Ek verlang
na die slip-slop klank
van die waters
sonder rus
die skuimsome

wat jou voete lek
die wasigheid

van soutdruppels
wat jou wange skroei

en die lag van die rotse wat jou uitjou
dis die amper-wees

van n saamgevoel
die inkrop van
n sielefees

wat selfs die arend
se vlug omkeer
as ons twee saam
n message in a bottle lees
is dit so bestem
of is die lewensroep

die ware een
wat kaarte deel
die een vir jou
en geen vir my
jy die klawer
niks vir my
wie kry die joker
die joker ja
ek verlang
na die slip-slop klank
wat gee vir jou
en neem van my
gee
neem

gee
en neem
gee 
en neem
en nooit weer gee
en drie-ankerbaai
sal die laaste
neem

© Heleen Malherbe