Generaal De Wet

Posted by Paul Joubert on Tuesday, May 17, 2016 Under: Afrikaans: Gedigte

Stil, broers,
daar gaan 'n man verby,
hy groet,
en dis verlaas.
Daar's nog maar één soos hy;
bekyk hom goed.

Die oog,
nou dof en weggesink,
soos vuurvonk kon hy blink -
die arendsblik,
die kakie- en renegateskrik.
Die stap en kraggebaar
is nou bedaar.
Is dit jul leier nog, per' ruiterskaar?

Gewis!
en soos hy ons s'n was
en is.

Al is die oog verswak,
hy kyk nog fier omhoog
in jou
soos in sy God se oog.
Al stap hy kromgeknak
en afdraans af,
al klop die hart al flou:
soos altyd is nog nou
elk stap en hartslag trou
tot in sy graf.

En hierdie pure man
jou kind, Suid-Afrika!
Wat vrees ons dan?
Geseën sal wees
die grond, die bloed, die vlees
wat sulke vrugte dra.
In ons De Wet se gees
Voortwaarts,
Suid-Afrika!

© FE Cilliers

In : Afrikaans: Gedigte 


Tags: afrikaans  afrikaanse gedig  afrikaanse gedigte  afrikaanse gedig fe cilliers  afrikaanse gedig generaal de wet 

Make a free website with Yola