Dom Pérignon (beroemde sjampanje uit die stal van Moët en Chandon). Genoem na 'n Benediktynse monnik, Dom Pérignon (1638 - 1715), wat 'n belangrike bydrae gelewer het tot die produksie en gehalte van wyne in die Champagne-streek van Frankryk. Verskeie bronne skryf die uitvinding van vonkelende sjampanje verkeerdelik aan hom toe. Maar toe hy dit die eerste keer geproe het, sou hy gesê het: "Kom gou! Ek drink die sterre!"

Onder ander aansprake wat ook voor die waarheid sneuwel, is dat hy die eerste keldermeester was wat kurkproppe gebruik het en dat hy die presiese wingerd kon uitwys deur net een druiwekorrel te proe. Wat wel waar is, is dat hy 'n voorstander daarvan was dat 'n mens die druiwe moes proe sonder om die wingerdoorsprong te ken sodat jy nie bevooroordeeld moet wees nie.

Hy het die wyn ook "blind" geproe, dit wil sê sonder dat die proewer die etiket of vorm van die bottel gesien het. Ook dit het 'n onware mite laat ontstaan, naamlik dat hy blind was. 

Afrikaanse eponieme van A tot Z
Die Aap in jou Koffie
Anton F. Prinsloo
ISBN 978-1-86919-463-5