'n Feetjie het vir haar
uit spinnerak 'n doek vergaar;
'n rokkie wit as heuningwas
het sy toe aanmekaargelas.

Maar nouliks was dit om haar lyf,
toe kom 'n windjie, vlug en styf,
en met die uiting van sy sug
daar trek ons Feetjie deur die lug!

Haar maatjies staar haar treurig aan,
hoe sy hoog oor die bome gaan,
tot sy met heel haar rokkie fyn
daar in die verte glad verdwyn!

As jy 'n rokkie ooit besit
van spinnerak of iets soos dit,
pas op hoe jy jou dan verroer,
'n windjie mag jou glad vervoer!

© Eugène N. Marais