www.myvolk.co.za

6 plays

© Amanda Strydom

https://itunes.apple.com/za/album/ek-loop-die-pad/726617554?i=726618130

https://tunein.com/radio/Radio-Kuber-Kontrei-s263337/

Posted 3 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 30 April 1961

Adv. CR Swart se laaste dag as Goewerneur-generaal van SA

Die onafhanklikheidstrewe van die Nasionale Party was van die begin af in sy grondwet ingeskryf, en in 1934 is die betrokke art. 4 verander toe vir die eerste keer daarin bepaal is dat onafhanklikheid in ’n republikeinse staatsvorm verkry moet word.

Die hoof van so ’n staat sou President heet, maar tot met republiekwording was die staatshoof nog die Goewerneur-generaal. Adv. CR Swart, lank leier van die Nasionale Party in die Vrystaat en sy lewe lank vurige republikein, het op 12 Januarie 1960 die laaste Goewerneur-generaal van SA geword, ’n pos wat hy op hierdie datum neergelê het, hangende sy verkiesing tot die eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika op 31 Mei 1961.

Posted 3 weeks ago
<p>Spotprent vir die Dag: 25 jaar later…<br/></p>

Spotprent vir die Dag: 25 jaar later…

Posted 3 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 29 April 1875

Begin van die Dorslandtrek

Teen die tyd het ’n aantal Transvaalse Boere begin om Transvaal te verlaat op soek na ’n beter tuiste iewers in die onbekende binneland. Die eerste trekgroep het onder leiding van Gert Alberts gestaan en was deeglik georganiseer. Die elf families wat die voortou geneem het en wat later as ’n rampspoedige onderneming sou blyk, het daarin geslaag om met redelike sukses tot by die Ngamimeer te trek.

Dit was egter die groep wat hierna onder leiding van Jan Greyling en Louw du Plessis langs die Krokodilrivier versamel het, wat die grootste teëspoed sou ervaar. Na veel oponthoud het 480 blankes en ’n aantal bediendes met 128 waens en 1058 trekosse in April 1877 die Kalahari aangedurf. Van die begin was daar al onderlinge tweespalt. Boonop was die trek geheel en al te groot vir ’n roete waar water uiters skaars was.

Op plekke moes die water lepelsgewys uitgedeel word, of modder deur handdoeke en hemde gedruk word vir vogtigheid. Die meeste van die vee is in die proses verloor en 37 mense het die eerste twee maande hul lewens gelaat. Vele sou nog later sterf. ’n Derde, dog kleiner trek het kort hierna die Kalahari veilig deurgedring.

Maar die Trek as sodanig is eers grootliks beëindig toe grondgebied teen 1881 in Angola van die Portugese owerheid verkry is.

Posted 3 weeks ago
0 plays

© Coenie de Villiers

https://itunes.apple.com/za/album/daars-n-plek-feat-steve-hofmeyr/1417454043?i=1417454669

Posted 3 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 28 April 1945

Die CNO-Bewaarskool word in Pietermaritzburg geopen

Die beperking op moedertaalonderrig het groot ontevredenheid onder die Afrikaners van Natal ontketen. Uit protes teen hierdie beperking van Afrikaans as taalmedium vir onderrig, is daar op 7 Februarie 1944 in die stadsaal van Pietermaritzburg onder luide applous eenparig besluit om ’n eie CNO-Bewaarskool in die stad te stig.

Kragte is gekoördineer, en die Nasionale Instituut vir Onderwys en Opvoeding van die FAK het in samewerking met die Natalse Aksiekomitee besluit om oor te gaan tot die aankoop van ’n geskikte perseel in Pietermaritzburg waar die CNO-Bewaarskool opgerig sou word.

Daar is daadwerklik oorgegaan tot die insameling van geld, en die nodige bedrag is spoedig ingesamel. ’n Gebou is vir die bedrag van £5 500 aangekoop, en op 28 April 1945 is die CNO-Voortrekker-Bewaarskool amptelik deur prof. JC van Rooy en dr. E Greyling geopen.

Posted 3 weeks ago
0 plays

© Pieter Smith

Posted 3 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 27 April 1897

Chris Blignaut gebore

Met sy voordrag van ligte, humoristies Afrikaanse liedjies, wat hy self op die ukelele begelei het, het Chris August Blignaut groot populariteit geniet en die hele land in die twintiger-dertigerjare deurreis. Die plate wat hy gemaak het, het groot aftrek gekry en ’n groot rol gespeel om die Afrikaner se sanglus aan te wakker en hom aan te spoor om in sy eie taal te sing.

Hy is op 21 Julie 1974 oorlede. Die humoristiese en platvloerse het dikwels vir Afrikaans ’n deurbraak op nuwe terreine gemaak, omdat Nederlands aanvanklik gereserveer was vir die ernstiger, dieper dinge. In ’n tyd toe populêre sang gedreig het om heeltemal te verengels en die Afrikaner gekondisioneer is om sy eie taal te verag, het Chris Blignaut se vrolike en selfversekerde sang die volk aangegryp en die besef laat posvat dat dit lekker is om in Afrikaans te sing.

Posted 3 weeks ago
9 plays

© Tarryn Lamb

https://itunes.apple.com/za/album/vier-woorde/1419608465?i=1419608855

Posted 3 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis: 26 April 1900

Dr. WHJ Punt gebore

Willem Henry Jacobus Punt is in Pretoria gebore. As seun van Hollandse immigrante, studeer hy aanvanklik aan die staatsgimnasium in Amsterdam en later in Pretoria, waar hy in 1918 matrikuleer. In 1923 behaal hy die BA-graad aan die Universiteit van Pretoria en twee onderwysdiplomas; in 1932 die MA-graad in Aardrykskunde en in 1953 die PhD-graad aan die Universiteit van Stellenbosch met sy baanbrekerswerk Louis Trichardt se laaste skof. Vanweë sy liefde vir die behoud van die historiese oudhede en erfenisse in Suid-Afrika word dr. Punt in 1959 beginner, stigter en direkteur van die Stigting Simon van der Stel, wat hom onder meer ten doel stel om belangrikste historiese geboue van sloping te red, te bewaar en te restoureer.

In 1974 tree hy uit as direkteur. Dr. Punt was stigter van die Louis Trichardttrek-Monumentfonds, wat hom en sy komitee in staat gestel het om die Trichardt-gedenktuin in die destydse Lourenço Marques aan te lê. In 1967 word hy deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns met ’n erepenning vereer vir kultuurhistoriese prestasie, “vir volhardende navorsing, jarelange onvermoeide ywer, taai wilskrag en hooggestemde idealisme”. Dr. Willem Punt is ’n rustelose denker en ’n navorser by uitstek. Met meer as honderd wetenskaplike publikasies van kultuurhistoriese aard, word hy vandag geroem as een van die grootste kultuurhistorici wat Suid-Afrika nog opgelewer het.

Posted 3 weeks ago

Die Swakheid van die Vlees

Posted by Paul Joubert on Saturday, August 24, 2013 Under: Afrikaans: Kortverhale

In die oorlog was daar twee soorte verraaiers sê oom Basjan: die selfgemaaktes en die geskapenes. Oom Schalkie was so 'n skepsel. Hy het dit nie geweet toe die moeilikheid begin het nie, of anders sou hy seker maar 'n ander skeet uitgedink en by die huis gebly het, soos daar oorgenoeg dié-sulkes was. Ons Vrystaters had laas in '65 'n veldtog, teen die Basoeto's, en toe was dit nie vir oom Schalkie nodig om te gaan veg nie. En dit was al '99 toe die Ingelse gekom het. 

Toe die oproep uitgaan, het oom Schalkie sy perd, saal en toom en geweer reggekry, en met mondprovisie vir agt dae, soos die kammandeerbevel gelui het, saam met ons ander Poorters bymekaargekom, en onder veldkornet Neethling het ons verder getrek om by die Petrusburg-kommando aan te sluit, want ons sou in dié afdeling veg. Die ding met oom Schalkie het ook nie sommer oornag bekend geraak nie, want die oorlog was aan die begin maar 'n harmansdrup affêre. Ons het gehoor dat daar in Natal kwaai baklei word, maar hier aan die westekant het ons rondom die Ingelse in Kimberley en Mafeking gaan lê en wag vir iets om te gebeur. 

Ek was die dag by toe oom Schalkie saam op patrollie uitgegaan het en ons vir die eerste maal onder die lood gekom het, en nadat ons 'n paar sarsies teruggeskiet het net om te wys dat ons ook kan as ons wil, het ons omgedraai kamp toe. Ek merk toe dat oom Schalkie nie reguit saam met ons gaan afsaal  nie, maar eers agter 'n bos indraai en lank daar vertoef, maar ek steur my nie verder daaraan nie, want elke mens het mos sy behoeftes.

Die tweede maal was ek elders toe 'n klompie van ons Poorters met oom Schalkie daarby in 'n skermutseling betrokke was, en by hulle terugkoms het die burgers hoor praat. "Ai, oom Schalkie, hoe het Oom se broek dan so klam tussen die boude uitgeslaan toe die Ingelse op ons lostrek?", sê Douw Radys, soos ons hom genoem het omdat hy nooit ordentelik bruin gebrand het in die son nie en altyd half bleek gebly het met net sulke kolle-kolle rooi afgedop, maar sy eintlike van was De Waal. Hy was so kontant met sy mond. Oom Schalkie was 'n besadigde man, dienende ouderling toe die oorlog uitgebreek het, skraal van postuur met so 'n skimmel bokbaardjie, en ek sien nou nog voor my oë hoe dit teen die vuurlig wip terwyl hy kortaf antwoord: "Aag,jy praat dinges, man!". Toe draai hy om en stap weg, en daardie aand het hy gaan slaap sonder om te eet. Maar niemand het hom te ernstig aan oom Schalkie se moeilikheid gesteur nie tot by die Slag van Modderrivier, toe die Ingelse ons al aan die hardloop het met hulle kolonnes soos sprinkane oor die veld, en ons weer 'n keer wou probeer vasskop. Ons Poorters was in so 'n baster-klipkoppie, en ek moet sê: dit het daardie dag bars gegaan. Die Ingelse het hulle kanonne op ons oopgetrek, en as hulle nie sulke vrot skuts was nie, was ons almal saliger gedagtenis. Soos dit moes kom, het Douw Radys langs oom Schalkie gelê, en toe die skietery 'n oomblik stil word roep hy kliphard: "Sies, magtig, oom Schalkie, wat stink so?"

Daar bars oom Schalkie in trane uit. Hy lê met sy kop op die kolf van sy geweer en sy hele lyf ruk soos hy snik sodat 'n mens hom moet jammer kry, en tussen die snikke deur sê hy: "Ek...kan dit nie help nie...Dis my maag...As hulle op ons begin skiet...bevuil ek my broek." Ons kon daar en dan nie dieper in die saak ingaan nie, want die Ingelse het juis weer begin vuurmaak, en dit was elke man vir homself. Maar die volgende dae en weke terwyl die Ingelse ons hot en bles oor die Vrystaatse vlaktes begin jaag het en ons net so dan en wan kon terugbyt voor ons eer spore maak, het ons baie oor oom Schalkie gepraat. Douw Radys wou nog spot, maar die Veldkornet het hom gou-gou die swye opgelê. "Dis 'n siekte wat enigeen van ons kon oorgekom het", het hy gesê. "ons moet oom Schalkie help." Dit was makliker om sommer so openlik oor alles te gesels, want oom Schalkie het al meer en meer eenkant gebly en selde nog tussen ons kom sit. Daar en dan gee die Veldkornet vir oom Hans Vandeventer, 'n befaamde man met kruierate, opdrag om iets vir oom Schalkie te berei. Oom Hans het dit gebrou, oom Schalkie het gesluk, maar dit het niks gehelp nie. Toe het die Veldkornet ernstig met oom Schalkie gepraat. "Oom moet Oom nie so aan die Ingelse steur nie," het hy gesê. "As hulle begin skiet, dink net aan...Wat is vir Oom die lekerste ding op aarde?" 

"Groenvyekonfyt", antwoord oom Schalkie sonder om twee maal te dink, en dis g'n wonder nie, want sy ou vrou, tant Grieta, kon sulke onoortroffe groenvyekonfyt kook. "Dan dink Oom net aan groenvyekonfyt en vergeet al die ander dinge," sê die Veldkornet. Ek weet nie of oom Schalkie die raad gevolg het nie, maar daar was g'n verbetering merkbaar nie. As 'n vyandelike skoot klap, is daar 'n vy in sy broek. Oom Schalkie het by die dag agteruitgegaan. Ek het mos gesê hy was net vel en been. Dit was naar om hom so in die saal te sien heen en weer slinger. Noudat almal tog van die ding geweet het, het hy baiemaal sommer sonder broek gery want dié moes darem kans kry om droog te word. Die Veldkornet het oom Schalkie glad nie meer laat veg as hy dit kon verhelp nie. Hy moes net die perde vashou, maar selfs die geluid van die skote agter die rantjie was vir hom te veel. As ons weer by hom kom, staan hy in sy veldskoene, en sy broek hang oor 'n bos. Toe wou die Veldkornet hom kok maar, maar daarteen had ons almal begryplike besware. 

Dis toe dat Douw Radys - vergeet sy groot mond: hy was 'n man met 'n kop op sy lyf - met 'n plan vorendag gekom het. "Oom Schalkie moet gaan hendsop," sê hy waar ons een aand teen die saals skuinslê. "Ons Poorters se naam stink al publiek by die kommando's." Douw het nie oordryf nie. Die ander manne het ongenadiglik met ons die spot gedryf en ons die "Sk-tbroeke" genoem. UIt beginsel het ons kwaai teen Douw se voorstel geprotesteer - te kwaai, soos 'n mens maar maak as hy nie seker van sy saak is nie. Toe het ons stil geword en begin nadink. Met so 'n maag sou oom Schalkie in elke geval niks vir die vyand beteken nie. Die daaropvolgende dae het ons swaar geleef. Die Ingelse moet 'n Hanskakie of so iets gehad het om hulle te lei, want niemand anders kon daardie skelm paadjies so goed geken het nie, en elkers het hulle ons so amper-amper op die nes vasgetrap. Oom Schalkie het omtrent pal broek in die hand gery, maar kopgee was min. Hoe vuriglik ons ook al gehoop het dat hy tog liewers in die Ingelse se hande sal val, elke slag het hy ontkom. Douw Radys se plan was al oplossing. "Gaan gee oor, oom Schalkie. Toe, Oom. Dis die beste so," het ons hom vroeg en laat aangemoedig, maar vergeefs. Oom Schalkie het sy ry gery, seer maag en al. Die Veldkornet het hom tot dusver nog eenkant gehou as ons van Oom Schalkie se moontlike hendsoppery praat, want dit het darem nie 'n offisier van die Republiek betaam om sy burgers tot verraad aan te spoor nie, maar hy het gesien dat ons kommando'tjie dit nie veel langer gaan uithou nie. Daarom roep hy oom Schalkie een middag en sê vir hom: "Oom, vat nou Oom se perd, saal en toom - die geweer sal ons hou - en trek aan Oom se broek, dan gaan hendsop Oom." 

Oom Schalkie was 'n pligsgetroue mens. Toe die Veldkornet hierdie woorde met hom praat, is dit asof daar 'n groot rustigheid oor hom kom. "As Veldkornet nou sê ek moet dit doen vir ons Republiek, dan doen ek dit", antwoord hy. "Vir ons Republiek, Oom," sê die Veldkornet. Oom Schalkie het sekuur gemaak soos die Veldkornet vir hom beduie het. Hy het sy geweer vir hom gebring en sy perd opgesaal. Toe het hy ons elkeen met 'n handdruk gegroet. Ek sien hom nou nog soos hy van ons oorstaning af wegry: 'n lang, maer figuur op die rug van sy kolperd wat ook al beter dae gehad het. Toe hy so 'n entjie weg is, draai hy in die saal om en wuif vir oulaas. "Dag, oom Schalkie!" roep ons terug. 

Iemand sit in. Dit moet seker weer Douw Radys gewees het, want hy was 'n mens wat aan sulke dinge gedink het. Een vir een tel ons die wysie op totdat ons almal saam uit volle bors die verdwynende oom Schalkie dra op ons lied. "Dat 's Heeren zegen op u daal," het ons gesing.

Pieter W Grobbelaar                                                                                                1984

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7

In : Afrikaans: Kortverhale 


Tags: pieter w grobbelaar  die swakheid van die vlees  abraham h. de vries  my volk  afrikaanse kortverhale 
www.myvolk.co.za Logo