Ek het gaan soek
na die sleutel van geluk
waar die son elke aand sterf
aan die wesoewer van die Nyl

ek het vertoef by die voet
van die groot Sfinks van Giza
en gevlug oor verlatenheid
van windverwaaide duine

ek wou hiërogliewe ontsyfer
teen tempelmure
piramides se verborgenheid
ontbloot in die son

ek het met kamele tot aan die einder
van die woestyn gereis -
maar die Rooisee se water het een gebly
en die Rosettasteen se loodgrys glans
het slepend deur die tyd vergly.

© C. Potgieter