Na A. von Chamisso

Nog 'n avontuur
wat my roem beloof!
Sien jy al dié reuse,
klaar om weer te roof?
Toringhoog, misgeskape;
as jy vinnig kyk,
is dit of die rakkers
net soos meules lyk!

Met verlof, heer Ridder,
kyk hulle stip maar aan.
Dit is blote meules,
wat daar draaiend staan.

Sien jy, arme domkop,
gapend waar jy staan,
al die ongediertes
vas vir meules aan?

Oogverblindery
mag 'n Kneg bedrieg,
maar 'n edel Ridder
kan g'n Reus belieg.

Met verlof, heer Ridder,
glo my dit is waar,
net opregte meules
op die bultjie daar!

Beef, jy, vette lafaard?
Dit is klaar en hel,
stryd met sulke skepsels
is net kinderspel!
Een teen almal - daag ek,
vol van riddermoed!
Netnou drink die aarde
al jou ketterbloed!

Ag, my liewe Ridder,
glo my tog dié keer!
Meules is dit waarlik;
ek kan dit besweer!

"Soetste Dulcinea!
Bron van al my hoop!"
- En die brawe ridder
storm af op die eerste
met die lans gemik -
en oorrompel stort hy
in die stof verstik.

Leef jy, edele Ridder?
Ek het jou gesę -
net so seker Meules
as jy nou daar lę!

Vra jy my miskien -
- soos baie mense meer -
was dit werklik reuse
soos die Baas beweer?

Of net blote Meules
glo ek met die Kneg?
Gee ek onbedenklik
onse Ridder reg?

Met die heer ooreenstem
is die kloekste kreet.
Wat van sulke dinge
kan 'n Kneg tog weet?

© Eugene Marais