La belle dame sans merci

Posted by Paul Joubert on Tuesday, November 24, 2015 Under: Afrikaans: Gedigte

La belle dame sans merci

Die golwing van die lig wat daal
Op goue koringare,
Is glansloos by die gloed wat straal,
Madonna, van jou hare.

Die diepe see het ek aanskou,
Met wonder opgetoë,
Maar nog geheimnisvoller blou,
Madonna, in jou oë.

Ek het die roos met vuur sien gloei
In tuine van verlange,
Maar teerder blos het ek sien bloei,
Madonna, op jou wange.

Koud is die Winterberg se top,
Met nooit ’n lentebloesem,
Maar kouer nog die hart wat klop,
Madonna, in jou boesem!

© A.G. Visser

In : Afrikaans: Gedigte 


Tags: le belle dame sans merci  afrikaanse gedigte  a.g. visser  ag visser la belle dame sans merci