Om iemand die harnas in te jaag, is om hom briesend kwaad te maak. Die harnas was die metaalpak wat soldate in die ou tyd aangetrek het as hulle gaan veg. Die kopstuk het so 'n klap gehad wat die oë beskerm het en is 'n visier genoem, na Latyn visus "gesig" en in 'n ander vorm ook "sien". As twee van die geharnasde here mekaar teëgekom en die visier nie oopgemaak het nie, was dit 'n teken dat hulle mekaar gaan pak.

As een, of albei, wou wys dat hulle bedoeling vriendelik is, is die visier gelig - en daardie handbeweging, word beweer, het oorgebly as ons militêre saluut vandag. As die ridder 'n baie spesiale vriendin gehad het, het sy vir hom haar serp of sakdoek gegee om as gelukbringer (en met 'n subtiele belofte daarby) in die stryd te dra. Almal kon in daardie dae sien wie se serp dit is. Die uitdrukking wat ons daarvan oorgehou het, is om jou hart op jou mou te speld, dit wil sê almal kon sien hoe jy voel.