Hulle konings van goddelike geboorte
en oorvloed gode self het hulle eeue gelede
reeds in die steek gelaat. Goer as sekere soorte
lewensmoeë plante of diere het van hulle selfs hele stede

uitgesterf. Hulle hemele is tot museums geruïneer
vol vase, vol beelde, tot puintempels met altare
en allerlei brokke klip en tablette vir geleerdes
en mondaine toeriste uit die lande van die barbare.

In swart geklee sit verarmde bejaarde
vroue in klein tandelose groepies
voor die deure, mans met stoppelbaarde
sit op die patios, om die oë en mond groefies

van die sout see en die harde aarde. Hulle praat en lag
min, kyk die toeriste se kamera skugter
aan, rook en lees koerant, dink bedaard en verwag
die dood rustig en onbevrees en nugter.

Dit wat oorbly, berggehuggies bo seë met bote, aarde
met weivelde en herders en skape onder die geel sonlig
is van 'n voldane blywende waarde
en as blote werklikheid heilig eenvoudig.

© T.T Cloete