www.myvolk.co.za

Vandag in die Geskiedenis: 7 April 1861

“Nuwe Kerk” in Pietermaritzburg ingewy

Op die Sondagoggend is die “Nuwe Kerk” van die Nederduits Gereformeerde gemeente Pietermaritzburg in ’n gees van nederige, diepe dankbaarheid ingewy. Dit is gebou op die halwe erf van Langmarkstraat 34.

Ds. P Huet was toe predikant van die gemeente, en verskeie hooggeplaastes, soos die luitenant-goewerneur, die hoofregter en die sekretaris van naturellesake, het saam met die gemeente die inwydingsplegtigheid bygewoon. Dit was die tweede kerkgebou van die gemeente en is opgerig onmiddellik langs die eerste, die Geloftekerk, wat tans die Voortrekkermuseum is. Die twee geboue het min of meer dieselfde getal sitplekke gehad, maar die nuwe gebou het nodig geword omdat, soos dr. HE Faure – predikant van die gemeente in 1855 – op 18 Julie van daardie jaar aan die regering verklaar het, “the one at present in use is altogether in a state of dilapidation.”

Die oprigting van die “Nuwe Kerk” was vir die gemeente ’n besondere prestasie. Die mense was arm, en met groot moeite is die nodige geld gevind deur middel van kollektelyste en lenings en deur die verkoop van kerkgrond in die distrik. Vir Afrikaners van Pietermaritzburg in die besonder en Natal in die algemeen was die gebou baie jare lank ’n geestelike, en kulturele, swaartepunt.

Onder sommige mense het die indruk posgevat dat die “Nuwe Kerk” die eintlike Geloftekerk is. Die moet waarskynlik daaraan toegeskrywe word dat hierdie tweede kerkgebou met soveel dankbaarheid en vreugde in ontvangs geneem is; en ook omdat, nadat die eerste gebou voltooi was, daar al gou die gedagte ontstaan het om, wanneer meer geld beskikbaar is, ’n nuwe kerkgebou op te rig – wat toe in werklikheid die “Nuwe Kerk” was. Hierdie indruk is egter nie korrek nie.

Die eerste gebou, die huidige Voortrekkermuseum, is die ware Kerk van die Gelofte. Afdoende bewyse hiervoor vind ons onder meer in die kollektelyste wat reeds kort na die Slag by Bloedrivier rondgeneem is om geld en voorrade vir die oprigting van die gebou in te samel. Die redakteur van De Zuid-Afrikaan, CJ Brand van Kaapstad, wat aktief met die insameling gehelp het, skryf bv. op 13 Junie 1839 aan Andries Pretorius: “Ik heb eene intekening lyst alhier geopend tot bydragen van het opbouwen des tempels, welke gy den Heere hebt beloofd.”

Posted 6 weeks ago

Lewenskeuses

Posted by Paul Joubert on Monday, October 26, 2015 Under: Afrikaans: Gedigte

Met alle lewenskeuses
is daar voordeel en verlies,
daar’s heuwels
en daar’s dale
in elk afdraai wat jy kies.

By kruisings is geen opsie
om op meer as een te gaan
en die lewe laat die tyd nooit toe
om besluiteloos te staan
want “geen besluit”
is ook ‘n weg
wat na Visielose gaan – 
weens gebrek aan moed of insig
om ‘n nuwe weg te baan.

Al sou ‘n mens ook terug bly staar
en met wonde aan twyfel bly gryp
of met drome oor die ander weg
bly voortdryf in jou spyt – 

die afdraai paaie kom en gaan
en of daar nog gaan wees
bestaan daar tog geen roete kaart
om die toekoms te kan lees.

Daarom, gryp die lewe volstoom aan
en stamp jou kop of toon
want foutloos en volmaakte weg
is slegs ‘n kind se droom.

© Boerius

In : Afrikaans: Gedigte 


Tags: lewenskeuses  lewenskeuses boerius  boerius  afrikaanse gedigte 
www.myvolk.co.za Logo