Aan my moeder

“O sing my die lied, sing my die lied,
Die lied wat my hart so raak,
Van die Onderveld-boer en sy koringmiet
En die donder, wat kreun en kraak.”

“Vanmelewe het daar ’n boer gewoon,
Daar vér in die Onderveld,
Sy lande het altyd sy werk beloon
Met gerwe haas ongeteld.

Toe kom daar ’n grote droogte aan
En sy vee vrek hot en haar.
Die maande kom en die maande gaan,
Maar die reën bly vér van daar.

Dog skielik kom, op ’n somerdag,
’n Grote wolke-skaar.
Hulle lyk soos ’n seilende skepe-mag,
Wat reg op die aarde vaar.

Dit duur ook nie lank of die aarde word bang
Vir die wolke, wat toef op hul weg.
Want dis man aan man, en rang op rang,
Wat klaar staan vir die geveg.

Daar flikker opeens ’n bliksem-streep,
Hy slaan soos ’n sweep se slag;
En hy sny uit die grond ’n grote reep –
Die eerste skot van die dag.

En toe begin die rammel-rumoer,
Kanonne die gaan te keer,
Dit dreun en rol op die wolke-vloer,
Dit bulder al meer en meer.

Dit kletter en gons soos die haelkorrels spat,
Teen die klippe klap hul fyn.
Die stofwolke rys uit die dorre pad
En die bliksem-strepe skyn.

En hot en haar slaan die weerlig neer –
Dit skeur en dit kraak en dit raas.
En kort op mekaar, verskeie keer,
In die enigste miet van die plaas . . .

Toe hardloop die boer by die voordeur uit;
Met sy voorlaaier in sy hand
Vervloek hy die bliksem, tartend en luid,
Om sy koring wat staan in brand.

En roekeloos rig hy sy kleine roer
Naar die sware donderweer,
Dog die bliksem tref die arme boer
En morsdood val hy neer . . .

Die hael die gons, en die water giet
Op die smeulende vuur van die koringmiet . . .

En dit is die lied van die koringboer
Wat die hele jaar se gesaaie –
Sy brokkie brood, en sy vee se voer,
Sien vergaan ’t in ligtelaaie.”

© A.D. Keet