(vroeëre tydrekening wat op 1 Januarie 45 v.C. van krag geword het)

Genoem na die Romeinse veldheer, staatsman en skrywer, (Gaius) Julius Ceasar (100-44 v.C.), wat die tydsrekening ingestel het. Op daardie stadium was die Romeinse kalender drie maande agter die werklikheid. 'n Jaar vroeër het Julius die Aleksandrynse sterrekundige, Sosigenes, gevra om 'n oplossing vir die probleem te vind. 

Hy het voorgestel dat by wet gereël moes word dat die jaar voortaan uit 365 dae en 6 uur sou bestaan, met 'n ekstra dag elke vierde jaar. 

Om die agterstand van die tyd in te haal, is die jaar 45 v.C. tot 445 verleng. Hoe weet ons dat die jaar wel 45 v.C. is? Dit is bereken na aanleiding van die getal dae wat verloop het sedert die begin van tyd, beraam om die middag van 1 Januarie van die jaar 4713 v.C. toe die begin van verskillende tydkringe, soos die tropiese jaar, saamgeval het. 

So was die Juliaanse daggetal vir 1 Januarie 2000 2,451,545. Sosigenes was skynbaar sy tyd en Galileo Galilei ver vooruit. In 'n fragment uit sy geskrifte verskyn 'n opmerking dat hy vermoed dat die planeet Merkurius om die son wentel - teen die aanvaarde opvatting van sy tyd. 

Die Juliaanse kalender is tot in die 20ste eeu in sommige lande gebruik, maar 13 dae is uitgesny om die datum dieselfde as ander lande te maak. Alle Ortodokse Kerke (met die uitsondering van dié in Estland en Finland) gebruik dié kalender om die datums van sekere kerklike feeste te bereken. Die Berbers van Noord-Afrika hou ook daarby.