In vino Veritas

Verlede nag het my gees weggeloop Boland toe. Miskien loop jy hom raak, iewers tussen Stellenbosch en die Paarl. In 'n wynwingerd, in die son. Want dis parstyd in die wynland. Nou dat die jaar ryp geword het. Die wind en goeie weer en son het die trosse tot bekwaamheid begenadig - to parsbaarheid gesuiker in die oop hart van die sanderige aarde. 

Nou kom die hande van mense  en die ratte van masjiene en stroop die wingerdstokke van hul vrug. Rooi Pinotage. Wit Steen. Hulle is die eerstes. Dan Hermitage en Frans, eh later Colombar en Hanepoot. Teen die einde is dit Clairette Blanche en Cabernet. Mandjiesvol, lorriesvol...strate-  en paaievol. Die hart van die wynland word gekneus, gemaal, gebreek voor dit met die gis en bêre in die duisternis herbore word tot kleur en boeket en liefde vir die mens se mond. Die mens was klaar in die wingerd - om die suiker en die suur te meet wat die son en die weer en die aarde in die korrel gevorm het. Plek-plek, oral deur die wingerd, het die mensehand korrels gevat - vyf korrels sonder uitsoek om die middel van die tros. Om te meet waar die suiker lê, om die vrees vir reën te meet en die sontyd wat nog nodig is. 

Parstyd in die wynland. Wynstokke teen die hange, wynstokke op die gelyktes. Wynstokke in die oë van die wynboer, oesjaar in die hart van die wynmaker...Want oplaas is dit die mense se hand wat die gees uit die wingerd haal. Strawwe hand, onverskillige hand, of hand van liefde en wete...En as die mens hom klaar met die wyn bemoei het, bly daar nog net die tyd oor wat moet bykom; die tyd wat vanself kom, die tyd waarsonder die gees van die wingerd nie gestalte kan kry nie. Uiteindelik: die wyn se skoonste oomblik as hy in gemeenskap tree met die mens. Want sê die Skrif nie dat wyn kos is nie? Nêrens word wyn in die Skrif verdoem nie, maar dranksug word by hebsug en vraatsug as sondes van onmatigheid geskaar. 

Parstyd in die wynland....Son vir die suiker...Tyd vir die gees....

En die mens se omgang met die wyn maak dit goed. 

Dolf van Niekerk