Generaal Jan Smuts is in 1910 aangestel as Minister van Binnelandse Sake, Mynwese en Verdediging, en was verantwoordelik vir die opstel van die Verdedigingswet wat sou lei tot die stigting van 'n nasionale verdedigingsmag. 

Die Verdedigingswet is op 14 Junie 1912 aanvaar, en het voorsiening gemaak vir die Unie-verdedigingsmag, wat bestaan het uit 'n aktiewe burgermag, skietverenigings en 'n permanente mag. Dit het ook voorsiening gemaak vir 'n vliegkorps, 'n kusverdedigingsmag en 'n kaderkorps vir skole. 

Die Suid-Afrikaanse Lugmag is in 1920 gestig, en die Suid-Afrikaanse Vlootdiens in 1922. Toe Suid-Afrika aan die Eerste Wêreldoorlog deelgeneem het, is altesaam 275,000 Suid-Afrikaners (soldate en hulptroepe) in verskeie veldslae gebruik, en 12,452 het gesterf. Suid-Afrikaners het 2,403 medaljes ontvang, waarvan 13 Victoria-kruise was.

Altesaam 400,000 Suid-Afrikaners het aan die Tweede Wêreldoorlog deelgeneem, en 12,080 het gesterf. Lede van die Suid-Afrikaanse Verdedigingsmag is met 7,114 medaljes vereer. 

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is op 26 April 1994 gestig, met lede van verskeie organisasies - die Suid-Afrikaanse Weermag, MK, Apla en die weermagte van die TBVC-state.

Van Lill se Suid-Afrikaanse Trivia
Dawid van Lill
Zebra Uitgewers
ISBN 1-86872-927-3