Die Jonkmanskas

Die eerste keer dat hy dié woord gehoor het, was by sy vriendin, Iris. Dit was op 'n Sondagmiddag aan etenstafel nadat Stoffel, haar middeljarige broer, se gebooie die oggend in die kerk gelees is. Mamfi, hulle moeder, het aan die punt van die tafel die ietwat rumoerige geselskap vir 'n oomblik onderbreek en eers die seën gevra. Toe sy "Amen" sê, het Helena, Iris se hubare dogter wat langs die glimlaggende verloofdes gesit het, vir Koos gevra: "Mag ek vir jou inskep?" Hy het sy bord aangegee. "Koos, bring vir ons nog 'n paar wynglase," het Iris gesê.

"Waar?" 

"In die jonkmanskas daar in die hoek."

Hy het van die tafel af op gestaan en na die kas toe gestap. Dit was 'n geelhoutkas met twee laaie bo en twee deure daaronder. 'n Hangkas wat aan die eenvoudige behoeftes van 'n vryer voldoen, het hy gedink, maar gesê: "Jonkmanskas - dit het amper 'n maagdelike klank." "Cheers to the virgins." Stoffel het reeds sy halwe glas rooi wyn gelig. Almal het vrolik gelag. Toe sê Helena: "'n Mens kan 'n storie daaroor skryf." Die woord bly hom by en die aand tuis is hy verontwaardig en verbaas wanneer hy dit nie in die HAT of Die Afrikaanse Woordeboek kan opspoor nie. "Jonkmansweer" en selfs "Jonkmansbegeerte" is daar, maar nie "jonkmanskas" nie. 

Die volgende middag loer hy by 'n tweedehandse-meubelwinkel in. Eintlik is hy op soek na 'n houtbed, maar tussen marmerblad-wastafels en riempiesbanke sien hy in die donker, teen die agterste muur, 'n jonkmanskas. Dis 'n mooi kas, dink y. Hy stap tot baie naby, versigtig om nie iets om te stamp nie. Eers kyk hy net. Dan leun hy vorentoe en ruik aan die kas. Hy staan weer terug. Hy kyk lank na die kas. Wanneer hy vir die tweede keer vorentoe leun, fluister hy met sy lippe dig teenaan die dofglimmende hout: "Jonkmanskas." Dan vat hy die ronde kop van die een laai vas en trek dit met mening oop en soos Marcel Marceau begin hy versigting, een vir een, die volgende artikels in die laai uitpak: Drie skryfblokke, Croxley Cambric Linen Faced Writing Pad for Land, Sea or Air Mail, genommer, in 'n netjiese stapel bo-op mekaar, Ervaringe op Safari in Kenia - Jacobus Petrus Prinsloo in verbleikte blou ink op die boonste een se omslag geskryf; 'n goue sakhorlosie, JPP onhandig, seker met 'n knipmes, op die rugkant uitgekrap; twee verweerde foto's. En dan, met dieselfde geweld waarmee hy die laai oopgemaak het, sit hy vinnig 'n paar los getikte velle papier, die onvoltooide manskrip van 'n storie, langs die ander goed neer.

KOOS PRINSLOO