jaer kry ‘n vaatjie;-
Tot die hond is te lui om te blaf.

Die rietskraalste nooi word al plumper
En die vrouens versit meer geen tree,
Beweging word gaandeweg lomper;
“Wat te erg is, is te erg” sê Naudé.

(4. Naudé loquitur – Naudé praat)
“;n Vyand bedreig ons, O broeders,
En ‘n vyand op wie ons moet let;
Te glad sit jul tawwerts, O Moeders,
Trekkerswee is per slot trekkersvet!

Veel beter om eind’loos te swerwe,
Teen gevare ons man weer te staan,
As hier in gemak te verderwe
En in smorende vet te vergaan!

Veel voorspoed word later ‘n ketting,
En ‘n dwing’land die luie gemak;
Te gronde gaan ons deur vervetting;
More trek ons hier sak en pak!”

(5. Vox Populi – Stem van die mense)
“Die voorstel”, sê Koos van der Merwe,
“Sal ek graag sekondeer, Kommandant!”
“As julle twee lus het vir swerwe.

Goed – maar ons bly in Luilekkerland.”

“Hoor-hoor!” roep nou al die ou rondes,
“Wie’t dan sinnigheid nou weer te trek?
Solank as die vet maar gesond is.”
En so bly hul sit op die plek.

Die aand nog het Koos van der Merwe
En Naudé die vetspan verlaat;
Hul bene na swoege en swerwe
Is al weer van normale formaat.

Maar hoe dit met die ander gesteld is
Dit weet Nugter. ‘n Rondloper-Ier
Beweer dat hul almal gesmelt het
En derhalwe die naam Vet-rivier!

(6. Haec fabella docet – Die storie se les)
Kyk kinders en nou kom die kwessie,
Wat ‘n mens uit die storie moet leer;
Vergeet, nommer een, nooit die les nie,
Vet of maer, om jul ouers te eer!

Of mense al gekskeer of hoe maak,
Praat die waarheid rondborstig prontuit;

Onthou dat jul deure moet toemaak
En vergeet nie julle neuse te snuit!

© A.G. Visser

AG Visser se foto.