Hulle het almal in een huis gebly. Die meisies was jonk, in hul vroeë twintigerjare. Die winkelpop was 'n man, uit plastiek vervaardig en aanmekaargesmelt deur 'n masjien. Die Here het hom nie geskape nie.

Dis eintlik 'n snaakse verloop van omstandighede wat daartoe gelei het dat die meisies en die winkelpop saam in een huis woon. Maar die basiese gedagte, die eenparige besluit wat die twintig vriendinne geneem het voor hulle gesamentlike intrek was dit: die alledaagse lewe het vir die vrou as simbool van die gevoel nie meer agting nie, dit is mans se skuld, en wie het in elk geval 'n man nodig? Toe kry hulle 'n winkelpop. Vandag staan hy in die middel van die grootste kamer in die huis, op die middelpunt van die sirkel wat perfek gevorm word deur die twintig meisies se beddens. Hy lyk baie meer gehawend as twee jaar gelede, toe hy nog 'n netjiese pak klere aangehad het, mooigekamde pruik, wel toe hy nog 'n blink winkelpop was. Maar hy kon nie die belangrike toets van die tyd weerstaan nie; van die intrek twee jaar gelede tot nou was miskien twee jaar te lank in sy lewe. Liefde is sterker as plastiek, en selfs vir 'n winkelpop is dit te erg om twee jaar gelyktydig liefgehê te word deur twintig ryp vrouens.

Wat nou oorbly is slegs 'n kaalgestroopte, koue poplyf, met deurmekaar hare en oneindige lipstiffiemerke van alle kleure en geure geplak oor sy hele liggaam. Maar die meisies word by die dag not net liewer vir hom. Heel in die begin was hulle skaam en teruggetrokke, en twee jaar gelede sou net die waaghalsigstes dit gewaag het om voor hom te verklee. Niemand sou toe eers daaraan gedink het om aan hom te vat nie, wat nog te sê vertroetel. Inteendeel, so iets sou 'n verbreking van hulle hele ideaal en doelwit wees - om sonder 'n man te kan klaarkom.

Maar 'n vrou bly maar 'n vrou, en dank die Vader daarvoor. Een maand ná die intrek het een van die meisies saggies met haar vinger aan sy mond gevoel. Binne die volgende maand het 'n meisie sy hare gestreel terwyl sy liggies aan sy skouer druk asof dit uit vlees en bloed bestaan. Die ander negentien het gevolg en soos voëls  met uitgestrekte nekke om hom beweeg, nuuskierig om iets te ontdek. Die eerste meisie wat daaraan gedink het om hom te ontklee was die lelikste van die spul. Sy het sletterige toutjieshare gehad, 'n gesig vol puisies, lippe te rooi en 'n lyf soos 'n stomp.  Maar haar naam was Venus, en het eelthande het sy stilletjies die baadjie van hom afgeskil, toe sy hemp en frokkie, sodat sy met haar lippe haarself kon afdruk op sy bors. Die ander meisies was verheug oor hierdie ontwikkeling, en het met verwondering die res an sy liggaam ontklee. Hoe het hulle nie alles saam ontdek nie!

Die merkwaardigste van hulle saamwoon, selfs nou ná twee jaar, is dat die meisies geen teken van jaloesie of afguns toon nie. Niemand veroordeel die ander oor wat hulle doen nie. Elkeen is geregtig om die man lief te hê soos sy wil. En elkeen het geglo my lieffde is uniek, my gevoel die treffendste. Hierdie toestand van algehele onbesitlikheid kon slegs heers omdat die man nie kon praat nie. Die winkelpop was stom. Sou hy vir die een kon sê: "Jy het mooi voete," of vir die ander: "Jou borste is sag soos meel," sou almal dadelik mekaar se oë begin uitkrap. Inderdaad, dit was die waarborg vir die twintig meisies se gelukkige voortbestaan; die winkelpop was stom. En hulle sou nooit oud word van kinders kry nie. 

M.C. BOTHA