Droogtepsalm

As die stof in swyend skadu’s
oor die Bosveldvlaktes sweef
en genadeloos die sin beroof
om in vagevuur te leef,
giet die son sy lekkend foltergloed
oor die korsgebakte kuil
waar geraamtes soos die sekelmaan
in wolklose nagte skuil.

Ja, dan staar die Boer
sienloos oor sy strompelende kudde
wat as velbedekte beendere
met moeite om môre bly veg,
want hy ken die stryd in hul smekende oë-
die verbryselde Bittereinders
wat onder kloue van stoppels gevrekte hoop
en met klewende dood wat aan hul dors kom heg
steeds opkyk na die hemel,
steeds sawens huistoe loop.

In die knersverlate wurggreep
waar dorheid die siel laat taan
giet ‘n enkel druppel met aandgebed
in ‘n kindopregte traan.

© Gedigte van 'n Boer